Handsentrale-operateur tot weerdata-invorderaar

P1380979

Tannie Herlina Malan

 

Tannie Herlina Malan (80), bedryf vir 32 jaar die handsentrale op Vanwyksvlei saam met nog drie ander persone. Elke nommer op hierdie dorp en elke plaaslyn se luikode ken sy – drie kortes en ‘n lange, twee langes en twee kortes, vier kortes… Vandag nog ken sy elke nommer al het die voorafgedeelte van die nommers aansienlik verander sedert die telefoondiens hier op Vanwyksvlei ook ge-outomatiseer is. Aanvanklik vul sy die pos net halfdag, maar later van tyd werk sy voldag totdat die handsentrale uiteindelik moes plek maak vir ‘n outomatiese sentrale.

Gesamentlik hiermee versamel sy daagliks weerdata en bel dit deur na die weerburo. Drie maal per dag op presies dieselfde tyd daagliks, neem sy die gemiddelde lesing van twee termograaflesings en ‘n higrograaflesing. Die termograaflesings is verkry as ‘n gemiddeld tussen ‘n nat en ‘n droë lesing – die natte is ‘n termometer waarvan die bol in lap toegedraai is, toegebind met ‘n vierkoord toutjie. Die punt van die toutjie moet altyd in water hang.

Die higrograaflesing is verkry van ‘n stukkie nat menshare wat sy met groot sorg altyd volgens die regte instruksies en met die regte chemikalieë skoon hou. Die uitrekfaktor van die nat hare dui die lesing op die higrograaf aan. Boonop is daar ‘n grastermometer en vyf verskillende grondtermometers, die langste omtrent menshoogte, wat sy een vir een uit die grond trek en die lesings boekstaaf.

Die klein weerstasietjie met al hierdie toerusting is agter in haar erf ingerig waar dit onbelemmerd van bome of turksvybosse kan funksioneer. Die weerburo voorsien nie aan haar opleiding hiervoor nie; rus haar bloot toe met ‘n handleiding wat sy getrou navolg.

Soggens bel sy ‘n kode deur na Beaufortwes om die stand van wolke aan te dui. Elke soort wolkformasie het ‘n ander kode. Daar is 27 verskillende kodes – 9 verskillendes vir lae wolke, 9 vir middelwolke en 9 vir hoë wolke. Lae Cummiluswolke is bv. 01-laag . Hoë vlieswolke is  dalk 02- hoog. Alleenlik as die wolkbedekking sewe-agtstes van die hemelruim bedek, is dit noemenswaardig genoeg om aangeteken te word. Daarom rapporteer sy ook of dit drie-agtstes, sewe-agtstes of dalk agt-agtstes is vir wanneer die lug totaal betrokke is.

Dan is daar nog windspoed en windrigting ook om aan te teken. ‘n Windmetertjie wat vinnig in die rondte draai en so die windspoed registreer en wat ook die windrigting aandui, help haar hiermee. Sonkaarte vir elke seisoen installeer sy elke dag voor sonop in sy houertjie en saans, met die sontrajek daarin vasgebrand, liasseer sy dit. Hierdie data word dan aan die einde van die maand geprosesseer in datakaarte en aangestuur na die weerburo.

Die verdampingsfaktor word gemeet in ‘n drom wat op pootjies staan. ‘n Maatstok  is in die middel geïnstalleer. Soggens word die watervlak gemeet, die drom weer opgevul en die vlak word weer eens aangeteken. Die verskil tussen hierdie tweede lesing en môre-oggend se eerste lesing, dui die persentasie verdamping aan.

Tannie Herlina word net voor Kersfees ‘n weduwee. Oom Henry, in die ouetehuis op Carnarvon, sterf as gevolg van Altzheimers. Tannie Herlina versorg hom lank tuis, totdat sy vier maande gelede haar heup breek en self in die hospitaal beland.

Terwyl hy, al byna blind en doof, in die huis lê, val sy een middag so teen vyfuur in die agtererf. Sy kan glad nie beweeg nie. Omdat haar aandete op die gasstoof staan en kook, sleep sy haarself tot by die gasbottel en draai dié toe. Daarna vorder sy net tot by die agterstoep se trappe. Daar kan sy geensins verder nie. Desperaat lê sy daar en roep na oom Doupie, die buurman. Later die aand kom oom Doupie se seun daar aan om hulle oudergewoonte te kom groet soos hy elke Donderdagaand doen. Sy jong wat agterop die bakkie sit en wag, hoor die geroep uit die donker en maak vir Marius daarvan bewus toe hy eindelik terugkeer bakkie toe.

Marius kry vir tannie Herlina in die koue donkerte by die stoeptrap. Dis al byna nege-uur. Hy tel haar op en maak haar sit in ‘n stoel. Bel die ambulans. Daardie nag word sy en oom Henry saam deurgevat Carnarvon toe – want wie sal tog na Oom Henry omsien alleen in Vanwyksvlei? Eers ‘n week later word haar heup in Kimberley geopereer.

Nadat sy sodanig herstel dat sy self weer kan loop, keer sy terug Carnarvon toe. Maar sy sal nooit weer vir Oom Henry kan versorg nie – hy bly agter in die ouetehuis in Carnarvon tot en met sy dood twee weke gelede.

Terug in Vanwyksvlei neem sy haar dogter vanaf Douglas, wat erg verswak is vanweë Parkensons se siekte, by haar in. Versorg haar met dieselfde nougestheid waarmee sy al die jare die dorpsmense se oproepe deurgesit het, die weerdata aangeteken en deurgestuur het en vir oom Henry in sy siekte versorg het.

Advertisements

El Shaddai of El Niño?

 

Die weervoorspelling is ons nie goedgesind nie. Daar’s niks in die vooruitsig nie. Dis net hitte en waarskuwings teen brandgevaar vanweë hoë temperature en sterk winde. Ons soek tekens.

Net die warm westewind woed weer heeldag oor hierdie dorre aarde.

Die natuur praat ook nie. Die noorsbome blom nie. Slange en skilpaaie loop nog nie. Daar’s nog nie ’n geluidjie van die gys, ’n kakiesprinkaan, nie. Geen teken van spinnekoppe wat verskyn nie. Miere skarrel nog nie rond nie.

Net die westewind woed onverpoos oor die vlaktes.

Warrelwinde maak torinkies boontoe. Party mense beweer dis ’n goeie teken – daar’s beweging in die lug. Ander verdoem dit – dis net ’n teken van hoe dor die aarde geword het.

Die westewind waai stofwolke straataf.

“Die veld is dood” beweer iemand. Mens sien nie ’n motjie om die ligte of teen die ruite fladder nie. Dis net die swart perdebyagtige insekte wat almal verpes. Klink soos ’n scrambler-enjin soos wat hulle oor die kerkgangers se koppe swiep waar hulle deur die oop deure na binne vlieg. Soek hulle water in die doopvond?

Die westewind ruk aan die kerkdeure.

Daar’s nie ’n koggelmander wat afbeweeg grond toe nie. Hulle sit hoog op ’n klip of ’n droë tak en tuur noordwaarts. As daar reën op pad is, beweeg hulle grond toe om te begin eiers lê.

Maar nee, dis net die westewind wat voortwoed.

Die maan groei. Daar’s geen teken van vogtigheid in die lug wat die maan wollerig laat lyk nie. Nie ’n koringkriek wat gil in die stil naglug nie. Net die warm beddegoed wat slaap bemoeilik al staan al die deure en venster oop.

Totdat die westewind vroegoggend opsteek en ons weer vensters en deure dig moet sluit teen stof.

Niemand kla oor ’n ou rugbybesering wat begin pla nie. Die waterkraffie langs my bed se lip is droog as ek opstaan – nie ’n ou druppeltjie water wat deur die nag gekondenseer het nie. By die De Bruyns het die tarentale se roep nog nie verander nie. Hulle maak nog steeds dieselfde geluid as gister en verlede week. Verlede maand.

Die vlag voor die polisiestasie wys weer, soos elke dag, oos.

Daar’s nie wolke wat uier stoot nie. Daar’s nie molle wat hopies grond begin opstoot nie. Tydens my oggendstappie is daar wel orals varsgegroude gate soos wat nagdierjies soek na wortels of kos in die dorre aarde. As die son verrys begin die lug beweeg.

Maar gou draai die wind wes en hou koers.

Daar’s ’n enkele by wat soek na ’n waterdruppel aan die buitekraan. Maar geen teken van swerms bye wat soek na holtes om in nes te maak nie.

Al wat loei is die westewind.

Die wit dampspore van vliegtuie hoog in die lug was lanklaas sigbaar. Die Slikdam anderkant die pad, waar daar twee weke gelede nog mooi watervoëls was, is net ’n droë soutpan. Ek wonder waar is die rooipoot-elsies nou heen. Met ons eerste besoek aan Vanwyksvlei in Augustus, was daar nog baie water in die Vanwyksvleidam. Nou is daar nie meer ‘n druppel nie.

Die westewind dra geen geur van groot waters nie.

Die wind moet drie dae oos hou. Wolke moet uit die noorde oor Krismiskop aankom. Lammers moet begin bokspring. Die maan moet water gooi.

Maar die wind hou wes.

Die bale voer wat by die koöperasie aankom is uitverkoop lank voor die laaste bakkie gelaai is. Wanneer gaan die reëns dan kom? Hoe lank nog?

“ As julle volgens my reëls lewe, my gebooie gehoorsaam en daarvolgens lewe, sal Ek dit betyds laat reën sodat die lande oeste sal lewer en die bome vrugte sal dra,…” Lev. 26:4

Ek glo onwrikbaar in die almag en voorsiening van El Shaddai; ver bo die invloed van El Niño.

Sela.

 

 

Die Verdwaling van Sina Witbooi

P1380157

Sina Witbooi

 

Sina Witbooi kom vanaf Carnarvon. Haar man is ‘n draadspanner. Saam het hulle twee skoolgaande kinders wat vir die skoolvakansie by hulle ouma op ‘n plaas kuier.

Sina, haar man en ander draadspanners, kom saam met Daniel wat op de Naauwte boer – ‘n plaas so 33km vanaf Vanwyksvlei op die Kenhardt, Marydale pad. Hulle gaan tuis in ‘n mobiele staning omtrent 6km vanaf die plaas. Bedags, as die manne draad span, verwyl die drie vroue en twee kleintjies, met hulle twee brakke en ‘n katjie, by die staning.

P1380172

Die staning op De Naawte waar die draadspanners oorbly

Woensdag besluit Sina om na Beesdam, die buurplaas, te loop om meel en suiker by Willem, die jakkalsvanger, se vrou te gaan haal. Dis reg suid van die staning af, al met die jakkalsdraad langs. Ek skat dis nie meer as 10km nie.

P1380221

Met hierdie lyndraad langs moes sy koers hou

By Beesdam aangekom, is Willem se vrou nie daar nie. Sina wag tot in die namiddag en loop toe maar weer terug voor die donker toesak. Waar die tweespoor paadjie vurk, vergeet sy om die lyndraad as baken te hou en draai  kamp in.

Dis duinewêreld daarlangs en dig begroei met Prosopis. Sy verloor rigting in ‘n poging om die skerp dorings van die Prosopisbome te vermy. Sy verdwaal. Klim bo-oor ‘n lyndraad in ‘n volgende kamp in en begin in sirkels dwaal. Die son sak oor die horison en sy het nie ‘n idee watter rigting om in te slaan staning toe nie.

Met die manne se terugkeer is Willem se vrou steeds by die staning. Nee, sy het nie vir Sina raakgeloop nie. Sy wis dan nie eens dat Sina na haar toe op pad is nie. Dit word donker. Spoor kan nie nou gesoek word nie.

P1380181

Willem, die jakkalsvanger

Met eerste lig vat die manne Sina se spoor Beesdam toe. Willem is bedrewe in spoorsny want dis hoe hy jakkals jag. Hulle kry haar spoor waar sy op pad terug afgedwaal het. Gou besef hulle dat sy in sirkels begin dwaal het. Sy is heen en weer oor dieselfde lyndraad. Dan verdwyn die spoor. Hulle soek tot donker maar Sina is weg.

Vroeg Vrydag hervat die manne die soektog. Dis snikwarm. Hulle sal hulp moet inroep – alleen gaan hulle haar nie betyds kry nie. Dis altans al die derde dag en langer sal sy nie sonder kos en water in hierdie temperature kan oorleef nie.

By De Bruynsrus, die buurplaas, gaan vra hulle om die polisie te ontbied om te kom help. Teen vyfuur, met ons aankoms by De Bruynsrus vir ‘n wyksafsluiting by Tilla en Jan, sien ons die polisiebakkie oorkant die plaashek. Willem is saam met die polisiekaptein in die bakkie om rigting te help gee. Ons verneem van die vrou wat verdwyn het.

Teen Saterdagoggend is sy steeds weg. Die polisie en Willem hervat die soektog. Teen namiddag kry hulle ‘n vars spoor, skaars ‘n kilometer van die staning af. Sy het by die watertenks aangekom, gedrink en skoon verkeerde rigting ingeslaan. Hulle volg haar spoor en gewaar haar waar sy heeltemal gedisoriënteerd weer besig is om ‘n lyndraad te klim. Maar sy lewe.

Met die vrou heel naweek op my gemoed, doen ek vroeg vanoggend navraag by die polisie. Dis goeie nuus dat sy gekry is. Ek en Johan ry uit De Naauwte toe om haar te gaan opsoek. Daar kry ons net vir oompie Piet Tieties wat g’n idee het waar die draadspanners bly nie. Ons volg maar die rigting wat hy beduie al langs die jakkalsdraad totdat ons op Willem afkom waar hy sy middagete sit en eet by die watertenks. Hy beduie waar ons die staning kan kry waar Sina is.

Sina, haar suster en nog ‘n ander jong vrou by die staning, ontvang ons en die bordjie skons wat ek vir haar gebak het, baie beskroomd. Sy vertel graag van haar ervaring:

P1380191

Die groepie vroue en kinders wat bedags by die staning oorbly as die manne draadspan

“Nooit, nooit weer loop ek alleen die veld in nie.” Sy vertel dat sy haar dors by skaapkrippe en gatdamme geles het waarop sy afgekom het. Maar die honger was die ergste. Een nag het iets soos ‘n skerpioen haar op haar maag gesteek toe sy probeer lê het.

“Ek kom toe by die grootpad uit. Ek weet nie watter kant toe nie en ek is verskriklik dors. ‘n Boer van ‘n ander plaas hier naby, kom op sy motorfiets verby.” Hy kon seker sien dat sy erg ontwater en baie gedisoriënteerd was. Hy vat haar toe met die motorfiets tot by die naaste windpomp waar sy water kon drink. Daar beduie hy haar toe presies hoe om te loop om by De Naauwte uit te kom. “Maar toe loop ek wraggies weer terug op my ou spore en ek kom nooit by De Naauwte uit nie.”

“Ek was baie bang, Mevrou. Nie gedink ek sien my man en kinders ooit weer nie.”

Sina kan nie vir my sê hoe oud sy is nie. Sy het nie haar ID by haar nie en kan nie haar geboortejaar onthou nie.

Sy lyk nie soos iemand wat vier dae in bloedige son deurgebring het nie. “Nee mevrou,” sê sy beslis, “ek het maar snags probeer loop en bedags onder die skaduwees ingekruip want die son wou my dood brand.” Die nagte verlede week was baie donker met die maan wat nou eers weer begin groei. Ek kan net dink dat sy geen idee gehad het in watter rigting om te loop nie. Die nagte was weer koel en sy beweer dat sy net ‘n truitjie by haar gehad het wat sy styf om haar gedraai het.

“Daai eerste nag, toe ek onder ‘n bos wil inkruip, hoor ek net hoe blaas ‘n slang vir my. Toe hou ek maar aan met loop.”

Ek dog ek deel Sina se goedvoel storie van oorlewing te midde van al die  skokkende nuus wat ons die afgelope week gehoor het.

Shalom.

 

 

 

 

 

 

Statistiek

Wat doen mens as die huis in ‘n hoogoond verander?

Verlede week, die warmste wat ek nog beleef het, kuier my sus vanaf Wellington hier by ons. Al wanneer ons buite kom is smôrs voor vyf. Dan stap ons gou ons 10km. Dis ‘n verruklike tyd van die môre. Net die Oosterkim staan teen die naglig afgeëts. Venus pronk openlik teen die oostelike hemel. Veraf kom die gekraai van ‘n toegewyde hoenderhaan. Die dorp slaap. Ons stap by huisies verby waar bondels beddegoed buite in die werf vertel dat die huise te warm is om in te slaap.

Teen die tyd dat ons moet omdraai, breek die son oor die horison en als rondom ons begin lewe. Die swaels swiep tjirpend in formasies deur die lug. Daar’s ‘n bedrywigheid wat losbreek onder die kleiner voëltjies wat naarstiglik begin kos versamel. Veraf maak ‘n boer se bakkie stofstreep na sy plaas toe. Vir die res van die dag is ek dankbaar vir die lugreëling in die TV-kamer. Dis die ideale tyd om op te ruim.  Rekenaarleêrs, bedoel ek. Want vir enige ander aktiwiteit het mens meer energie nodig en dis onmoontlik as die kwik aan 50˚ wil raak-raak.

Ek het sus Mariette saamgebring vanaf Wellington.  Opsluit het Johan ook Wellington toe gekom sodat ons saam ‘n familiebegrafnis kon bywoon – skoonsus se pa is skielik oorlede.

Na afloop van ‘n familie-ete, is ons Muizenberg toe om Elza se nuwe huis te gaan bekyk. Dis op daardie pad, by ‘n township verby, wat ek my selfoon verloor. Met die wegtrek by ‘n robot, ruk ‘n tikkop die bakkie se deur (wat altyd outomaties sluit?) oop. “Jou ma se p..§!!!” vloek hy my arme bejaarde moeder van 88, wat 1000km van ons af is en niks met die saak te doen het nie, onder haar rok in en pluk my selfoon uit my hande – ek was ’n skaap om te sit en whatts app met ‘n vriendin wat pas uit die hospitaal ontslaan is. Nou is ek ook statistiek van ‘n ruk-en-pluk voorval.

In die week het ek weer gesien hoe daar altyd betyds voorsien word. So kry my kind tydelike blyplek by ‘n vriendin nadat sy en haar hond uit haar huurkamer moes trek en word sy wonderbaarlik geseën met ‘n hele huis in Somerset-Wes waar daar genoeg plek is vir haar en haar hond. Daar is bepaald ‘n Heer in die hemel, Hy sôre vi’ ons. Hy sôre vi’ ons.

Cavalier, ‘n maatskappy wat slagskape  vir die vleismark lewer, hou onder aanvoering van Rudi en Trudie Oberholzer ‘n jaareindfunksie in die kerksaal. Die saal is stylvol voorberei, sonder enige oordaad. Rudi tree as agent op vir Cavalier en bemark skaap vir die boere hier vanuit Vanwyksvlei, Vosburg, Carnarvon en Prieska. Die jaar lê nog nie eers op sy rug nie en 30 000 skaap is alreeds hierdie jaar gelewer teen ‘n omset van by die R29m. Dis sowat R960 per kop wat die boer in sy sak steek. En dis nou net dié wat deur Rudi bemark word – daar is nog ander bemarkers ook in die omgewing.

Al die skaapboere uit die omgewing kuier hartlik saam en die saal dreun van gemoedelikheid. Ek verstom my oor die baie jong boere wat deel uitmaak van hierdie korps. Mens begin al meer moed kry vir die toekoms by die aanskoue van dié mooi gesig. As ek dink waardeur ‘n skaap moet gaan van die oomblik wat hy op ‘n trok gelaai word om bemark te word, totdat julle daai tjoppie vanaf  Woolies se rakke in julle kosmandjies plaas, begin ek verstaan hoekom die prys op daai pakkie is wat hy is. My respek vir ‘n skaapboer styg nes daai prys op die pakkie nader na Kersfees se kant toe. Dit wat die skaapboer darem nie moet insit sodat daar ‘n stukkie skaapvleis op ons borde kan wees nie! En wat ‘n besondere vrywei produk lewer hierdie manne darem nie, né. Nee wat, die Amerikaners kan maar hulle krismiskalkoen hou. Hy wat nie met Kersfees skaap opdien nie, moet mooi dink aan sy lojaliteit teenoor die boere in die droogste dele van ons land wat niks ontsien nie om ‘n wonderlike produk te lewer – nie droogte of ongediertes, lae pryse, voerskaarste, min betroubare werkers en onmenslike hittige dae nie.

My somer word gemaak deurdat die swaeltjie wat ek vir 6 weke grootgemaak het – selfs al die pad saam Wellington toe en terug – sy vryheid opneem. Vroeg een oggend sit ek hom op ‘n hoë muur waar hy baie opgewonde raak oor sy soort wat  ál oor sy kop swiep en te kere gaan. Die eerste poging om te launch is nie suksesvol nie. Weer op die muurtjie en ‘n ruk later kry hy dit reg om die lug in te vaar na vryheid tussen sy eie soort.

Shalom swael.

20151205_055425

Vroegoggend se stappie saam met sus Mariette

 

20151124_123620

Swaeltjie reis saam Wellington toe en terug. Hierdie is die laaste foto wat van hom geneem is tydens ons besoek aan La Motte