Ta’ Mara se klavier

ritter_klavier_um_1880_mit_signatur_imr_tastaturdeckel1

Tannie Mara se klavier was eens ook so pikswart

 

 

Ta’ Mara kry haar Carl Ritter klavier in 1952 toe sy 18jaar oud word. Haar pa koop die klavier vir haar by Boardness in Johannesburg vir ₤250. Een van net drie in die land. Die klavier kom per trein tot op Postmansburg en daarvandaan bring haar pa die klavier met ‘n bakkie tot by hulle Kalahariplaas Hartebeeshoek, naby Olifantshoek.

As jong meisie speel sy op gehoor totdat sy klavierles by die skoolhoof se vrou begin neem. Na skool begin sy met sanglesse by die veel befaamde Sarie Serfontein Theron op Potchefstroom, by wie my sus Mariëtte ook haar sangopleiding begin het. In daardie tyd losseer sy in Potch terwyl sy klas loop by die Konservatorium.

Daarvandaan loop haar lewe baie draaie – tree in die huwelik in Potchefstroom, woon in ‘n huis in Van Graanstraat regoor dié van my broer Tommie, verhuis Wolmaranstad toe, maak drie dogters groot, staan haar man af aan die dood, keer terug Potchefstroom toe, trou met haar tweede man. En immer reis die Carl Ritter met haar saam.

Intussen ondergaan die Carl Ritter ‘n metamorfose. Sy hou nie van die doodskisagtige blinkswart nie en haar skoonseun skuur die klavier af en gee hom ‘n nuwe aansig.

‘n Paar jaar gelede verhuis sy en haar jongste dogter Vanwyksvlei toe. Die Carl Ritter trek saam met hulle in in die huis langs die winkel wat haar dogter vir hulle Vanwyksvleifamilie kom bestuur.

Onlangs aanvaar haar dogter ‘n ander aanstelling in die Kaap en Ta’ Mara gaan saam. Maar nie die klavier nie. Daar’s nie plek vir die Carl Ritter op die bakkie of in die nuwe blyplek nie. Vir die eerste keer in meer as 60 jaar van saamwees word Ta’ Mara van haar Carl Ritter geskei.

l1180474

Daar word egter nooit vervoer gereël vir die klavier Kaap toe nie want dinge loop skeef. Die besigheid in die Kaap werk nie uit nie en Ta’ Mara moet solank alleen terugkom Vanwyksvlei toe.

Tans is daar ‘n hele kaboedel onsekerhede in Ta’ Mara se lewe. Behalwe vir dié één ding; sy en haar Carl Ritter is weer bymekaar.

Advertisements

R.I.P Appie

 

l1160277

Appie Immelman  1/1/1942 – 7/11/2016

Ek sou so graag met sonop die kerklok wou lui om Appie se eerste dag in die hemel mee te vier. Uit eerbied vir hom wat elke Sondagoggend die kerkklok gelui het vandat Joey koster was. Enkel, afgemete slae; 74 van hulle. Een vir elkeen van sy jare hier op aarde.

Ek sou so graag by die hemelpoorte ‘n erewag vir hom wou staan om te sien hoe ontvang sy oorlede vrou en seun hom toe hy gister oorgestap het – hulle oor wie hy so droewig gerou het met hulle vertrek van hier af.

 

Ek sou so graag ‘n Psalm wou sing by sy sterfbed in ICU (Panorama, Durbanville, waar hy die afgelope 8 weke deurgebring het) om sy pyn en lyding sagter te maak. Oor die pyn en lyding wat hy sagter gemaak het vir sy oorlede vrou Joey én vir sy pa vir wie hy jare versorg het, tot op hulle laaste.

Ek sou so graag vir hom ‘n spesiale medalje wou smee vir die lojale stap om met Tania te trou sodat sy versorg agtergelaat kon word uit dankbaarheid vir al die jare wat sy hom so lojaal versorg het. Dít skaars 10 weke gelede, toe hy besef het sy dae op aarde word min.

Ek sou so graag die polisievlag vandag halfmas wou laat hang uit eerbied vir die baie jare wat Appie as bevelvoerder van die polisiestasie hier op Vanwyksvlei toegewyde diens gedoen het. Ek sou die vlag wou sien wapper as simbool van die sukses waarmee hy, met die hulp van slegs twee konstabels, hierdie hele gebied se wet en orde kon beheer. Van ál die sake – van veediefstal tot huismoles – wat hy so flink en vinnig kon oplos.

Ek sou so graag by die volgende gemeentebraai ‘n groot vuur wou brandmaak en totaal laat uitbrand uit erkenning vir Appie wat by elke gemeentebraai die rooster beman het, al was dit op een kruk.

Ek sou so graag ‘n groot lourierkrans by die plaashekke van Dagboetie en Moffiesdam wou neerlê uit eerbied vir Appie wat vir baie jare so getrou hierdie plase vir Brian bestuur het, al kon hy soms nie eers uit die bakkie kom nie.

Ek sou so graag op aandag wil staan met my hoed op my bors as hy langs Joey begrawe gaan word uit eerbied en respek vir sy eerlikheid oor sy eie foute en gebreke, vir die opregtheid waarmee hy gelewe het en vir die waardige manier waarop hy die slae wat die lewe hom uitgedeel het, gelate en alleen gedra het.

Rus in vrede, ou Appie. Sterkte Tania.

l1160261

Appie en Tania op hulle troudag, 10 weke gelede.