Vertrek vanaf Vanwyksvlei

Totsiens Vanwyksvlei. Johan het amptelik ‘n Akte van Demissie van die NG gemeente Vanwyksvlei ontvang. Wat ‘n wonderlike ervaring was die laaste drie jaar en drie maande nie vir ons nie. Watter wonderlike vriende het ons nie gemaak nie. Die impak daarvan sal nog lank en wyd uitkring.

Laasteakte

Vasie, leierouderling, oorhandig aan Johan die Akte van Demissie

Wat ons beleef en geleer het:

Streekstaal: Nadese kan ons ook sê dat ons in Vanwyksvlei so gelukkig was soos ‘n driepeer hings. Ons ken ook nou ‘n hele paar belangrike mense wat hoog neergesit is. Ons het ook heelparty ontmoet wat definitief ‘n ander pampoen se pit is, of anders gestel; ‘n ander dam se eend. Ons het mense van alle posture leer ken, o.a. ouens wat só krom is soos ‘n moflam wat pas teen insekte gedokter is. Of so gewigtig is, hulle kan ‘n kar stofdig sit. Dan is daar hulle met so ‘n sterk eiewil, hulle kook nie sag nie. Ander wat so leeg kan lê dat hulle godsonbruikbaar is. Hier en daar is daar siele sonder broers of susters wat bekend staan as ‘n korhaankuiken. En waar ‘n samekoms goed bygewoon word, is heitjie en meidjie teenwoordig. Lekker ryk en bruikbaar die taal van die Vanwyksvleiers. Ja, ek moet erken, ek weet ook nou dat diegene wat hulle vertellings deurspek met f- en d-woorde, nie noodwendig swets nie – hulle raak net driftig meegevoer.

Familie hiërargie: Sekere families in Vanwyksvlei neem nog steeds die prominente posisies in die samelewing in, nes hulle pa’s, oupa’s en grootjies van desjare. Hulle het die sê in die samelewing. Wee jou as jy hulle durf teëgaan op ‘n vergadering, want in Vanwyksvlei slaat hulle die ghitaar. Jy praat ook nie sommer van hulle by enigeen nie, want op ‘n manier is almal êrens verwant of stam uit dieselfde oermoeder of -vader.

Familie vetes: Nêrens anders het ons dít teëgekom soos hier nie; families wat nie met mekaar versoen nie. Meestal oor ‘n testament waardeur hulle nie só bevoordeel is soos hulle verwag het nie. Dat mense botweg weier om te versoen, soveel so, dat hulle nie eens met mekaar kontak maak oor die dood van ‘n geliefde nie, is vir my kop te moeilik om te begryp.

Aanpasbaarheid: Ons het ‘n mens leer ken in Vanwyksvlei wat weet hoe om klaar te kom met wat beskikbaar is. Niemand kan daardie slegte grondpad van 80km tussen Vanwyksvlei en Carnarvon, of die een van 126km na Prieska sommer net aanpak vir ‘n paar vars tamaties of room of pienk garing nie. Koop jy ‘n tamatie vir R15 by die ZamZoere? Nee, jy vind ‘n alternatief. Dis waarom Vanwyksvleiers nie sommer ‘n rit aanpak sonder om vriende betyds daarvan te sê nie. Vanwyksvleiers doen moeite vir mekaar. Vanwyksvleiers is aangewese op mekaar.

Lojaliteit: Dit is die lojaliteit van baie Vanwyksvleiers wat gemaak het dat die Bull Run gerealiseer het in Vanwyksvlei, dat daar elke Sondag steeds ‘n erediens kon plaasvind, dat die slaghuis en die algemene handelaar nog kan voortbestaan en dat ‘n kerkbasaar tog nog gehou kon word. En daardie lojaliteit gaan oor die saak, nie oor die mens nie. Kosbaar!

Weldoeners: Ons het beleef hoe weldoeners in hierdie drie jaar van droogte op eie onkoste boere uithelp wat nie staatshulp ontvang het nie. Dit is hartroerend om te kon sien hoe mense mekaar bystaan met hulp as vee begin vrek of ‘n siekte uitbreek onder die skaap. Of om kinders en studente se klasgelde betyds betaal te kry as die kontantvloei finaal opgedroog het.

Base: Dan is daar diegene wat hulle hele lewe lank nog bitter min ander blootstelling as net Vanwyksvlei gehad het. “Op my plaas wat ek geërf het, waar ek gebore en getoë is, is ek nog altyd baas”. So ‘n persoon het geen ervaring van hoe om in ‘n groep kollegiaal om te gaan nie. Daarom sal hy sê en nie voorgesê word nie. Anders werk hy eenvoudig nie saam nie!

Koninkryksbegrip: Met ‘n gemeente wat vanjaar reeds 102 jaar bestaan, is daar steeds lidmate wat dink die kerk is ‘n sosiale klub waar hul lidmaadskap per WhatsApp gekanselleer kan word as dinge nie meer in hulle smaak val nie. Dit gaan vir hulle oor wat die Here vir hulle kan doen en nie andersom nie. Die ‘ek’ staan so groot in die voorgrond, dit grens aan narcisme. Dan is daar die toegewydes wat steeds die hartkolp van die gemeente vorm. Vir wie dit opreg gaan oor God se saak en nie hullle eie agenda nie. Ware burgers van die Koninkryk van God.

Skindertonge: Hoe kleur mens jou lewe in as jy net jou eie klein wêreldjie het? As jou dag volgens TV-programmme verloop en sepies en die weeklikse tydskrif jou waardes bepaal? Jy bespreek ander se sake en lewe. Jy borduur daarop voort. Natuurlik. Daarom leer mens gou op so ‘n klein plekkie vir wie jy iets kan vertel en vir wie nie. As toets, raak jy ‘n klomp strooi kwyt voor sekeres en kyk na ‘n ruk met hoeveel wol daarom dit weer by jou uitkom.

Vroegoggend stappe: Met Rina van Wyk, my diep stapmaat, het ek kilometers en kilometers  vroeg soggens afgestap. En natuurlik diep dinge bepraat. As dit nie hiervoor was nie … Ek het ‘n paar voetslaan skoene ópgestap. Hoekom het ek nie rekord gehou van die afstande wat ons saam gestap het nie?

laastestap

Oggendstappie op die Springbokoogpad

Waarin ons kon slaag en nié in kon slaag nie:

Skouterrein: Johan het met sy bouervaring viervoet ingeklim in die voorbereiding van die skouterrein vir die Bull Run. Hy het die loodgieterswerk behartig by die nuutaangeboude ablusieblok. Dit sluit in die installering van toilette, wasbakke en storte met al die pype vir watertoevoer en -afvoer daarvan.

Instandhouding: Vir die volle tydperk van ons verblyf het Johan die instandhouding van die pastorie en die bakkie van die kerk op hom geneem. Hy het die badkamer se geroeste waterpype vervang met nuwes, die stort se geroeste pype uitgekap, vervang en weer toegemessel. Die teëlwerk het hy nie self gedoen nie, maar laat doen. Gloeilampe en buisligte het hy vervang waar nodig. Messelwerk het hy self gedoen. Ruite het hy vervang na die twee inbrake wat ons gehad het. Ou deurknippe wat sukkel gediens. Muskietgaas weer vasgesit. Skarniere ge-olie. Vir die braaiplek ‘n toesluit staalhek gesweis, sodat ons hout en braaigereedskap nie kon wegraak nie. As daar werk aan die voertuig gedoen moes word, het hy dit self gedoen – gereeld gediens, onderdele bestel, wiele self reggemaak. Ons laat die pastorie en die bakkie in goeie, werkende toestand agter.

Waters ry:  Johan het by ‘n hele paar geleenthede boere uitgehelp wat vir ‘n tyd moes weggaan en op hulle plase hulle waters vir hulle gery; vir Francois, vir Mike, vir Vasie en vir Paul.

Besigheidsritte: Vir tannie Herlina het Johan gereeld Carnarvon toe bestuur met haar motor vir banksake, doktersbesoeke en haarafsprake. Hy was altyd bereid om te help met ritte. Soos vir Chrisjan De Bruyn, toe sy been in Upington geamputeer moes word.

Versoening:  Ons kon nie daarin slaag om versoening te bring nie, tussen mense wat jarelange vetes met mekaar of met die kerk gehad het.

Ringsake: Onder Johan se voorsitterskap is ‘n sensitiewe ringsondersoek in die gemeente van Carnarvon suksesvol afgehandel.

‘n Toeganklike pastorie: Ons pastoriedeur was immer oop. Mense kon enige tyd instap. Koffie, tee of ‘n koue bier was onbeperk beskikbaar. Alle inwoners van Vanwyksvlei is dieselfde behandel – die agterdeur was bedoel om vuilgoed uit te vee, nie mense in te laat nie. By ons kombuistafel is baie gedeel. Dáár het Lena Kampies van die AME vir my en Johan kom bid soos geen gemeentelid dit gedoen het nie. Talle gemeentelede het vertel dat dit die eerste keer is sedert hulle katkisasiedae dat hulle voet in die pastorie gesit het. Mag die gemeente se pastorie nog lank funksioneer en altyd oop wees vir almal.

Foto’s: In baie huise in Vanwyksvlei pryk foto’s wat ek geneem het. Gr R diplomaplegtighede. Gr 9 afskeid. Doopgeleenthede. Erfenisdag. Debutante. Begrafnisse. ‘n Troue. Die laaste twee jaar pryk van my foto’s van die kerkgebou op die kerkalmanak.

laastekerk

My laaste foto van NG Vanwyksvlei se kerkgebou

 

Van die foto’s wat ek van Vanwyksvlei se mense op sosiale media geplaas het, is geskilder of ontwikkel met my toestemming. So is ‘n skildery van Rachel wat deur Helena Schoeman Jordaan, ‘n befaamde skilder van Stellenbosch, gemaak is, gekeur om in Kirstenbosch Gardens te pryk.

 

En Attie van Wyk en sy ghitaar is ook in pastel verewig deur die skilder Chrissie Roodt. Tertia Pretorius het ‘n lieflike portretstudie van Betjie Adams gemaak.

Nooit het ek iemand laat betaal vir die neem van foto’s nie, net vir dít waarvan hulle uitdrukke wou laat maak – ek het hulle slegs die bedrag laat betaal wat dit my gekos het om te laat maak as ek Stolpers in Upington besoek het. So skuld ‘n klomp mense my steeds ‘n klomp geld, maar dis nou tot daarnatoe. Mense kan wel sê dis dwaas, maar ek reken ek kon ‘n diens lewer wat andersins buite meeste inwoners se bereik was.

Kursusse: Heelparty opleidingsgeleenthede is aangebied in die dorp, waaronder ‘n paar uitreike, ‘n vrouekonferensie asook ‘n skilderkursus.

Laasteskilderklas

Dan was ek grootliks betrokke by opleiding in verwerking van herwinde plastiek.

Laaste4Dit het die deure vir dorpsmense oopgemaak om deel te word van ‘n projek wat SKA geloods het mbv CDI, wat bekend staan as MeerKAT Creative Community Initiative. Mense soos Stefanus Tieties en Sharon Baadjies het grootliks daarby gebaat en het dit hulle lewens in ‘n nuwe rigting gestuur.

 

Ekostene: Dit was my droom om genoeg ekostene gemaak te kry deur die dorpsmense om daarvan iets te bou. Ek kon egter nie daardie projek voltooi nie. Al die stene wat ek bymekaar gemaak het (in ruil vir iets te ete) het ek oorhandig aan Stefanus. Hy onderneem om dit ‘n skoolprojek te maak en tog eendag iets daarvan te laat kom.

Naaldwerk: Dié het ek dikwels gedoen.  Vir elke kerkbasaar. Vir George Adams, lekeprediker van die Gemeente van die Herbouers, het ek ‘n toga gemaak. Vir enkele ander inwoners het ek ook ‘n paar stukkies klere gemaak.

laastegeorgeadams

Gebak: Op bestelling het ek graag gebak. Kolwyntjies, verjaarsdagkoeke en ‘n feeskoek vir ‘n belydenisaflegging. Ek het dit nooit vir ‘n ekstra inkomste gedoen nie, maar net gevra wat dit my aan bestanddele gekos het. Weereens, waar anders moet Vanwyksvleiers heen vir so ‘n diens?

Verjaarsdae: Vir elke vrouelidmaat het ek met elk verjaarsdag die afgelope drie jaar ‘n persoonlike verjaarsdag geskenkie gemaak.

Bybelstudie: Vir die volle tydperk van ons bediening was die vrouebybelstudie my taak. Slegs 2 keer het ek van gepubliseerde Bybelstudiemateriaal gebruik gemaak. Verder het ek die studies self uitgewerk, getik en gedruk. By die VGK en die AME was ek ook by geleentheid betrokke met Bybelstudies of boodskappe. Die kerkraad het nie ‘my salaris betaal’ nie, daarom was ek vry om daar betrokke te raak soos wat die Here dit oor my pad gebring het.

Bo-Karoo: Vir die blog wat ek begin het oor die lewe in Vanwyksvlei het ek 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense geskryf. Oor die 3 jaar het meer as 80 000 mense die blog besoek. Dit is 80 000 keer wat iemand kennis geneem het van gebeure in Vanwyksvlei. Soos Willie Schutte van Centurion in reaksie daarop gesê het:

“Baie van ons wat nie eers geweet het dáár bestaan so ’n plekkie soos Vanwyksvlei nie, het Leonette en Johan vir ons “oningeligtes” hierdie plekkie op die landkaart geplaas met baie bedrywighede van lief-en-leed.

Hiermee wil ons hulle baie dankie sê vir baie interessante verhale en vertellings oor Vanwyksvlei en omgewing, voorwaar iets om te onthou en daaroor te praat en te vertel.”

Één storie waaroor ek nooit kon blog nie was oor die swendelaar A van wie B en C slagoffers was. Uiteindelik, na 3 jaar en vele soortgelyke episodes, is hy gevang en is tans verhoorafwagtend. Dit sou grens aan inkriminasie as ek meer detail sou gee. Daarom aanvaar ek dat daardie blog my nie beskore was om te skryf nie.

Dit het ‘n paar uitvloeisels opgelewer. Oor die waternood waaroor ek geskryf het, het ‘n organisasie ‘n groot klomp 5ℓ waterbottels geskenk. Sekere stories se impak word nou nog gevoel. Soos dié oor die droogte. Daar het juis weer gister en vandag 3 trokke met oumansgras, smutsvinger en ander voer in Vanwyksvlei aangekom. Mel van Omnia het onlangs een van die blogs onder oë gehad het en hierdie vragte gereël.

Sosiale media: Ek het baie nuwe fb-vriende gemaak, veral na aanleiding van die blog wat op die Karoo-groep gedeel is. Van hulle het ek later persoonlik ontmoet, soos Van Der Spuy Brink van Durbanville en ook Lida Eksteen van Upington. Lida het, n.a.v die plastiekprojek, 30 buddy bags aan my geskenk. Ek moes net die afwerking daarvan doen – meestal handvatsels aanwerk. Vanwyksvlei het hom nie geleen tot ‘n buddy bag-projek nie. Maar ek kon wel al die sakke vul met tydskrifte, Bybels, blikkieskos, seep, waslappe, klere en skoene wat ek nie weer sou gebruik nie, ens. Dié het ek die dag van ons vertrek aan die heiningpaaltjies om die kerk gehang. Vir wie ook al dit wou vat.

laastebags

Deur die blogs het ek mense leer ken wat voorheen in Vanwyksvlei gewoon het, of wat familie is van mense waaroor ek geskryf het.

Noordwester: Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het daar weer berigte in die Noordwester verskyn oor Vanwyksvlei en sy mense. Dit nadat ek eendag die redakteur persoonlik ontmoet het by Die Rooi Granaat in Loxton en hy my gevra het om berigte deur te e-pos vir publikasie.

Kleiprojek: Vanaf die heel begin van ons tyd in Vanwyksvlei wou ek graag ‘n kleiprojek met die inwoners begin het. Dit het nooit gerealiseer nie. Die klei is daar – die hele dam vol. Dit is ontleed deur die NWU. ‘n Pottebakker van Wellington het dit getoets en bevind dat dit lieflik uitvuur. ‘n Wiel en ‘n oond is geskenk vir die projek en staan by die pastorie. Die oond is reeds omgeskakel na enkelfase en met Johan Bruwer se hulp gereed vir gebruik. Mag daar tog êrens iemand kom wat die projek kan vat en kan deurvoer.

Laaste3

Fauna en Flora: Ons het baie van die inheemse plante en diere leer ken waaronder die kapokvoëltjie.

laastekapok

Die kundige nessie van die kapokvoëltjie met sy valse ingang

Tog sou ek graag al die wonderlike Karooplantegroei wou leer onderskei. Helaas …

Hierdie is my laaste blog oor Vanwyksvlei. Ek en Johan gaan swaar weg van baie wonderlike mense af. Ons voel dat ons bereik het waarvoor die Here ons geroep het. Die kerkraad is gesuiwer en die huidige span is ‘n toegewyde, nugter en bekwame span. Die getal lidmate het drasties afgeneem maar niemand het hulle lidmaatskap opgegee nie – wat beteken dat dit oor ons gegaan het. Johan het in opdrag van God die kerk-kerk speletjie probeer verander na ‘n dieper begrip van wat die Koninkryk regtig vereis van sy burgers en ‘n dieper wandel met God, “nie met hoë woorde of groot geleerdheid” nie. (1 Kor 2:1). “God het ons gekeur… en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.” (1 Tess 2:4 en 5). Ons twee is aan niemand anders ‘n verduideliking verskuldig oor ons bediening in Vanwyksvlei as aan Hom nie.

Met ons vertrek, kan sommige lidmate dalk weer die moed hê om betrokke te raak, wie weet. Vir Hom is niks onmoontlik nie.

Hoe dit ookal sy, Vanwyksfontein, ons gaan julle mis.

Katakombe in die Karoo

Op die plaas Jobsekolk, tussen Vanwyksvlei en Brandvlei, staan ‘n katakombe – ‘n mensgemaakte kamer wat dien as ‘n begraafplek (volgens Wikepedia). Hier lê Johannes Jacobus Lourens Zandberg en sy vrou Elizabeth Catharina Müller begrawe.

Jobsekolk10

Jobsekolk is op sy dae ‘n spogplaas. Daarvan getuig die imposante boustyl, die geuwels, die oorblyfsels van ‘n victoriaanse tuin. Vandag is Jobsekolk ook maar net ‘n bouval, soos soveel ander plase in die Karoo.  In Hennie Aucamp se woorde: ‘n Huis raak afgetakel, nes ‘n ou mens; dit word ook ‘n verwyt aan hulle wat dit eenmaal bewoon het. Of soos dr. Petronella van Heerden dit stel: ‘n Huis verkwalik sy mense as dit nie bewooon word nie. ‘n Huis het asems nodig om hom regop te hou. Hoekom waai winde so ekstra droewig om en deur murasies, en buig hulle die sipresse in kerkhowe? Omdat hulle die asems soek, glo ek al hoe meer, van dié wat eenmaal hier op aarde was. (Dankie hiervoor, Pieter Hoffman)

Jobsekolk13

Dawid le Roux huur tans die grond op Jobsekolk vir ekstra weiding want die plaas grens aan sy grond, Flamingosfontein. Hy het ‘n sleutel vir die grafkamer en laat ons binne. Geitjies floreer hierbinne.

Die twee imposante grafte vul die kamer. Orals teen die mure pryk familieportrette en geslagsregisters van weleer. ‘n Mens moet eers bietjie skoonvee voordat jy regtig kan uitmaak wat agter die glas, stof en geitjiemis versteek is. Dit word ‘n ontdekkingstog!

Hier duik die naam van Rosa Hermina Schalkwijk weer op.

Jobsekolk8 Vroeër het ek vertel van haar graf wat op die buurplaas, Klipkolk,  buite die begraafplaas staan. https://wordpress.com/post/karooblog.wordpress.com/2417

Rosa blyk die ma te wees van die dogter wat later die vrou van DF Malan geword het. Hier is sy aangedui as tweede kind van Johannes Lodewikus Schalkwijk en Johanna Christina Jacoba De Klerk, die grootouers van húlle wat hier begrawe lê.

Rosa Hermina Schalkwijk trou met Johannes Zandberg by wie sy drie kindersverwek, nl Johanna asook Mattie (DF Malan se latere vrou) en Johannes Louwrens Zandberg. Na sy asterwe tree sy weer in die huwelik met Jacobus Johannes De Wet. By hom verwek sy nog drie kinders.  Vroeër vanjaar maak ek toe onverwags kennis met Rosa Grant en Koos de Wet (80), albei kleinkinders van hierdie einste Rosa. Hulle het op die internet afgekom op my vorige blog oor hulle familie. Enewil, met Rosa Hermina se dood op die ouderdom van 43, is onse Johannes Louwrens Zandberg 19 jaar oud. Dit is hiérdie Zandberg-seun wat die trotse eienaar word van Jobsekolk.

Johannes Louwrens Zandberg trou met Elizabeth Catharina Müller. Dit is húlle wat Jobsekolk opbou tot ‘n trotse en welvarende boerdery. Vyf kinders word uit hierdie huwelik gebore waarvan slegs een nog lewe, nl Elizabeth Catharina Zandberg, oftewel Betsie, gebore in 1947.

Jobsekolk7

Jobsekolk9

In die grafkelder is ‘n besoekersboek. Agter in die boek sien mens hoe Jan Zandberg boekhou van elke pennie en pond se motoruitgawes en ook ander boerdery-uitgawes. Op elke oujaarsaand maak hy ‘n inskrywing van sy skaapgetalle. Dis opmerklik hoe sy boerdery in sowat 40 jaar vervierdubbel. En hoe die 1933-depressie sy skaapgetalle knou met ‘n volle 1000 skape.

Waarom ‘n grafkelder? Wie weet? Dalk wou hulle alles net perfek doen? Maar daar is baie stories in omloop.

Op versoek van Bets, die oudste oorlewende dogter, verwyder ek alles wat hierna oor haar ma voorheen geskryf was, omdat dit nie die waarheid blyk te wees nie. Hiermee bied ek ook my verskoning aan vir enige iets wat ek voorheen geskryf het, wat as stories rondgeloop het in Vanwyksvlei, en haar nie aanstaan nie. Volgens Bets was haar ma na die begrafnis nie meer op die plaas nie, maar by haar en onder haar persoonlike versorging.

Gert boer ‘n bars

Gert van Wyk boer al van 1970 op De Hoop – langer as wat hy en Rossie getroud is. Hy, ‘n voortreflike boer, en sy, ‘n voortreflike boervrou. Trots Suid-Afrikaans. Diep gelowig.

 

GertRos4

Rossie kook nog op ‘n Agastoof. Haar houtvloere word nog gereeld gepolitoer en opgevryf. Haar novilonvloere blink. Haar koperware word gebraso. Haar tuin is ‘n stukkie groen oase in ‘n dorre Karoolandskap.

Kyk maar na al Gert se lyndrade. Kyk maar na elke kamp. Kyk maar na die toestand van al sy paaie. Kyk maar hoe goed werk elke plaashek. Kyk na die asbosafdakke wat hy in elke kamp gebou het vir skadu vir sy skaap. Kyk na sy waters en sy windpompe en sy krippe. Kyk na sy prosopisvrye plaas en jy sal saamstem; Gert boer ‘n bars!

GertRos2

Asbosskerms gemaak vir die skaap vir koelte bedags

‘n Boer wat só die vinger op die pols van sy hele boerdery het, wat sy skaapgetalle in elke kamp só goed ken, wat sy plaaswerkers met sóveel menslikheid behandel, is nie die slagoffer van veediefstal of skaapslagtings nie.

Neels en Sedline bly al 17jaar op De Hoop; 60km uit Vanwyksvlei op die Kenhardtpad. Dít alleen spreek boekdele in hierdie deel van die wêreld. Al hulle kinders is hier gebore en het hier grootgeraak. Het van hier af skoolgegaan in Vanwyksvlei en later ook in Carnarvon. Neels is in besit van ‘n bestuursslisensie en het ‘n motor op sy naam. Hulle bly in ‘n groot huis met krag en lopende water.

GertRos5

Neels en Sedline met een van hulle seuns

Gert is altyd nog ‘n man van innovering en inisiatief. Hy kan raakvat en regmaak. Hy kan vasbyt en het visie. Hy is uiters handvaardig en uitnemend hardwerkend.

De Hoop lê aangrensend met Constantia – FA Venter se eertydse Karooplaas. Gert se grond grens dus aan Alkantpan – die militêre toetsterrein in die Bo-Karoo waar wild wild kan aanteel.

GertRos1Daarom is al sy grensdrade geëlektrifiseer en jakkalsproef – dit deur sy eie uitvinding en met sonkrag. Die boonste drade is nie geanker aan die droppers nie, maar gespan aan ‘n kort, losstaande stukkie dropper.  Na elke alternatiewe dropper is hierdie stukkie ingespan sodat dit los is om te kan kantel; voor die boonste spandraad en agter die derde  spandraad verby, geanker aan die tweede spandraad. Probeer ‘n jakkals daarteen opspring, kantel die draad na die buitekant en hou die jakkals uit. Rooikat kan egter suiwer bo-oor spring, maar Gert kom gou agter as daar êrens op sy 7200ha ‘n rooikat woel. Dan maak hy werk daarvan.

GertRos3

Briljant en innoverend is hierdie breinkind van Gert

As ek ooit die Lotto wen, koop ek De Hoop. Gert het al die 70-kerf bereik en kan doen met ‘n rustiger leefstyl. Maar De Hoop se nuwe eienaar sal eers ‘n fel toets moet slaag, anders het ek nie vir hom hoop nie – hy sal bars.

Rossie1

Ek wou nog altyd

Op my te-doen lysie, voordat ons finaal Vanwyksvlei groet, staan daar al vir meer as drie jaar: slaap onder die sterre.

Paul en Sannetjie Vos van die plaas Kleinmark maak dit vir ons moontlik.

Op die aand voor volmaan, wat ook een van vanjaar se supermane is, realiseer dit uiteindelik. Die aand is volmaak. Die plek is volmaak; hoog op ‘n plato, waar mens die horison reg rondom kan sien, baken Paul vir ons ‘n oorstaanplek vir die nag af.

Laaaste6

Baie moeite word daarmee gedoen. Hy rig ‘n lapa in tussen reuse ysterklippe – ontbos en skoongevee. Bou selfs ‘n tafel vir ons van ‘n reuse plat ysterklip.

edfDie vuurmaakplek lê beskut tussen twee rotse indien die wind sou opkom.  En daar staan my bed gereed vir die nag! ‘n Regte divan met ‘n regte matras teen ‘n reuse klip as kopstuk – my persoonlike Bet-el-bed.

Vriend Christo Woite wat vanaf Centurion ons besoek, beleef hierdie hoogtepunt saam met ons. Ons maak ‘n ordentlike ‘grondvuur’ en ontkurk ‘n behoorlike bottel rooiwyn. Die beste kuier. Die beste skaaptjops uit die Karoo op die kole. Die beste tyd vir ‘n nag in die oopte. ‘n Ligte, koel windjie gee die muskiete nie kans om te land nie.

Met die maan se opkoms, is dit nog lig. Teen die tyd dat hy ondergaan, is hy vol uitgeswel en sak soos ‘n yslike lemoen die westerkim in. Deurnag baai ons in sy skynsel; die sterre bleek in sy gloed. In Christo se woorde, ‘n “oomblik van verwondering”.

Die son se nuwe strale spoel oor ons platoslapers. Tyd loop uit; Christo moet groet en ons moet ook vort. Elke dag wat oorbly staan in die teken van laastes. “Bly in die oomblik”, hoor ek weer vir Christo. Elke ervaring, al is dit ook hoe swaar, moet ten volle beleef word. Dit doen ek dan ook met behulp van my kamera:

Laaste5

Nog ‘n stukkie weelde-onthou wat ek met my gaan saamneem uit die Bo-Karoo.