Vinnig Op Pad Na Haar Honderdtal

L1200127 (2)

 

“Ek was honger en jy het my gevoed, in die siekeboeg en jy het my kom besoek. My voete was met vislyn verstrengel en jy het dit losgeknip, ek het ondersteuning nodig gehad en jy het my bemoedig.”

Dis die woorde n.a.v. Matt 25 waarmee Broer Bingle sy toespraak oor Ma Chrissie afsluit tydens Saterdag se feeviering.

P1430093

Boet Bingle Ferreira aan die woord

En ek kan byvoeg: Ek is onregmatig besoldig en jy het vir my opgekom by die raad. Ek was onmagtig om my kinders in ‘n skool te kry en jy het vir my toegang bewerkstellig. Ek was werkloos en jy het vir my iets gereël …

Ma word 90. Ons baie spesiale ma met die positiewe ingesteldheid, dankbare hart, wydbelese gees, onwrikbare geloof, fyn waardering vir elkeen se uniekheid, kenner van poësie en literatuur, politiek, sterre, kruie. Wat elke dag vars groente uit haar tuintjie eet. Wat steeds kook en hekel en blokraaisels invul. Wat nog tuinmaak en flink kan beweeg. Wat haar ontferm oor elke hadedah, eend, kolgans, skoorsteerveër wat hier nesmaak. Wat presies weet wanneer Venus  of Jupiter oggend- of aandster is. Wat die afgelope 16 jaar na Pa se dood in Groen Wilgers ‘n lewe van eenvoud en dankbaarheid uitleef.

Al haar kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders, skoonfamilie en vriende  trek saam om dit te vier.

P1430174

Ma Chrissie met ‘n klompie van haar 22 agter-kleinkinders

 

Soos die befaamde A-team kom ‘n plan bymekaar. Vanuit Parys bring een bondels helium  balonne en tafelnommers.  Vanuit Roodepoort kom ‘n ander met stapels kolwyntjies. Vanuit Pretoria word ‘n meesterstuk van ‘n feeskoek,  versigtig verpak, staangemaak. Vanuit Upington pakkies tuisgebakte koekies vir elke sitplek. Vanuit Muizenberg  ‘n kaartjie met tamatiesaad (ter herdenking van Ouma met haar ewige groentetuin) as aandenking by elke tafelpasing.  Tafelrangskikkings word afgelaai – geprakseer in  karakoere, opgetel anderkant Hoopstad op pad fees toe. Tafelplasings, mooi afgedruk met die vetplanttema, word opgeplak. Naamkaartjies by elke gedekte plek. ‘n Gedenkalbum waarin elkeen ‘n boodskap kan neerskryf.

Familie en Vriende van oral – Durbanville, Betlehem, Bela Bela, Wellington, Durban, Delareyville, Potchefstroom – omhels mekaar. Kamera’s flits en elke denkbare oomblik word vasgevang.

P1430083

 

Ma, wat na haar huwelik met Pa, op 22 vir Ousus Wilma in ‘n grashut in Rhodesië grootmaak terwyl Pa ‘n boormasjien bedryf, wat as skoolsekretaresse in Barberton saam met ons skoolbus ry vanaf Consortmyn, wat later jare bekwaam funksioneer as die sekretaresse van die burgemeester in Orkney  en uiteindelik aftree as die sekretaresse van die rektor van POTE, kry ons al vyf groot en geleerd te midde van swaarkry en armoede.

Ons vier haar lewe terwyl sy nog deel is van ons groot familie. Ma het net dankbaarheid op die hart teenoor almal wat sy in haar toesprakie puntsgewys  opnoem. Dat sy in ‘n knus  plekkie op die walle van die Mooirivier kan woon, dat haar maandelikse heffing stiptelik betaal word, dat sy ‘n goeie medies het, dat sy goeie oogsorg geniet, dat sy daagliks ‘n BEELD ontvang en maandeliks ‘n WEG in haar pos kry, dat alle onderhoud aan haar woonstel gedoen word, dat sy gereeld winkels en dokters toe geneem  word, dat kinders en klein-kinders gereeld haar bel en by haar kom inloer.

P1430137

Ma aan die woord met haar dankbaarheidsrede

Leo, oorlede Pa se eerste naamgenoot is ‘n bekwame meester van ons seremonie. “As Malusi Gigaba ons minister van finasies kan wees, kan Frits seker vir ons die seën vra” kry hy ‘n lae hou in na sy broer wat sonder sigbare stoornis dit bekwaam doen.

P1430085

Leo Kok aan die woord

Soveel inisiatief wat agter die skerm vorm aangeneem het, maak hierdie feestelheid moontlik. ‘n Buffet-ete is vir ons aangelê by Parys Gholfbaan se restaurant. Laat ons feesvier in die oortreffende trap voordat ‘n oop graf ons saamdwing.

Vanoggend skryf sy op die bord in die oord se portaal:

Die las van jare, ouderdomsverdriet

– Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik –

Skenk my geduld om dit te dra, verkwik

Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

 

Laaste strofe van Kersnagvers

deur Louis Leipoldt

Uit Die Braambos Brand

6 comments

  1. Anita Schutte · June 12, 2017

    Leonette, wat ‘n wonderlike dag om saam met jou moeder te wees! Seën vir haar –en julle!

    Anita

    Like

  2. travel460 · June 12, 2017

    Koester elke oomblik saam met haar, Leonette.

    Like

  3. HesterLeyNel · June 13, 2017

    Wat ‘n wonderlike aangeleentheid vir die familie. Nog meer aangrypend is die feit dat die familie so sterk saamstaan; nie alle oues van dae het hierdie voorreg om op so ‘n manier deur hulle kinders versorg en vereer te kan word nie. Ek is seker sy was vir julle ‘n goeie voorbeeld en inspirasie in julle jong(er) dae.

    Like

  4. Willie Schutte · June 13, 2017

    BAIE GELUK!

    Soos die Psalmdigter vir ons sê…,
    90:9 Want al ons dae gaan verby deur u grimmigheid, ons bring ons jare deur soos ‘n gedagte.
    90:10 Die dae van ons jare- daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen.
    Dan kan ’n mens nie andersom God te loof en te prys vir Sy onuitspreeklike genade en seëninge op hierdie hoë-ouderdom om dinge te kan doen en aktief besig te kan wees nie!
    .
    Leonette, baie seën en sterkte toegebid met julle moeder!

    Willie.

    Like

  5. tribelhornm · July 6, 2017

    Wat ‘n waar en eerlike ode aan jou Ma. Dis soos ons almal haar ken en altyd sal onthou.

    Like

Leave a comment