Ta’ Alie

 

Ta’ Alie Basson word 91. Al twee jaar bedlêend. Die oudste lidmaat in die gemeente van Vanwyksvlei. Die oudste van vier geslagte in die huishouding van die De Bruins van De Bruinsrus – die jongste word volgende week nege.

Ta’ Alie praat nog duidelik. Sien nog redelik. Hoor nog goed. Onthou nog baie dinge.

So vertel sy vir my hoe sy ‘n plaas naby Ariamsvlei afbetaal met wasgoed wat sy weekliks vir die koshuis doen  – 75 seuns en 75 meisies van die hoërskoolkoshuis se wasgoed. Toe sy die kontrak kry, gaan koop sy ‘n wasmasjien – een van daai skommelsoort met die rollers (ek het Ouma Sophie s’n van Rietkolk gekry en dit was waarmee ek in daardie eerste jare my kinders se doeke was),  ‘n hele paar sinkbaddens, emmers en ‘n watertenk. Als op skuld. Desjare maak hulle toe nog gebruik van kanaalwater wat moes staan sodat dit kon afsak voor gebruik. Water word in ‘n seeppot warm gemaak.

Haar man span drade die hele erf vol om al daardie wasgoed droog te kry. En dan moet dit nog gestryk word ook. Met potyster strykysters wat op die koolstoof warm gemaak moet word.

Elke Vrydag word ‘n bakkievrag wasgoed afgelaai. Die volgende Vrydag stuur sy dit netjies skoon en gestryk, mooi in stapeltjies gepak – elke kind s’n afsonderlik – terug per bakkievrag .

Snags, as haar twee kindertjies slaap, doen sy naaldwerk op ‘n Singer trapmasjien vir mense in die dorp.

Ek dink aan my mense wat nie bang is vir werk nie. Wat ‘n plaas kan afbetaal met handearbeid. Wat weekliks kan slag en vleis werk, kaiïngs uitbraai, wors maak, afval skraap, seep kook. Wat ‘n spens vol kênfruit kan maak sodat niks bruikbaars verlore gaan nie. Wat daagliks knie en stook om vars brood op tafel te kan sit. Wat rieme brei. Wat bome snoei. Wat leiwater afspit. Wat smôrs voor die môrester opkom, klaar gemelk het. Wat saans teen laaste lig nog die beeste kraal toe jaag. Wat donkie stook vir badwater. Wat die aand afsluit rondom die tafel met huisgodsdiens en die aandgesang. En ek is bly oor my eie wortels.

Ek kyk na haar hande terwyl sy vertel. Ek kyk na die kilometerlesing op daardie twee hande. Ek kyk en kyk en verkyk my. En ek hoor weer Ma Chrissie se aanhaling van Hennie Aucamp se vers; Eindelik:

Die oumens word langsaam deurskynend

want hy staan teen die ewige lig;

en ligter en ligter die oumens

soos die skaduwees om hom verdig.

20160525_184055

Advertisements

Warm onder die kraag

Nie dat daar eintlik krae te siene is nie, behalwe dié van ons geagte posmeester, Koos Waterboer, wat gekraag en gedas die openingsgebed waarneem. Die res, nie eens die amptenare van SKA wat die vergadering aanbied, toon veel krae nie. Warm byvoorbaat, ten spyte van die Meimaandkoeligheid, daag meeste inwoners by die vergadering op. Gereed om te baklei. In die regte gemoedstemming danksy daai happie vooraf. En nou praat ek nie van die sop wat gratis uitgedeel word by aankoms en registrasie nie.

Final SKA LOGO 2010 Paths:White Text

Karoo Sentraal Sterrekunde Aangewese Areas

Die vergadering word belê deur KSSAA (Karoo Sentraal Sterrekunde Aangewese Areas) en is wyd bekend gemaak deur die media. Carnarvon, Brandvlei, Vanwyksvlei en Williston word besoek deur amptenate van SKA om mense in te lig, hulle griewe aan te hoor en antwoorde op hulle vrae te gee. Bekwame amptenare gee toeligtings met power point aanbiedings. ‘n Jong vrou tolk die toeligting vanuit Engels na Afrikaans, die vrae vanuit Afrikaans na Engels en die antwoorde weer terug vanuit Engels na Afrikaans. Sy beïndruk. Sy moet oor ‘n grondige kennis nie net in tale beskik nie, maar in ook wetenskap, tegnologie en die menslike siel. Want die knap manier waarop sy onseker vrae interpreteer en vertolk, sonder om die vraagsteller se selfbeeld aan te tas en die spoed waarteen sy dit doen en dat sy als wat gesê is chronologies onthou, verbaas mens.
Die saal sit tjok en blok. Jonges maak plek vir oueres. Reg rondom die saal is elke denkbare spasietjie ook opgeneem deur mense wat te laat is vir ‘n sitplek. Daar’s nie ‘n venster oop nie. Kindertjies sit die hele vloerspasie vol. Selfs die tweetjies wat so effe vanmiddig nog by my ‘n broodjie kom vra het, merk ek ook op – waar daar iets uitgedeel word, kom die mense en al hulle huismense en dié se mense. Almal. Want ‘n gratis wegneemaandete lê nog voor na die vergadering.

SKA-MID1-layout-640x371[1]
Die rede waarom hierdie gebied in die Noord-Kaap aangewys word vir die oprigting van die reuse SKA-teleskoop en ‘n paar duisend skottels, is omdat dit, volgens 8 jaar se navorsing, die gebied is wat die ylste bevolk is met die minste nywerheidsbedrywighede wat inbreek kan maak op die radiofrekwensies wat die skottels moet opvang. Die droë klimaat en hoogte bo seespieël van hierdie deel van die Karoo maak dit ideaal. Verder is die topografie van hierdie gebied sodanig dat dit ‘n ideale buffersone bied binne ‘n kom, gevorm deur die Kareeberge (Krieberge in die volksmond).

akaroo-02[1]
En dis juis dáár waar die stok die speke tref. Want 36 plase gaan uiteindelik oorgeneem word om hierdie byna 118 000 ha aarde beskikbaar te stel vir, buiten die MeerKAT-teleskoop wat reeds opgerig is, die derduisende ander skottels wat daarvandaan gaan uitkring . 26 Plaasboere en hulle werkers word geaffekteer. Aangrensend tot hierdie aangewese area lê 32 ander plase wat nou blootgelê gaan word aan teistering van ongediertes wat nie beheer kan word binne hierdie gebied nie. 3 Spirale van 30m breed swaai vanuit die aangewese gebied uitwaarts waarin nog 7 ekstra skottels in elke spiraal (altesaam 21) geïnstalleer gaan word en waarop serwitute verklaar gaan word, affekteer ‘n verdere 71 plase.

1024px-SKA_overview[1]
Die SKA-teleskoop is ‘n radioteleskope wat ‘n gebied van sowat een vierkante kilometer opvangsgebied gaan beslaan. Dit word bedryf oor ‘n wye reeks radio frekwensies om seine van die buitenste ruim in te samel ten einde  o.a. vrae oor die oorsprong van die heelal te prober beantwoord. Vanweë sy grootte, sal dit 50 keer meer sensitief en 10 000 keer vinniger as die grootste teleskoop tans ter wêreld. Radiogolwe sal opgevang kan word wat miljarde ligjare vanaf die aarde uitgestraal is. Data meer as 100 keer die wêreld se internetverkeer sal verwerk kan word. Optiese kabels wat maklik twee keer reg rondom die aarde sal strek, moet hier gelê word. Die sentrale rekenaar sal dieselfde hoeveelheid data per dag hanteer as wat 100 000 000 persoonlike rekenaars tesame per dag kan verwerk. Een dag se data sal 2 miljoen dae vat as dit teruggespeel sou word op ‘n ipod. Sou daar byvoorbeeld lugverkeer bestaan op ‘n planeet wat 10 ligjare ver van die aarde af is, sal die teleskoop dit kan opvang, so sensitief is dit.

13585685625_cd5086b8c2_m[1]
Derhalwe sal die 11 000 inwoners van hierdie omgewing toegerus moet word met nuwe tegnologie wat hulle in staat sal moet stel om steeds telekommunikasie te kan bedryf en internet data te kan gebruik, sonder dat die elektromagnetiese seine die projek sal beïnvloed. Ons word almal alreeds gratis voorsien van antennas en bokse om steeds ons TV’s te kan gebruik sodra die TV-uitsendings teen einde Junie oorskakel van analoog na digitaal. Paaie en infrastruktuur sal geskep moet word wat sekerlik werksgeleenthede inhou.
Dis duidelik dat die hele SKA-projek ‘n reuse inspuiting is vir hierdie afgeleë gebied en sekerlik dié grootste weteskaplike en tegnologiese projek is van die 21ste eeu. Vir elke R14 wat Suid-Afrika insit in die projek word R86 deur die ander 10 lidlande wat hierby betrokke is, gegee. Skole, onderwysers en individue is alreeds bevoordeel deur die installering van rekenaars, deur opleiding en die toekenning van beurse. Maar nie almal is so ingenome daarmee nie. Daar’s mense wat negatiewe invloede soos bestraling vrees. Te oordeel aan die aanvallende wyse waarop sommiges hulle vrae rig aan die amptenare, is hier vanaand ontstuimige gemoedere wat aangespreek moet word. Party vraagstellers bly klou aan die mikrofoon sodra hulle ‘n geleentheid kry om te praat. Hulle wil net so min afstand doen van daardie magiese apparaat wat hulle ego laat eskaleer, as wat hulle afstand wou doen van die bottel voor die vergadering. Hoe later hoe kwater.
Ontevrede boere is so boos oor die impak wat die hele projek het op hierdie gebied se unieke landbougrond dat hulle ‘n forum, die KBF (Kareeberg boereforum) en ‘n webblad gestig het. Hulle staan saam om te baklei teen die afneem van hulle familieplase wat al geslagte lank in hulle besit is. Voorheen is slegs twee plase, Losberg en Meysdam deur die staat oorgekoop vir die eerste fase van die projek. Van die res van die 36 plase is slegs 2 reeds oorgeneem teen byna R100 p/ha minder as waarvoor die eerste plase aangekoop is. Meer as die helfte van die boere weier amptenare toegang tot hulle grond om evaluasies te doen ten einde ‘n prys vir die plaas en ‘n bedrag vir die verskuiwing vanaf die plaas te bepaal. As die boere nie hulle samewerking gee nie, staar hulle onteiening van hulle plase in die gesig. Dit het boere vroeër jare reeds hier beleef toe die gebied bekend as Alkantrand as ‘n militêre toetsterrein geoormerk is.

015[1]
Die probleem is nie ‘n maklike een nie. Waar huisves mens weer 26 boere met al hulle plaaswerkers en dié se gesinne? Waar vind mens nuwe plase met weiding vir nagenoeg     21 000 ooie? Daar is net nie nog sulke grond hier beskikbaar nie. Meeste van die boere is nog te jonk om te dink aan aftree. Om elders in die land ‘n nuwe plaas te loop soek wat hulle sal kan bekostig met dit wat die staat hulle aanbied vir hulle grond, is hoogs onwaarskynlik.

Dit beteken ook dat die gemeenskap daardie hoeveelheid mense gaan verloor voor die einde van 2017.

En die kwynende gemeente daardie getal lidmate.

En dan?

(N.S. Graag gee ek met dank erkenning aan Lorenzo Raynard van SKA wat aan my vergunning gebied het om foto’s vanaf hulle webblad te gebruik)

 

Alle Heil, Vriende.

Om totsiens te sê aan twee toegewyde lidmate in ‘n steeds kwynende gemeente, is glad nie lekker nie.

L1140004

 

Francois en Mara Augustyn verlaat die gemeente vir Henneman, waar hulle dogter woon. Hulle verkoop hulle plaas aan ‘n boer wie se grond deur SKA opgekoop is.

Na Francois se ma se dood in 2000, kom woon hulle op die plaas. Francois,  wat op Môreson opgroei en skoolgaan op Vanwyksvlei, is goed bekend met die plaaslewe al was hy al die jare in die bankwese.

Mara dien as skriba in die gemeente vir 14 jaar. In hierdie tyd het hulle 11 leraars sien kom en gaan. Sommige slegs vir ‘n interim tydperk. Frans speel ‘n leidende rol in die kerkraad en in ringssake.

Ons is dit direk aan Francois en Mara te danke dat ons hierheen beroep is. Verlede jaar, tydens ‘n vakansie, gaan soek hulle Ds. Nico Du Toit op –  ‘n predikant van desjare in Somerset-Oos se dae waar hulle saam-saam ‘n begin gemaak het. In hulle gesprek oor Vanwyksvlei en hoe moeilik dit is om in hierdie afgeleë wêreld, met ‘n klein gemeente, ‘n predikant te kan behou, word ons name genoem as ‘n moontlikheid.  Want Johan en Nico Du Toit was kollegas in Kommandement Oos-Kaap sowat ‘n kwart eeu gelede. Later vul Nico die posisie van Kommandementskapelaan van die Noord-Kaap. En na afloop van ons posistiewe ervaring van die Kalahari en die Boesmanland tydens ons sabbatsjaar, gesels ons lekker met die Du Toits oor die lieflike Noord-Kaap wat ons so na aan die hart lê.

Danksy Francois en Mara, word Johan se naam later genoem as ‘n moontlike volgende kontrakleraar. En die res, soos hulle sê, is geskiedenis…

Tydens vanoggend se pinksterfees, aanbid ons vir oulaas saam met Francois en Mara.

 

‘n Oorkonde word aan Mara oorhandig uit dank vir haar aandeel in die werk van die gemeente.

20160515_074817

Hulle vertrek vanaf Vanwyksvlei laat ‘n groot leemte.

FRANKESKOP

‘n Baken in hierdie geweste is beslis Frankeskop. Ook verbeeld op die destydse skoolwapen.

 

Frankeskop staan gedeeltelik op die plaas Môreson en die plaas Frankeskop. Bo-op die kop is ‘n goewermentsbaken. Die kop is 1122m bo seespieël. Breedtegraad: -30°27’33.76″
Lengtegraad: 21°49’27.55″ . Nie so hoog nie maar so styl.

Omdat Francois en Mara Augustyn, aan wie Môreson behoort het, besig is om op te pak om Henneman toe te verhuis, het ons ‘n ooreenkoms met hulle vasgemaak om nog vir oulaas die kans te gebruik om Frankeskop te gaan klim.

Daardie geleentheid doen hom toe voor Sondag na kerk. Willie Goussard, Francois se neef en sy gesin van Jeffreysbaai kuier vir oulaas op Môreson. Frankeskop gaan vandag geklim word. Ons is deel van die span.

Frans ry met ons tot waar die pad ophou. Hiervandaan moet ons klim. Hy en die krukkelys maak solank gereed vir ‘n braai aan die voet van die kop vir wanneer ons terugkeer van die bopunt af.

Aan die voet van Frankeskop kan mens orals versteende boomstompe raakloop. Wonder watter tiepe bome dit was? Wat het hulle laat versteen? Hoeveel eeue gelede se bewyse van lewe lê hier rond? Alhoewel, my geoloog seun meen dis  nie boomstompe nie, dis dolomietformasies – al is dit nie bekend dat daar dolomiet in die Karoo aangetref word nie.

Dis ‘n stywe klim, veral die laaste gedeelte tot bo. Daar het die aarde sy oppervlak verander na los leiklipagtige gruis, wat mens baie in hierdie geweste aantref. Net soos by Van Ryhnspas en by Taaiboschoek naby Loeriesfontein. Maar daarbo moet mens vasstrap. Soms voel dit vir jou jy gly verder terug as wat jy vorder. So, mens vat hom maar al teen die skuinste op in plaas van direk na bo.

Maar o! Om daarbo te kan staan en reg rondom jou te kan uitkyk na die verste ver horisonne. Wat ‘n belewenis. Na die westekant toe lê Vanwyksvleidam uitgestrek en die dorpie na sy noordekant saamgekluister teen die voet van Krismiskop.

20160501_131513

Lyndrade lê soos liniaalstrepe oor die gebied. Plaasopstalle wydgestrooi en herkenbaar van daarbo af – Kwaggakolk, Platdam, Smouskolk, Kromvlei, Tienpond, Gannabos.

Lae en lae grys leiklip gesteentes lê losgebreek en verstrooi op die bopunt. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy met hulle skryf…

20160505_153357 (2)

Daar is geen Geocaching op Frankeskop nie. Daar was egter vroeër ‘n bliktrommeltjie met ‘n register vir besoekers by die goewermentsbaken geplaas. Maar daarvan is daar geen teken meer nie.

Die afklim is nie makliker as die opgaan nie. Mens moet jou stewels stewig plant of sommer jou bodem gebruik om nie balans te verloor nie. Die trekpleister is daai stewige steaks wat Francois op die kole het. Dun repies gesny word dit die voorgereg.

Die oudste persoon wat glo Frankeskop uitgeklim het, is Tannie Gertie Goussard – einste Willie se ma. Sy is 72 toe sy Frankeskop uitklim. Nogal met ‘n paar sandale …

Op Soek na sy Wortels

 

Kobus en Nanette Victor reis deur Vanwyksvlei op pad Merweville toe. Hulle gaan die jaarlikse dankfees by Merweville se imposante NG-kerkgebou bywoon waar Kobus se oupa en ouma aan sy pa se kant boorlinge was. Sy oorgrootjie, Cornelius Petrus Snyman is derjare die voorsitter van die koopkommissie wat die grond vir die nuutgestigde gemeente, waar hierdie kerkgebou tans pryk, moet aankoop. Die oorgrootjie se kleindogter, Catharina Dorethea, word Kobus se ouma aan sy pa se kant toe sy in die huwelik tree met Jacobus Adriaan Victor.

20160502_131313

Merweville se imposante kerkgebou

 

Maar Kobus soek sy ma se wortels in Vanwyksvlei waar sy grootraak – dit is die storie waaragter hy hier in Vanwyksvlei is.

Sy ma is ‘n nooi Esterhuizen. Die eerste kind van Charl Esterhuizen (uitgespreek ‘Sarel’) en Johanna Catharina ( nee Le Roux, bekend as Nonna). By sy ma se geboorte, sterf haar ma. Dit is 2 Maart 1921. Kobus se ma, ook Johanna Catharina Esterhuizen, word aangeneem deur haar grootouers Le Roux wat haar hier op die lande grootmaak. In die doopregister kan ek nie haar naam opspoor nie. Moontlik word sy in Willeston ten doop gebring waar haar eie pa woon.

Al is hulle haar grootouers, praat sy al die jare van hulle as haar ouers. Kobus word groot met die gedagte dat sy grootjies van Vanwyksvlei eintlik sy ouma en oupa is.

Kobus se ma – Johanna, soos sy bekend staan – gaan skool op Vanwyksvlei tot standerd 8 en matrikuleer in Carnavon. Die storie loop dat haar oorlede ma se broer, Koos le Roux, en se swaer Japie Esterhuizen haar al die jare op skool hou het omdat die oupa en ouma dit nie breed het nie.

Sy word aangeneem op 3 September 1938 en voorgestel op 28 Oktober 1938 deur Ds. B.H. Visser hier op Vanwyksvlei .

L1130271

Tannie Johanne se naam in die lidmaatregister – aangeneem en voorgestel

Na matriek gaan werk sy in Merweville by die poskantoor. Daar sien Kobus se pa, Joachim Jan Hendrik Victor, haar raak en die twee trou op 5 April 1944 hier in Vanwyksvlei in ons einste kerkgebou.  Die enigste getuie aan Kobus se pa se kant by die plegtigheid  is sy neef Abraham Victor wat al die pad vanaf Merweville met ‘n stoomaangedrewe motorkar hierheen reis.

Die nuwe egpaar Victor gaan woon en werk in Carnarvon, waar Kobus gebore word in 1945.

Die enigste persoon wat nog die familiegeskiedenis ken hier op die dorp is Marie Esterhuizen van Platdam. Sy is ‘n skoondogter van ‘n suster van sy ma se ma wat getoud is met ‘n broer van sy ma se pa, ene Japie Esterhuizen van Platdam – twee susters wat met twee broers getroud is.

Marie is al vir 27 jaar weduwee en bedryf nog steeds die plaas Platdam op die ouderdom van 79 met die hulp van Gert, die plaasvoorman. Sy en Kobus lê die geskiedenis uit.

20160428_162249_1

Kobus en Marie – haar skoonma was Kobus se ouma se suster

 

Kobus se ma se eie pa, Charl Esterhuizen, is weer getroud en daar word vier kinders gebore uit daardie huwelik. Met hulle behou Kobus se ma nie dieselfde kontak as met Kobus se pa se familie nie. Gevolglik kos dit hom om na al die jare die geskiedenis hier op Vanwyksvlei te kom navors omdat dit nooit in haar jare oorgedra is nie. Sy is sowat 2 jaar gelede oorlede en is begrawe in Pretoria

Ons verbintenis met Kobus en Nanette strek al 34 jaar vanaf Maart 1982 waar ons mekaar leer ken op Katima Mulilo toe Kobus aangestel word as bevelvoerende offisier van 701 Bateljon in die Caprivi.

En hier, in die verlate Bo-Karoo, loop ons mekaar weer raak…

L1130202

Jan se goedvoelstorie

Dis Woensdag. Dis middaguur. Jan La Grange eet sy middagete. Die telefoon lui.

“Jan, hallo” antwoord hy soos sy gewoonte is.

“Luister, Jan, watse voer soek jy? Pille, mielies of lusern?” sê ‘n stem onbekend aan Jan.

Jan verstaan nie die oproep nie. “Is hierdie een of ander prang call, of wat?”

“Nee, ek staan hier by BKB in Carnarvon en ek wil vir jou voer koop. Wat verkies jy?”

“Wie praat?” wil Jan nog steeds ongelowig weet.

“Man, dis Kobus Steyn wat praat en ek wil vir jou voer koop. Sê net vir my wat verkies jy; pille, mielies of lusern.

“Dan liewer mielies, as ek mag kies” antwoord Jan huiwerig.

“Kan jy reël om dit te kom afhaal hier by BKB in Carnarvon?”

“Ja, sekerlik. Ek sal reël.”

Die lyn sny af en Jan kan steeds nie glo wat pas gebeur het nie. Die ooie lam nie meer nie. Daar’s nie meer lammers om te bemark nie. Daar’s gevolglik geen kontant meer beskikbaar om voer te koop om die ooie aan die lewe te hou nie. Dis ‘n doodloop straat. En nou hierdie oproep.

Jan loop terug etenstafel toe om vir die ander te vertel van die oproep. Dis steeds te goed om te glo. Jan vat weer sy foon om die nommer terug te skakel. Net toe lui die foon weer. Dis dieselfde stem. “Jan, hier’s 47 sak mielies wat vir jou wag. Dis klaar betaal. Jy kan kom laai as jy gereed is.”

“Luister Kobus, wie is jy? Waarvandaan is jy? Hoekom doen jy dit vir my?”

“Ek is tans in Carnarvon. Kom van Melkbosstrand. Ek en my vrou het ‘n program oor Carte Blanche gekyk en besluit ons wil ook iemand help. My firma, Blue Crane Construction, het pas ‘n stuk werk hier afgehandel by SKA. Ek wil my besluit deurvoer voordat ek terugkeer Melkbosstrand toe. Jy kan net reël met BKB om dit te kom oplaai. Die voer word vir jou gehou. Groete, ou maat, en sterkte vir julle.”

Jan kan dit steeds nie glo nie.

Later bel hy BKB in Carnarvon om net seker te maak dis werklik waar. “Hallo, dis Jan La Grange van Vanwyksvl…”

“Yes, Jan” val die stem hom in die rede, “jou 47 sak mielies wag vir jou. Wanneer kan jy kom laai?”

Daardie Sondagmiddag ry Jan en Tilla oor na Oom JB-hulle, DeBruynsrus se buurplaas, met ‘n deel van die skenking . Almal kry dan ewe swaar…

IMG-20160502-WA0002