101 jaar oud.

Dit is net gepas dat ek my 100ste blog oor Vanwyksvlei plaas op Mandela se 100ste herdenkingsdag. In die jaar waarin AVBOB en SANTAM hulle 100ste bestaansjaar vier en Antie Annie Swart van Vanwyksvlei 100 jaar oud sal word, berig ek graag oor ons gemeente se eeufeesviering.

Ta Annie

Sondag val ons klompie ambisieuse gemeentelede in ysige wind weg om gesamentlik 101km te stap ter viering van ons gemeente se 101 jaar van bestaan. Die wind van 2˚C is so sterk dat Dawid le Roux sy drone nie gelanseer kry nie om ‘n lugfoto van ons klompie te kan neem.

101

Hoe het die eeufees dan verlede jaar so ongesiens by ons verbygeglip? Dis ‘n storie van ‘n ander kleur. Op 8 April 2012 vier die gemeente luisteryk die 100jarige bestaan met allerhande gedenkwaardighede, besoekende eertydse predikante, die lot; maar dit is van die kergebou – nié van die gemeente nie. ‘n Hoeksteen word weer gelê, ‘n eeu na die eerste hoeksteen gelê is – 8 Junie 1912.

Verlede jaar vra Samantha Fourie, boorling van Vanwyksvlei, op NG Vanwyksvlei se fb-blad, of ons enige iets spesiaals gaan doen om die gemeente se 100ste bestaansjaar te vier. Ek antwoord so ewe dat die gemeente reeds 5 jaar vantevore sy eeufeesviering gevier het.

Dit pla my egter. Waar kom sy aan haar feite? Gaan kyk in die feesbundel van 1980 wat gepubliseer is om die dorp se 100ste bestaansjaar te vier. Daar word nêrens melding gemaak van die afstigtingsdatum van NG Vanwyksvlei vanaf NG Carnarvon nie. Net van die datum waarop die hoeksteen van die kerkgebou gelê is; weliswaar 8 Junie 1912. Nee, sy maak seker ‘n fout …

So blaai ek onlangs toevallig deur die heel eerste notuleboek van NG Vanwyksvlei se kerkraadsvergaderings. Op die skutbladsy staan: Notule Boek van de Ned. Geref Gemeente van Wyksvlei gesticht 15 Jan 1917.

WAT!!!

gestig

Iets rym nie. Vas onder die indruk dat die feesvierings van April 2012 die gemeente se eeufeesvierings was, begin ek delf. Kom ek later in die notuleboek af op die notule van ‘n kerkraadsvergadering van 4 Maart 1967 waarin besluit is dat die halfeeufees op 20 Augustus 1967 gehou sal word. Dan het die gemeente jou waarlik eers in die vyfde jaar nadat die kerkgebou se hoeksteen gelê is, afgestig van NG Carnarvon. Al wat ek kan aflei uit die inskrywings in die 1980 feesbundel is dat NG Vanwylksvlei toe nog steeds maar net ‘n wyk van NG Carnarvon moes gewees het.

halfeeu

Die groot afstand na Carnarvon en die nood aan ‘n vergaderplek vir ‘n erediens vir die mense van Vanwyksvlei, het aanleiding gegee daartoe dat die besluit geneem is waarvan geskryf word in die feesbundel van 1980. Carnarvon se kerkraad het besluit om ‘n kerkgebou in Vanwyksvlei op te rig vir eredienste in Vanwyksvlei. Besoekende predikante was soms genoop om vanaf ‘n bokwa by die dam, waar die meeste Vanwyksvleiers destyds gewoon het, eredienste te hou. Later is daar in ‘n soutstoor wat ook as tydelike woning van die magistraat gedien het, eredienste vir die gemeentelede in Vanwyksvlei gehou. Daar was geen sitplekke nie en die lidmate moes hulle eie stoele saambring.

Hoe lyk dit dan of ons een van die min gemeentes is wat éérs ‘n kerk gehad het, en tóé ‘n selfstandige gemeente geword het. Meer as 100 jaar gelede. En die datum van die gemeente se 100ste bestaansjaar het jou waarlik ongesiens by ons verbygegaan ondanks Samantha se navraag.

Ons het nie meer die lidmatetal of die hulpmiddels om nóú ‘n eeufeesviering te organiseer nie. Die handjievol gemeentelede is totaal uitgeput na die basaarvoorbereidings en twee begrafnisse in twee weke. Niemand het die krag om nou iets reusagtigs aan te pak nie. Die BullRun lê voor waarvoor ons vir seker nóú reeds moet begin voorberei. Hoe gaan ons reg laat geskied aan hierdie geskiedkundige tydvak?

Die gedagte aan ‘n kollektiewe stap van 101km op die Springbokoogpad word gebore. As siekte en onverwagte gebeure ons mense uitdun en verhoed om deel te neem, stap dié wat kan, net eenvoudig verder. (Van Zijl se afstand kan ook bygereken word want deesdae is hy ‘n gereelde bywoner van eredienste)

101stap

101name

Daarna eet ons verjaarsdagkoek wat gesny word deur Elné Hoon, die jongste stappertjie vandag.

Koeksny

Ons hou ‘n feesdiens in die saal en kuier lekker verder saam om die braaivleisvuur. Staaltjies van die voorsate gee smaak aan die kuier.

101koek

feesdiens

Worsbroodjies is tog nie te minderwaardig as feesmaal wanneer hande en middele min geraak het nie. Ons Meester se leefstyl van eenvoud is nog altyd ‘n goeie voorbeeld om na te volg. Dan nie?

(Indien jy wonder, net 97 blogs vertoon nog omdat ek reeds 3 verwyder het weens hul sensitiewe aard)

 

Advertisements

Begrafnis op Breekkierie

In stofstrepe kom plaasbakkies uit alle rigtings aangery na Breekkierie. Vanuit Vanwyksvlei, Kenhardt, Loxton, Carnarvon, Merydale kom vriende en familie groet. PL Moolman word vandag te ruste gelê.

20180711_191307R

PL Moolman

Skaars 40jaar oud, nog ongetroud, sterf PL aan ‘n hartaanval 5 dae nadat ons Oom Chrisjan De Bruyn te ruste lê op DeBruynsrus. Ons gemeenskap is geruk. PL is wyd en syd welbekend – dis sy wêreld hierdie waar hy gebore is en groot geraak het. Waar hy skoolgaan en vriende maak. Vanwaar hy die boerdery op Vaalputs behartig vandat hy sy opleiding voltooi.

Die plaas is al baie jare in die Moolmanfamilie se besit. ‘n Welbekende baken in ons wêreld op die pad wat afdraai Verneukpan toe vanaf die pad tussen Vanwyksvlei en Kenhardt. Op hierdie einste plaas is Oom Johannes Willemse byna 100jaar gelede gebore as die oudste van 12 kinders. Op presies hierdie selfde aarde, waar Oom Johannes leer loop en leer werk en sy liefde vir die karoobossies en hulle genesende waarde aangeleer het, ontluik PJ tot ‘n boer met ‘n diep liefde vir die Karoo en sy weelde.

20170916_143500resz

Oom Johannes Willemse en Antoinette Pienaar tydens ‘n byeenkoms in Loxton verlede jaar

FA Venter skryf ook in sy boek, Kambrokind, van sy eie kinderdae op Breekkierie. Sy pa se plaas, Constantia, was die buurplaas. Later van tyd, na die erge droogte wat sy ouers Kalahari toe laat trek het met die skaap, verkry Oom Frans Venter se pa deelsaairegte op Breekkierie.

Op einste Breekkierie word PL vandag te ruste gelê. Sy aarde.

Die skuur is ingerig vir die meer as 150 gaste waar Ds Fransie Human van Wellington, eertydse leeraar van Vanwyksvlei, die diens lei. Hy verwys juis na PL as hierdie wêreld se Kambrokind – altyd vrolik en dankbaar, altyd ‘n deurdrukker ten spyte van harde tye.

 

‘n Koue Noord-Westewind huil saam oor die verlies. Ruk aan die dakplate van die skuur. Stoot die koue wolkies in wat algaande saampak tot teen die einders.

Veldblomme en boesmangras, sy wêreld se liefdes, staan in die teken van sy lewe oral as versiering. Word ook op sy kis geplaas as laaste eerbewys voordat hy teruggee word aan die aarde. Nog een van sy liefdes, duiwe, word in hulle hordes vrygelaat oor sy graf – hulle wat weet waar huis is as simbool van PL se vertrek na sy Vaderhuis.

132520rez

Die groet is swaar. Ou PL, ou Boerie, ou Spyker;  altyd vrolik, so ‘n lekker danser, een wat oor die diep dinge van die lewe maklik ernstig kon raak, se stem is vir altyd stil. Se plek is vir altyd leeg.

Plaasbegrafnis

20171221_193609

Ons begrawe vir Chrisjan de Bruyn op sy plaas waar hy al van sy  tienerjare geleef en laat leef het. Hier naby, op die buurplaas, Nuwedam, is hy gebore. Hier raak hy groot onder ‘n harde pa. Hier word hy net so gehard soos die aarde . Hier vat hy vir Martie as vrou, 55 jaar gelede en hier word hulle drie dogters gebore. Tilla is skaars 4jaar oud toe Chrisjan vir Martie die nuwe huis bou waarin daar steeds gebly word.

Oral is dit bekend dat hy oor ‘n baie spesiale gawe met diere beskik. Sy skoolopleiding kon hy nie klaarmaak nie, omdat hy as tiener na De Bruynsrus moes begin omsien. Al sy kundigheid en sy aanvoeling met siek diere kry hy van sy ma, Ouma Nellie. Sy was die een wat nooit moed opgegee het met ‘n siek lammer of ‘n sterwende dier nie. Wyd en suid is Chrisjan altyd uitgeroep om te kom help met ‘n siek dier. Veesiektes ken hy. Daar was nooit ‘n twyfelagtige diagnose nie. Selde verloor hy ‘n dier.

P1380141

Chrisjan en sy buurman JB van Kalkdam

 

Chrisjan se heengaan kom skielik – midde in die geharwar om ‘n basaar te laat werk met net ‘n handjie vol oorblywende lidmate wat bereid is om saam te werk aan die voortbestaan van die kerk. Beide Tilla en Jan dra groot verantwoordelikhede – nl die koektafel en die vleistafel.

Hulle is uit hulle diepte geruk. Alles word gestaak om eers begrafnis te reël, slaapplek vir hordes familie en vriende wat van ver kom.

Maar in die tipiese Christusgesindheid word hulle hande losgemaak. Karin Hoon en haar skoonma Erina, bied aan om die koektafel oor te neem. André Oberholzer stel sy slaghuis en sy werkers beskikbaar om die skaap te verwerk, sosaties te maak, die bees te maal, bene op te saag en wors te maak. Alles werk toe tog ten goede mee op die ou einde.

Gemeentemense los waarmee hulle besig is en maak reg vir die begrafnis. Sop word gekook, toebroodjies gemaak, platters word voorberei, tafels en stoele en eetgerei word aangery plaas toe vanaf die kerksaal. ‘n Graf word voorberei op die plaas.

Plaasbakkies staan in gelid soos ‘n gedugte brigade. Boere haal hoed af, groet mekaar met die hand. Praat oor die laaste reënbui wat laas maand so kol-kol geval het. Oor die ongediertes wat woel onder die lammers. Oor die ooie wat tweelinge gooi. Oor die verlies aan skaap onder die vlaag onwettige slagtings op al die roetes om die dorp.

Hytjie en meidjie is hier saamgetrek. Boere van die buurplase. Dorpsmense. Familie en vriende vanuit die dorp en vanuit ver plekke in die land. ‘n Groot skare bruin mense uit die dorp en plaasvolk kom ook hulle laaste eer betoon. ‘n Haan kraai aanhoudend.

 

Ons neem posisie in onder die peperbome langs die plaashuis. Die honde raak rustig by die familie se voete.  In die kampie met hanslammers reg langs ons, lê lammers en hoenders sommer deurmekaar en luister na die dominee se rede. Hulle handhaaf ‘n eerbiedige stilte vir Chrisjan.

 

 

‘n Ent verder lê die paar beeste ook rustig en wag. Die teenwoordigheid van so baie plaasbakkies en begrafnisgangers het hulle geensins uit hulle diepte nie.

Chris doen namens die familie bedankings. Tilla getuig van die vrede waarmee haar pa oorgestap het.

Asof die pou die ‘Amen’ op die toesprake verstaan, spring hy van een van die bakkies af. Sy skelle geskreeu klief luidkeels die stil begrafnisatmosfeer. Almal kom in beweging. Ook die beeste wat eenkant gelê en herkou het, kom op hulle voete. Vat koers voor die lykswa uit graf se kant toe. Almal val kop onderstebo agter die lykswa in die 100m na die graf toe. Chrisjan se oorskot word in sy eie plaasgrond weggelê soos hy dit wou gehad het. Die plaas was in hom. Nou is hy in sy plaas.

Begrafnisgangers vanuit die bruin gemeenskap, val spotaan weg en sing uit die hart uit ‘n afskeidslied.

L1450865

Langs die huis agter die draadheining, op die stukkie grasperk, staan die tafels uitgepak met eetgoed vir die skare mense. Soos wat begrafnisgangers terugkeer van die graf nadat afskeid geneem is, word geurige sop geskep. Dit woel soos wat skinkborde uitgedra en vuil skottelgoed weer teruggedra word kombuis toe. Die span by die opwasbak werk onverpoos aan die massa vuil koppies en bordjies.

L1450876

Die spul hanslammers kom ook op hulle voete. Reguit by die kampie uit, pyl hulle af op die stukkie kunsmatige gras waarop die preekstoel staan gemaak is. Keer na ‘n paar happe teleurgesteld weer terug kampie toe. Net ‘n illusie …

L1450873

Chrisjan se nasate leef voort op sy geliefde grond. Tilla en Jan het uiteindelik die ou plaashuis oorgedoen vir hulle gesin. Chrisjan se omgee vir sy diere leef voort in Tilla, wat al vir meer as 4 jaar by hom oorgeneem het nadat suikersiekte hom ‘n invalide gemaak het. Daar word vertel dat hy midde in die droogte met die skape kom praat het: ” Ja, my kindertjies, dit gaan met ons swaar. Maar een van die dae sal die Here weer vir ons reën stuur. Dan sal Pa vir julle weer beter kan sorg.”

Twee dae later hou ons suksesvol basaar. Daar is onverwags baie voete, danksy al die ekstra mense wat opgedaag het vir Chrisjan se begrafnis. Vir oulaas doen Chrisjan die gemeente ‘n groot guns en red die basaar van mislukking; snoer baie mense weer saam op ‘n gemoedelike manier. Voor die middaguur is die tafels leeg gekoop.

Als is weer reg op Vanwyksvlei en op De Bruynsrus, Chrisjan. Baie dankie. Rus nou in vrede.

 

Om Stories op te diep

As dit nie vir Bertus Reën was nie, het ek steeds gewonder oor Rosa de Wet.

L1140142

Rosa de Wet lê begrawe op Jan-Hendrik en Karin Hoon se plaas Klipkolk op die Brandvleipad, sowat 66 km uit Vanwyksvlei. Die eerste keer wat ek op hulle paas kom, merk ek hierdie graf met sy pragtige steen op wat buite die ringmuur van die familiebegraafplaas staan. My nuuskierige navraag beantwoord Erina, Jan-Hendrik se ma: “Dis die graf van Dr D F Malan se skoonma.”

L1140137

 

Hier’s ‘n storie, dink ek. Maar my soektogte op die internet lewer niks op nie. D F Malan was twee keer getroud – eers met ‘n Martha van Tonder en toe met ‘n Maria Louw. Nie een van dié se nooiensvanne stem ooreen met Rosa Hermina (Schalkwijk) de Wet nie. Verder is hy eers in 1923 getroud toe Rosa de Wet al lankal dood was – dus kon sy nie sy skoonma gewees het nie

Ek nader vir Kosie van Schalkwyk of hy dalk iets weet. Later ontmoet ek sy neef in Potchefstroom, Peet van Schalkwyk, wie se oupa desjare in die distrik van Vanwyksvlei geboer het. Hy verwys my na ‘n oom van hulle in Carnarvon. Maar steeds lewer my navraag geen lig op nie.

Dalk is dit maar net ‘n wolhaarstorie.

So verloop meer as ‘n jaar. En Bertus Reën wat oorkant die straat bly, klop aan om hulp te vra by Johan. Sy kar kan nie in rat kom nie en moontlik weet Johan wat fout is, want hy het dikwels al gesien Johan werk aan die voertuie en moet iets van karre se enjins af weet.

Ek nooi vir Bertus in om solank binne te kom wag want Johan is gou saam met Jan La Grange koöperasie toe. Hulle behoort nie lank te wees nie.

Uit ons geselsery kom ek agter Bertus het voor sy koms na Vanwyksvlei by die Nasionale Argief in Heidelberg gewerk. Ek vertel hom van my soektog na Rosa de Wet se geskiedenis wat niks opgelewer het nie.

L1140140

Daar en dan spring Bertus in om met sy meerdere vaardigheid vir my elektronies te help soek. Voor die son die horison in die weste raak, lê ‘n foto van Rosa se sterftekennis vanuit die Argief op my rekenaar.

IMG-20170710-WA0005 - Copy

Al wat ek daaruit wys word, is dat Rosa de Wet ten tye van haar oorlye met haar tweede man getroud was – sy was eers getroud met ‘n Johannes Louwrens Zandberg. En dat sy op Klipkolk (ook bekend as Loog of Lodewykskolk), Jan-Hendrik-hulle se huidige plaas oorlede is en daarom daar begrawe is.

Later soek ek weer na ‘n skakel tussen Rosa de Wet en Dr. D F Malan. Ek ontdek ‘n verhandeling oor die vroue in sy lewe: Behind Every Man: D F Malan and the women in his life. Geskryf deur Lindie Korf.

Dit lees soos ‘n storie. Hoe hy na sy studie as predikant deur sy pa se tweede vrou, Esther, bygestaan is in die pastorie en ook in die tyd daarna toe hy sy politieke loopbaan begin het in die Kaap. Op 50 tree hy vir die eerste keer in die huwelik met Mattie van Tonder wat 23 jaar sy junior is. Sy sterf na vier jaar van getroude lewe terwyl sy swanger is met hulle derde kind en laat twee klein seuntjies agter. Veel later is hy met sy tweede vrou getroud, Maria Ann Sophia Louw, wat hom oorleef het.

Bertus diep vir my D F Malan se eerste vrou se sterftekennis op uit die argiewe: Martha Margaretha Elizabeth Malan, gebore Zandberg. Zandberg? ZANDBERG!

IMG-20170712-WA0003 - Copy

BINGO!! Mattie, oftewel Martha was inderdaad Rosa se dogter by haar eerste man, Johannes Lourens Zandberg. Die einste Martha wat as die derde kind, as mondige, aangedui word op Rosa de Wet se sterftekennis.

IMG-20170710-WA0005 - Copy (2)

Sy was, volgens Lindie Korf, besig met haar studie as verpleegkundige toe haar ma, Rosa de Wet oorlede is. Sy onderbreek haar studie om na haar kleiner boeties en sussie te gaan omsien. Later raak sy betrokke by ‘n Vrystaatse boer. ‘n Paar maande voor hulle in die huwelik sou tree, is hy in ‘n ernsige ongeluk as invalide gelaat. Sy hou by haar belofte en trou tog met hom. Twee jaar later sterf hy en laat haar goed na. Sy besluit om haar studie in verpleegkunde voort te sit in die Stellenbosch. Dit is dáár wat sy D F Malan ontmoet en later met hom in die huwelik tree (haar tweede huwelik en dus nié as ‘n nooi de Wet nie) op die ouderdom van 29 jaar.

Rosa de Wet het toe waarlikwaar D F Malan se skoonma geword. Al was dit na haar dood. Erina was toe reg.

Erina het ook te vertel dat haar man, Everhardus, se pa die plaas Klipkolk by de Wet gekoop het. Sy seun Jan Rosie (seker n.a.v. sy ma se naam), het daar naby op Jobsekolk geboer. Dikwels as hy daar verby gekom het, het hy sy ma se grafsteen met ‘n sakdoek kom afvee.

As ek níé vir Bertus ingenooi het nie, sou ek nooit geweet het van Rosa de Wet nie. En jý ook nie.

L1200620

Bertus aan’t snuffel in die argiewe

In Hierdie Lewe Sedert 1914

P1410203

Vandag verjaar Ouma Wat-toe. Oftewel, Tannie Anna Tieties volgens haar ID.  Sy is 103 jaar oud. Vanwyksvlei se oudste inwoner.

As jong dogtertjie verkoop haar ouers haar aan ‘n Visser boervrou van Rietbos vir koffie, suiker, meel , olie en seep. Daar raak sy groot as oppassertjie van bokke. Saans moet sy die kombuis opruim.

Haar sustertjie word op dieselfde manier groot by Awiegoed-hulle op ‘n naburige plaas. Sy onthou een geleentheid wat hulle by mekaar kon kuier toe die plaasmense oor en weer gaan kuier het.

Op Rietbos groei Wat-toe op totdat sy man vat. Jan Tieties kom in haar lewe en maak haar die ma van 3 dogter en 3 seuns. Hulle kinders word groot in die distrik van Carnarvon en Vosburg waar Jan op verskeie plase as veewagter werk. Slegs Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta, die dogter wat haar tans versorg, en Handjievol, ‘n ander dogter, leef nog.

L1190955

Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta

Handjievol is egter ‘n invalide nadat albei bene en haar regterarm geamputeer is. Die ander broers en suster is almal lankal dood.

Uncletjie en Koelie het ‘n kamertjie in hulle huis waar Ouma Wat-toe woon. Hulle versorg haar al vir baie jare met groot toewyding.

P1410215

Ouma Wat-toe kan nog hoor en sien en beweeg. Dalk kon sy vreeslik dans en sing in haar jare, want sy deel ‘n verjaarsdag met Fred Astair en Bono. Dalk leef sy so lank vanweë haar geloof, want sy deel ‘n verjaarsdag met Karl Barth. Pred 10:27 sê mos: “Wie die Here dien, lewe lank …”  En vir solank as wat Ouma Wat-toe leef, bestaan moedersdag al – ingestel op 9 Mei 1914 deur Woodrow Wilson, die Verenigde State se 28ste president. As julle hierdie naweek êrens ‘n moedersdagviering inwerk, lig ook ‘n glasie op  Ou-moeder Wat-toe.

Soms raak haar gedagtes tussen vraag en antwoord op ‘n adraaipad. Maar sy kan steeds ‘n gesprek voer.

P1420609

Sy kan nog die sagtheid van ‘n paar slaapsokkies waardeer, sien ek toe sy dit teen haar wang aandruk. Dierbaar. (Dankie Helena, dat jy dit gesponsor het).

P1420618

Terwyl ek by haar sit en kuier, steek sy haar verrimpelde handjie uit na Koelie. Koelie Jafta beheer haar pruimtwak. Hy sal self besluit wanneer dit tyd is. En wanneer dit genoeg is.

P1410206

Rina se skool kom sing vir haar en sy blaas die 3 kersies op haar 100-koek dood.

Ouma Wat-toe klap hande vir haar eie prestasie.

Om Eensklaps Alles te Verloor

By ons tuisgemeente in Centurion, Lyttelton-Oos, word Ds Freddie Schoeman te ruste gelê. Op 57 het ‘n kragtige hartaanval sy lewe gekos. Hy laat sy vrou, drie kinders, twee skoonkinders, ‘n kleinseun en ‘n kleindogter in wording agter.

Donderdagoggend groet Freddie en Alma mekaar. Om mekaar nooit weer te sien nie. Hy vertrek na Klub Immergroen se koeksisterbakkery in die kerksaal en daarna Kemptonpark toe vir ‘n vergadering. Sy vertrek skooltoe waar sy skoolhou. Sonder waarskuwing  is Freddie  vir altyd weg. Alles van hom, sy massiewe boekery, sy data op die rekenaar, sy skrywes, kursusse en preke, sy klere, skoene en besittings is daar.  Alles is steeds daar.  Maar hý is vir altyd weg.

As predikantsvrou weet ek dat mens se identiteit maklik  kan lê in jou man se amp en verbintenis met ‘n gemeente. As dit wegval, en jy  is werkloos en inwonend in ‘n gemeentepastorie, kan jou hele wese eensklaps in duie strot. Gelukkig het Freddie en Alma na meer as 30 jaar in die pastorie in Lyttelton, ‘n paar maande gelede hulle eie huis gekoop en uit die pastorie getrek. En Alma het ‘n vaste werk en ‘n vaste inkomste.

Die lewe móét aangaan vir Alma.

Sonder Freddie.

ᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗ

Op Sondagaand, 9 April, gaan daar ‘n kragtige elektriese vloedgolf van Evkom deur Vanwyksvlei. TV’s blaas. Gloeilampe ontplof. Rekenaars vrek onherstelbaar. Vrieskaste kalf. Dit word ook waargeneem sover as Carnarvon, Loxton, Williston.

In die vroeë oggendure merk ‘n poliesepatrollie ‘n gloed en rook in Kosie en Frances  van Schalkwyk se huis. Die kraggolf het ‘n kortsluiting veroorsaak wat heelnag nog lê en smeul. Kosie en Frances is nie tuis nie. Hulle was heel naweek tuis maar vertrek laat Sondagmiddag plaas toe vir die week se werksaamhede daar. Gewoonlik bly Frances agter op die dorp vir die week, maar om een of ander rede gaan sy saam met Kosie plaas toe waar net die nodigste aangehou word.  Net om nooit weer iets van  haar grootwordhuis en van al hulle besittings oor te hou nie.

Die polisie kan nie die traliedeure oopkry nie, want deesdae bly ons mos in forte. Teen die tyd dat Kosie opgespoor word en die pad Vanwyksvlei toe afjaag met die sleutels van die traliedeure, is omtrent alle plankvloere  en meubels al aan’t gloeie. Toe die traliedeure uiteindelik oop is en mens kan inkom om die brand te probeer blus, vat daardie gloed suurstof en ontplof in ‘n onblusbare vuur. Vensters ontplof uit hulle rame en weergalm soos kanonskote deur die vroeë oggendlug. Alles, alles brand tot as.

Alles.

Al Frances se kosbare erfmeubels, o.a. ‘n geelhouttafel met 10 stoele. Elke kosbare eetservies van geslagte tevore bars in skerwe. Elke skoen, kledingstuk, ornament, boek. Al Frances se  kosbare juwele.

Alles.

Elke kosbare herinnering van hulle seun Jaco se springbok rugbydae. Elke aandenking en toekenning wat hy al ooit gekry het tydens sy klubrugbydae in die buiteland.

Alles.

Vir Kosie en Frances moet die lewe ook aangaan.

Kosie en Frances kan eis teen die versekering.

Hulle het nog die plaas.

En hulle het nog mekaar …

Feesnaweek in Vanwyksvlei

 

In Vanwyksvlei is die Oberholzers groot. Ook die afgelope naweek is groot vir die Oberholzers. Familie en afstammelinge van so ver as Langebaan en Valhalla snoer saam om hulle erfenis te vier.

P1420867

Al vir byna 150 jaar woon Oberholzerfamilies in hierdie gebied. Die eerste oorspronklike Oberholzer familie van Ou Pa en Martha Oberholzer met hulle 10 kinders, vestig hulle hier ter plaatse. Die foto van hierdie gesin, kom uit die eeufees gedenkboek van Vanwyksvlei.

Tilla la Grange se Ouma, Nellie, is die dogtertjie voor in die foto met die blommetjies in haar hand. Uit Tilla se ou Familiebybel, kom hierdie lys name en datums.

IMG-20170415-WA0000

Op ‘n manier is die inwoners van Vanwyksvlei óf ‘n afstammeling,  óf ‘n aangetroude tot die Oberholzers. Óf jy is ‘n inkommer – soos ons.

Oom Doupie is die oudste Oberholzer in die dorp. Hy erf nie, soos die ander, grond nie. Maar vandag besit hy baie plase waarvoor hy self gesorg het. Tannie Baba Smit, 11maande jonger as hy, se eerste man, ‘n Oberholzer, is lankal oorlede. Haar tweede man, ook reeds oorlede, was ‘n neef van haar eerste man. Dus is sy diep ‘n Oberholzer.

Met die eerste familiefees van die Oberholzers, 25jaar gelede, trek 96 afstammelinge saam. Meeste van hulle is reeds oorlede. Hierdie naweek se 43 familielede wat saamtrek, hou steeds die Oberholzernaam hoog.

Met ons gemeente se nagmaalviering tydens opstandingsondag, aanbid 83 mense saam danksy die uitgebreide Oberholzerfamilie.  Die kerk was lanklaas só vol.

Daarna verkeer ons, soos na elke nagmaal, gesellig in die kerksaal saam.

 

Tilla, haar ma Martie en Sannatjie sorg vir skaapboud, hoender, kwepers, groenboontjies, soetpatas, aartappeltjies met knoffelbotter, rys en sous,  slaai en malvapoeding met vla.

So ietsie, tong in die kies, oor die belangrikste mense van die naweek:

Die Oberholzers

Miskien het jy dalk al gehore

van die Borsels met die Ore.

In die omtes word geglo

net húlle tem die Bo-Karoo.

Plase staan al vir geslagte.

Om te boer is dus te wagte.

 

Almal stam van een gesin

wat desjare hier begin.

Pa en ma, met kinders tien

was toe as algemeen gesien.

Stoere Martha en Ou Pa

het goeie waardes oorgedra

 

 

Alucius en ook Herculina.

Ignatius en Catharina.

Familiename sal bly staan

tot Oberholzer eens vergaan.

Al is jou van ook Avenant

is jy tog êrens ook verwant.

 

Klein begin hul op die Lande.

Kry tog weldra grond ter hande.

Swoeg en sweet om uit te brei

en meer grond word so verkry.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

 

Weduwees word bygestaan

sodat die plaas kan voortbestaan.

Seuns neem oor – dis die behoud

want vaders word glo nie so oud.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

Met stemme wat jy ver kan hoor

neem hierdie mense maklik voor.

Almal is groot van postuur.

Dis gene wat al jare duur.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

In hierdie dorp staan hulle uit

as mense wat oor als besluit.

Tradisievas, die  familie stoer

wat almal in Vanwyksvlei boer.

Indien jy dalkies hieroor wonder …

niemand word hier uitgesonder.

Ware Oos

Dis hoe die son vanoggend oor Vanwyksvlei opkom. Presies, presies Oos.

P1410658

Vandag gaan net so lank wees soos vannag

Met die son presies in die ooste, gloei die grafte vanoggend in suiwer goud. Dis ‘n skouspel. ‘n Tafereel van gloed vir ‘n oomblik, en dan is dit weer verby. Amper soos ‘n salwing oor hulle wat was, lank lank gelede. So lank gelede soos nog in die 1800’s.

 

Hier rus groot geeste van weleer wat ook vanoggend baai in die oostergloed.

 

Ek wonder hoe dit gaan wees as al hierdie grafte, en ander reg oor die aarde, op een oomblik eendag, gelyktydig oopgaan en die aarde sy dooies teruggee (Joh 5:28,29 en Hand 24:15).

Vir die dag van oordeel

Vanwyksvleidam

p1400988

Hierdie dam is die oudste staatsdam en is nog met pik en graaf gemaak

Ons dorp het ‘n dam. Ook ‘n doodlekker dam maar nie een waar meisies hulle hare was en kam nie.  Dis te modderig. Flaminke en ander watervoëls gee  egter nie veel om daarvoor nie. Tog is dit al vir baie jare ‘n lekker plek vir die dorpenaars om te gaan uitspan.

l1150247

Ons dam is egter ouer as Boegoeberg se dam of die Vaaldam of die Gariep of enige ander staatsgeboude dam want ons dam staan al van 1884 af.

‘n Week terug ry ek en Johan dam toe vir ‘n sonsaksopie. Daar’s nie ‘n druppel in die dam nie. Al vir lank is die dam so droog.

Gisteroggend swem Toast Coetzer(van Wegry – Agterpaaie faam) lekker in sy onnie in die water, want die dag vantevore het dit in die omtes gereën en die dam het water so ver die oog kan sien.

p1390514

 

 

Sien, hierdie dam is so slim ontwerp, dit kan enige plek in die omgewing reën, dan word die dam gevoed. Die koppies in die omgewing vorm ‘n natuurlike kom wat enige reënwater afvoer dam toe. Al lyk dit nie na ‘n indrukwekkend ontwerpte opvangdam nie.

p1400986

Enige bui in die opvangsgebied se water vloei uiteindelik in die dam

‘n Skot met die naam van Garwood Alston kry al die lof vir hierdie stuk ingenieurwerk. Hy was ‘n landmeter wat hom ook as boukundige ingenieur bekwaam het.

In 1856 kom hy as 18-jarige na Suid-Afrika. Hy kry vir hom ‘n boere meisie, Lizabeth Peronella de Wit. Hulle trou in 1860 en 9 kinders word uit hulle huwelik gebore. Nadat hy ‘n hele klomp opmetingsprojekte gedoen het vir die spoorweg, kom woon hy en sy familie op ‘n plaas in die gebied van Vanwyksvlei. Dis hier waar hy die moontlikheid raaksien van ‘n opgaardam. Suid van die dorp lê die randte in ‘n formasie sodat dit ‘n groot opvangsgebied vorm.

l1130232

Van bo van Frankieskop af, kan mens duidelik sien van waar orals die water dam toe vloei

En wyd om die dorp is die moontlikheid groot vir landerye wat met die opvangswater natgelei kan word. Hy lê ‘n konsep van die dam voor en dit word in 1879 ondersoek. Dit word goedgekeur en die bouery begin in 1882.

Die dam word gebou met pik en graaf. Osse, muile en donkies word ingespan om die dam te skraap.  Bakskrapers en wielskrapers word gebruik. ‘n Wal van 9,7m word aan die westekant gebou met ysterklip wat per slee aangekarwei word uit die omgewing. Hierdie wal is 311m lank. Die hele dam word uitgevoer met potklei uit die omgewing wat ook per trekdier aangery moet word. Dit keer dat die water te gou weer wegsyfer.

‘n Toring word met klippe wat van Frankieskop af kom, gebou. Dit word met bokwaens en donkiekarre aangery.  Die toring is hol en het ystertrappe aan die binne- sowel as die buitekant om teen die toring te kan opklim. Vyf staalsluise wat in 1883 Engeland gemaak is, word aangebring op die toring. Dit kan met sleutels wat 1m lank is, oopgedraai word. Hierdie sluise laat water deur aan die kant van die toring en onderdeur die toring. Teen die toring  word ‘n gekalibreerde plaat aangebring waar die hoogte van die watervlak gelees kan word. Die hoogste merk staan op 8,2m.

‘n Probleem duik op om die toring te bereik as die watervlak met 4m styg. Daarom word ‘n staalbrug gebou om vanaf die damwal tot op die toring te strek. Hierdie konstruksie kom op Carnarvonstasie aan en word met donkiewaens aangery Vanwyksvlei toe. Die hele kontrêpsie word langs die dam aanmekaar gesit en met toue opgehys en in posisie vasgebout.  Dis deesdae ‘n lekker plek om te gaan foto’s neem.

l1170085

Kanale vanaf die dam voer water na gebiede rondom die dorp waar daar sowat 9 morg grond per persoon uitgemeet word om te begin verbou. Dit is ‘n enorme groot taak om al die lande uit te meet, die kanaal groot genoeg aan te lê sodat die boere naastenby gelyktydig water kan kry omdat die plantseisoen bitter kort is. Dan moes daar nog ‘n ekstra opgaardam aan die eindpunt van die kanaal gebou word om al die oortollige waters op te vang vir gebruik vir mens en dier. Neem nou in ag dat hierdie gebied geen standhoudende rivier het nie. Buiten die kanaal wat die lande van water voorsien, word ‘n kanaal gebou wat die dorpsmense van leiwater moet voorsien het. Tientalle windpompe word aangebring in hierdie kanaal om water tot in elke erf se dam te pomp.

Daarbenewens word ‘n kanaal van bykans 12km vanaf die Carnarvonleegte aangelê. Hierdie kanaal voer meer as 44 000 kiloliter water na die dam die paar dae in die jaar wat dit wel loop.

Garwood Alston is nie net ‘n landmeter en ‘n bou-ingenieur nie, hy is beslis ook ‘n visioenêr. Maar hy word nooit ‘n miljoenêr nie, want die hele bou van die dam, die damwal, die toring en sy brug en al die  kanale, met die besoldiging van al die werkers wat vir meer as drie jaar daaraan bou, kos die goewerment daardie jare glo net in ponde wat gelykstaande is aan R66 000.

20170216_191113

‘n Kykie oor die dam se opvangsarea

Mike se klipskerm

 

Terwyl die eerste volmaan van 2017 oor Vanwyksvlei bo ‘n dik bank wolke uitbeur, strooi Heila en haar familie Mike se as by sy geliefde klipskerm op sy plaas Goeiehoop – die plaas wat hy so hartstogtelik liefgehad het.

img-20170113-wa0001

Mike se geliefde grond op Goeiehoop

 

 

Vanoggend gedenk die dorp Mike se lewe. Op versoek word Amazing Grace gespeel, soos gesing deur Nana Mouskouri. En daar is vir my op ‘n manier ‘n sterk ooreenkoms tussen Mike se lewe en John Newton s’n – die skrywer van die lied wat eens ‘n slawehandelaar was en God nie geken het nie. Want Mike het ook eers ander paaie geloop voordat hy sy God leer ken het. Het ook in die spreekwoordelike gutter beland; sonder werk en sonder blyplek. Oorleef van ‘n broodjie wat ‘n kleurlingvrou elke dag vir hom gebring het en so geleer het wat genade beteken.

20170113_110052

Op nuwejaarsdag sit Mike en Heila voor my in die kerk. Johan praat oor Appie wat op nuwejaar sou verjaar en nie meer met ons is nie. “Ons weet nie een of ons volgende jaar nog hier sal wees nie” is Johan se woorde. Presies ‘n week later sterf Mike Holtzhausen aan Kongokoors.

Toe ons Mike die eerste keer ontmoet, steek hy sy hand uit na Johan. “Ek is nou nie juis ‘n gereelde kerkganger nie, Dominee” was sy woorde. Want kerkgang was nie vir Mike gelykstaande aan godsdiens nie. Sy godsdiens het hy uitgeleef deur om te sien na mense wat nood het. Sy bakkie vol groente vanaf die plaas in die gange getrek en uitgedeel. Uit sy vrieskas gehaal en gesorg dat die mense hoër op in die straat kos het. Want hy was ook eens dáár waar hy nood goed leer ken het. Mike se godsdiens was ook om hom te onttrek na sy geliefde klipskerm om met sy God te gaan praat. Versterk teruggekom na sy afsondering met sy Heiland.

Vroeër jare het Mike en Heila die hotel op Vanwyksvlei bedryf. ‘n Kranige kok was hy. Mike het Heila (toe reeds weduwee na haar eerste man se dood) op die dansbaan ontmoet – het graag vertel hoe lekker hulle twee kon dans. Mike het ‘n pa geword vir haar kinders en ‘n geliefde oupa vir hulle kleinkinders. Hulle was 14 jaar getroud

img-20170113-wa0003

Heila met al haar kinders, Mike se kinders en hulle kleinkinders

 

As Mike jou genooi het vir ‘n braai, moes jy jou regmaak vir oordaad. Met hout was hy nie suinig nie en nog minder met vleis. Hy’t geweet hoe om ‘n vuur te maak, kole te lees en hoe om te BRAAI.

“En toe los Meneer Mike ons” vertel ‘n werker in die dorp van Mike se dood. Want wie het hom dan nié geken nie. Groot ou Mike met die klein-klein hartjie. Mike wat met sy bulderende stem in g’n onduidelike terme iemand presies die leviete kon voorlees as hy sou droogmaak. Mike wat vir jou kanne vol lekker windpompwater vanaf sy plaas voor jou deur kom los. Mike wat saans op sy staptogte in die dorp aandoen by hulle wat hy weet alleen is – met sy stapstok aan die venster kom tik net om te kom hoor of als reg is. Of die vreemde kar wat voor die huis staan kennisse of indringers is. Wat net gou kom inloer om te hoor hoe dit gaan.

Dat ‘n klein, rooi bosluisie so ‘n groot, sterk man se lewe so vinnig kon wegvat!

Mike, daar het ‘n yslike sinkgat ingeval in Vanwyksvlei. Een wat nooit opgevul sal kan word nie. Nie eens met al die baie klippe van jou klipskerm nie.