Seekoors

20170116_123043

‘n Hele paar gemeentelede is tans by die see. Of was onlangs. Abel-hulle by Port Alfred. Tannie Boetie Pale in Mosselbaai. André By Bloubergstrand. Rudi-hulle by Hartenbosch.

Nee. Één keer in my lewe was ek by Hartenbosch oor Desember. Nooit weer nie! Dit was sowat 30 jaar gelede. Ek wíl nie sien hoe lyk Hartenbosch nóú nadese oor ‘n Desembervakansie nie. Geen begeerte nie dankie. As ek gaan rus wil ek rus en nie wedywer nie.

Maar as seekoors jou pak, is daar net een raad. See toe. Daar waar jy jouself met seevlak gelyk kan maak

20170116_191847

om jouself weer gelyk te kan maak met seevlak

So moet die dominee van Vanwyksvlei ook oor Januarie, na sy jaar in die gemeente, met vakansie gaan. Helgard en MC maak hulle harte oop en bied hulle strandhuis op Eersterivier naby Kareedouw vir ons aan. Op die soom van die see. Met ‘n uitsig van sonop tot sonsondergang.

MC het vir my ‘n paar boeke geleen want ek het my kindle by die kind van my lyf op Upington vergeet. Eerste dag lees ek Katryn, vrou van die Richtersveld in een lê dwarsdeur. Volgende dag lees ek Lugkasteel, van Annelie Botes. Vertel sy van Izak en Johanna van Murraysburg se huis, Karooland, waar hulle soms kom uitspan het – skaars vyf huisies van waar ek nou lê en lees.

p1400241

Izak en Johanna se huis waarvan ek in Lugkasteel van Annelie Botes gelees het

Tydens ons bediening in Port Elizabeth, het ons ‘n paar keer hier kom uitspan. Hier lê herinnering oral rond aan ons dae met ‘n string kinders in die huis. In die sloepie, wes van die huis, sien ek nog vir Tom-Tom. Hoe hy een oggend opstaan en reguit soontoe gaan – sonder brekfis en sonder sonskerm. Nog slaapklere aan. Tussen daardie rotse agter klipvissies en seekatjies aan, verloor hy homself en alle kontak met die werklikheid. Teen 11uur loop ek ondertoe met ‘n hoed en sonskerm, toebroodjies en ‘n fles tee, want ek wéét niks sal hom daar wegkry nie. Die son het hom reeds kis gebrand.

Toe ons onlangs weer oor daardie insident praat, vertel hy die ware storie. Hoogwater het hom daar vasgepen. Hy kón nie daar uit nie.

p1400232

Die sloepie waarin Tom-Tom homself verloor het agter klipvissies en goedjies aan

Dan was daar die Sondagmiddag na ete. Almal het na ‘n stewige maal gelê en slaap. Met ‘n klomp kleintjies, waarvan die jongste nog in doeke was, het ek maar bitter min slaap ingekry. Nog minder wegbreekkans. So vat ek ‘n snorkel en paddavoete om skelm in die Blougat te gaan snorkel. Ek sluip saggies uit. Nie lus vir stertjies wat ek moet oppas nie. Die hele Eersterivier is grafstil. Nie ‘n siel te bespeure. Nie eens iemand wat braai op sy stoep of erf nie.

p1400060

Behaaglik sink ek in Blougat in en verslustig my aan daardie onderwêreldse weelde. Die mooiste vissies. Die mooiste skulpe. Die mooiste plantjies en groeiseltjies. Knoetse soos kasteeltjies met mosbedekte tuintjies. Elke inhampie en skeurtjie ‘n nuwe wonderwêreld.

‘n Dringendheid gryp my om my nek en trek my oppervlak toe. Iets soos ‘n warm vrees pak my beet. Ek wil dit nog ignoreer en weer afsak, maar die gevoel slaan oor in koue rilling op koue rilling. Ek spoed uit Blougat. Pluk die paddavoete af om vinniger oor die rotsrif te klouter. Gryp my handdoek om … Die volgende oomblik slaan ‘n reusagtige fratsbrander bo-oor Blougat en stort sidderend op my neer. Ek klou en klou totdat die ergste water wegtrek rondom my. My handdoek deurnat. Ek kyk terug en skrik die skrik van alle skrikke. Die watermassa in Blougat het ‘n siedende kolk geword wat die volgende oomblik deur die lug trek en tussen die punterige rotse aan die westekant neerplons. Ek hardloop en hardloop en hardloop. Van skok voel ek nie eens hoe die rowwe rotse my voete sny nie.

Ek sou nie ‘n kat se kans kon hê nie. Niemand sou weet waar om my liggaam te gaan soek nie.

Dankie. Dankie Heilige Gees.

My eerste ontmoeting met Eersterivier is in 1976 net nadat ek my studies klaargemaak het op POTE. Ek, Mariëtte en Dalina kom as deel van Noord-Transvaalse CSV-span saam met Ds Freek Swanepoel en sy gesin Eersterivier toe vir ‘n stranddienskamp.

Hier verdrink ek amper die eerste keer toe ek ‘n man wat besig was om te sink van ‘n kramp wou help. Ons altwee verdwyn onder die water sonder dat ons om hulp kon skreeu. ‘n Groot sterk man – ook ‘n spanlid (wat ook ‘n lewensredder was)  – snel ons te hulp. Was opmerklik genoeg om onraad te merk. Wens ek kon sy naam onthou.

Daardie jare is die watertoevoer kampterrein toe nog ‘n probleem. Mens kon nie daar stort nie. Die storte op die strand is al uitweg. So wil ek gou die stort gebruik voor die massas uit die water kom want die volgende item op ons program gaan haas begin. Daar staan twee toilette elk met ‘n houtdeur op die strand. MANS s’n front see toe. DAMES s’n berg toe. ‘n Buitestort is deel daarvan.

p1400057

Op pad soontoe, sien ek twee kinderbeentjies skiet onderdeur die opening onder die houtdeur deur. Dit woel en wurm om uit te kom maar steek by die boutjies vas. “HEEELLLPPP!!! EK SIT VAAAAAASSSSSS!!!!”

“Kom ek help jou” probeer ek die outjie kalmeer. “Ek sal die deur styf teen die koesyn trek dan probeer jy weer die skuifknippie oopskuif.”

“EK KAN NIE TANNIEEEE!! HY’S AAAAFF!!”

‘n Groot oom wat die geskreeu gehoor het, staan nader. “Wat is fout?”

“Dit lyk my die skuifknippie het aan die binnekant afgebreek.”

“NEE TANNIEEEE!! HY’S NOG HIER MAAR HY’S AAAAFF!!!” Ek besef die skuifknippie is net afgedruk teen die deur.

“Nou luister mooi vir my. Ek en die oom gaan jou help. Ons sal die deur styf teen sy raam trek, dan bring jy die knippie regop en skuif hom terug in sy spoortjie.”

Die volgende oomblik vlieg die deur oop. ‘n Klein seuntjie van so 8,  9 jaar vlieg soos ‘n vlakhaas by ons verby en verdwyn tussen die massas. Al wat ek kon sien was sy swart swembroekie.

Daardie aand nadat ons klaar is met ons gebruiklike konsert vir die strandgangers, afgesluit het met ‘n gepaste boodskap, samesang en gebed, staan ons saam en milo drink. Ek vertel van my reddingspoging die oggend. Ds Freek se jongste seuntjie staan ook belangstellend en luister. “Maar was dit dan nie jý nie?” vra ek. Dieselfde lengte. Dieselfde blonde haartjies.

“Nooit nie Tannie!” ontken hy en maak hom uit die voete.

Later toe ons besig is om op te ruim, draal die kannetjie al in my omgewing. Tot hy dit nie meer kan hou nie.

“Tannie,” sê hy terwyl hy sy kennetjie nadenkend staan en vryf. “Hoe het daardie seuntjie van vanoggend wat in die toilet vasgesit het gelyk?”

“Nee, ek kan glad nie onthou nie. Hy was te vinnig daar uit om hom te kon sien. Ek het net sy swart kostuumpie gesien.”

“Tannie weet, nou-dat ek mooi daaroor dink, wonder ek tog of dit nie ek was nie …”

Advertisements

Werksoek

p1360989

 

 

Oral oor die land is daar CWP (gemeenskapswerkprogramme) aan die gang. ‘n Regeringsinisiatief. Skoffelspanne, noem ons hulle hierlangs. In werking al vir die afgelope 4 jaar. Die mense in die oranje uniforms wat in groot groepe straataf stap. Dalk met een graaf, een hark en een spitvurk tussen hulle.

“Wat moet ek doen om deel van die skoffelspanne te kan word?” verneem ek by Theresa Esterhuizen, die ‘site administrator’.

“Juffrou vul by my ‘n aansoekvorm in. Ek soek net juffrou se ID en ‘n bankrekeningnommer. Ek stuur dit Johannesburg toe. As hulle Juffrou aanstel, sal ek Juffrou laat weet. Dit kan so 3 maande vat.”

“Van watter salaris praat ons hier?”

“R81 per dag.”

“Moet ek dan elke dag kom werk?”

“Nee Juffrou, net 2 dae per week. Of 8 dae per maand.” Ek maak gou sommetjies.

“So, ek kan ‘n hele R648 per maand verdien! Mag ek ander werk ook doen op die ander dae van die week?”

“Juffrou mag. Maar Juffrou moet eintlik werkloos wees. Maar as Juffrou enige ander cleaning job vat vir ‘n dag of twee in die week, maak dit nie saak nie.” Heimlik wonder ek of ‘n onbetaalde cleaning-cooking-washing-ironing job ook tel.

“Moet ek ANC stem om aangestel te kan word?” Theresa lag net. Blykbaar is daar nêrens op die aansoekvorm ‘n plek om jou politieke oriëntasie in te vul nie. Maar ek weet daar was onlangs groot betogings in ons dorp – o.a. ook oor die aanstelling van slegs ANC-lede by die skoffelspanne en die boukontrakte van paaie en HOPhuise.

“Wat sal my werksure wees?”

“Juffrou meld 8 uur aan hier by die depot. 7:30 in die erge somermaande. Dan kyk Juffrou op die bord waar Juffrou ingedeel is om te gaan skoffel. Juffrou se supervisor sal Juffrou in ‘n span indeel. Vanaf 10uur tot 10:30 mag Juffrou ‘n teebreuk neem. Etensuur is vanaf 1-2nm. Dan tjaila die span weer om 3:30.”

Mmmmm. Klink nie te dronk nie. “Maar is ek nie te oud om aansoek te doen nie? Moet ek ‘n fiksheidstoets of ‘n bekwaamheidstoets kan slaag?”

20161114_092702

“Geen ouderdomsperk nie Juffrou.”

“Wat maak ek as ek die dag siek is en nie kan kom werk nie? Verloor ek dan my salaris? ”

“Juffrou laat weet net Juffrou se supervisor. Gaan kliniek toe. Bring ‘n briefie van die kliniek af saam en kom handig dit die volgende keer in. As daar ‘n rede vir Juffrou se siekte is volgens die suster by die kliniek is, kry Juffrou nog steeds daardie dag se pay.”

“En as my site reeds skoongeskoffel is, wat maak ek dan? Moet ek dan papiere en plêstieksakke optel?”

“Juffrou se supervisor sal besluit of julle moet skoffel of rommel optel. Gewoonlik kry die span ‘n swart sak as dit die dag tyd is om rommel op te tel.” Nou verstaan ek ook hoekom spanne meters  van sakke wat teen drade vasgewaai het kan sit en verseg om rommel te vergaar – hulle het nie ‘n swart sak ontvang nie …

“Moet ek my uniform koop?”

“Nee, Juffrou sal ge-issue word as Juffrou aangestel word.”

“Werk ek elke week van die jaar, of mag ek darem vakansie kry? En wat maak ek as dit te warm is om te werk?”

“Juffrou sal net werk tot middel Desember. Krismis kry almal af. As die skool in Januarie begin, val almal weer in. En as dit te warm is, werk julle net tot 12uur.”

“Mag ek aansoek doen om ‘n supervisor te word? Het ek spesiale kwalifikasie daarvoor nodig? Moet ek weet watter plante geskoffel mag word en watter toegelaat moet word om te groei?“

“Geen spesiale kwalifikasies is nodig nie. Juffrou moet dan net 20 dae per maand werk. Supervisors word R106.00 per dag betaal. Daar is 5 supervisors aangestel in die dorp. Elkeen het 2 spanne onder hom. Maar daar is nie nou ‘n pos oop nie.”

20161114_0927290

Eileen Karsten is ‘n supervisor

 

As mens nie tussen ‘n duwweltjie en springbokkougoed, of kindervinger en jakkalspisbos hoef te kan onderskei nie, nie hoef te weet hoe lyk ‘n vygie of ‘n namakwalandse daisie as dit ontkiem nie; nie opgelei hoef te wees in kennis van verskillende grassoorte nie, maak dit nou vir my sin dat die skoffelspanne als voor die voet uitspit. Maak skoon beteken maak dood. Nou kan ek ook verstaan waarom ou Johannes so ontsteld is dat ek hom nie toelaat om my werf steriel skoon te skoffel nie: “Ek kry al ‘n slegte naam in die dorp oor Juffrou my nie toelaat om die onkruid uit te spit nie.”

“Onkruid Johannes? Is dít onkruid? Wat bly dan oor vir die voëls en die velddietjies om te eet as jy voor die voet net uitspit en skoonvee? Hierdie is die Vader se manier om die grond te anker en te beskerm teen die erge koue en bloedige hitte. Skoffel jy dit voor die voet uit, dan vrek die grond morsdood en oor ‘n paar jaar sál niks meer groei nie en sál daar g’n saad meer wees om te ontkiem nie en sál al die voëls en insekte die dorp verlaat en sál daar nie meer werk vir skoffelspanne wees nie.”

“Watter ander posisies is daar nog in die span” verneem ek by Theresa.

“Net mý werk as site administrator en Bet se werk as stoorvrou.”

20161114_092646

Bet is die stoorvrou wat besluit wie uitgereik mag word met ‘n kruiwa of ‘n spitvurk of ‘n hark.

 

“Oor hoeveel mense oefen jy beheer uit?”

“Oor die stoorvrou en die 5 supervisors en oor 344 werkers in Vanwyksvlei.”

In ‘n dorp van 3000 inwoners is dit ‘n goeie werkskeppingsprogram. ‘n Goeie 11,5 % werkskepping. En as als wat probeer groei reeds uitgeskoffel is, dan kan mens seker maar net onder die bome bly sit soos mens so dikwels daagliks opmerk.

So verdien mens gerieflik steeds jou salaris so sit-sit-so.

Mike se klipskerm

 

Terwyl die eerste volmaan van 2017 oor Vanwyksvlei bo ‘n dik bank wolke uitbeur, strooi Heila en haar familie Mike se as by sy geliefde klipskerm op sy plaas Goeiehoop – die plaas wat hy so hartstogtelik liefgehad het.

img-20170113-wa0001

Mike se geliefde grond op Goeiehoop

 

 

Vanoggend gedenk die dorp Mike se lewe. Op versoek word Amazing Grace gespeel, soos gesing deur Nana Mouskouri. En daar is vir my op ‘n manier ‘n sterk ooreenkoms tussen Mike se lewe en John Newton s’n – die skrywer van die lied wat eens ‘n slawehandelaar was en God nie geken het nie. Want Mike het ook eers ander paaie geloop voordat hy sy God leer ken het. Het ook in die spreekwoordelike gutter beland; sonder werk en sonder blyplek. Oorleef van ‘n broodjie wat ‘n kleurlingvrou elke dag vir hom gebring het en so geleer het wat genade beteken.

20170113_110052

Op nuwejaarsdag sit Mike en Heila voor my in die kerk. Johan praat oor Appie wat op nuwejaar sou verjaar en nie meer met ons is nie. “Ons weet nie een of ons volgende jaar nog hier sal wees nie” is Johan se woorde. Presies ‘n week later sterf Mike Holtzhausen aan Kongokoors.

Toe ons Mike die eerste keer ontmoet, steek hy sy hand uit na Johan. “Ek is nou nie juis ‘n gereelde kerkganger nie, Dominee” was sy woorde. Want kerkgang was nie vir Mike gelykstaande aan godsdiens nie. Sy godsdiens het hy uitgeleef deur om te sien na mense wat nood het. Sy bakkie vol groente vanaf die plaas in die gange getrek en uitgedeel. Uit sy vrieskas gehaal en gesorg dat die mense hoër op in die straat kos het. Want hy was ook eens dáár waar hy nood goed leer ken het. Mike se godsdiens was ook om hom te onttrek na sy geliefde klipskerm om met sy God te gaan praat. Versterk teruggekom na sy afsondering met sy Heiland.

Vroeër jare het Mike en Heila die hotel op Vanwyksvlei bedryf. ‘n Kranige kok was hy. Mike het Heila (toe reeds weduwee na haar eerste man se dood) op die dansbaan ontmoet – het graag vertel hoe lekker hulle twee kon dans. Mike het ‘n pa geword vir haar kinders en ‘n geliefde oupa vir hulle kleinkinders. Hulle was 14 jaar getroud

img-20170113-wa0003

Heila met al haar kinders, Mike se kinders en hulle kleinkinders

 

As Mike jou genooi het vir ‘n braai, moes jy jou regmaak vir oordaad. Met hout was hy nie suinig nie en nog minder met vleis. Hy’t geweet hoe om ‘n vuur te maak, kole te lees en hoe om te BRAAI.

“En toe los Meneer Mike ons” vertel ‘n werker in die dorp van Mike se dood. Want wie het hom dan nié geken nie. Groot ou Mike met die klein-klein hartjie. Mike wat met sy bulderende stem in g’n onduidelike terme iemand presies die leviete kon voorlees as hy sou droogmaak. Mike wat vir jou kanne vol lekker windpompwater vanaf sy plaas voor jou deur kom los. Mike wat saans op sy staptogte in die dorp aandoen by hulle wat hy weet alleen is – met sy stapstok aan die venster kom tik net om te kom hoor of als reg is. Of die vreemde kar wat voor die huis staan kennisse of indringers is. Wat net gou kom inloer om te hoor hoe dit gaan.

Dat ‘n klein, rooi bosluisie so ‘n groot, sterk man se lewe so vinnig kon wegvat!

Mike, daar het ‘n yslike sinkgat ingeval in Vanwyksvlei. Een wat nooit opgevul sal kan word nie. Nie eens met al die baie klippe van jou klipskerm nie.