Sabbatsbriewe

sabbat2

‘n Voorloper van die blog Bo-Karoo, en ons verblyf in Vanwyksvlei, was ons 9 maande sabbatstyd in die Kalahari en die Boesmanland.

Om ons familie en vriende op hoogte te bring van die verloop van ons lewe tydens daardie tyd, het ek elke week die gebeure en belewenisse wat ons deurgemaak het, per e-pos aan almal uitgestuur.

sabbat1

Na aanleiding van hierdie hope e-posse, is die suggestie by my gelaat om hierdie ervarings eerder te blog. So het Bo-Karoo inderhaas ontstaan met ons skuif Vanwyksvlei toe.

Al daardie sabbatsbriewe is gereed om, soos met Stories Uit die Bo-Karoo, te boek gestel te word. Hierdie keer doen ek dit egter nie om een of ander hulpfonds daarmee op te bou nie. Hierdie keer doen ek dit as ‘n tasbare, toeganklike nalatenskap vir familie en vriende wat daarin sou belang stel.

sabbat3

Help my asseblief om te besluit hoeveel kopieë om te laat druk deur net vir my te laat weet as jy sou belang stel in ‘n kopie. Die koste per kopie, posgeld ingesluit, behoort in die koers van R150 te wees vir ‘n boek met nagenoeg  182 bladsye met kleurfoto’s ingesluit.

Jy kan op fb reageer, of my persoonlik laat weet by leonettesmit@hotmail.com

Hou jouself veilig agter die grendel van lap, sanitizer of afsondering.

Wederom, totdat ons weer mag ontmoet.

sabbat4

Die boek vlieg

Dit is vandag 3 maande sedert Stories uit die Bo-Karoo vanaf die drukker by my aangekom het. En daar is ‘n skrale 102 boeke oor. ‘n Boek van 300 bladsye, propvol met 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense, toegelig met 50 kleurfoto’s.

Buiten die enorme bedrag wat alreeds gegenereer is en aan Vanwyksvleiers uitbetaal kon word, het die boek soveel vermag. Vriende, van ons grenslewe van 40 jaar gelede, het weer kontak gemaak. Oud Vanwyksvleiers het dinge raakgelees wat resoneer met hulle verre verlede. Hulle het nog boeke bestel en laat aanstuur vir hulle families vir Kersfees. Mense het van oraloor laat weet dat hulle die name en stories van ou vriende raakgelees het.

Mietjie Jafta, hoor ek, het ook intussen oorgestap. Ek wonder wie versorg nou haar ma van 105 jaar oud. Haar foto bly steeds vir my die beste foto wat ek nog geeem het van almal in Vanwyksvlei. Hoe bly is ek dat sy ook in die boek verewig kon word.

P1420631resized

Nuwe inisiatiewe het ontstaan om verligting te bring aan die swaarkry van Vanwyksvleiers in die droogtetyd – en dit van mense wat nie eens geweet het waar Vanwyksvlei is nie. Daar is selfs mense wat hulle planne vir Desember so aangepas het, dat hulle soontoe gery het om self te sien hoe dit daar lyk. Nog voerskenkings is gereël. Individue het hulle hande diep in die sakke gedruk om te help om agterstallige studierekenings te vereffen. Ek staan verstom.

Die droogte is nog lank nie gebreek nie. Daar het wel plek-plek reën geval, maar talle plase het steeds nog nie ‘n druppel gekry nie. Desperate boere tref voorbereidings om in Amerika op plase te gaan werk in ‘n poging om jare se opgehoopte skuld te probeer afwerk. Families gaan in 2020 geweldige opofferings maak.

Die nuwe skooljaar en studiejaar begin; skoliere en studente moet toegerus word om die jaar te begin wat yslike uitgawes meebring. Waar moet daardie fondse vandaan kom? Die meeste boere het net nie meer skaap oor om te bemark nie. En al sou daar nog skaap wees, kom hulle moeilik op bemarkbare gewig omdat voer skaars is. Boonop is nie alle voerskenkings geskik vir die skaap van die Bo-Karoo nie.

Die nood is steeds groot. Die droogte het meegebring dat mense vir mekaar begin omgee het en vir mekaar begin verantwoordelikheid neem het. Dit moet nie nou stop nie.

In Nataniël se woorde: koop tog net seblief die blêddie boek!

Besonderhede:

Koste: R339 (sluit posgeld in)

FNB tjekrekening nr 62828658768

Naam: Hulpfonds

Takkode: 210801

Gee seblief jou naam as verwysing. Stuur ‘n foto van jou inbetalingsbewys na 082 584 4992, met jou posadres daarby en ek pos hom dadelik.

Bederfbokse

Oor Boks-vir-‘n-Boervrou kan ‘n hele boek geskryf word. Daar doen soveel hartroerende stories die rondte van ongekende seën.

Volg hierdie boks saam met my vanaf Excelsior in die Vrystaat na Vanwyksvlei in die Noord-Kaap:

bokse2

Bokse opgestapel in Bloemfontein, gereed vir uitsending

Vooraf: Dis 3 weke gelede. Petro Swart bel uit Bloemfontein om my met my verjaarsdag geluk te wens. Sedert ons skuif na Potchefstroom vanauit Vanwyksvlei, is dit die eerste keer dat ons weer met mekaar praat en daar’s baie om te deel. So vertel ek vir haar van Stories uit die Bo-Karoo wat die lig gesien het. Petro bestel ‘n boek en ‘n week later is die boek by haar.

Intussen: Tilla en Jan kry ‘n skenking van kopmeel in Vanwyksvlei. In ‘n onbewaakte oomblik (Jan moes vir Christo Koortsen op ‘n buurplaas gaan hand gee met ‘n probleem) voer Jan-Kokkie, die plaashulp, Tilla se lammers te veel kopmeel – hulle eet dan so lekker.

Die gevolg: Op ‘n streep begin hulle vrek. Tilla is raadop. Vier jaar vantevore het ‘n veearts uit die Vrystaat haar wonderlik oor die foon gehelp toe sy ook ‘n klomp skaap aan suurpens verloor het. Maar die vrou se nommer is soos in WEG.

Terug in Bloemfontein: Petro wys Stories uit die Bo-Karoo vir haar vriendinne by die kwilt gilde en vertel van Vanwyksvlei – so afgesonder en ontoeganklik, droogtehulp kom nie sommer daar uit nie.

Die plan: Een van die kwiltvriendinne werk by ENOG, die sinodale maatskaplike diens in die Vrystaats. Al die bederfbokse word deur hulle gekanaliseer. Sy reël dat ‘n vrag bokse na Carnarvon, Loxton, Vosburg en Vanwyksvlei toe gaan.

Die roete: Die vrag word gelaai en vertrek Maandag oggend, 18 November om 4vm vanuit Bloemfontein na Carnarvon. Daar word dit in ontvangs geneem deur verteenwoordigers van elkeen van hierdie dorpe.

boks4

‘n Koerantberig oor die aflewering 

Die eindbestemming: Jan en Vasie ontvang Vanwyksvlei se vrag bokse met groot dank. Dit word afgelewer in Vanwyksvlei se kerksaal waar oorhandiging plaasvind

“Toe Tilla,” sê Rida, “moet nou nie so beskeie wees nie, vat nou vir jou ook ‘n boks.”

Tilla vat een van die honderde bokse wat uitgepak staan. Vertrek plaas toe. Maak die boks oop op die plaas. Bo-in is ‘n handgeborduurde skinkbordlappie. Ook ‘n selnommer.

Die ontdekking: ‘n Mens wat met haar hande ‘n lappie utgeborduur het, mag nie net ‘n whatsapp-boodskap vir ‘n dankie ontvang nie. Sy bel.

Deidré antwoord. Deidré, die einste vee-arts van Excelsior waarna Tilla al vir 2 weke so ernstig soek om haar te help met die vrektes onder haar lammers aan suurpens.

Wat is die kanse? Ek meen, tussen al die honderde en honderde pakkies wat konstant inkom en uitgaan, dat juis dáárdie boks by dáárdie bestemming sou uitkom?

As jy nog enigsins twyfel oor Wie in beheer is, Wie alles ten goede laat meewerk, Wie uitkoms bewerkstellig en Wie die droogte op die regte tyd gaan breek, dink net weer ‘n slag mooi.

Ons ken ‘n God van wonders. Verwag dan vandag ook joune van Hom.

Nou kan jy bestel:

Stories uit die Bo-Karoo is afgelewer. Presies 3 maande na my eerste navraag aan CLF ivm selfpublikasie.

Dieboek

Die volle oplaag boeke word beskikbaar gestel om fondse in te bring om Vanwyksvleiers te help. Kontantvloei, totdat dit weer sal reën en hulle uit die as kan opstaan, is by baie boere ‘n groot krisis.

Met jou aankoop van die boek, help jy om iemand in Vanwyksvlei in nood te help. Baie dankie dat jy wil meewerk aan hierdie projek.

Soos wat die kerk in die voorgrond op die omslag van die boek sentraal in die prentjie staan, so probeer ons en ons geloofsgenote om ons geestelike broers en susters in Vanwyksvlei te help om staande te bly.

Die boek kos R339.00 en sluit posgeld in. Dit beslaan 300 bladsye, gepak met 126 stories en 50 kleurfoto’s van Vanwyksvlei, sy mense, sy omgewing en van gebeure die afgelope tyd sowel as uit die dorpie se voorjare.

Vir minder as R3.00 per storie, word jy deel van ‘n nuwe verhaal van hoe onse  mense se meelewing mekaar regop hou in tye van swaar. En dis hierdie stories wat besig is om oral rugbaar te word, wat maak dat hierdie land ‘n wonderlike plek is om in te bly.

As jy ‘n boek wil hê, moet jy opskud, daar is slegs ‘n beperkte oplaag gedruk. Die bankbesonderhede is as volg:

Naam van rekening:  Noodfonds

FNB  tjekrekeningnr.  628286 58768

Takkode:  210801 (West Acres CTR)

Verwysing: Bo-Karoo

Stuur aan my of Johan jou bewys van inbetaling met jou pos- of straatadres daarop. Jy kan sommer van whatsapp gebruik maak.

My e-posadres is leonettesmit@hotmail.com en selnommer is 082 584 4992

Johan s’n is smittiesnr@hotmail.com en sy selnommer is 082 584 4990

Ons gaan die goedkoper opsie gebruik, naamlik Speed Service van die Poskantoor se toonbank-na-toonbank.

Hoekom nou juis Vanwyksvlei? Hierdie dorpie is só afgeleë. Daar loop geen hoofroete naby verby nie. Die grondpaaie is nie in ‘n goeie toestand nie – ‘n pap wiel of ‘n getrapte band is ‘n groot moontlikheid as jy daar sou ry. Skenkings kom nie sommer daar uit nie, tensy dit direk van goedgesinde boere uit Douglas of Bothaville of Clocolan kom. Vir daardie boere bestaan daar géén alternatiewe bron van inkomste as om skaap te bemark nie. Skape is lankal nie meer in ‘n bemarkbare toestand nie. Of het alreeds gevrek. Meeste van die boere het alreeds hul medies verloor, alle polisse en versekering is gestaak, hulle kinders se skoolgeld en universiteitsgeld is ver agterstallig, daar’s nie geld vir brandstof om krippe om te ry of dorp toe te ry vir kerk of koöperasie nie. Meeste het lankal afgesien van enige luukshede soos haarkleurmiddel of tydskrifte of nuwe skoene of drie etes per dag. En as die boere ly, ly die plaaswerkers en hulle families ook.

Opreg dankie vir jou belangstelling en betrokkenheid by die Vanwyksvleiers in nood. Sedert ek en Johan hierdie bewusmakingsveldtog begin het, einde Julie, het ons al soveel meelewing ervaar, dat ons net vestom staan hoe die Gees werk in mense..

Jy kan deel word daarvan.

 

Bo-Karoo; die Boek

voorblad2

Dit het ‘n werklikheid geword; Stories uit die Bo-Karoo word gedruk. Christelike Lektuurfonds in Wellington het ‘n pragboek saamgestel van al 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense en sy geskiedenis.

voorblad3

 

In ‘n vorige blog het ek vertel hoe ‘n droom – letterlik ‘n droom – gelei het tot die besluit om die boek te laat maak. Dit is my beskeie projek om die boere in Vanwyksvlei te help in hierdie tyd van langdurige, uitmergelende droogte.

My plan is om die volle bedrag wat deur die volle oplaag ingesamel word, in ‘n droogtehulpfonds te stort.

Almal wat reeds op my fb-boodskap ‘n boek gedêps het, se name is op my lys. Sodra ek weet wat die boek my kos, gee ek vir julle ‘n prys en ‘n banknommer deur. Ek sal sorg dat jou boek by jou uitkom.

As drome werklikheid word, gebeur dinge. Hierop wil ek tog nooit uitmis nie.

En jy?

 

rpt

En wat doen jy?

Wat gaan ek en jy daaromtrent doen, sê ons vir mekaar toe ek en Johan klaar na Geestesgesondheid op RSG van 16 Julie 2019 geluister het. Die program handel oor die psige van die boer in die droogtegeteisterde dele van ons land. Ons wéét al hierdie dinge. Ons het dit gesien. Ons het dit self aan die lyf gevoel. Ons ken die name van die mense waarvan daar gepraat word. Ken die plase.

Johan staan op en begin ‘n brief saamstel wat hy aan elke gemeente in Potch wil stuur om te vra vir 10 minute tydens ‘n erediens vir bewusmaking van die toestand in Vanwyksvlei wat meer afgeleë is as al die ander dorpe waarvan gepraat word. Geen nasionale pad loop daar naby verby nie. Geen teerpad vir 80km nie. Hulp in die lyn van voer kom nie sommer tot daar nie.

Toe ek die oggend wakker word, wéét ek wat ék moet doen. Bo-Karoo moet ‘n boek word. Die volledige opbrengs sal gaan vir die Vanwyksvleiers – al is dit net ‘n druppel in die emmer. Want sien, ek het ‘n droom gehad.

Vertel ek ‘n paar dae vantevore vir my swaer die droom waarin my oorlede sus ‘n leidende rol gespeel het. Dat ek droom ek die opdrag ontvang het om ‘n boek te maak maar nie die vaagste benul het waar ek moet begin nie. Hoe ek ‘n baie duidelike beeld het van hoe die boek moet lyk maar nie weet waar kry ek die middele in die hande om die boek mee te maak nie. In my droom is my sus ‘n stil teenwoordigheid wat my stuur.

Ek droom my sus vat my eers vir ‘n ete. Die bord kos wat voor my neergesit word is vreemd – dit lyk meer na iets dekoratiefs as na kos. Dis net ek wat eet. Sy eet nie saam nie en sit ook nie saam met my aan die tafel nie. Sy is slegs ‘n stil teenwoordigheid hier êrens regs agter my.

Die eerste happie wat ek neem is so soet soos heuning op my tong. Ek smul so lekker aan die bord kos, dat ek twee happe uit die boekrak langs my neem voordat ek besef dat ek nie veronderstel is om die boekrak ook te eet nie.

Daarvandaan neem sy my na ‘n tipe pakstoor waar ek met die intrapslag sien dat ek hier alles gaan kry wat ek nodig het om die boek mee te maak. Ek raak so meegsleur deur al die opsies om my, dat ek nie besef my sus verdwyn stilweg uit my sig nie. Toe skrik ek wakker.

Jy weet natuurlik wat dit beteken, merk my swaer op. Ek verstaan nie wat hy bedoel nie.

Dis jou tweede boek.

Hiervan vergeet ek heeltemal totdat ek die oggend wakker skrik met ‘n sekere wete dat Bo-Karoo ‘n boek moet word.

My versoek aan CLF (Christelike Lektuurfonds) se uitgewers om onder hulle Barnabas selfpublikasienaam te publiseer, word daardie selfde oggend nog beantwoord.  Minder as twee maande later is die redigering, die taalversorging, die uitleg en ontwerp van die hele manuskrip afgehandel. Bo-Karoo, die boek, het alreeds ‘n ISBN-nommer. Binnekort is die bladuitleg afgehandel, foto’s en al, en sal die boek gedruk word. Voor Kersfees sal jy jou eksemplaar kan koop

Intussen reageer geloofsgenote in Potchefstroom op Johan se bewusmakingspraatjie met ongekende deemoed. Dit kring steeds uit. Nou selfs na hierdie geloofsgenote se familielede in ander dorpe.

Johan se bewusmakingspraatjie is nie net om finansiële hulp nie. Dit gaan ook oor betrokkenheid, deur te gaan kyk wat daar aangaan. Deur betrokke te raak by ‘n gesin op ‘n plaas om te hoor waarvoor daar gebid moet word. Deur ‘n boer te borg vir die volgende paar maande, want van die  boere moes reeds hul medies, versekering, polisse, selfoonkontrakte, ens. opgee. Hulle kinders se skoolgeld of universiteitsgelde is agterstallig. Hulle rekenings by die plaaslike koöperasie is so ver agterstallig, dat dit gesluit is. Hulle kan nie meer brandstof koop om inspeksie by krippe en windpompe te doen nie. Bande wat getrap is op daardie vreeslike onbegaanbare paaie van Vanwyksvlei, kan nie meer vervang word nie. Hulle sukkel om hulle werkers te behou want vir lone is daar ook nie geld nie.

Kortom, daar is nie meer reserwes of alternatiewe nie. Net die tekens van dood onder die skaap wat elke dag toeneem. Tilla sê onlangs vir my dat sy by God pleit om die skaap liewer te laat vrek voordat sy op hulle afkom, want sy kan nie meer één skaap keelaf sny nie. Maar as sy dit nie doen nie, is die kraaie voor haar daar om die skaap wat net lê se oë en tong uit te pik.

droogteblog4

 

Menigmaal vrek die ooi terwyl sy lam, dan moet die lammetjie uitgesny word as hulle betyds op die toneel aankom, voordat dié ook dood is.

droogteblog5

Hierdie lam is ge-keiser

Nou sit die boer met ‘n magdom lammers op die bottel. Daar moet melk aangekoop word om dit mee te doen, waarvoor daar nie meer geld is nie.

droogteblog6

Jan se kontrepsie omdat daar nie genoeg hande is vir bottels nie

 

 

droogteblog3

Tilla se koei help gewillig mee met die voer van weeslammers

Lammers bereik nie sommer bemarkbare gewig nie want daar is nie meer weiding nie. En as lammers nie bemark kan word nie, kan geen inkomste gegenereer word nie. Die boere het regtig nie ‘n alternatief nie. Dooie skaap wat oral rondlê, moet hoop gemaak en brand gesteek word – daar’s nie geld vir kalk om bo-oor te strooi nie.

droogteblog2

‘n hoop dooies wat brandgesteek moet word – ooie, lammers en ooie in die proses van lam

En omdat lammers nie meer bemark kan word nie, maak die man wat moet bemark ook nie meer geld nie. So kring die ellende al verder en verder uit.

Johan stel voor dat boere wat kan, ‘n boer se kernkudde, wat deur jare opgebou is, gaan haal en namens hom versorg totdat toestande verbeter. So erg is dit. Of dat groepe die dorp besoek met lewensmiddele of enige vorm van ondersteuning. Of om ‘n projek te steun wat fokus op alternatiewe bronne van inkomste, soos om hout te maak van die magdom prosopisbome in die gebied. Hy voorsien vrywilligers van kontaknommers.

Hierdie droogte wat al vir baie jare vootduur, gaan ons ons land se vleisspens kos as ons nie nóú optree nie. Ons kan nie wag totdat daar opgetree word deur die regering nie.  Eintlik is dit lankal te laat vir optrede. Ons moet begin betrokke raak by ons geestelike broers en susters in nood. Dis wat kerk beteken. Nie om Sondag ‘n erediens te besoek en daarmee is my premie vir die week se voorspoed betaal nie. Maar om uit te gaan en kerk te wees waar daar nood is. Om saam met broers en susters in die stof te kniel en te smeek vir uitkoms. Om geloofsgenote se las te help dra, al vat dit ook aan ons sakke.

Manda stuur ‘n foto van die springbok wat uit die veld kom om saam met die diere wat gevoer word te kom eet. Nood is groter as vrees. Daar’s niks oor in die veld nie.

droogteblog1

 

Rina, oor wie ek al baie vertel het, boer tans namens HJ op die plaas Stinkbrak, nadat Jurie, HJ se pa ‘n paar weke gelede aan ‘n hartaanval gesterf het. HJ is in matriek. Rina sê sy het al baie droogtes in haar 68 jaar deurgemaak, maar hierdie droogte is ongekend. Sy vertel dat die skaap wat uitgekeer word, sommer omval. Dié moet dan kraal toe gedra word waar daar gevoer moet word. Hulle is so swak, dat hulle kondisie in die voerkraal nie eens verbeter nie – dit hou hulle maar net aan die lewe maar bring hulle nie by bemarkbare gewig nie. Om hulle lewend te verkoop, gaan omtrent niks inbring nie. Gelukkig kom daar gereeld voer van weldoeners.

Tilla vertel van die skaap wat sy sommer voor in die bakkie gesit het omdat die skaap te swak was om ‘n rit agterop te oorleef.

droogteblog7

Hoe dié wat kan, na die bakkie aangehardloop kom vir iets te ete. Hoe een van hulle ‘n pakkie lemon creams voor in die bakkie ontdek en skoonskip maak daarvan.

droogteblog9

 

 

Soos Tilla in haar desperate whatsapp-boodskap wat tans die hele kuberruim deurswerf sê: hier word groepe gestig, dinge gedoen om mense te help aangaan. Maar vrektes het vir hulle so ‘n verskrikking geword dat hulle nie meer die woord ‘dood’ kan gebruik nie. Al wat hulle vra is gebed. Om te pleit vir genadereën.

Doen jy ook asseblief mee.

“Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie.”                         1 Samuel 12:23

Nog is dit het einde niet

 

My laaste blog het ek 3 maande gelede geskryf. Gedog ek is klaar met Bo-Karoo. Maar daar gebeur toe ‘n opvolg wat meriete het om te vertel:

Na aanleiding van MCCI (MeerKAT Creative Community Initiative) se opleiding van kreatiewes om hulle ‘n podium te gee in die Noord-Kaap om te bemark, kruis my pad baie onverwags met ‘n program wat deur Impact Makers and Creators aangebied word. Kreatiewe sosiale entrepeneurs word ‘n geleentheid gebied om oor ‘n tydperk van 4 maande te leer wat hulle anders kan doen om hul onderneming te hupstoot om ‘n impak in die gemeenskap te maak. En die uwe word gekies om hierdie opleidingsprogram te volg.

Met die eerste module van 6 pas afgehandel, word ek teruggedwing na Bo-Karoo – hou vas, hier kom dit:

Meer as 900 aansoeke is ontvang vir die program wat vanjaar vir die eerste keer befonds word deur die Britse Konsulaat. En ek meen, volledig befonds word! In Kaapstad, sowel as in Johannesburg, word 4 kursusse rug-aan-rug aangebied. Die kursus wat ek bywoon gebeur by die Seed Academy in Rosebank.

Sessie 1 van dag 1 breek aan. Ons is ‘n groep van 22 studente met hierdie ou tannie ‘n seeroog tussen al die jong, energieke, bekwame, welsprekende jong mense waarvan net 1 ander lig gepigmenteerd is soos ek. Hulle is almal al lankal in besigheid. Meeste van hulle het al die geleentheid gehad om oorsee te reis met hulle ondernemings. Almal van hulle is tegnologies bekwaam en gebruik hulle selfone met vlietende vingers teen die spoed van witlig om inligting vanaf die internet te trek.

Die ysbreker- en ken-mekaar-sessie is iets heel anders. Ons lektor (uit die VK) is net so innoverend soos al die studente. Die vloer van die lokaal word as Suid-Afrika voorgestel. Die suidpunt eenkant. Limpopo die anderkant. Ons moet elkeen posisie op die landkaart inneem wat vir ons van groot betekenis is. Elkeen kry ‘n beurt om te sê wie jy is, en waarom die plek vir jou betekenis het. Ek neem posisie in die Karoo in, waar my hart steeds is. Enkeles staan in die Kaap of Durban of Mpumalanga, die res koek saam in Gauteng.

Dit is my beurt om te sê waarom ek in die Karoo is. En wil jy glo, daar is jou waarlik iemand wat weet waar Vanwyksvlei is. Sy kom daarvandaan en haar ouers woon steeds daar; Chantell Malgas.

Im&C1

Chantell sit ry  2, derde van regs. Ons aanbieder sit heel regs in  ry 3

Ek meen, wat is die kanse …

Vertrek vanaf Vanwyksvlei

Totsiens Vanwyksvlei. Johan het amptelik ‘n Akte van Demissie van die NG gemeente Vanwyksvlei ontvang. Wat ‘n wonderlike ervaring was die laaste drie jaar en drie maande nie vir ons nie. Watter wonderlike vriende het ons nie gemaak nie. Die impak daarvan sal nog lank en wyd uitkring.

Laasteakte

Vasie, leierouderling, oorhandig aan Johan die Akte van Demissie

Wat ons beleef en geleer het:

Streekstaal: Nadese kan ons ook sê dat ons in Vanwyksvlei so gelukkig was soos ‘n driepeer hings. Ons ken ook nou ‘n hele paar belangrike mense wat hoog neergesit is. Ons het ook heelparty ontmoet wat definitief ‘n ander pampoen se pit is, of anders gestel; ‘n ander dam se eend. Ons het mense van alle posture leer ken, o.a. ouens wat só krom is soos ‘n moflam wat pas teen insekte gedokter is. Of so gewigtig is, hulle kan ‘n kar stofdig sit. Dan is daar hulle met so ‘n sterk eiewil, hulle kook nie sag nie. Ander wat so leeg kan lê dat hulle godsonbruikbaar is. Hier en daar is daar siele sonder broers of susters wat bekend staan as ‘n korhaankuiken. En waar ‘n samekoms goed bygewoon word, is heitjie en meidjie teenwoordig. Lekker ryk en bruikbaar die taal van die Vanwyksvleiers. Ja, ek moet erken, ek weet ook nou dat diegene wat hulle vertellings deurspek met f- en d-woorde, nie noodwendig swets nie – hulle raak net driftig meegevoer.

Familie hiërargie: Sekere families in Vanwyksvlei neem nog steeds die prominente posisies in die samelewing in, nes hulle pa’s, oupa’s en grootjies van desjare. Hulle het die sê in die samelewing. Wee jou as jy hulle durf teëgaan op ‘n vergadering, want in Vanwyksvlei slaat hulle die ghitaar. Jy praat ook nie sommer van hulle by enigeen nie, want op ‘n manier is almal êrens verwant of stam uit dieselfde oermoeder of -vader.

Familie vetes: Nêrens anders het ons dít teëgekom soos hier nie; families wat nie met mekaar versoen nie. Meestal oor ‘n testament waardeur hulle nie só bevoordeel is soos hulle verwag het nie. Dat mense botweg weier om te versoen, soveel so, dat hulle nie eens met mekaar kontak maak oor die dood van ‘n geliefde nie, is vir my kop te moeilik om te begryp.

Aanpasbaarheid: Ons het ‘n mens leer ken in Vanwyksvlei wat weet hoe om klaar te kom met wat beskikbaar is. Niemand kan daardie slegte grondpad van 80km tussen Vanwyksvlei en Carnarvon, of die een van 126km na Prieska sommer net aanpak vir ‘n paar vars tamaties of room of pienk garing nie. Koop jy ‘n tamatie vir R15 by die ZamZoere? Nee, jy vind ‘n alternatief. Dis waarom Vanwyksvleiers nie sommer ‘n rit aanpak sonder om vriende betyds daarvan te sê nie. Vanwyksvleiers doen moeite vir mekaar. Vanwyksvleiers is aangewese op mekaar.

Lojaliteit: Dit is die lojaliteit van baie Vanwyksvleiers wat gemaak het dat die Bull Run gerealiseer het in Vanwyksvlei, dat daar elke Sondag steeds ‘n erediens kon plaasvind, dat die slaghuis en die algemene handelaar nog kan voortbestaan en dat ‘n kerkbasaar tog nog gehou kon word. En daardie lojaliteit gaan oor die saak, nie oor die mens nie. Kosbaar!

Weldoeners: Ons het beleef hoe weldoeners in hierdie drie jaar van droogte op eie onkoste boere uithelp wat nie staatshulp ontvang het nie. Dit is hartroerend om te kon sien hoe mense mekaar bystaan met hulp as vee begin vrek of ‘n siekte uitbreek onder die skaap. Of om kinders en studente se klasgelde betyds betaal te kry as die kontantvloei finaal opgedroog het.

Base: Dan is daar diegene wat hulle hele lewe lank nog bitter min ander blootstelling as net Vanwyksvlei gehad het. “Op my plaas wat ek geërf het, waar ek gebore en getoë is, is ek nog altyd baas”. So ‘n persoon het geen ervaring van hoe om in ‘n groep kollegiaal om te gaan nie. Daarom sal hy sê en nie voorgesê word nie. Anders werk hy eenvoudig nie saam nie!

Koninkryksbegrip: Met ‘n gemeente wat vanjaar reeds 102 jaar bestaan, is daar steeds lidmate wat dink die kerk is ‘n sosiale klub waar hul lidmaadskap per WhatsApp gekanselleer kan word as dinge nie meer in hulle smaak val nie. Dit gaan vir hulle oor wat die Here vir hulle kan doen en nie andersom nie. Die ‘ek’ staan so groot in die voorgrond, dit grens aan narcisme. Dan is daar die toegewydes wat steeds die hartkolp van die gemeente vorm. Vir wie dit opreg gaan oor God se saak en nie hullle eie agenda nie. Ware burgers van die Koninkryk van God.

Skindertonge: Hoe kleur mens jou lewe in as jy net jou eie klein wêreldjie het? As jou dag volgens TV-programmme verloop en sepies en die weeklikse tydskrif jou waardes bepaal? Jy bespreek ander se sake en lewe. Jy borduur daarop voort. Natuurlik. Daarom leer mens gou op so ‘n klein plekkie vir wie jy iets kan vertel en vir wie nie. As toets, raak jy ‘n klomp strooi kwyt voor sekeres en kyk na ‘n ruk met hoeveel wol daarom dit weer by jou uitkom.

Vroegoggend stappe: Met Rina van Wyk, my diep stapmaat, het ek kilometers en kilometers  vroeg soggens afgestap. En natuurlik diep dinge bepraat. As dit nie hiervoor was nie … Ek het ‘n paar voetslaan skoene ópgestap. Hoekom het ek nie rekord gehou van die afstande wat ons saam gestap het nie?

laastestap

Oggendstappie op die Springbokoogpad

Waarin ons kon slaag en nié in kon slaag nie:

Skouterrein: Johan het met sy bouervaring viervoet ingeklim in die voorbereiding van die skouterrein vir die Bull Run. Hy het die loodgieterswerk behartig by die nuutaangeboude ablusieblok. Dit sluit in die installering van toilette, wasbakke en storte met al die pype vir watertoevoer en -afvoer daarvan.

Instandhouding: Vir die volle tydperk van ons verblyf het Johan die instandhouding van die pastorie en die bakkie van die kerk op hom geneem. Hy het die badkamer se geroeste waterpype vervang met nuwes, die stort se geroeste pype uitgekap, vervang en weer toegemessel. Die teëlwerk het hy nie self gedoen nie, maar laat doen. Gloeilampe en buisligte het hy vervang waar nodig. Messelwerk het hy self gedoen. Ruite het hy vervang na die twee inbrake wat ons gehad het. Ou deurknippe wat sukkel gediens. Muskietgaas weer vasgesit. Skarniere ge-olie. Vir die braaiplek ‘n toesluit staalhek gesweis, sodat ons hout en braaigereedskap nie kon wegraak nie. As daar werk aan die voertuig gedoen moes word, het hy dit self gedoen – gereeld gediens, onderdele bestel, wiele self reggemaak. Ons laat die pastorie en die bakkie in goeie, werkende toestand agter.

Waters ry:  Johan het by ‘n hele paar geleenthede boere uitgehelp wat vir ‘n tyd moes weggaan en op hulle plase hulle waters vir hulle gery; vir Francois, vir Mike, vir Vasie en vir Paul.

Besigheidsritte: Vir tannie Herlina het Johan gereeld Carnarvon toe bestuur met haar motor vir banksake, doktersbesoeke en haarafsprake. Hy was altyd bereid om te help met ritte. Soos vir Chrisjan De Bruyn, toe sy been in Upington geamputeer moes word.

Versoening:  Ons kon nie daarin slaag om versoening te bring nie, tussen mense wat jarelange vetes met mekaar of met die kerk gehad het.

Ringsake: Onder Johan se voorsitterskap is ‘n sensitiewe ringsondersoek in die gemeente van Carnarvon suksesvol afgehandel.

‘n Toeganklike pastorie: Ons pastoriedeur was immer oop. Mense kon enige tyd instap. Koffie, tee of ‘n koue bier was onbeperk beskikbaar. Alle inwoners van Vanwyksvlei is dieselfde behandel – die agterdeur was bedoel om vuilgoed uit te vee, nie mense in te laat nie. By ons kombuistafel is baie gedeel. Dáár het Lena Kampies van die AME vir my en Johan kom bid soos geen gemeentelid dit gedoen het nie. Talle gemeentelede het vertel dat dit die eerste keer is sedert hulle katkisasiedae dat hulle voet in die pastorie gesit het. Mag die gemeente se pastorie nog lank funksioneer en altyd oop wees vir almal.

Foto’s: In baie huise in Vanwyksvlei pryk foto’s wat ek geneem het. Gr R diplomaplegtighede. Gr 9 afskeid. Doopgeleenthede. Erfenisdag. Debutante. Begrafnisse. ‘n Troue. Die laaste twee jaar pryk van my foto’s van die kerkgebou op die kerkalmanak.

laastekerk

My laaste foto van NG Vanwyksvlei se kerkgebou

 

Van die foto’s wat ek van Vanwyksvlei se mense op sosiale media geplaas het, is geskilder of ontwikkel met my toestemming. So is ‘n skildery van Rachel wat deur Helena Schoeman Jordaan, ‘n befaamde skilder van Stellenbosch, gemaak is, gekeur om in Kirstenbosch Gardens te pryk.

 

En Attie van Wyk en sy ghitaar is ook in pastel verewig deur die skilder Chrissie Roodt. Tertia Pretorius het ‘n lieflike portretstudie van Betjie Adams gemaak.

Nooit het ek iemand laat betaal vir die neem van foto’s nie, net vir dít waarvan hulle uitdrukke wou laat maak – ek het hulle slegs die bedrag laat betaal wat dit my gekos het om te laat maak as ek Stolpers in Upington besoek het. So skuld ‘n klomp mense my steeds ‘n klomp geld, maar dis nou tot daarnatoe. Mense kan wel sê dis dwaas, maar ek reken ek kon ‘n diens lewer wat andersins buite meeste inwoners se bereik was.

Kursusse: Heelparty opleidingsgeleenthede is aangebied in die dorp, waaronder ‘n paar uitreike, ‘n vrouekonferensie asook ‘n skilderkursus.

Laasteskilderklas

Dan was ek grootliks betrokke by opleiding in verwerking van herwinde plastiek.

Laaste4Dit het die deure vir dorpsmense oopgemaak om deel te word van ‘n projek wat SKA geloods het mbv CDI, wat bekend staan as MeerKAT Creative Community Initiative. Mense soos Stefanus Tieties en Sharon Baadjies het grootliks daarby gebaat en het dit hulle lewens in ‘n nuwe rigting gestuur.

 

Ekostene: Dit was my droom om genoeg ekostene gemaak te kry deur die dorpsmense om daarvan iets te bou. Ek kon egter nie daardie projek voltooi nie. Al die stene wat ek bymekaar gemaak het (in ruil vir iets te ete) het ek oorhandig aan Stefanus. Hy onderneem om dit ‘n skoolprojek te maak en tog eendag iets daarvan te laat kom.

Naaldwerk: Dié het ek dikwels gedoen.  Vir elke kerkbasaar. Vir George Adams, lekeprediker van die Gemeente van die Herbouers, het ek ‘n toga gemaak. Vir enkele ander inwoners het ek ook ‘n paar stukkies klere gemaak.

laastegeorgeadams

Gebak: Op bestelling het ek graag gebak. Kolwyntjies, verjaarsdagkoeke en ‘n feeskoek vir ‘n belydenisaflegging. Ek het dit nooit vir ‘n ekstra inkomste gedoen nie, maar net gevra wat dit my aan bestanddele gekos het. Weereens, waar anders moet Vanwyksvleiers heen vir so ‘n diens?

Verjaarsdae: Vir elke vrouelidmaat het ek met elk verjaarsdag die afgelope drie jaar ‘n persoonlike verjaarsdag geskenkie gemaak.

Bybelstudie: Vir die volle tydperk van ons bediening was die vrouebybelstudie my taak. Slegs 2 keer het ek van gepubliseerde Bybelstudiemateriaal gebruik gemaak. Verder het ek die studies self uitgewerk, getik en gedruk. By die VGK en die AME was ek ook by geleentheid betrokke met Bybelstudies of boodskappe. Die kerkraad het nie ‘my salaris betaal’ nie, daarom was ek vry om daar betrokke te raak soos wat die Here dit oor my pad gebring het.

Bo-Karoo: Vir die blog wat ek begin het oor die lewe in Vanwyksvlei het ek 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense geskryf. Oor die 3 jaar het meer as 80 000 mense die blog besoek. Dit is 80 000 keer wat iemand kennis geneem het van gebeure in Vanwyksvlei. Soos Willie Schutte van Centurion in reaksie daarop gesê het:

“Baie van ons wat nie eers geweet het dáár bestaan so ’n plekkie soos Vanwyksvlei nie, het Leonette en Johan vir ons “oningeligtes” hierdie plekkie op die landkaart geplaas met baie bedrywighede van lief-en-leed.

Hiermee wil ons hulle baie dankie sê vir baie interessante verhale en vertellings oor Vanwyksvlei en omgewing, voorwaar iets om te onthou en daaroor te praat en te vertel.”

Één storie waaroor ek nooit kon blog nie was oor die swendelaar A van wie B en C slagoffers was. Uiteindelik, na 3 jaar en vele soortgelyke episodes, is hy gevang en is tans verhoorafwagtend. Dit sou grens aan inkriminasie as ek meer detail sou gee. Daarom aanvaar ek dat daardie blog my nie beskore was om te skryf nie.

Dit het ‘n paar uitvloeisels opgelewer. Oor die waternood waaroor ek geskryf het, het ‘n organisasie ‘n groot klomp 5ℓ waterbottels geskenk. Sekere stories se impak word nou nog gevoel. Soos dié oor die droogte. Daar het juis weer gister en vandag 3 trokke met oumansgras, smutsvinger en ander voer in Vanwyksvlei aangekom. Mel van Omnia het onlangs een van die blogs onder oë gehad het en hierdie vragte gereël.

Sosiale media: Ek het baie nuwe fb-vriende gemaak, veral na aanleiding van die blog wat op die Karoo-groep gedeel is. Van hulle het ek later persoonlik ontmoet, soos Van Der Spuy Brink van Durbanville en ook Lida Eksteen van Upington. Lida het, n.a.v die plastiekprojek, 30 buddy bags aan my geskenk. Ek moes net die afwerking daarvan doen – meestal handvatsels aanwerk. Vanwyksvlei het hom nie geleen tot ‘n buddy bag-projek nie. Maar ek kon wel al die sakke vul met tydskrifte, Bybels, blikkieskos, seep, waslappe, klere en skoene wat ek nie weer sou gebruik nie, ens. Dié het ek die dag van ons vertrek aan die heiningpaaltjies om die kerk gehang. Vir wie ook al dit wou vat.

laastebags

Deur die blogs het ek mense leer ken wat voorheen in Vanwyksvlei gewoon het, of wat familie is van mense waaroor ek geskryf het.

Noordwester: Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het daar weer berigte in die Noordwester verskyn oor Vanwyksvlei en sy mense. Dit nadat ek eendag die redakteur persoonlik ontmoet het by Die Rooi Granaat in Loxton en hy my gevra het om berigte deur te e-pos vir publikasie.

Kleiprojek: Vanaf die heel begin van ons tyd in Vanwyksvlei wou ek graag ‘n kleiprojek met die inwoners begin het. Dit het nooit gerealiseer nie. Die klei is daar – die hele dam vol. Dit is ontleed deur die NWU. ‘n Pottebakker van Wellington het dit getoets en bevind dat dit lieflik uitvuur. ‘n Wiel en ‘n oond is geskenk vir die projek en staan by die pastorie. Die oond is reeds omgeskakel na enkelfase en met Johan Bruwer se hulp gereed vir gebruik. Mag daar tog êrens iemand kom wat die projek kan vat en kan deurvoer.

Laaste3

Fauna en Flora: Ons het baie van die inheemse plante en diere leer ken waaronder die kapokvoëltjie.

laastekapok

Die kundige nessie van die kapokvoëltjie met sy valse ingang

Tog sou ek graag al die wonderlike Karooplantegroei wou leer onderskei. Helaas …

Hierdie is my laaste blog oor Vanwyksvlei. Ek en Johan gaan swaar weg van baie wonderlike mense af. Ons voel dat ons bereik het waarvoor die Here ons geroep het. Die kerkraad is gesuiwer en die huidige span is ‘n toegewyde, nugter en bekwame span. Die getal lidmate het drasties afgeneem maar niemand het hulle lidmaatskap opgegee nie – wat beteken dat dit oor ons gegaan het. Johan het in opdrag van God die kerk-kerk speletjie probeer verander na ‘n dieper begrip van wat die Koninkryk regtig vereis van sy burgers en ‘n dieper wandel met God, “nie met hoë woorde of groot geleerdheid” nie. (1 Kor 2:1). “God het ons gekeur… en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.” (1 Tess 2:4 en 5). Ons twee is aan niemand anders ‘n verduideliking verskuldig oor ons bediening in Vanwyksvlei as aan Hom nie.

Met ons vertrek, kan sommige lidmate dalk weer die moed hê om betrokke te raak, wie weet. Vir Hom is niks onmoontlik nie.

Hoe dit ookal sy, Vanwyksfontein, ons gaan julle mis.

Katakombe in die Karoo

Op die plaas Jobsekolk, tussen Vanwyksvlei en Brandvlei, staan ‘n katakombe – ‘n mensgemaakte kamer wat dien as ‘n begraafplek (volgens Wikepedia). Hier lê Johannes Jacobus Lourens Zandberg en sy vrou Elizabeth Catharina Müller begrawe.

Jobsekolk10

Jobsekolk is op sy dae ‘n spogplaas. Daarvan getuig die imposante boustyl, die geuwels, die oorblyfsels van ‘n victoriaanse tuin. Vandag is Jobsekolk ook maar net ‘n bouval, soos soveel ander plase in die Karoo.  In Hennie Aucamp se woorde: ‘n Huis raak afgetakel, nes ‘n ou mens; dit word ook ‘n verwyt aan hulle wat dit eenmaal bewoon het. Of soos dr. Petronella van Heerden dit stel: ‘n Huis verkwalik sy mense as dit nie bewooon word nie. ‘n Huis het asems nodig om hom regop te hou. Hoekom waai winde so ekstra droewig om en deur murasies, en buig hulle die sipresse in kerkhowe? Omdat hulle die asems soek, glo ek al hoe meer, van dié wat eenmaal hier op aarde was. (Dankie hiervoor, Pieter Hoffman)

Jobsekolk13

Dawid le Roux huur tans die grond op Jobsekolk vir ekstra weiding want die plaas grens aan sy grond, Flamingosfontein. Hy het ‘n sleutel vir die grafkamer en laat ons binne. Geitjies floreer hierbinne.

Die twee imposante grafte vul die kamer. Orals teen die mure pryk familieportrette en geslagsregisters van weleer. ‘n Mens moet eers bietjie skoonvee voordat jy regtig kan uitmaak wat agter die glas, stof en geitjiemis versteek is. Dit word ‘n ontdekkingstog!

Hier duik die naam van Rosa Hermina Schalkwijk weer op.

Jobsekolk8 Vroeër het ek vertel van haar graf wat op die buurplaas, Klipkolk,  buite die begraafplaas staan. https://wordpress.com/post/karooblog.wordpress.com/2417

Rosa blyk die ma te wees van die dogter wat later die vrou van DF Malan geword het. Hier is sy aangedui as tweede kind van Johannes Lodewikus Schalkwijk en Johanna Christina Jacoba De Klerk, die grootouers van húlle wat hier begrawe lê.

Rosa Hermina Schalkwijk trou met Johannes Zandberg by wie sy drie kindersverwek, nl Johanna asook Mattie (DF Malan se latere vrou) en Johannes Louwrens Zandberg. Na sy asterwe tree sy weer in die huwelik met Jacobus Johannes De Wet. By hom verwek sy nog drie kinders.  Vroeër vanjaar maak ek toe onverwags kennis met Rosa Grant en Koos de Wet (80), albei kleinkinders van hierdie einste Rosa. Hulle het op die internet afgekom op my vorige blog oor hulle familie. Enewil, met Rosa Hermina se dood op die ouderdom van 43, is onse Johannes Louwrens Zandberg 19 jaar oud. Dit is hiérdie Zandberg-seun wat die trotse eienaar word van Jobsekolk.

Johannes Louwrens Zandberg trou met Elizabeth Catharina Müller. Dit is húlle wat Jobsekolk opbou tot ‘n trotse en welvarende boerdery. Vyf kinders word uit hierdie huwelik gebore waarvan slegs een nog lewe, nl Elizabeth Catharina Zandberg, oftewel Betsie, gebore in 1947.

Jobsekolk7

Jobsekolk9

In die grafkelder is ‘n besoekersboek. Agter in die boek sien mens hoe Jan Zandberg boekhou van elke pennie en pond se motoruitgawes en ook ander boerdery-uitgawes. Op elke oujaarsaand maak hy ‘n inskrywing van sy skaapgetalle. Dis opmerklik hoe sy boerdery in sowat 40 jaar vervierdubbel. En hoe die 1933-depressie sy skaapgetalle knou met ‘n volle 1000 skape.

Waarom ‘n grafkelder? Wie weet? Dalk wou hulle alles net perfek doen? Maar daar is baie stories in omloop.

Op versoek van Bets, die oudste oorlewende dogter, verwyder ek alles wat hierna oor haar ma voorheen geskryf was, omdat dit nie die waarheid blyk te wees nie. Hiermee bied ek ook my verskoning aan vir enige iets wat ek voorheen geskryf het, wat as stories rondgeloop het in Vanwyksvlei, en haar nie aanstaan nie. Volgens Bets was haar ma na die begrafnis nie meer op die plaas nie, maar by haar en onder haar persoonlike versorging.

Gert boer ‘n bars

Gert van Wyk boer al van 1970 op De Hoop – langer as wat hy en Rossie getroud is. Hy, ‘n voortreflike boer, en sy, ‘n voortreflike boervrou. Trots Suid-Afrikaans. Diep gelowig.

 

GertRos4

Rossie kook nog op ‘n Agastoof. Haar houtvloere word nog gereeld gepolitoer en opgevryf. Haar novilonvloere blink. Haar koperware word gebraso. Haar tuin is ‘n stukkie groen oase in ‘n dorre Karoolandskap.

Kyk maar na al Gert se lyndrade. Kyk maar na elke kamp. Kyk maar na die toestand van al sy paaie. Kyk maar hoe goed werk elke plaashek. Kyk na die asbosafdakke wat hy in elke kamp gebou het vir skadu vir sy skaap. Kyk na sy waters en sy windpompe en sy krippe. Kyk na sy prosopisvrye plaas en jy sal saamstem; Gert boer ‘n bars!

GertRos2

Asbosskerms gemaak vir die skaap vir koelte bedags

‘n Boer wat só die vinger op die pols van sy hele boerdery het, wat sy skaapgetalle in elke kamp só goed ken, wat sy plaaswerkers met sóveel menslikheid behandel, is nie die slagoffer van veediefstal of skaapslagtings nie.

Neels en Sedline bly al 17jaar op De Hoop; 60km uit Vanwyksvlei op die Kenhardtpad. Dít alleen spreek boekdele in hierdie deel van die wêreld. Al hulle kinders is hier gebore en het hier grootgeraak. Het van hier af skoolgegaan in Vanwyksvlei en later ook in Carnarvon. Neels is in besit van ‘n bestuursslisensie en het ‘n motor op sy naam. Hulle bly in ‘n groot huis met krag en lopende water.

GertRos5

Neels en Sedline met een van hulle seuns

Gert is altyd nog ‘n man van innovering en inisiatief. Hy kan raakvat en regmaak. Hy kan vasbyt en het visie. Hy is uiters handvaardig en uitnemend hardwerkend.

De Hoop lê aangrensend met Constantia – FA Venter se eertydse Karooplaas. Gert se grond grens dus aan Alkantpan – die militêre toetsterrein in die Bo-Karoo waar wild wild kan aanteel.

GertRos1Daarom is al sy grensdrade geëlektrifiseer en jakkalsproef – dit deur sy eie uitvinding en met sonkrag. Die boonste drade is nie geanker aan die droppers nie, maar gespan aan ‘n kort, losstaande stukkie dropper.  Na elke alternatiewe dropper is hierdie stukkie ingespan sodat dit los is om te kan kantel; voor die boonste spandraad en agter die derde  spandraad verby, geanker aan die tweede spandraad. Probeer ‘n jakkals daarteen opspring, kantel die draad na die buitekant en hou die jakkals uit. Rooikat kan egter suiwer bo-oor spring, maar Gert kom gou agter as daar êrens op sy 7200ha ‘n rooikat woel. Dan maak hy werk daarvan.

GertRos3

Briljant en innoverend is hierdie breinkind van Gert

As ek ooit die Lotto wen, koop ek De Hoop. Gert het al die 70-kerf bereik en kan doen met ‘n rustiger leefstyl. Maar De Hoop se nuwe eienaar sal eers ‘n fel toets moet slaag, anders het ek nie vir hom hoop nie – hy sal bars.

Rossie1