Ontruim.

 

So onvermydelik soos die dood, so is huisopgee vir elkeen. Een of ander tyd in jou lewe moet jy daardeur.

So is dit ons voorreg om die afgelope paar weke weer deur daardie oefening te gaan. Nie omdat ons nou op pad ouetehuis toe is nie, maar omdat ons kinders uit ons huis in Pretoria getrek het. Daar staan die leë huis met huisraad – want ons is net met ‘n klein bietjie persoonlike besittings Vanwyksvlei toe drie jaar gelede. Al ons goed is nog daar sonder dat ons die kinders stoorgeld betaal het.

Die kinders beweeg aan. Ons moet ook.

Gelukkig val die oefening saam met ‘n uitnodiging van NG Lyttelton-Oos aan Johan om ‘n preekbeurt te gaan waarneem tydens die viering van hulle 60ste bestaansjaar. Die plaaslike kerkraad staan die besoek toe. Ons vertrek ‘n week voor die preekbeurt om solank ons besittings te gaan stoor – dis nog ses maande voordat ons kontrak met Vanwyksvlei verstryk.

Nou wonder ek? Sal jy al jou besittings gaan stoor as jy weet jy skaal in elk geval oor ses maande drasties af? So vlieg ons in en maak radikaal minder. Neem onemosioneel besluite oor uitsmyt, skenk, herwinning, stoor. Sien, een of ander tyd móét almal daardie besluit neem, anders neem iemand hom (wee jou) namens jou.

Daar’s hopies: hierdie gaan Hospice toe, daardie word geskenk aan Solidariteit, ‘n ander hopie is nog die kinders s’n, díés kan die skool op Vanwyksvlei gebruik, dít hou ons, daai wil ons nog gebruik, hierdie gaan vir die herwinningstrollies op asblikdag, boeke wat ons nooit weer gaan lees nie, kan gaan vir die kerk se boekrak. Jy moet mooi kophou tussen hopies om nie deurmekaar te raak nie …

Rye en rye teologiese boeke is nêrens meer in aanvraag nie. Stapels en stapels wiskunde en wetenskap studiesstukke en vraestelle gaan nooit weer gebruik word nie. Alles gaan vir papierherwinning.

Meubels en huisraad word weggery stoorplek toe.

Tussendeur word die huis se vloere herstel. Daar’s meer stof as dít wat mens nodig het vir nadenke of dankbaarheid. Dan moet daar nog geverf word ook want ons moet ‘n goeie huurder kry – hierdie is ons enigste pensioen. Dus word die week twee. Later twee en ‘n half …

huisf

Dis nie die eerste keer dat ons afskaal nie. Met elke verhuising gebeur dit noodgedwonge. Wanneer die kinders een na die ander die huis verlaat, neem hulle baie van hulle eie besittings saam. Ek reken alle mense doen dit ook in fases eerder as om eensklaps ontslae te raak van ‘n leeftyd se opgegaarde goed.

Hoe dankbaar is ek en Johan vir hierdie oefening van die afgelope paar weke. Dit leer ons ‘n duur lewensles. Die onnodige bagasie wat mens met jou saamsleep is soos ‘n binding. Weggee, weggooi, wegmaak, wegstuur, wegsmyt is bevrydend. Dit waarsonder jy ‘n paar jaar reggekom het kan iemand anders se lewenskwaliteit verbeter. Opgaar grens aan sonde …

Om ligter verder te reis word lekker. Goeters knel. Dis makliker met minder.

Minimalisme word ons motto. Ontruiming, ontdek ons, verruim.

Advertisements

Red nou ‘n kerk

Hoe red mens ‘n kerk wat kwyn? Sal mens ‘n projekbestuurder of fasiliteerder of strategiese beplanner of dalk ‘n beter dominee inkry? Sal mens alles toemaak en van vooraf begin? Sal mens saamsmelt met ‘n bestaande gemeente?

Met net sowat 70 lidmate oor op ons lidmateregister is ons tans maar ‘n klein gemeente. Heelparty van hulle is lankal nie meer kerkgangers nie, of studeer elders, het afgetree en woon nie meer in Vanwyksvlei nie.  Bowendien moet sommige lidmate kilometres plaaspad aandurf met tot soveel as 17 hekke wat moet oop en toe om betyds by ‘n erediens te kan wees. Andermaal het boere geen plaaswerkers vir ‘n naweek nie wat meebring dat hulle op ‘n sabbat nog voor kerk moet voer en doen, wat dit bitter moeilik maak om kerkbesoek ook nog in te pas.

Dis nie net ons storie nie.

Met ‘n gemiddelde kerkbesoek van omtrent 16 per erediens vir die afgelope 6 maande, is ons op ‘n baie styl afdraande pad.  Die bedryfskoste van ons gemeente – dominee, koster, orrelis, skoonmakers se salarisse, onderhoudskoste, telefoon, munisipale rekening – boer ons snel agteruit.

Johan het nog net 6 maande op sy kontrak met die gemeente oor. Wat daarna? Sal die gemeente ‘n volgende predikant kan bekostig? Sal die donker bedreigings ons gemeente ook insluk?

donker toesak

Die pad vorentoe moet bepraat word. Daarom hou ons gemeentevergadering.

Gemeentevergaderings het die potensiaal om te ontwikkel in iets wat raak-raak aan ‘n NAP-SAP-vergadering. Dalk vlieg stoele nie rond nie, maar verwyte en beskuldigings kan wel.

Nie hierdie keer nie. Die gemeente vergader in diep afhanklikheid van die Heilige Gees vir sy leiding. Niemand kom met ‘n vooropgestelde agenda nie. Daar heers afwagting. Ons praat nie, ons luister.

Jan la Grange doen verslag oor die pas afgelope konferensie in Barkley-Wes oor kleiner wordende gemeentes. Ons is nie alleen nie. Slegs in die Noord-Kaap is ons maar net nog een van baie wat in dieselfde posisie verkeer.

Daarna delf ons, onder leiding van Johan, in die Woord uit Lukas 10 na antwoorde. Die kerk is God s’n. Dis nie die dominee s’n nie. Ons hoef nie die kerk vir Hom te red nie. Hy is steeds in beheer. Hy het aan ons ‘n model gegee in sy Woord wat sal lei tot groei en uitbreiding. Maar met ‘n vooropgestelde agenda is dit bitter moeilik om te sit en te luister wat God sê. Alleenlik met ‘n verwagting dat daar wel antwoorde uit die Skrif te vinde is, is dit moontlik om te besin oor wie wat moet doen, in watter gesindheid, teenoor wie en waarom. So eenvoudig soos dít.

Ons is wel ‘n kwynende gemeente, maar ons liggie het nog nie uitgedoof nie.

gloei

Ons is nou opnuut weer ‘n biddende gemeente. Ons erken dat oulike plannetjies nie die kerk gaan red nie, slegs gehoorsaamheid aan God se opdrag. Ons verbind onsself opnuut daaraan om nie net te wil sit en ontvang nie (soos wat dit maar so maklik gebeur met televisiekerk), maar om uit te gaan as gestuurdes om die oes te gaan insamel. Die groot oes daarbuite vereis dat die kerk steeds ‘n ligpunt in hierdie afgeleë deel van die Bo-Karoo moet bly.

lig

Dalk, net dalk kan ‘n verandering lidmate weer terugbring. ‘n Gesindheidsverandering. ‘n Ingesteldheidsverandering. ‘n Persepsieverandering. ‘n Hartsverandering.

En dít is die werk van die Heilige Gees alleen.