Vanwyksvleidam

p1400988

Hierdie dam is die oudste staatsdam en is nog met pik en graaf gemaak

Ons dorp het ‘n dam. Ook ‘n doodlekker dam maar nie een waar meisies hulle hare was en kam nie.  Dis te modderig. Flaminke en ander watervoëls gee  egter nie veel om daarvoor nie. Tog is dit al vir baie jare’n lekker plek vir die dorpenaars om te gaan uitspan.

l1150247

Ons dam is egter ouer as Boegoeberg se dam of die Vaaldam of die Gariep of enige ander staatsgeboude dam want ons dam staan al van 1884 af.

‘n Week terug ry ek en Johan dam toe vir ‘n sonsaksopie. Daar’s nie ‘n druppel in die dam nie. Al vir lank is die dam so droog.

Gisteroggend swem Ernst (van Wegry – Agterpaaie faam) lekker in sy onnie in die water, want die dag vantevore het dit in die omtes gereën en die dam het water so ver die oog kan sien.

p1390514

 

 

Sien, hierdie dam is so slim ontwerp, dit kan enige plek in die omgewing reën, dan word die dam gevoed. Die koppies in die omgewing vorm ‘n natuurlike kom wat enige reënwater afvoer dam toe. Al lyk dit nie na ‘n indrukwekkend ontwerpte opvangdam nie.

p1400986

Enige bui in die opvangsgebied se water vloei uiteindelik in die dam

‘n Skot met die naam van Garwood Alston kry al die lof vir hierdie stuk ingenieurwerk. Hy was ‘n landmeter wat hom ook as boukundige ingenieur bekwaam het.

In 1856 kom hy as 18-jarige na Suid-Afrika. Hy kry vir hom ‘n boere meisie, Lizabeth Peronella de Wit. Hulle trou in 1860 en 9 kinders word uit hulle huwelik gebore. Nadat hy ‘n hele klomp opmetingsprojekte gedoen het vir die spoorweg, kom woon hy en sy familie op ‘n plaas in die gebied van Vanwyksvlei. Dis hier waar hy die moontlikheid raaksien van ‘n opgaardam. Suid van die dorp lê die randte in ‘n formasie sodat dit ‘n groot opvangsgebied vorm.

l1130232

Van bo van Frankieskop af, kan mens duidelik sien van waar orals die water dam toe vloei

En wyd om die dorp is die moontlikheid groot vir landerye wat met die opvangswater natgelei kan word. Hy lê ‘n konsep van die dam voor en dit word in 1879 ondersoek. Dit word goedgekeur en die bouery begin in 1882.

Die dam word gebou met pik en graaf. Osse, muile en donkies word ingespan om die dam te skraap.  Bakskrapers en wielskrapers word gebruik. ‘n Wal van 9,7m word aan die westekant gebou met ysterklip wat per slee aangekarwei word uit die omgewing. Hierdie wal is 311m lank. Die hele dam word uitgevoer met potklei uit die omgewing wat ook per trekdier aangery moet word. Dit keer dat die water te gou weer wegsyfer.

‘n Toring word met klippe wat van Frankieskop af kom, gebou. Dit word met bokwaens en donkiekarre aangery.  Die toring is hol en het ystertrappe aan die binne- sowel as die buitekant om teen die toring te kan opklim. Vyf staalsluise wat in 1883 Engeland gemaak is, word aangebring op die toring. Dit kan met sleutels wat 1m lank is, oopgedraai word. Hierdie sluise laat water deur aan die kant van die toring en onderdeur die toring. Teen die toring  word ‘n gekalibreerde plaat aangebring waar die hoogte van die watervlak gelees kan word. Die hoogste merk staan op 8,2m.

‘n Probleem duik op om die toring te bereik as die watervlak met 4m styg. Daarom word ‘n staalbrug gebou om vanaf die damwal tot op die toring te strek. Hierdie konstruksie kom op Carnarvonstasie aan en word met donkiewaens aangery Vanwyksvlei toe. Die hele kontrêpsie word langs die dam aanmekaar gesit en met toue opgehys en in posisie vasgebout.  Dis deesdae ‘n lekker plek om te gaan foto’s neem.

l1170085

Kanale vanaf die dam voer water na gebiede rondom die dorp waar daar sowat 9 morg grond per persoon uitgemeet word om te begin verbou. Dit is ‘n enorme groot taak om al die lande uit te meet, die kanaal groot genoeg aan te lê sodat die boere naastenby gelyktydig water kan kry omdat die plantseisoen bitter kort is. Dan moes daar nog ‘n ekstra opgaardam aan die eindpunt van die kanaal gebou word om al die oortollige waters op te vang vir gebruik vir mens en dier. Neem nou in ag dat hierdie gebied geen standhoudende rivier het nie. Buiten die kanaal wat die lande van water voorsien, word ‘n kanaal gebou wat die dorpsmense van leiwater moet voorsien het. Tientalle windpompe word aangebring in hierdie kanaal om water tot in elke erf se dam te pomp.

Daarbenewens word ‘n kanaal van bykans 12km vanaf die Carnarvonleegte aangelê. Hierdie kanaal voer meer as 44 000 kiloliter water na die dam die paar dae in die jaar wat dit wel loop.

Garwood Alston is nie net ‘n landmeter en ‘n bou-ingenieur nie, hy is beslis ook ‘n visioenêr. Maar hy word nooit ‘n miljoenêr nie, want die hele bou van die dam, die damwal, die toring en sy brug en al die  kanale, met die besoldiging van al die werkers wat vir meer as drie jaar daaraan bou, kos die goewerment daardie jare glo net in ponde wat gelykstaande is aan R66 000.

20170216_191113

‘n Kykie oor die dam se opvangsarea

Advertisements

Die Skaapwagter met die Roos

p1400745

Hans Mienie langs Japie by Oom Gertjie se begrafnis

Dis die prentjie wat my bybly as ek aan oom Gertjie se begrafnis dink: Hans Mienie as een van die draers by die begrafnis. Hans Mienie met ‘n wit roos in sy growwe hand.

Oom Gertjie het ons ontval. Oom Gertjie met die ruim hart. Oom Gertjie met die stewige handdruk as hy jou Sondae by die kerk kom groet, al is daardie groot  hande geknokkel van die artritis. Vier maande gelede die ouderdom van 83 bereik.

Vir ‘n hele paar jaar reeds leef Oom Gertjie met bloedkanker. Dán is sy toestand verswak. Dán tel hy weer krag op. Maar nooit, nooit kla hy oor sy siekte nie. Dit gaan goed. Altyd goed.

Seker al vir 16, 17 jaar wewenaar, boer oom Gertjie voort op Marcusdam. Al die jare nog want hier is hy gebore en hier het hy groot geraak. Skoolgegaan. Getrou met Tant Annie. Hier het sy twee kinders, Japie en Marida ook opgegroei. En al die jare nog werk Hans Mienie op die plaas. Vir 37 jaar al.

Oom Gertjie; die sagte gees met die diep wysheid. Die een wat ‘n ander se seer kan lees en daarop kan reageer. Wat nooit gevat het wat hom toekom nie. Al kon hy. Winter verlede jaar kom hy weer, soos altyd om te kom help vleiswerk vir die basaar. Heeldag op sy bene, die kierie net hier langs hom vir ingeval. Maal vleis en stop wors.

 

Weke voor die basaar ontvang ek ‘n koevert vol note – nie sommer groenes, bruines, pienkes of bloues nie. Oranjes! Daar is ‘n groot bedrag in vir elke tafel om solank mee te woeker. Of dit nou vir die aankoop van bestanddele of vir kragaankope vir die verwerking daarvan is, hoe ookal. As mens by hom sou gaan kollekteer vir die basaar, is jy ook na Hans Mienie toe gestuur vir ‘n bydrae. Dan gee Hans asof vir sy eie gemeente – ‘n bedrag wat sommige lidmate se koppe in skaamte sou laat sak.

Die dag van die basaar is sy artritishande so oop soos sy beursie. Bestel 20 pannekoek en deel uit by die braaivleisvure. Bie op skaap en gee dit terug as die bot op hom toegeslaan word. Bie weer. Gee weer terug. So saai hy.

In Desember verswak hy weer. Mike neem hom Bloemfontein toe waar hy vir behandeling opgeneem word. ‘n Paar weke later sterf Mike aan kongokoors. Uit sy hospitaalbed bel hy vir Heila. Hy is so jammer hy kan nie self daar wees om haar by te staan nie. Drie weke later sterf Oom Gertjie self. So verloor Heila nie net haar man nie, maar ook haar ma se broer in een maand.

p1400729

Heila, heel links

Die laaste twee jaar, met oom Gertjie se verblyf in Carnarvon Ouetehuis, woon en werk Hans Mienie steeds voort op Marcusdam al word die plaas verhuur. Sy betroubare self. Soveel so, dat hy gereken word as een van die draers by die begrafnis. Dat hy spesiaal deur die familie genoem word tydens die bedankings vir sy jarelange getrouheid en toewyding.

Op die aand van 31 Januarie ry ons deur Carnarvon op pad terug huistoe aan die einde van ons vakansie. Ons hervul die bakkie met brandstof. Praat oor Oom Gertjie wat, volgens ons wete, nog in Bloemfontein in die hospitaal is. Min wetende dat hy reeds ‘n paar uur vantevore oorlede is.

Toe Hans Mienie gebel word daardie volgende oggend met die nuus van Oom Gertjie se afsterwe, sê Hans: “Ja, ek weet. Hy het gisteraand kom groet.” Later, toe Japie op die plaas aankom, verduidelik hy: “Die Oubaas was gisteraand hier by my.”

“Wat het hy gesê?” wil Japie weet.

“Niks. Hy het nie gepraat nie. Net hier by my voete se kant gestaan en vir my gekyk. En gekyk.

En toe is hy weg.”

BISMARC

p1200085

Ek is in Rustenburg om die jongste (39 weke swanger) te help pak vir die groot trek Upington toe. Die trek sal volgens plan ‘n maand in Pretoria gestoor word in afwagting op die nuwe baba se geboorte, voordat dit Upington toe verskuif word. Ek sien uit na die Pretoriabeen van die ekskursie – om ‘n slag by die Pretoria-kinders uit te kom. En met Bismarc herenig te word.

‘n Week voor die finale trek Pretoria toe sterf Bismarc. Asemnood. 100m van die huis af. En hy was fiks. Maar net 4jaar oud. Maar sy opgewondenheid oor die stappie saam met Tom en Jo kos hom sy lewe.

Bismarc is in 2012 deur die Paryskinders aan ons gestuur tydens die eerste been van ons sabbatsjaar. Net 6 weke oud kom hy saam met Leonette en Andries by ons aan op Swartpan in die Kalahari. Ons kameraadjie wat ons moet vergesel op die tweede been van ons tydperk in die verlate Boesmanland.

p1180580

Daardie eerste paar weke slaap hy in die buitekombuisie op Taaiboschoek om tog nie plassies op die mooi houtvloere van die eeu-oue huis te maak nie. Maar na ‘n paar weke spring hy deur die venster as die vensterraam opgeskuif is en maak hom langs my bed snag tuis. Want ek is sy mens en hy moet my beskerm. Voor my bed slaap hy van toe af elke nag totdat ons hom sowat ‘n jaar gelede moes agterlaat met ons skuif vanaf Pretoria Vanwyksvlei toe. Die kinders in Pretoria versorg hom totdat ons hom eendag kan kom haal. Tot dusver is die erf nog te oop met te veel rondloperhonde wat kan inkom. En donkies wat hier verbydrentel – hy sal hulle mos nooit net kan laat verbydrentel nie.

Die onvergeetlikste van die Boesmanlandtyd is die staptogte die velde in. Aanvanklik is hy nog te bang om te ver van die huis af te beweeg. Later van tyd raak hy net ‘n stippeltjie in die veld agter ‘n haas of ‘n steenbok aan. Maar altyd  keer hy weer terug om aan my sy te wees. En o, die kere wat ons op ‘n krip afkom na kilometers se stap in die warm son! Staffies hou mos van water.

Bismarc beskik oor baie spesiale gene. ‘n Stamboekhond met ‘n omgeehart vir als wat swaarkry. Op Taaiboschoek lê hy ‘n hele dag langs ‘n siek skaap totdat die skaap uiteindelik soveel beter is dat hy kan opstaan. Bismarc wys hom eers waar om water te drink voordat hy vort is die veld in.

Op ‘n keer versorg Karien ‘n pasgebore blesbokkie met asemnood. Bismarc is rasend omdat ons hom nie  toelaat om langs die bokkie in die krat te gaan lê nie. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir elke beseerde diertjie wat op ons werf aankom se nood. Sy nabyheid is sy manier van vertroosting.

Of dit nou ‘n voëltjie, ‘n hasie, ‘n skilpadjie, ‘n padda of ‘n katjie is, sy belangstelling is altyd met sagtheid. Hy het selfs ‘n gunsteling onder die hoenders!

Helaas. Net toe ek, vanweë die skielike toename in diefstalle en betredings op ons erf, besluit om Bismarc saam te bring Vanwyksvlei toe, toe sterf hy.

Daar was toe nooit ‘n hereniging nie …

p1400718