‘n Beker vir ‘n bottel

Sedert my betrokkenheid by plastiekherwinning in Vanwyksvlei, slaan ek ‘n nuwe roete in met die talle bedelaartjies elke dag by my voordeur; ‘n beker sop vir elke ekosteen.

L1450815

In die afgelope tyd het ek al bykans 80 ekostene versamel. Dalk sal ek nie in mý tyd daarmee ‘n kaja in Vanwyksvlei kan bou nie – ek kan dit altyd bydra vir Loxton se huisbouprojek.

‘n Ekosteen is ‘n 2ℓ koeldrankbottel wat styfvol geprop is met plastiek- en tjipssakkies wat die hele wêreld vol rondlê. Die bottle word styf toegedraai sodat dit as ‘n harde bousteen vir beddings of bankies of self huisies gebruik kan word. ‘n Fondasie van so 2 rye stene diep, is blykbaar’n  voldoende basis om op te bou. Daar word beweer dat ‘n plastiek koeldrankbottel ‘n leeftyd van 1000jaar het. As dit nog toegemessel kan word, vorm dit ‘n stewige, geïsoleerde muur wat ons almal en ons nageslagte sal oorleef.

Daar kan om en by (volgens volume) 200 klein tjipssakkies (styf ingedruk) in ‘n 2ℓ koeldrank bottel inpas. Dit beteken dat sowat 16 000 sulke sakkies nié in Vanwyksvlei se veld beland het nie sedert die bottel-sop-projek. (Die arme kinders wat in hierdie dorp aan die lewe gehou word met so ‘n groot hoeveelheid tjips en puffs gelaai met MSG!!)

Self gooi ek nooit meer plastiek of polistreen in die asblik nie. Dit beland tog net weer êrens in die veld. Dis my aandeel om my koolstof voetspoor te verklein, want brand hulle die plastiek by die asgate, word 3kg CO₂ in die atmosfeer vrygestel vir elke 1kg plastiek wat brand. Saans, as ons sit en TV-nuus kyk, prop ek die dag se plastiekafval in ‘n leë 2ℓ bottel. Jy sal nie glo hoeveel gekompakteerde plastiek daarin pas nie. Amper ‘n week se afval van ons twee oues gaan gemaklik in een so ‘n bottel in.

Vandat dit bekend geword het dat ek sop in ruil vir ‘n ekosteen gee, lui my voordeurklokkie al van huistoegaantyd elke middag tot die son sak. “Jy’t ‘n lat vir jou g@t gepluk, my vrou” verwyt Johan my. Nou lê ek ‘n reël neer: nie voor 5uur in die middag nie! Anders is ek pal besig om koppies sop aan te dra! Maar ai, wat weet ‘n Vanwyksvleiertjie wat in Gr 3 nog nie eens kan lees en skryf nie, wat ‘5uur’ beteken. Ek beduie na die weste: “As die son so hoog soos daai paal bo die randte hang, dán is dit eers 5uur. Nie voor dit nie!” Ag julle, as dit die dag bewolk is, hoe moet ‘n kind nou weet van vyfuur. En hoe kan hy dan wag as hy so opgewonde is oor sy vol bottel en sy maag is leeg. Dan moet ek byvoeg dat dit nou nie net meer kinders is wat bottels volprop nie.

Nee, ek is geensins armer van al die sop-uitdeel nie! As ek nie sop het nie, kan ‘n sakkie springmielies ook ‘n honger magie kalmeer.

Maar die omgewing is heelwat skoner …