Taxi tot in Seepunt

Randall tel my in Brandvlei op na afloop van die Ringsitting. Dis Vrydag 8nm.

My medepassasiers in die Fortune Shuttle is drie lang latte in die agterste sitplek, tweetjies voor hulle wat sterk ooreenkomste het met kleefplastiek, voor hulle sit twee anties met grys koppe op pad terug na ‘n kuier in die Kalahari, langs my Esmé met twee dogtertjies – een 3 maande en een 2 jaar – en voor by Randall sit Ishmail. Ek groet almal. Deel my pakkie skuinskoek, wat ek by die Ringsitting gekry het, onder my bure.

taxi3

Die luidsprekers is ook gasvry. Iets tussen Regae, Kwaito en Techno pomp ritmies deur my lewer. Ek leer ken Trap! Oral om my val almal aan die slaap, kleinstetjie aan die bors en sussie onder my voete op die kaal vloer – hulle kom darem al vanaf Upington. Niemand blyk gestoor te wees deur die ritme en die volume nie.

Meeste dop om. Ek, kiertsregop en uit my diepte. Begin geniet die gesprek tussen Ishmail, ‘n textile rep uit die Kaap en Randall met sy ‘n Noord-Kaapse Afrikaans: “Nei, ek sien ha net daa voo annekant daai bruggiekie. Witte meisiekênd. Sy loop reg innie shuttle is en toe vedwyn sy. Anne girlkie hie agter het ha oek gesien! Ons was twie wat ha daai aand gesien het. My bra, ma ekke skrik vi my!”

In Calvinia laai Randall ‘n co-driver op. Gooi R250 se brandstof in. Almal stroom uit die taxi. Koop Coke en gaan piepie. Ek kry die jongste passasier om vas te hou sodat haar ma kan gaan rook. Besef ek moet ook ‘n draai stap. “Het sy R2?” vra die een gryskop vir my. Ek betaal vir my toiletpapier en water en skoonmaakdiens en die traliedeur swaai vir my oop. Net betyds terug vir vertrek.

Ishmail Soeker sit nou langs my. Ek vra uit. Hy is ook van Seepunt. Bedryf ‘n lapwinkel wat al geslagte in die familie is. Vertel in detail hoe sy ma van 89, drie weke gelede afgesterwe het. Hoe die familie van 8 sibbe en aangetroudes, 30 kleinkinders en 10 agterkleinkinders moes besluit om die ondersteuningsmasjiene af te sit sodat sy waardig kon sterf. Amina Soeker word dieselfde dag met eer en oorvloedige blomme, begrawe

Die wind begin angswekkend sterk uit die suide waai. Ruk die shuttle en sy waentjie met seiltjie ongenadiglik. Dieselfde wind het glo ‘n groot trok omgewaai op hierdie selfde dag op hierdie selfde pad.  Maar Randall ken oënskynlik hierdie Boesmanlandse wind. Neem net voor Nieuwhoutville weer oor by die co-driver om die Vanrynspas af te trotseer. In Vanrynsdorp maak hy vol. Almal maak weer leeg. Slaan gou ‘n dampie – borssvoedende Esmé ook. Dis half twaalf.

Deur Klawer met dieselfde Trap ritme. Dis blykbaar ‘n toonbeeld van voortreflikheid vir ‘n taxi om aan sy reisigers hierdie diens te kan lewer. Draai af by Clanwilliam om die twee anties af te laai. Die drywer ken die roete na Kalkoenstraat in die lokasie.

“Hie regs!” sê een antie.

“Watte’ Kalkoenstraat is dié ene dan?” wil die drywer weet maar kom toe tog kortpad by dieselfde straat uit. Die kleihuisie se bodeur staan oop om die twee anties te ontvang. Al slaap die township ongestoord, doef die taxi ritmies voort in die aflaaiproses. Almal kan hoor hy is nie ‘n skelm indringer nie. Dis half een.

Voort met dieselfde gepomp. Ishmail en een van die lang latte beset nou die tannies se sitplek. Teen Piekenierkloofpas skud die vloerslapertjie wakker en staan regop. Ek tel haar op en maak haar weer slaap op ‘n deel van my bobeen. Gooi haar mooi toe onder ‘n kombersie. Nou het my voete weer spasie. Moedertjie slaap vas met sussie aan die nikotienbors.

By Piketberg word weer stilgehou, gerook en midnight snacks gekoop. My bobeen is nat gekwyl. Rookma wil weet hoe kom die kind dan op die bank. Die drywer vertoef om bene te rek – take aways vat ‘n rukkie om gemaak te word weet hy klaarblyklik.

Vanaf Piketberg verander Trap na Slow Dance – ‘n vierslagmaat met ‘n geteem wat baie krulle en draaie in het.

“Oh, Baby-y-y, I’ll do a-a-a-anything to-o-o make you stay-y-y …”  Randall beheer die speellys vanaf sy selfoon, wat ook sy GPS is. Hy wissel vaardig tussen die twee.

“Baby, oh ba-a-a-b-y-y, let your body-y-y-y make me happy-y-y-y.” Ons ry agterpaaie verby Riebeeck-Wes se uitdraai, Darling se uitdraai, Malmesbury se afdraai, agter Durbanville verby.

Teen half twee slaap almal behalwe die drywer en ekke. Slow Dance maak plek vir Gospel. “You are here, my God, I worship you.” Vir die eerste keer kan ek my vereenselwig met die keuse van sy speellys.

In Kraaifontein laai ons teen half drie die outjie van die kleefplastiekband af. Hy gee sy nommer vir die co-driver vir die terugrit. Dié gee hom ‘n besigheidskaartjie aan om agterop te skryf. Gee dit vir die drywer. Verontwaardig: “Djy lat hom oppe kaarchi skrywe! Hierie kos mos geld, man. Hies dan‘n blaai wa-ôp hy ka skrywe.”

Agterpaaie. Links. Regs. Om. Op en op en op in Plattekloof. Almal is nou wakker. Die aanmerkings oor die luukse huise is kostelik. “Ma’ dis mos lanie hyse hierie, my bra.” Nog op en op en op. Onder ons lê die Noordelike voorstede se liggies soos ‘n ragfyn stuk juweliersware oopgesprei. ‘n Reusagtige driekwart maan hang laag oor die horison. Ek wens ek kon dit beter vasvang op kamera.

taxi1

Tannie Poppie van die GPS bring ons tot voor ‘n mansion. Randall stop. Die voordeur is oop en ‘n gesluierde vrou wag. “Ek sê, Sarah, djy strike it lucky, hê.” Sarah se bagasie word uit die sleepwa vrygelaat. En ek het gedink hulle is minstens op pad om ouers te gaan vra. Nou besef ek die afskeidsrit is oor Sarah werk gekry het. “Toe Sarahtjie, ga smee die ou omie se rug nou goed in gehoo” spot die ander passasiers. Ek sien ‘n beskimmelde Sarah met haar tassie voordeur toe loop. Randall vergesel haar tot by die nuwe land lady. Oorhandig haar. Sy is mos al die pad sy verantwoordelikheid. Dis drie uur.

Agterpaaie Elsiesrivier toe. Nou doef-doef-doef niks nie. Almal is stil. Net die padaanwyser praat: “Robot oor. Robot regs. Links by die vurk. Stop net hie op die intersection.” Vinnig-vinnig pluk die laaste twee ouens hulle toksakke onder die seil uit. Hardloop en spring sommer oor die tuinmuur van die huisie. Daar’s nie tyd om te wag tot iemand wakker word en kom oopsluit nie. Die taxi se deur klap in die wegtrek toe.

“Sluit! Sluit! Sluit!” Agter ons verskyn twee swartgekleede karakters . Hoodies oor die koppe getrek. “Wie’s dit?” vra die drywer.

“Dis hulle!”

“Issit hulle?”

“Dis hulle. Die skieters!” Maar ons is veilig om die hoek. You are here, my God. I worship you.

Die maan is onder. Dis vier uur. Elza wag by Mc Donalds by Groenpunt stadion, want die pad op tot waar hulle bly, sal die taxi met sy sleepwa nie maak nie.  Sy klim uit die geparkeerde Range Rover toe sy die taxi sien intrek. Nou spring al die manne polite uit. Die seil word fluks losgeknoop. My bagasie flink uitgetel.

taxi4

“’n Hilux het daai Ranger uitgesleep. Is true. Ek het dit op face book gesien” sê die drywer, baie beïdruk met Elza se ryding.

Ons skud blad. Ek en Elza bedank die manne hartlik.

En Randall oorhandig aan my een van sy kosbare besigheidskaartjies.

taxi2

Ringsitting by die Windpomp

ring10

Brandvlei se uithangplek, eetplek, kuierplek tree op as gasheer vir die Ring van Carnarvon se Ringsitting 2018. Die Windpomp. Ek, Eureka en Charl het die voorreg om as gaste in te sit en saam te geniet, al is ons nie afgevaardigdes nie. Charl staan in om na klein Marizanne om te sien terwyl haar ma, Suzannne, predikant van Carnarvon, as skriba van die vergadering optree.

Hoe gemeentelede betrokke raak in Koninkrykswerk deur te dien met wat hulle het, is opmerklik. Hier staan tafels voorberei met gawes om ons welkom te laat voel. ‘n Geskilderde klip vir elk. ‘n Geskenkpak met elke variasie Kalaharisout denkbaar. Dorpshuise, voorberei met als wat nodig is in vir ‘n rustige nagrus en vir ‘n ontspanne middaguur.

Ons word getrakteer. Die beste kos met elke ete – in oorvloed. Oorvloedig water in alle geure om heeldag aan te teug. Aarbei, komkommer en kruisement. Iets vir die kies om aan te suig so tussendeur. ‘n Karoobraai sonder gelyke op ‘n vuur sonder gelyke. Niks word gesnoep nie – nie kole nie, nie vleis nie, nie ys nie, nie bykos nie. Skaaptjops. Hoendersosaties. Wors. Skaapribbetjie. Vriendelike diens. Vlytige kokke.

Leentjie en Lucas, met hulle bekwame span van Die Windpomp, saai nie wind nie. Hulle warrel ook nie rond nie. Doelgerigte, doelmatige beplanning en uitvoering daarvan. Klokslag op die regte tyd, al stroom reisigers in en uit om, waarheer ookal op pad is, hierdie oase te gebruik. So loop ons vir Stephan Louw, die eienaar van ons geliefste plek op aarde, Taaiboschoek, hier by die Windpomp raak. Hy is juis op pad Loeriesfontein toe vir ‘n skou.

ring8

Leentjie met haar span bekwame en gewillige werkers

Ringsittings is, volgens my ervaring, ‘n kerkvergadering wat oorheers word deur verslag op verslag op verslag. Nie hierdie keer nie! Ons is ‘n familie wat mekaar baie lief het. Ons vergadering geskied op ‘n gemoedelike, informele vlak met groot diepte.

ring6

Rudi van Vuuren van Brandvlei lei ons lofsang en aanbidding en verootmoediging met sy ghitaar.

ring5

Rudi van Vuuren in aksie

Wat egter besonder uitstaan, is die diep geestelike ervarings in die Woord. Meer tyd word met God bestee as aan verslae. Muller se openingsstudie uit 1 Kor. 12. Muller van Williston se studie eerste dag oa uit die “Ons Vader”-gebed, en Johan die volgende oggend uit Matt  7. Die een se Skrifstudie, onbewus van wat die ander een beplan het, lei ons op dieselfde tema: “ons” teenoor “hulle”. Wie is die “hulles” en wie die “onse”. Wie is almal deel van ons “ons”. Wat doen “ons” sodat “hulle” lewe in oorvloed kan ervaar. Hoe sluit ons “hulle” n in ons “ons”-gebede. Op watter pad is “ons” en wie is die “hulle” op die ander pad? Dit is mos hoe die Heilige Gees werk! En nóú werk Hy met elkeen van ons op sy eie manier.

Mag dit tog asseblief oorspoel na elke gemeentelid van ons gemeentes in nood hier in die Bo-Karoo.

Ria op reis

ekenria

Sy kom per Inter-Kaap tot in Upington. Sy ry met ons saam tot in Vanwyksvlei. Sy val by ons skedule in met BullRun voorbereidings, Bybelstudie, betrokkenheid in die gemeenskap, eredienste. En sy gee haar alles.

Ria Nel tree af as maatskaplike werker in Pretoria. Sy verkoop als. Stoor haar orige besittings. Begin reis. Onbepaald. Onbepland. Al op die roete van haar herinneringe as kind na kennisse uit die verlede. Waar daar geleentheid voordoen, reis sy saam na die volgende plek. Waar haar mense haar kan ontvang, bly sy oor. Waar sy oorbly, beleef sy. Wat haar begroting haar toelaat, voer sy uit.

Ek land desjare langs haar in juffrou Van Der Merwe se klas toe ons halfjaar vanaf Sannieshof Barberton toe verhuis. Sedertdien hou ons vriendskap steeds. Nou alreeds 58jaar!

Haar oorbly op ‘n plek pas sy aan by wat beskikbaar en wat geskik is. As ek haar uit haar kamer skuif om plek te maak vir hulle wat BullRun toe kom, vaar sy gladweg mee – sy het al baie op die grond geslaap tydens staproetes. As my spyskaart iets kortkom vir haar eetprogram, vul sy met grasie aan uit die beskikbaarheid van Vanwksvlei se winkels – sy ken al die alternatiewes.

Met almal deel sy – haar kennis, haar kundigheid, haar vaardigheid, haar ervarings, haar beursie.

Vir Magdaleen met haar diabetes, met wie sy saam honderde braaibroodjies toedraai vir die BullRunners, gee sy ‘n eetprogram. Sy self is al baie jare gelede daarmee gediagnoseer en bestuur nou al vir meer as 10 jaar haar eie gesondheid met die regte eetplan, soveel so, dat sy geen medikasie meer neem nie.

Vir Nadia (nie haar regte naam), help sy met ‘n radikale plan om haar derduisende wat sy skuld, planmatig en stelselmatig te begin afwerk. Self het sy baie jare as skulberader gepraktiseer en ken al die struikelblokke in die pad as iemand namens jou, jou skuld begin beheer.

Vir Babette (nie haar regte naam) verduidelik sy die roete om te neem en voorsien haar van al die inligting wat nodig is om ook te kwalifiseeer vir ‘n SASSA pensioentoelaag en ‘n ekstra staatstoelaag vir die tuisversorging van haar bejaarde ma.

Vir Sharron vertel sy hoe om ‘n POF-saak geregistreer te kry. Watter dokumentasie en bewyse sy sal nodig hê daarvoor. Ria het self vir haar susterkind, wat baie ernstig beseer is in ‘n motorongeluk, ‘n suksesvolle eis deurgehaal wat hom sy lewe lank sal kan onderhou.

Vir my oortuig sy dat my plastiekherwinningsprojek in die dorp volledig kwalifiseer vir finansiële ondersteuning via ‘n NGO of ‘n Art 21 maatskappy omdat dit opvoedkundig is, entrepreneurskap bevorder en ontwikkeling van ‘n vaardigheid behels. Sy spel uit hoe om te werk te gaan met ‘n PBO nommer, as daar geldelike bydraes inkom, om ‘n Art 18A sertifikaat aan te bied vir die donateurs sodat dit teenoor belasting verhaal kan word.

Sy staan in as fotograaf en beraad, doen transaksies en ondersteun, maak oproepe en gee raad, luister en skei die kaf van die koring, neem waar en swaai jou persepsies oor kwellende sake. Sy observeer en debatteer. Sy neem deel en deel mee.  Sy onderskei en oortuig. Sy luister en gee lering. Sy staan vroeg op en stap saam. Sy gaan slaap laat en liasseer vir my dokumentasie op my USB.

Veel meer kom sy gee as wat sy ooit die afgelope maand by ons kon ontvang.

 

Hulde aan Herlina

P1380979

Vandag, presies 3 maande gelede vra tannie Herlina Malan my om haar Carnarvon toe te vat. Sy voel nie lekker nie. Sy moet by dr. AJ uitkom.

Vandag, dag en datum 3 maande later, hou ons ‘n roudiens vir haar. Lê haar as weg in ‘n nissie in die huis van Herinnering.

Niemand het verwag dat dit so gou sou gaan nie. Van Carnarvon word sy Prieska toe gestuur vir ‘n sonar. Van Prieska, Kimberley toe vir skanderings. Daar ‘n paar weke in die hospitaal vir verdere toetse. Bloemfontein toe vir ‘n stent in haar pankreas. Kathu toe om by die Christo en Handelee aan te sterk. Daarvandaan Douglas ouetehuis toe waar sy net 3 weke ‘n inwoner was voordat sy sterf.

Van die heel begin weier tannie Herlina enige ingrypende behandeling. Wat ookal die uitkoms van die toetse sou wees, sy besluit dat sy gereed is vir die Huis met die baie Wonings. Haar wense word gerespekteer. Gelukkig was haar laaste weke pynloos.

Drie weke gelede, kom laai haar familie haar goedjies hier in Vanwyksvlei vir die ouetehuis in Douglas. Ons tannies van die dorp lê gou ‘n tee aan om op gepaste wyse haar te kan groet. Sy kuier lekker saam sonder enige ongemak of pyn – eet van alles wat op die teetafel uitgepak is.

Dis net in die laaste ure van haar lewe wat sy suurstof kry om dit vir haar draagliker te maak. So word haar wense gerespekteer en sterf sy in waardigheid, presies soos wat sy gelewe het – met trots en waardigheid.

Ek sien nog hoe kom sy aangestap na die Bybelstudie met haar kierie, krom heup of nie. Sy weier dat iemand haar gaan oplaai. Glo dat sy die bene aan die gang kan hou slegs deur aan te hou loop. Tannie Herlina se gunsteling opmerking aan die Bybelstudietafel is altyd: “Die Here maak nie foute nie”. As daar gepraat word oor krisisse en swaarkry, sou sy sekerlik ‘n lywige bydrae kon maak, maar nee, sy getuig net altyd van die Here se goedheid, sy voorsienigheid en sy genade in tye van swaar. Hoe Hy teenwoordig is tydens moeilike tye en altyd ‘n mens deur die swaar laat kom deur sy nabyheid en guns.

Haar bure is van die oudste inwoners van die dorp. Sedert sy 3 jaar gelede ‘n heupvervanging kry na ‘n lelike val een aand, hou hulle getrou ‘n ogie oor haar. Die laaste oproep wat op haar selfoon geregistreer staan, is dié van buurman Doupie Oberholzer.

Vandag kry tannie Herlina dit reg om ‘n klomp mense in die erediens saam te snoer – lidmate, nie-lidmate, mense uit die woonbuurt met wie sy ‘n jarelange verbintenis gehad het, oud-kollegas, naby familie, verlangse familie, familie van so ver as die Kaap en Nieu-Zeeland. .

Ook Piet Jafta, wat los werkies vir haar in die tuin doen en Wit-Anna, wat al die jare tannie Herlina se kinders help grootmaak het, bring vir oulaas hulde.

Na die diens vier ons haar lewe op gepaste wyse met die beste uit almal se kombuise

Oor die jare heen is sy welbekend by een en almal op die dorp want elke oproep wat desjare gemaak word, gaan deur die handsentrale waar sy jare se diens lewer. Nou is haar stem vir altyd stil.

Totsiens, tannie Herlina.

BullRun Bulletin

stof

Noudat die dorp en Wilhelm-se-pan se stof weer gaan lê het, probeer die Vanwyksvleiers hulle lewe weer belyn met die normale verloop van dae. Maar die terrein word eers opgeruim, die boeke word eers afgesluit, die voorrade word eers gekontrolleer, die oorskotte (nie dié van die deelnemers nie…) word eers teruggery en elkeen probeer weer sy eie lêplek terugkry.

Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 lê agter ons. Voor ons, skaars tyd vir rus, want nabetragting moet gehou word en 2019 moet nou reeds beplan word.

Getalle:

150 spanne skryf in van regoor die land. 650 mense se name staan op die lys en kry slaapplek en daagliks ‘n kospakkie. Slegs ‘n handjie vol inwoners van ons klein dorpie is beskikbaar om alles te behartig – vir maande reeds. Elke denkbare blyplek in die dorp is vol bespreek. Die tentedorp wat op die terrein opgeslaan is, huisves die res.

Raakvatters:

Tussen Vasie De Kock, Jan La Grange en Johan Smit, gebeur die grootste deel van die voorbereiding. Tussendeur kom gee mense met spesialiteitsvaardighede hand met bedrading en riolering en installering en modifisering en verfraaiing en toekamping en aftakeling en opknapping en sweiswerk en verfwerk. Johan en Jan-Hendrik en JB en Paul en Lolita en Stefan en Gert.

lolliesverf

Lolita du Pisani werk tot sononder aan die verfraaiing van die nuwe ablusie

Mark Penning, wat ‘n huis in Vanwyksvlei het, kom van Bloemfontein met sy grondverskuiwingsvoertuie om die ‘gat’ in die terrein op te vul. Met sy watertenker vul hy die drie Jo Jo’s met genoeg water wat die naweek kan hou.

Ria van Rensburg beplan elke kospakkie vir die aande se etes meesterlik tot op die laaste gram. Alles werk perfek uit. André Oberholzer, die plaaslike slagter, berei met sy helpers 650 braaipakke voor vir elke aand vir elkeen van die manne wat ingeskryf is. Die braaipakke en kospakkies word per kaartjiestelsel saans uitgedeel.

Ria

Ria van Rensburg aan die stuur van die kosvoorbereiding

Tannies, al ver in jare, huiwer nie om hand te slaan aan die voorbereiding van braaibroodjies, of knoffelbroodjies, of noedelslaai of knoffelaartappel of koolslaai nie – 650 individuele porsies van elk – 7 ure vooroor gebuig en op hulle voete!!!! Baba, Petro, Gerrie, Marietjie, Sannetjie, Rina en vele helpers uit die woonbuurt waarsonder ons hande net te min sou wees. Later word familie ook ingespan – Elsje, Dewald, Paul, Jaques.


Rina maak solank ys sover as wat die beperkte dorpswater haar toelaat. Ry in een dag eers Carnarvon toe en dan Prieska toe vir nog ys. Dan bak sy pannekoek, dan smeer sy brood.  Joppie ry ekstra water in vanaf Môreson sodat die ergste stof op die terrein natgelei kan word.

Kosstalletjies:

Vanjaar werk niemand vir sy eie sak nie – als gaan vir die kerk. Tilla la Grange se asbosskerm staan hierdie jaar hoër as laas jaar. Pap, kaiings, kaapstertjies, roosterkoek met skaapvet en stroop … Nja!

skerm2

Marietjie, Tilla en HJ aktief in die asbosskerm

Karin en Dia los die kinders by die ouma’s en doen voluit hamburgers en worsbroodjies. Dawid en Eljo verkoop draairoomys. Tussendeur word pannekoek gebak. Rida en Magriet verkoop basaarpoeding. Vasie en Rida voorsien broodnodige water. HJ moet sy staal ken by die kole tussen skaapstertjies en hamburger patties en wors. Boonop nog genoeg kole vir roosterkoeke ook!

Fanie en Tertia Pretorius van Crater Coffees is weer hier al die pad van Parys om van vroeg-vroeg soggens hulle geurige koffie te bedien.

koffie

Helpers:

Van ekstra hande gepraat; mens pak nie so iets aan sonder sekuriteitsmanne, skoonmakers, rommelverwyderaars, karweiers, kroegmanne, skermpakkers, vuurmakers, roosterkoekbakkers, skottelgoedwassers, kosmakers, nie. So het heelparty al hulle merk gemaak en sal beslis volgende jaar weer in die span opgeneem word.

werkers

‘n Groepie van die werkers wat op die laaste dag nog gehelp opruim het

Die kroeg:

Vanaf 10vm – 6nm is ‘n enorme lang skof om op jou voete te staan by die kroeg. Aandskof eweneens, want mens skink solank die manne drink. Onbaatsugtig is die hulp van Lolita en Joppie en Dawid en Johan La Grange en Jan-Hendrik en Stefan en Francois en Johan Bruwer en JB en Marlise en Karin en Sybrand.

Gebeurlikhede:

Behalwe die normale dough-nut-gooiery en kerk-klok-luiery diep in die nag, sorg vanjaar se deelnemers vir genoeg karwrakke wat herwin moes word, ambulansritte wat gery moes word, soekgeselskappe wat verdwaaldes moes opspoor, en na-ure se werk vir die plaaslike en ingevoerde manne in blou uniforms.

Vir die dorpskinders word ‘n kaskarwedren op die rygbyveld gehou met karre wat Weg Ry & Sleep Bull Run 2018 se organiseerders saambring en padwaardig maak.

Vraagstukke?

“Jan, hoekom doen julle dit? Hoekom sal ‘n mens maande lank so swoeg, soveel petrol uitry, soveel onbetaalde werksure insit? Dit rym nie?”

“Want die saak is groter as ons. Die blootstelling wat Vanwyksvlei en sy inwoners kry, kan nie in geld omgereken word nie. Een keer ‘n jaar lewe hierdie dorp. Maar dwarsdeur die jaar kom die goedgesindheid terug in die vorm van donasies van voer en werkskepping en kontrakte en projekte.”

“Maar wie sponsor al hierdie voorbereiding en mannekrag?”

“Die kerk. Die kerk skiet voor en als gaan terug in die kerk se sak. Die kerk maak lewe weer moontlik.”

jan

Jan la Grange staan aan die stuur van sake