Met trots en waardigheid

Piet Klaaste begrawe sy ma, Ta’ Mietjie, van 89jaar, 11 maande en 4 dae.

L1200805

 

Mietjie Klaaste (née Hugo) word te ruste gelê nadat sy vir die laaste 3 jaar by Piet-hulle aan huis versorg is. Vir die laaste jaar is sy bedlêend. Piet en sy vrou, Koba,  maak al geruime tyd van die susters van die gemeente gebruik om te help met die versorging, want bedsere word ‘n al groter probleem.

Ek hoor dikwels Ta’ Mietjie se roepkrete van waar sy in haar siekbed oorkant die straat in Piet se huis lê. Daar woon ‘n paar geslagte Klaastes in daardie huis. Die huis wat desjare die Alstons se winkel was, is tans aaneengeskakel met Piet s’n sodat almal daar saam kan woon.  Piet se kleinkinders speel graag met skemeraand die straat tussen ons en hulle vol; groot en klein deurmekaar. ‘n Hele swetterjoel van hulle.

Al die jare wat die skoolkoshuis op Vanwyksvlei funksioneer, was Mietjie hoofkok in die kombuis. Sy sorg dat kinders genoeg kry en lekker eet. Rina onthou haar as Mietjie Trouring. Waar daardie bynaam vandaan kom, weet sy nie. Tannie Petro wat daardie jare die skool se boeke doen, onthou vir Mietjie baie goed.

Mietjie maak 5 seuns groot waarvan Piet die derde is. Hulle word groot in ‘n huisie op die huidige skouterrein. Mietjie se man is verantwoordelik vir die skool se trop skaap. Hulle word op kamp gehou op die skouterrein. Die gronde agter die skouterrein is hulle weiding. Piet  neem hom voor om nes sy pa eendag skaap op daardie grond te hê. Vandag, na sy aftrede by die myn,  huur hy weliswaar daardie grond en sy skaap wei daar.

Met haar afsterwe is Mietjie die laaste van die vorige geslag Slambee’s wat gaan. Nou is Piet en sy jongste broer as enigste oorlewendes van die gesin, die oudste geslag van daardie familie.

Piet slag sewe skaap vir die begrafnis-ete. Elke aand van die week vind daar roudienste by Piet se huis onder ‘n afdak van skadunet en seile plaas. Beurte word geneem deur die VGK, waar Piet lid is, en ander gemeentes vanuit die woonbuurt waarvan baie vriende en familie lede is. Tot laat word daar gepredik oor ‘n mikrofoon, gesing, hulde gebring. Geen moeite of koste word ontsien nie.

Vir die begrafnis maak Piet en sy familie gebruik van T J Ondernemers van Upington. Dis 260km hiernatoe om die begrafnis te onderneem. Om half 9 kom die imposante lykswa statig in die straat af met Ta’ Mietjie se kis in lamfer gedrapeer bo-op ‘n sleepwa. ‘n Groot luidspreker op die sleepwa, tussen wapperende vlae, speel luid musiek van ‘n koperblaasorkes; Nader my God by U. Amazing Grace. Die familie en gaste vergader by Piet se huis. Daar vind eers ‘n besigtigingseremonie plaas onder die afdak.

L1200801

Dan val die prosessie in. Voor die lykswa loop die kerkraad van die VGK. Die lykswa is blinkskoon en statig. Nou is die luidpreker nie meer deel van die lykswa nie. Agter die lykswa volg Piet, sy vrou, sy broer en dié se eggenoot en die kinders wat die afstand van 1,3km begraafplaas toe aflê. Dan volg die motors. Dis ‘n lang stoet want mense kom van heinde en verre; Altantis, Kaapstad, Lamberstbaai, Upington, Watervalboven, Kimberley, Klerksdorp, De Aar, Ceres, Marydale, Kenhardt, Citrusdal.

L1200811

Dis ‘n lang en uitgerekte begrafnis want daar is baie om oor Ta’ Mietjie te sê. Baie huldeblyke word gelewer.  Ta’ Mietjie se eerste graf, langs dié van haar man, het verlore geraak.  ‘n Tweede graf is later vir haar gekoop maar ook dié se papiere kon nie opgespoor raak nie. Die graf wat vir haar gereed gemaak word, kan mens sê is al 3 keer betaal.

L1200825

Intussen is die drie vroue wat verantwoordelik is vir die begrafnis-ete, pal besig by die oop vuur onder die peperbome langs die huis. Sewe yslike ysterpotte staan op die kole en die stoom bol bo-oor die potte. Hulle weet nie hoeveel monde moet kos kry nie, hulle weet net dis baie. Meer as 150 mense.  Polistreen houers is aangekoop waarin geskep word as die eerste gaste net na eenuur terugkeer van die begraafplaas. Vir elkeen is daar ‘n ruim porsie skaapvleisbredie, met wortelstew, kool en stampmielies.

L1200820

Met die laaste gaste wat vertrek, begin die manne weer die skadunetkonstruksie en die seile aftakel.

Alles is verby. ‘n Weeklange rouproses en huldiging kom tot ‘n einde. Almal keer veilig terug van waar hulle gekom het waaroor Piet en Koba die Here baie dankbaar is.

Ta’ Mietjie is met trots en waardigheid weggelê.

 

Advertisements

Die Halfpadboompie

Presies halfpad tussen Vanwyksvlei en Carnarvon staan ‘n Kameeldoringboompie. Vasie sê solank hy kan onthou (en dis al oor die 70 jaar) staan daardie boompie maar daar en lyk hy vandag nog presies soos weleer.

L1200794

Hierdie is nie eintlik Kameeldoringwêreld nie. Hulle staan statig, sterk en stewig die hele Kalahari vol. Maar van Vanwyksvlei af Upington toe oor Kenhardt, sien mens net hier en daar een op ‘n plaas wat aangeplant en opgepas is. Eers anderkant die Latrivier begin mens die Kameeldorings rêrig opmerk.

Vasie sê daar word vertel dat die halfpadboompie daar ontkiem het uit die mis van osse wat desjare nog waens getrek het van doeriekant af suidwaarts. Presies halfpad tussen Vanwyksvlei en Carnarvon, 40km van ons af, is die osse kans gegee om te rus. Uit daardie mis verrys ons halfpadboompie.

Dat die halfpadboompie dit oorleef het tot nou toe, is nie per toeval nie. Vasie sê daar moes al woes baklei word vir sy voortbestaan as werkers uitgestuur is om Prosopis te gaan uitroei – ‘n doringboompie is mos ‘n doringboompie …

Tog het ons boompie bly voortbestaan ten spyte van aanslae van droogte en meer. Dalk om vir ons elkeen ‘n boodskap in te hou in Peter Blum se woorde:

…Want wat is ons? ‘n Boompie

Oop vir enige wind – vir enige meslem

Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en

Jy dit gee, is daar skyn van lig op

Mense en dinge, hulle lewe is heerlik

 

Hoe staan hierdie boompie darem nie vir ons Vanwyksvleiers in die teken van ontbering nie. Ons kan elkeen met hom identifiseer. Vars melk is net soms hier beskikbaar – as daar ‘n koeitjie in die omtrek is wat melk gee. Vars groente is raar. Groentetuine het ons nie in die dorp nie – daarvoor is water te brak en te skaars. Winde en lemme kom ons almal maar by wat ons maklik kan kwes. Kan kerf. Storms wat kom en gaan – nie dié soort wat reën bring nie. Maar tog laat skyn mense hulle lig helder  in hierdie ongenaakbare deel van die Bo-Karoo.

Acacia erioloba. Lyk hierdie doringboompie se sade nie ook vir jou nes oorlobbe nie?

L1200841

Waar die Karoo ingeneem word  deur  Prosopis, is ‘n kosbare Kameeldoring dit werd om opgepas te word.

Veral een met ‘n storie. Met ‘n boodskap.

P1270036