OP DIE SPIT(S)

Frans demonstreer vir ons hoe hy ‘n hele skaap ontbeen. Die blaaie, wat los is, word afgesny om later enige yltes mee op te vul. Dan word die skaap vanaf die agterbene ontbeen, al teen die ruggraat af, om die ribbes en dan word die hele stuk vleis teen die nek af losgemaak van die gebeente. Binne 20 minute het hy m.b.v. ‘n skerp slagtersmes, gravitasiekrag en ‘n ekstra paar hande die hele skaap ontbeen.

Daardie vag vleis word vir 2 dae gemarineer en dan opgerol. Die rol word  heel, of in dele, genet – ‘n rekbare vleisnet word oor ‘n koffieblik (wat weerskante oopgesny is) getrek soos ‘n sykous. Dan word die hele rol deur die koffieblik getrek om die vleis in die net te kry en die net word weerskante van die vleisrol toegebind. So gebruik hulle glo die skaap vir ‘n spitbraai om nadese maklik opgesny en bedien te kan word.

Leonette kom wys my, toe hulle hier gekuier het, ‘n hele sprinkaan wat gerieflik deur ‘n laksman op ‘n doringdraadspit vasgehaak is. Wie se spens is in die veld? Nie eens die miere kan hom daar afsteel nie.

By Rina groei ‘n Queen Victoria garingboom. Een maal in sy/haar leeftyd blom hierdie plant met ‘n allemintige lang blomsteel. Al om die spit wentel die blomknoppies opwaarts, opwaarts. Hy hou aan groei en groei tot in die der doerte. Hou dan skielik op met groei en dan maak die blomme van onder af oop met prominente meeldrade al om die blomspit. Daarna vrek die plant. Einde.

My vinnige week Wellington toe om ‘n stukkende tand te laat herstel, bereik die spits met ‘n kuier saam met vriendinne in Stellenbosch. Ons vriendskappe strek al oor die dertig jaar. Anli, Petro, Dalina, Lizette, Mariëtte. Saam kinders grootgemaak en saam baie dinge belewe.

Hoogtespits is my dag saam met Elza. Sy vat verlof en ons spandeer  die dag in Franschoek. Sy is gebore toe ek presies so oud was soos wat sy vandag word. Ons vier dit dubbel – ontbyt by Sacred Ground en wynproe by La Motte.

Die maan se groei het ook weer gisteraand sy spits bereik. Volmaan oor die Wellingtonse berge is immer ‘n belewenis. Môre-aand sien ek hom DV weer oor die dorre vlaktes van Vanwyksvlei opkom …

P1370511

So word die vleis behendig losgesny van die karkas

P1370515

In een stuk kom die vag vleis mooi van die karkas af

P1370524

Deur ‘n oop blik gedruk en binne-in die netkous

20151116_183852

Laksmankos op die spit

20151117_083039

Die Queen Victoria garingboom se eenmalige blomsteel

20151117_083011

Van onder af begin die Queen Victoria se blommetjies oopgaan

20151124_134211

Elza is vandag presies die helfde van my ouderdom

P1370744

Die volmaan blom oor Wellington se berge

Advertisements

KERKSAAMHEDE

Die VGK hou basaar. Om elfuur, die bestemde tyd wat die basaar geopen gaan word, is ons daar. Maar nee, Antie Baby Reën word eers vanoggend begrawe. Meeste mense is eers nog by die begraafplaas besig . Hulle sal ons bel sodra almal gereed is en die basaar kan begin.

Daar loop ‘n storie dat Antie Baby se pa en die boer by wie hy toentertyd gewerk het, stry gekry het. Die boer het glo van haar pa ontslae geraak deur hom van ‘n krans af te stoot. Nou hier in hierdie vlaktes is nie veel berge nie, so mens weet nie waar hierdie storie se oorsprong lê nie. Maar daar word vertel dat daar destyds glo nooit iets gekom het van hierdie gerugte nie.

‘n Uur later kry ons die oproep; ons kan maar kom, die basaar gaan geopen word. Ons kom daar aan met ons tupperbakke want vroër die oggend het ons gesien hoe lekker word daar buitekant gebraai en hoe pak hulle poedings uit in die kerksaal. Vrolik en gesellig onder die bome sit die krukkelys – hulle wat met hulle rolstoele en krukke nie meer by die tafels kan help nie, maar goed kan onthou van die dae toe hulle ook so ywerig meegehelp het met bak en regstaan. Hulle is die’s wat ook sommer hulle ete met die nagereg begin.

Die heerlikste tuisgemaakte KFC en chips word ons middagete. Afgerond met rasegte basaarpoeding.

In die kerk – aangrensend tot die saal – hang die allermooiste misiestelling volgens die akroniem van VANWYKSVLEI –  Vernuwing en Aanbidding is Noodsaaklik om Waarlik Ywerig Kerk te kan wees en Saam te werk. Vetroue op God, Liefde en Eensgesindheid Inspireer ons.

Sondag bid ons saam met die land vir reën. Volgens die kenners is ons nagte nog te koel vir reën. Die dag- en nagtemperature moet blykbaar met minder as 10˚ verskil, dán gaan dit reën. Maar ons bid vir reën regoor ons land en nie net hier by ons nie – ons weet die Kalahari se mense kry swaar. Dáár het dit die afgelope 2 jaar nie reën geval soos dit moes nie. En ons weet die damme regoor die land se watervlakke lê gevaarlik laag. Ons bid in solidariteit met ons hele land se mense. Ons wag.  Elna laat weet van sagte reën in die Bosveld.  Bauer laat weet van 22mm in Pretoria.  Leonette sê hulle het in Rustenburg ook reeds ‘n bui gehad. Berigte van reën kom van orals in. Hier by ons waai die wind steeds verkeerd – hy moet uit die noorde kom. Die kaktusse blom nog nie. Ons wag steeds.

Dié aand woon ons die plaaslike APK se kerssangdiens by. Feestelik pryk al die tafels met liggies en kersies en blou en silwer versiersels. ‘n Powerpoint aanbieding (waaraan ure en ure spandeer moes word) sinchroniseer al die liedere en voorlesings. Daarna die magdom eetgoed. Daar is beslis vanaand ‘n paar vroue met baie seer voete.

Die Kerkraad vergader ter plaatse. ‘n Beroep moet uitgebring word vir ‘n nuwe predikant. Die eerwaarde kerkraad vind dit goed om die agbare aflosdominee te beroep.

Hiervoor, liewe vriende en familie, sal julle saam met ons moet bid…

KAROO KREEFSTERT

Karoo kreefstert het nou al sinoniem geraak met kuiers.

Vorige naweek kom kuier Nico en Manda vanaf Askham. Soos altyd bring hulle baie meer as net hulleself – al kwyn die skaap in die Kalahari, oorlaai hulle ons met skaapvleis, groente, wyn en nog. Dis Nico wat die kreefstert ontdek by ons plaaslike slaghuis. André, bekwame slagter en orrelis, maak hierdie heerlike braaistuk van springbokfillet wat hy vul met kaas en balsem met bacon. Onder die Karoo se sterrehemel, vars van die kole af, met ‘n rooie vanuit die Oranjerivierkelders, gegeur met die geselligheid van weersiens, kom niks hierby nie.

Zinta en Chris kom vanuit Jongensfontein hier aan en ons stel hulle bekend aan Karoo kreefstert. Chris skink KWV en ons vier ons verbintenis wat strek van skoolhoudae af van weleer in Pretoria se middestad. Zinta kom maak spesiaal vir my ‘n verjaarsdagtert van roomkaas, arbeie en meringue omdat die vorige een waarmee sy my ‘n paar jaar gelede wou trakteer, nie wou stol nie. Feestelik vier ons.

Vanoggend is Leonette Jnr, Andries en klein Christine weer vort Rustenburg toe. Via Cradock, waar hulle ‘n troue bygewoon he,t kom kyk hulle waar ons nes skrop in die Karoo. Een dag gaan ‘boer’ Andries en Johan saam met Andries se neef Daniël so 25km uit die dorp uit. Werk skaap. Jag jakkals. Skiet springbok. Nou is ons vrieskas stampvol en is ons ergste verlange na kinders, kleinkinders, derglike familie en vriende darem effens gestil. Net jammer Leonette kon vanweë ‘n maagvirus nie gisteraand die Karoo kreefstert saam met ons geniet nie…

Uit pure oorhaastigheid vuur ek toe mos my potte. In ‘n gat in die grond vuurgemaak en albei potte verloor. Net skerwe! Doen tans nou eers bietjie navorsing oor primitiewe vuringsmetodes voor ek dit weer waag.

‘n Paar weke gelede red ons ‘n piepklein swaeltjie van ‘n dakbalk af. Hulle nessie onder die sinkdak het te warm geword en die baba swaeltjies het uitgekruip. Een het hom te pletter geval. Die ander enetjie floreer gelukkig nog op geweekte katkorrels. Wanneer dit by vlieglesse kom, sal ek julle raad nodig hê.

Nog ‘n meevallertjie hierdie week was ‘n kelkiewyneier waarop ons in die veld afgekom het. As dit nie was vir die kelkiewyn wat voor ons voete opgevlieg het nie, sou ons waarskynlik die goed gekamoefleerde eier nooit opgemerk het nie.

Gister was markdag op Vanwyksvlei. Dis die enigste keer wanneer vars groente en vrugte op die dorp bekikbaar is. Middel van die maand kom Nigeriërs met ‘n bakkie vol groente en ander negosie hier aan. Dis gewoonlik dán wanneer die skoffelspanne betaal word en waar rande is, is klante. Die mense kom blykbaar vanuit Calvinia se rigting en staan oor op Williston, Loxton, Vosburg, hier plaaslik en dan op Carnarvon. Dit moet lonend wees, anders sou hulle nie elke maand die tog aanpak nie.

Soos almal orals beleef ons hier ook waterskaarste. Die dorp se reservoir op die bult hier buite, loop vroegdag reeds leeg. Dan gee die dorpskrane net ‘n dun straaltjie. Ketel voltap kan lank vat. Derhalwe word elke druppel water dubbel aangewend. Gelukkig is hier by ons agterdeur ‘n tenk wat snags, as die water in die reservoir styg, reeds begin vol tap – reg vir gebruik die volgende dag. Hier’s ‘n gryswatersisteem aangebring wat bad- en stortwater tuin toe pomp. Skottelgoedwater gaan ook plante toe. Danksy hierdie watertjies en die skadunet wat Johannes oor die groente gedrapeer het, oorleef my paar groenteplantjies nog steeds. Een maal per week gee ek hulle DDT behandeling – donkiedroltee getrek in ‘n leë drom in die agtererf. Natuurlik. Organies. Effektief. Kosteloos.

Karoo Kreefstert - eg plaaslik

Karoo Kreefstert – eg plaaslik

Andries, Leonette en Christine kom kuier

Andries, Leonette en Christine kom kuier

Hierdie babatjie oorleef al drie weke by ons

Hierdie babatjie oorleef al drie weke by ons

'n Kelkiewyneier

‘n Kelkiewyneier

Middel van die maand is markdag

Middel van die maand is markdag in Vanwyksvlei

Tannie Breggie

Tannie Breggie is die oudste lidmaat van die gemeente hier op Vanwyksvlei. As 90jarige is sy ons eerste huisbesoekpunt. Legendaries. As bywoners het sy en haar man desjare op die lande by ‘n boer gewerk. So arm, dat hulle nie hulle twee kinders by hulle kon hou en versorg nie – dié moes in die dorp by familie grootword. Die dogter het ‘n hartprobleem gehad en moes op ouderdom van 14 ‘n hartoperasie ondergaan. Op aanbeveling van die hartchirurg, het Tannie Breggie en haar man op die dorp gaan woon in ‘n huurhuis; “Mevrou, al bly julle almal in een kamertjie en eet net pap, dan vat jy jou kinders by jou en maak hulle self groot.”

Om die huurgeld per maand te kon bekostig, vertel tannie Breggie, het hulle seuns van die lande af ingeneem wat nie in die skoolkoshuis kon aard nie. Vir hulle het sy dan weekliks versorg, en naweke is hulle huis toe. So het Tannie Breggie soms tot 15 seuns op ‘n keer gehuisves. Elke ete is voorsien en sy het gesorg dat huiswerk stiptelik gedoen is. Die skool op Vanwyksvlei het tot by standerd 8 gegaan, so soms was daar seuns van Gr.1 tot Std. 8 op een slag in haar huis. Hoeveel seuns deur die jare onder tannie Breggie se liefde en sorg deurgeloop het, kan sy nie presies sê nie – sy het nooit boek gehou nie.

Later kon hulle die huisie koop en vandag, sestig jaar later, woon sy steeds in daardie selfde huisie. Haar man was lank bedlêend met maagkanker en sy het hom so goed versorg, dat hy by sy sterwe nie ‘n enkele bedseer gehad het nie. Sy het tot diep in haar tagtigs nog daagliks by die handelshuis gewerk en daagliks soontoe en terug gestap. Stap kón sy. Daar word vertel dat sy stof in die jonger vroue se oë gestap het tydens lentelope.

Vandag nog. Sy stap met haar kromgetrekte rug al die pad kerk toe. Sondag na Sondag sit tannie Breggie op haar bestemde plek aan die punt van die bank sodat haar haarnaaldrug mooi in die hoek van die houtbank kan inpas, anders druk die bank hard teen haar pynlike rug. “Maar hoekom bring tannie nie ‘n kussing saam nie?” “Nooit nie, my kind…” Sou dit onbetaamlik wees? Wat wou. Ons het gesorg vir ‘n kussing wat nou permanent op haar plek lê.

Tans stort sy al haar liefde op haar florerende potplante op haar voorstoep uit. Sy praat met hulle, soen hulle en streel hulle elke dag. Al die potte malva’s, magrietjies, ammarillas, varings, monsterplante en skoonma-se-tonge is vandag ‘n toonbeeld van hoe die seuns destyds onder dieselfde liefde in hierdie einste huis gedy het.

Tannie Greggie van 90, ons oudste gemeentelid

Tannie Greggie van 90, ons oudste gemeentelid

Tannie Breggie se liefdestuin

Tannie Breggie se liefdestuin