Oorle Annie Blom se kjênd

“Sy soek iets lekkers. Want haar ma is dood.” Dis die eerste woorde wat ek hoor toe ek die voordeur oopstoot as antwoord op die deurklokkie wat vier, vyf keer gelui word. Vyf kleintjies van verskillende ouderdomme staan teen die gaasdeur. Elkeen het seker ‘n beurt gevat om die klokkie te lui.

“Ag siestog, ek is jammer. Wie was jou ma?”

“Blom. Annie Blom”

“Wanneer is jou ma dood?”

“Gisteraand.”

“Wat het gebeur? Was sy siek?”

“Sy’t gif gedrink toe dooi sy.” Sonder ‘n sweempie emosie of hartseer.

L1200027

Is dit ‘n storie om my sag te maak om iets te bedel? Sy is sekerlik nog nie 6 jaar oud nie. Maar die groter seuntjies val dadelik weg met ‘n storie. ‘n Opgemaakte storie? “Hulle het haar vanoggend gebegrawe.”

Iets rym nie. Dis skaars 11uur. Gisteraand dood en vanoggend gebegrawe en als oor en uit?

“Hoe dan so gou?” wil ek weet.

“Die lykshuis se krag is af” het ‘n groter seuntjie dadelik ‘n antwoord reg. Sjoe, was daar dan so gou ‘n graf gereed? Kon hulle dan so gou al die familie hier kry? Gewoonlik vat dit tot 2 weke om almal kans te gee om die begrafnis by te woon. Ek begin vermoed hierdie storie is uit die duim gesuig.

“Nou hoe is sy begrawe?”

“Met ‘n doek oor haar kop en in ‘n ou rok.” Dis dieselfde slim knaap met die vinnige antwoorde.

“Hulle het haar in die graf laat insak” vertel ‘n ander enetjie.

“Hoe diep was die graf?”

Die ‘weeskindjie’ hou haar een armpie op tot bokant haar kop. Sy moes al by ‘n begrafnis gewees het.

“Het hulle haar nie in ‘n kis gesit nie?”

“Ja, in ‘n houtkis.” Nou hoe sou die knaap kon sien daar is ‘n doek oor haar kop en sy lê in ‘n ou rok as sy gekis was?

“Ek kan nie dink dat dit die waarheid is nie. Maak julle nie hierdie storie op nie? Kan ek gaan verneem of Annie Blom regtig dood is?”

“Gaan,” se wysneusie, “ry met die bakkie.  Laai ons in dat ons Doemenie kan loop wys.” Dit het hulle ook al gehoor – dat ek kinders in die bakkie laai dat hulle my moet gaan wys waar bly die pa of ma wat nie vir hulle sorg nie.  En dan vat hulle my op ver ompaaie vir ‘n lekker pretrit.

Ai, kan ek elke geval gaan ondersoek?

Toe gee ek maar.

Sulke oorspronklikheid moet darem beloon word.

Net na skool die volgende dag is weeskindjie en haar maatjie weer hier vir iets te ete. Die ougat maatjie herken ek van ‘n vorige keer. Dit was ‘n Sondagmiddag en ek het gestaan en klei afbrei. Sy wou weet wat my makeer – hoekom speel ek dan in die modder?

Nadat sy my ‘n lang ruk ernstig gestaan en betrag het, vra sy: “Doemenie, hoe kry Doemenie Doemenie se hare so glad?”

L1200025

Nou is die tweetjies alweer hier. Ek vermoed die ander drie staan net agter die heining, indien iets uitgedeel gaan word.

“Hoe gaan dit vandag met jou ma?” vra ek vir weeskindjie.

“Goed dankie, Doemenie.”

Sy is blykbaar nie meer dood nie …

In Hierdie Lewe Sedert 1914

P1410203

Vandag verjaar Ouma Wat-toe. Oftewel, Tannie Anna Tieties volgens haar ID.  Sy is 103 jaar oud. Vanwyksvlei se oudste inwoner.

As jong dogtertjie verkoop haar ouers haar aan ‘n Visser boervrou van Rietbos vir koffie, suiker, meel , olie en seep. Daar raak sy groot as oppassertjie van bokke. Saans moet sy die kombuis opruim.

Haar sustertjie word op dieselfde manier groot by Awiegoed-hulle op ‘n naburige plaas. Sy onthou een geleentheid wat hulle by mekaar kon kuier toe die plaasmense oor en weer gaan kuier het.

Op Rietbos groei Wat-toe op totdat sy man vat. Jan Tieties kom in haar lewe en maak haar die ma van 3 dogter en 3 seuns. Hulle kinders word groot in die distrik van Carnarvon en Vosburg waar Jan op verskeie plase as veewagter werk. Slegs Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta, die dogter wat haar tans versorg, en Handjievol, ‘n ander dogter, leef nog.

L1190955

Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta

Handjievol is egter ‘n invalide nadat albei bene en haar regterarm geamputeer is. Die ander broers en suster is almal lankal dood.

Uncletjie en Koelie het ‘n kamertjie in hulle huis waar Ouma Wat-toe woon. Hulle versorg haar al vir baie jare met groot toewyding.

P1410215

Ouma Wat-toe kan nog hoor en sien en beweeg. Dalk kon sy vreeslik dans en sing in haar jare, want sy deel ‘n verjaarsdag met Fred Astair en Bono. Dalk leef sy so lank vanweë haar geloof, want sy deel ‘n verjaarsdag met Karl Barth. Pred 10:27 sê mos: “Wie die Here dien, lewe lank …”  En vir solank as wat Ouma Wat-toe leef, bestaan moedersdag al – ingestel op 9 Mei 1914 deur Woodrow Wilson, die Verenigde State se 28ste president. As julle hierdie naweek êrens ‘n moedersdagviering inwerk, lig ook ‘n glasie op  Ou-moeder Wat-toe.

Soms raak haar gedagtes tussen vraag en antwoord op ‘n adraaipad. Maar sy kan steeds ‘n gesprek voer.

P1420609

Sy kan nog die sagtheid van ‘n paar slaapsokkies waardeer, sien ek toe sy dit teen haar wang aandruk. Dierbaar. (Dankie Helena, dat jy dit gesponsor het).

P1420618

Terwyl ek by haar sit en kuier, steek sy haar verrimpelde handjie uit na Koelie. Koelie Jafta beheer haar pruimtwak. Hy sal self besluit wanneer dit tyd is. En wanneer dit genoeg is.

P1410206

Rina se skool kom sing vir haar en sy blaas die 3 kersies op haar 100-koek dood.

Ouma Wat-toe klap hande vir haar eie prestasie.

Om Eensklaps Alles te Verloor

By ons tuisgemeente in Centurion, Lyttelton-Oos, word Ds Freddie te ruste gelê. Op 57 het ‘n kragtige hartaanval sy lewe gekos. Hy laat sy vrou, drie kinders, twee skoonkinders, ‘n kleinseun en ‘n kleindogter in wording agter.

Donderdagoggend groet Freddie en Alma mekaar. Om mekaar nooit weer te sien nie. Hy vertrek na Klub Immergroen se koeksisterbakkery in die kerksaal en daarna Kemptonpark toe vir ‘n vergadering. Sy vertrek skooltoe waar sy skoolhou. Sonder waarskuwing  is Freddie  vir altyd weg. Alles van hom, sy massiewe boekery, sy data op die rekenaar, sy skrywes, kursusse en preke, sy klere, skoene en besittings is daar.  Alles is steeds daar.  Maar hý is vir altyd weg.

As predikantsvrou weet ek dat mens se identiteit maklik  kan lê in jou man se amp en verbintenis met ‘n gemeente. As dit wegval, en jy  is werkloos en inwonend in ‘n gemeentepastorie, kan jou hele wese eensklaps in duie strot. Gelukkig het Freddie en Alma na meer as 30 jaar in die pastorie in Lyttelton, ‘n paar maande gelede hulle eie huis gekoop en uit die pastorie getrek. En Alma het ‘n vaste werk en ‘n vaste inkomste.

Die lewe móét aangaan vir Alma.

Sonder Freddie.

ᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗᴒᴗ

Op Sondagaand, 9 April, gaan daar ‘n kragtige elektriese vloedgolf van Evkom deur Vanwyksvlei. TV’s blaas. Gloeilampe ontplof. Rekenaars vrek onherstelbaar. Vrieskaste kalf. Dit word ook waargeneem sover as Carnarvon, Loxton, Willeston.

In die vroeë oggendure merk ‘n poliesepatrollie ‘n gloed en rook in Kosie en Frances  van Schalkwyk se huis. Die kraggolf het ‘n kortsluiting veroorsaak wat heelnag nog lê en smeul. Kosie en Frances is nie tuis nie. Hulle was heel naweek tuis maar vertrek laat Sondagmiddag plaas toe vir die week se werksaamhede daar. Gewoonlik bly Frances agter op die dorp vir die week, maar om een of ander rede gaan sy saam met Kosie plaas toe waar net die nodigste aangehou word.  Net om nooit weer iets van  haar grootwordhuis en van al hulle besittings oor te hou nie.

Die polisie kan nie die traliedeure oopkry nie, want deesdae bly ons mos in forte. Teen die tyd dat Kosie opgespoor word en die pad Vanwyksvlei toe afjaag met die sleutels van die traliedeure, is omtrent alle plankvloere  en meubels al aan’t gloeie. Toe die traliedeure uiteindelik oop is en mens kan inkom om die brand te probeer blus, vat daardie gloed suurstof en ontplof in ‘n onblusbare vuur. Vensters ontplof uit hulle rame en weergalm soos kanonskote deur die vroeë oggendlug. Alles, alles brand tot as.

Alles.

Al Frances se kosbare erfmeubels, o.a. ‘n geelhouttafel met 10 stoele. Elke kosbare eetservies van geslagte tevore bars in skerwe. Elke skoen, kledingstuk, ornament, boek. Al Frances se  kosbare juwele.

Alles.

Elke kosbare herinnering van hulle seun Jaco se springbok rugbydae. Elke aandenking en toekenning wat hy al ooit gekry het tydens sy klubrugbydae in die buiteland.

Alles.

Vir Kosie en Frances moet die lewe ook aangaan.

Kosie en Frances kan eis teen die versekering.

Hulle het nog die plaas.

En hulle het nog mekaar …

Feesnaweek in Vanwyksvlei

 

In Vanwyksvlei is die Oberholzers groot. Ook die afgelope naweek is groot vir die Oberholzers. Familie en afstammelinge van so ver as Langebaan en Valhalla snoer saam om hulle erfenis te vier.

P1420867

Al vir byna 150 jaar woon Oberholzerfamilies in hierdie gebied. Die eerste oorspronklike Oberholzer familie van Ou Pa en Martha Oberholzer met hulle 10 kinders, vestig hulle hier ter plaatse. Die foto van hierdie gesin, kom uit die eeufees gedenkboek van Vanwyksvlei.

Tilla la Grange se Ouma, Nellie, is die dogtertjie voor in die foto met die blommetjies in haar hand. Uit Tilla se ou Familiebybel, kom hierdie lys name en datums.

IMG-20170415-WA0000

Op ‘n manier is die inwoners van Vanwyksvlei óf ‘n afstammeling,  óf ‘n aangetroude tot die Oberholzers. Óf jy is ‘n inkommer – soos ons.

Oom Doupie is die oudste Oberholzer in die dorp. Hy erf nie, soos die ander, grond nie. Maar vandag besit hy baie plase waarvoor hy self gesorg het. Tannie Baba, 11maande jonger as hy, se eerste man, ‘n Oberholzer, is lankal oorlede. Haar tweede man, ook reeds oorlede, was ‘n neef van haar eerste man. Dus is sy diep ‘n Oberholzer.

Met die eerste familiefees van die Oberholzers, 25jaar gelede, trek 96 afstammelinge saam. Meeste van hulle is reeds oorlede. Hierdie naweek se 43 familielede wat saamtrek, hou steeds die Oberholzernaam hoog.

Met ons gemeente se nagmaalviering tydens opstandingsondag, aanbid 83 mense saam danksy die uitgebreide Oberholzerfamilie.  Die kerk was lanklaas só vol.

Daarna verkeer ons, soos na elke nagmaal, gesellig in die kerksaal saam.

 

Tilla, haar ma Martie en Sannatjie sorg vir skaapboud, hoender, kwepers, groenboontjies, soetpatas, aartappeltjies met knoffelbotter, rys en sous,  slaai en malvapoeding met vla.

So ietsie, tong in die kies, oor die belangrikste mense van die naweek:

Die Oberholzers

Miskien het jy dalk al gehore

van die Borsels met die Ore.

In die omtes word geglo

net húlle tem die Bo-Karoo.

Plase staan al vir geslagte.

Om te boer is dus te wagte.

 

Almal stam van een gesin

wat desjare hier begin.

Pa en ma, met kinders tien

was toe as algemeen gesien.

Stoere Martha en Ou Pa

het goeie waardes oorgedra

 

 

Alucius en ook Herculina.

Ignatius en Catharina.

Familiename sal bly staan

tot Oberholzer eens vergaan.

Al is jou van ook Avenant

is jy tog êrens ook verwant.

 

Klein begin hul op die Lande.

Kry tog weldra grond ter hande.

Swoeg en sweet om uit te brei

en meer grond word so verkry.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

 

Weduwees word bygestaan

sodat die plaas kan voortbestaan.

Seuns neem oor – dis die behoud

want vaders word glo nie so oud.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

Met stemme wat jy ver kan hoor

neem hierdie mense maklik voor.

Almal is groot van postuur.

Dis gene wat al jare duur.

Indien jy dalkies hieroor wonder

Doupie word hier uitgesonder.

 

In hierdie dorp staan hulle uit

as mense wat oor als besluit.

Tradisievas, die  familie stoer

wat almal in Vanwyksvlei boer.

Indien jy dalkies hieroor wonder …

niemand word hier uitgesonder.

‘n Tragiese Verhaal van Verspeelde Kanse

Eendag, nie so lank, lank gelede nie, is ‘n prinsessie gebore. Haar naam was Prinses M. Haar ouers, wat in die Gange in Vanwyksvlei gewoon het, was oorstelp van vreugde.

13265923_881007542045761_745204177575354574_n

‘n Ruk later, in daardie selfde jaar word nog ‘n prinsessie gebore. Haar naam was Prinses J. Ook haar ouers, wat in die Kroek in Vanwyksvlei  gewoon het, was in die wolke oor die wonderlike toevoeging tot hulle gesin.

Albei ouerpare het, ten spyte van hulle omstandighede, hierdie prinsessies oorlaai met liefde en versorging. Omdat hulle nou nie juis in koninklike paleise gewoon het nie, kon hulle nie altyd aan hierdie twee prinsessies gee wat hulle hartjies begeer het nie. Tog, danksy die regering se kindertoelae en die skoffelwerkie van die staat, het hulle altyd genoeg gehad om van te lewe en kon hulle onbesorgd groot word tussen al die ander kindertjies wat in Vanwyksvlei opgegroei het.

Op ‘n dag, nog voordat Prinses M kon begin skoolgaan, sterf haar mamma en laat haar en twee ander susters alleen agter by hulle pappa. Op daardie stadium het hulle pappa in die myn by Copperton gewerk en moes van Maandag tot Vrydag die dogters alleen agterlaat om na mekaar om te sien.

Prinses J se pappa weer, het hulle verlaat. ‘n Ander oom het by haar mamma ingetrek. Elkeen se swaar op so ‘n bloedjong ouderdom het hulle na mekaar gedryf. Hulle word beste maatjies. Doen alles saam. Saam-saam is hulle Gr 1 toe.  Altyd aan mekaar se sy.

Maar, soos dinge maar gaan in die Kroek en in die Gange in Vanwyksvlei (en seker op baie ander plekke),  is alles nie altyd goed en gelukkig en mooi nie. So begin gebeur die lewe met hierdie twee prinsessies. Hulle ervaar dat daar ‘n slegte kant is van die lewe. Voordat hulle lewens nog behoorlike kon bot soos roosknoppies, word hulle steeltjies al gebreek.  Sonder die nodige kundige begeleiding  en ondersteuning, probeer die twee prinsessies om maar self die seer en ontugtering te hanteer.  Hulle is skaars 13 jaar oud en saam met hulle nuwe liggaamlike ontwikkeling,  begin droom hulle van ontvlugting na ‘n beter lewe met beter omstandighede en beter geriewe.

Dis ook nie lank daarna nie, dat ‘n nare feë hulle voorlê. Haar naam was Ca Nnabis. Ewe besorgd oor hulle geluk, bied hierdie slegte feë aan om eensklap hulle ongeluk in geluk te verander met die swaai van haar towerstaf. Wat sy nie vir hulle gesê het nie, is dat ‘n eenmalige swaai van haar towerstaf nie permanente geluk kan bring nie. Gevolglik moes hulle weer en weer die nare feë gaan opsoek om net bietjie verligting van die seer en die swaar te kon beleef. En elke keer, met elke besoek, het die nare feë se fooi gestyg.

Wat hulle nie geweet het nie, was dat die nare feë maar net ‘n dienskneg was van ‘n ander bose feë Haar naam was Ma Ndrax. En baie subtiel bied die nare feë eendag, toe hulle wéér nie kon betaal nie, die dienste van die bose feë aan. Dis gratis!

Die bose feë se towerstaf werk wonderlik. Eufories word hulle na ‘n ander droomwêreld heen gevoer.

Met hulle volgende besoek aan die bose feë, is haar dienste skielik baie duur. Hulle het nooit die fynskrif gelees nie – net die eerste diens is gratis! Boonop is die nare feë skielik ook nie meer so goedkoop nie.

Omdat nie een van die prinsessies uit ‘n paleis met baie middele kom nie, begin hulle toe wyer soek na dit waarmee hulle die nare feë en die bose feë kan vergoed vir hulle dienste. Dit kos toe baie waagmoed, maar ‘n keer of wat kry hulle dit baie suksesvol reg om genoeg in die hande te kry. So raak hulle albei later baie vernuftig om te kry, sonder om uitgevang te word.

Op ‘n dag, in die laaste week van die skoolvakansie dwaal hulle honger en hoogs verveeld straataf . Hulle het al gehoor dat die juffrou by die pastorie maklik ‘n stukkie brood of ‘n koekie gee vir kinders wat honger is. So besluit hulle om daar ‘n draai te maak. Maar daar is g’n lewe nie. Hulle loop om die huis. Klop aan die deur. Nee. Niemand.

Toe kry Prinses J ‘n goeie plan. Daar’s nie ‘n voertuig nie, wat beteken die dominee en Juffrou sal nie gou by die huis wees nie. Hulle gebruik net die voertuig as hulle weggaan. Andersins stap hulle sommer waar hulle wil wees in die dorp. So, daar sal genoeg tyd wees om gou te gaan kyk vir ‘n stukkie brood. Of iets om die nare of die bose fee mee te betaal …

Prinses J tel ‘n boomstomp op en klits die onderste ruit van die TV-kamer daarmee uit. Die slag is oorweldigend en prinses M druk haar ore toe. Maar toe sy weer sien, klouter Prinses J deur die gat. “Kom!” skreeu Prinses J,  “ kom kyk!!”

Prinses M klouter ook veilig deur. “Jou voet bloei, Prinses J” merk Prinses M op.

“Ag dis niks, net ‘n klein snytjie. Kom ons gaan kyk.”

Hulle kan hulle oë nie glo nie. Dis ‘n yslike huis met báie kamers. ‘n Enkele kamer is amper groter as hulle hele huis in die Kroek.  Meer as een badkamer met  lang baddens en ‘n spoeltoilet in elk. Self ‘n stort ook nog. En ‘n wasbak. In die kamers staan massiewe beddens met mooi linne. Spieëltafels  met gróót spieëls.

Hulle ondersoek die huis verder. In die studeerkamer is rakke met baie boeke. Twee lessenaars met draaistoele. Hulle begin laaie ooptrek. Dit word ‘n wonderlike ontdekkingstog. Terwyl die een nog laaie deursoek, is die ander een al in die sitkamer. Maak kasdeurtjies en laaitjies oop.

“Kroon! Hier’s baie kroon!”  skreeu die een uit die studeerkamer. In die dominee se laai is koevertjies met Oom Boy se naam op. “En ‘n selfoon!” Maar die selfoon werk nie. Dis nie ‘n probleem nie – hier is dan ‘n charger.

“Hier’s ook kroon!” skreeu die ander een uit die eetkamer wat op ‘n blik in die buffet afkom met geld in.

Hulle pak dit op die mat in die sitkamer uit. “Hiermee kan ons baie keer by Ca Nnabis  en Ma Ndrax gaan kuier!”

Vol bravade soek hulle verder.

Die uiteinde is ‘n groot partytjie. Onbeperkte toegang tot baie drank, koekies, kondensmelk, versiersuiker, glanskersies, vrugte …

Nou het hulle baie moed. In die hoofslaapkamer pas hulle die juffrou se onderklere aan. Paradeer daarmee op die bed en neem van hulself foto’s met die selfoon. Leë bierbottels staaan oral. Nou is dit ook nie meer lekker nie. Takel ‘n bottel 2012 Spier sjampanje en elk gaan lê in ‘n bad met ‘n glas vol soos hulle al op TV gesien het.

Dit is seker ‘n goeie paar uur later wat hulle uiteindelik, in ‘n besope toestand, by die gat in die ruit uitkruip. Elk met ‘n sak gelaai met kroon, make up, creams en sprays en baie juwele.

Maar hulle word, met alles in hulle besit, op heterdaad betrap.

Toe dominee en die juffrou laat die aand terugkeer uit Upington van hul kleinseun se doopplegtigheid, wag die polisie hulle in. Die huis is in absolute chaos. Bloedspore op die matte. Leë drankbottels in feitlik elke vertrek. Vuil baddens. Taai gemors en vuil skottelgoed in die kombuis.

Vroeg die volgende oggend is die polisie terug met Prinses M en haar pappa, asook Prinses J en haar mamma. Daar word gepraat oor die opsies vorentoe. Meeste van die verlore goedere is teruggekry, die ouers kan nie ‘n nuwe ruit vanuit Prieska bekostig nie. Die prinsessies is nog te jonk om toegesluit te word. Dus sal hulle maar moet werk vir die ruit. Die hele week. Nie dat werk ‘n straf is nie, dis al manier om die ruit te kan bekostig – en dit sal hulle van die straat afhou. Geen skoolvakansie verder vir dié tweetjies nie! Die ouers stem in en die dominee doen ‘n gebed vir almal.

Hulle val toe sommer dadelik in om hulle eie gemors op te ruim, want die juffrou het nie ‘n bediende nie.

“Het julle al vanoggend iets geëet?”

“Nee Juffrou.”

Die juffrou bring vir hulle tee en beskuit waar hulle in die TV-kamer besig is om die glasstukke van die gebreekte ruit op te vee. Op ‘n skinkbord. ‘n Porselein teepotjie.  Melk en suiker apart. Hulle moet soos prinsesse kan voel, nie soos honde nie, want ‘n nuwe era het mos nou begin…

P1420134

Prinses M maak die kombuis skoon terwyl Prinses J die bloedspore van die matte afskrop. Die juffrou deel werk uit. Hulle bly heeloggend besig.

Die dominee werk in die garage en die juffrou op die rekenaar. Sy moet dokumente aflaai en besef dat al haar datastokkies weg is. Sy roep die dominee om te hoor of hy dit dalk gebêre het. Ook syne is weg. Selfs die nuwes wat nog in hulle verpakkings was. Die dominee is kwaad en roep die twee prinsesse. Raas. Verduidelik dat al hulle inligting, asook die kerk s’n op daardie stokkies is. Die prinsesse weet van niks. Weet nie eens wat memory sticks beteken nie. Dominee waarsku. “As dit nie môre-oggend 8 uur hier is saam met die hangertjies en die naelknippers wat nog soek is nie, sal ons maar moet oorweeg om tog ‘n saak te maak.” Die prinsesse pleit onskuldig.

Later berei die juffrou middagete voor. ‘n Tafelgebed word gedoen en die twee prinsesse eet saam met die dominee en die juffrou in die kombuis. Tussen 1 en 2 mag hulle huis toe gaan om presies 2uur weer in te val.

Dis amper half 3 toe die twee aangeslenter kom. Elk met ‘n stokkielekker in die mond. Juffrou raas oor hulle laat is. Hulle val weer in. Kort-kort moet Juffrou vir Prinses J terugroep na haar werk. Sy’t momentum verloor en dros telkens terug na waar Prinses M skoonmaak.

Tannie Rachel daag op wat ‘n pakkie by Juffrou moet kom kry. Juffrou laai vir tannie Rachel in die bakkie om haar huis toe te vat met die pakkie. Prinses J staan nader. Sy haal R20 uit haar bra. “Koop vir ons elkeen ‘n pie.” Juffrou ontplof amper oor die blatante manier. “Gaan aan met die meubels. As jy klaar is in die sitkamer, politoer jy die bank in die voorportaal.”

Oppad terug van tannie Rachel gaan verneem  die juffrou of die datastokkies nie dalk nog by die polisiestasie is waar hulle die gesteelde goedere gehou het nie. Die speurder is kwaad toe hy hoor dat dit ook weg is. Hy kom praat met die twee prinsesse. Verduidelik vir hulle hoe belangrik sulke datastokkies is. Hoe daardie inligting nooit weer teruggekry kan word as dit eers weg is nie. Hy verduidelik dat dit nie kan wag tot môre-oggend 8uur nie en staan op. “Ons gaan dit nóú haal.”

Prinses M staan saam met hom op en binne 10 minute is hulle terug met al die verlore datastokkies. “Nou verduidelik vir my waarom lieg julle so blatant dat julle dit nie gehad het nie!” wil die dominee kwaai  weet.

Die dominee vra vir die juffrou die strokies van die aankope wat sy in Upington vir Sondag se gemeente-ete gedoen het. Maar  haar beursie is dolleeg! Sy kan nie onthou waarvoor het sy dan so baie geld uitgegee nie. Het sy dan kontant betaal vir goed wat sy met die kaart moes aankoop? Waar sou sy dan haar kontant ingedruk het?

“Prinses J, was jy in my beursie?”

“Nee juffrou!” met die onskuldigste gesig wat jy kan kry. “Daai R20 het my ouma vir my gegee toe ons nou by die huis was.” Drie keer vra die juffrou haar  en elke keer ontken sy.

Die dominee en die juffrou moet uitry na ‘n plaas toe na mense wie se huis die naweek afgebrand het. Hulle laat loop die twee prinsesse vroeg sodat hulle kan klaarmaak om te ry. “8uur op die kop môre-oggend. Julle is nie laat nie en julle bring alles terug wat aan ons behoort wat nog by julle is, gehoor.”

Met die regmaak om uit te ry plaas toe, kom die dominee af op die verlore hangertjies en naelknippers van die juffrou in sy bedkassie. Dit was nie vroeër die middag daar toe die juffrou sy liddoringpleisters vir hom daar gaan insit het nie…

Oppad plaas toe, herroep die juffrou haar laaste inkopies en onthou, na aanleiding van die kleingeld wat uitgekeer is, dat daar presies nog R180 in haar beursie moes wees. Sy is kwaad. Sy en die dominee besluit om die prinsessies die volgende oggend nie weer in die huis toe te laat nie.

‘n Halfuur laat kom die tweetjies die volgende oggend vrolik daar aan.

P1420605

Die juffrou groet vriendelik. Vra hoe was hulle nagrus. Verneem hoe dit by die huis gaan. Verneem ook of hulle iets van die verlore goedere teruggebring het. Niks.

“Vandag sal julle in die warm son werk. Elke ruit aan die buitekant was. Vir julle eie kos en drinkgoed verantwoordelik wees. Nie julle voete weer in die huis sit nie, want ek vertrou nie een van julle meer nie.” Die speurder daag op. Praat mooi met die twee oor die geld wat weggeraak het. Vra uit na waar hulle die vorige middag stokkielekkers gaan koop het. Sê toe dat hy maar dáár sal gaan verneem met watse geld hulle daarvoor betaal het. “Ons het dit betaal met die R20 wat my ouma gegee het”  sê Prinses J.  Regtig? Watter ander R20 het sy dan aangebied vir pies?

Prinses  M besef dat hulle nou vas is. Sy kom uit met die sak patats. Toe hulle die vorige dag huis toe is, het Prinses J nog R150 by haar gehad.  Saam met die stokkielekkergeld en die piegeld, maak dit op vir die verlore R180. Maar daar’s niks daarvan oor nie. Volgens hulle het hulle brood en polonie daarmee gaan koop, maar eintlik het hulle ‘n besoek aan die bose fee gebring.

“Nou luister,” gaan die speurder voort, “as julle vanmiddag hier uitval, kom julle direk stasie toe. Ons gaan julle vingers vat. Daar is nog te veel onopgeloste sake in die dorp. As die vingers ooreenkom met ander misdaadtonele, sal ons julle maar moet toesluit.”

“Prinses J,” sê die juffrou, “dink jy ek is ‘n ҏðɝᵽṏᶅ dat jy jou aan my kan afvee en as ek my rug draai my nog verder kan besteel? Ek wil net vir jou sê, die saak is glad nie tussen my en jou nie. Wys maar vir my middelvinger. Vee maar jou ᵷᶐᵵ af aan my. Wat jý besluit om met die tweede en derde kanse in die lewe te maak, is nie mý verantwoordelikheid nie. Ek kan my nie verknies oor jóú keuses nie.  Die saak is tussen my en die Here. Want eendag sal ek moet verduidelik waarom het ek nie vir ‘n klein prinsessie in Vanwyksvlei ‘n tweede, selfs ‘n derde kans gegee het nie. Dít nadat Hy vir my soveel kanse in die lewe gegee het.”

Die twee prinsesse het swaar gewerk tot 1 uur.

Na 2nm het hulle nie weer teruggekom nie …

 

Klein Insidente, Groot Impak (II)

In ‘n vorige blog, omtrent 8 maande gelede, vertel ek van ‘n foto, geneem in die gange in Vanwyksvlei van Rachel, wat ‘n skildery word. Uitgestal by Kirstenbosch Gardens.

Nou het die skildery verkoop en Helena, die skilder, skenk goedgunstiglik die helfte van die bedrag. Ek moet dit gebruik na eie oordeel om brûe te bou na hierdie randfigure in die dorp.

Met ‘n besoek aan Rachel, om te hoor wat sy nodig het, vra sy: “Net ‘n kossie asseblief Juffrou. My man het mos  omlangs gedood. Nou’s dit net ek alleen en ek trek swaar sonder hom.”

P1420137

Met ons onlangse rit Upington toe, maak ek vir haar ‘n kossie op en gaan oorhandig die pakkie.

Moenie ontsteld wees nie; die inhoud is nie van Spier nie. Maar Spier speel ‘n rol in die storie. Want my pad kruis met Helena s’n omdat ons albei ‘n dogter het wat by Spier werk.

Rachel wil nie die inhoud dadelik uitpak om te kyk nie.  Te veel toeskouers in die omtes.

Surrogaat hen

As ‘n hen besluit sy het lank genoeg gebroei en sy staan op voordat al die eiers uitgebroei is, breek dit my hart. Mens kan mos nooit die transformasie wat daar plaasgevind het net sommer so laat vaar nie. Veral nie as die dop gepik is en jy alreeds die kuikentjie daarbinne kan hoor piep nie!

20170404_085425

Basta hen, ek is nie ‘n hoender nie, maar ek kan broei as ek moet!

As mens nie die kuiken kan hoor nie, werk dit om die eier in ‘n glas water te toets. Ek dink dis vriendin Elna wat my dit geleer het. As die eier in ‘n glas water stil lê, is die eier waarskynlik vrot of die kuiken dalk dood. Maar ‘n lewendige kuiken se bewegings binne-in die dop, laat wip die eier op en af in die water. Hoe lank voordat die eier uitbroei, kan die glasietruuk ongelukkig nie uitwys nie. Dus broei ek maar voort aan so ‘n eier.

Vir my werk dit om die eier in ‘n foeliesakkie (dié waarin teesakkies verpak word) met ‘n pleister onder my hart vas te plak. Met my hemp bo-oor, kan niemand sien ek broei nie. Ongelukkig is ek nie goed genoeg bedeeld om die eier tussen my boesems in te druk nie.

20170403_160935

Ek het al menige kuiken so uitgebroei terwyl ek skoolgehou het.  Een het uitgebroei terwyl ek ‘n vriendin ondersteun het in Unitas hospitaal toe haar kind onder operasie was (dis sekerlik die eerste kuiken ter wêreld wat in ‘n hospitaal gebore is). Selfs in die erediens het ek al gesit en broei. Nie net hoenderkuikens nie. Selfs  ganseiers en eendeiers het ek al so gered. ‘n Volstruiseier sal ek liewer op ‘n ander manier probeer uitbroei …

Die probleem kom as die kuiken teen slaaptyd nog nie uitgebroei het nie. Mens slaap maar moeilik met ‘n eier teen jou pens vasgeplak. Dis dan wanneer ek die hen weer gaan leen vir die nag. Sy sien nie wat ek in die donker onder haar indruk nie. Mens moet dan net voor die hen op wees die volgende oggend, voor sy dalk die vreemde kuiken bykom of die eier koud in die nes agterlaat.

Mens kan altyd ‘n ander hen wat broei gebruik. Maar as haar eiers nog ver van uitbroei is, en sy besluit om op te staan nadat jou eier uitgebroei het, sit jy met ‘n groter probleem as wat jy gehad het. Nee, broei liewer self.

Om surrogaat hen te speel, is maklik. Mens hoor gedurig die kuiken piep in die dop. Dis wanneer hy ernstiger begin piep dat jy weet die geboorte is naby. So het ek op ‘n keer tydens ‘n vergadering gehoor my kuiken gaan kom. Gelukkig was die vergadering aan die klaarmaak. Ek vra toe ‘n oomblik van gewyde stilte en bring my eier tevoorskyn. Op daardie presiese oomblik breek die dop dramaties in twee en val die kuiken onvas uit die dop. “Nóú,” sê die voorsitter, “het my oë álles gesien!”

20170404_071358

Dit vat ‘n paar dae van voer totdat die kuiken sterk genoeg is om by die res van die span kuikens wat voor hom uitgebroei is, aan te sluit. Eiergeel en geweekte katpille kry ‘n kuiken gou op die been. Weer eens druk mens maar net weer saans die kuiken onder die niksvermoedende hen in. Teen sonop die volgende oggend besef die hen nie dat sy een meer kuiken bygekry het nie. En die kuiken aanvaar die nuwe gesin as vanselfsprekend.

In Vanwyksvlei in die pastorie is daar tans weer iets besig om uit te broei …

Ware Oos

Dis hoe die son vanoggend oor Vanwyksvlei opkom. Presies, presies Oos.

P1410658

Vandag gaan net so lank wees soos vannag

Met die son presies in die ooste, gloei die grafte vanoggend in suiwer goud. Dis ‘n skouspel. ‘n Tafereel van gloed vir ‘n oomblik, en dan is dit weer verby. Amper soos ‘n salwing oor hulle wat was, lank lank gelede. So lank gelede soos nog in die 1800’s.

 

Hier rus groot geeste van weleer wat ook vanoggend baai in die oostergloed.

 

Ek wonder hoe dit gaan wees as al hierdie grafte, en ander reg oor die aarde, op een oomblik eendag, gelyktydig oopgaan en die aarde sy dooies teruggee (Joh 5:28,29 en Hand 24:15).

Vir die dag van oordeel

Skaapafval

P1410188

“SeënVaderwatonseet. GeedatonsUnooitvergeet.” Dan sug Oupa die “Amen” agterna uit – mens hoor net die A…

Pa dra vir Ouma die groot ysterpot met die afval van die koolstoof af tafel toe. Sy stoot die plankie waarop die pot moet staan vir hom nader. Die hingsel van die ysterpot klink teen die tafelblad toe Pa hom neersit. Ouma lig die sware deksel op met ‘n vatlap; loop kombuis toe met die deksel onderstebo waarin die stoom opdam. Geurig stoom die kerriereuk soos die offerrook van Abel na die plafon waaraan ‘n enkel gloeilamp hang.

Ma sit die enemmel skottel met spietwit uitgeswelde stampmielies voor Oupa neer. Hy begin skep. Daarna skep Ma ons vyf se borde boepensvol met stampmielies. Sy deel die vleis regverdig tussen ons vyf borde. Elkeen kry ‘n groot skep geel pensvel met die mooiste fatsoen blokkies daarop. Sy druk die lepel diep in die stampmielies sodat die sous in ‘n krater lê. Dan skep sy vir ons elkeen ‘n lepelvol beentjies om af te suig daarby. Elkeen kry eweveel aartappeltjies.  Oupa het dit nog self vanoggend vir Ouma gaan uitspit. “Kleintjies, hoor jy , Tom. En hou hulle heel” het sy agterna geroep. Die sakkie met harsings is vandag spesiaal vir Pa.

Ouma sny solank die groot koepelbrood. Die kors knars onder haar mes. Krummels spat op die tafeldoek. Pa kry ook die korsie. Hy smeer die plaasbotter dik. Vat solank ‘n hap nog voordat hy die afval geproe het.

Ma skep die fyn stowekwepers langs ons bergies stampmielies. Die soet pienkerige stroop meng met die geel kerriesous van die skaapafval. Oupa suig behaaglik aan die beentjies. Klap sy tong hoorbaar na elke happie. Vee onnodig hard die kerriesous uit sy grys baard met die jammerlappie.

“Ma, dit smaak vorentoe” komplimenteer Pa vir Ouma. Sy glimlag skalks. “Ek soek nog die mens wat Ma kan oortref as dit by kook kom.” Nou glimlag Ouma breed. Maar sy hou haar besig om die brood vir ons te help smeer.

“Kwepers Pa?” vra Ma.

“Nee dankie kind. Na ete met room.”

My maag bult maar ek móét hierdie laaste afvalsousie met my brood opvee.

“Sias van die koöperasie het toe daai trekker bestel lig Oupa vir Pa in. “Sê hy behoort aanstaande week op die stasie aan te kom.”

“Dis goed Pa” sê Pa. “Daai trekker sal ‘n groot aanwins vir Pa wees hier op die plaas.”

Die telefoon in die gang lui ‘n lange en twee kortes. Dis nie Ouma-hulle se lui nie. Ons eet rustig voort. Oupa slaan met ‘n vlieëplak na ‘n lastige vlieg. Hy is gereed vir sy kwepers en vars room.

Ons kinders praat nie. Dis ongehoord. Maar ons baai ons in die genoeglike samesyn om die groot ou geskropte houttafel. Soos elkeen van ons ons bordjies leeg eet, bedank ons Ouma opreg vir die heerlike kos soos Ma ons aangesê het om te doen. Heerlik was dit voorwaar. Ek wens ek het nog plek vir ‘n halwe snytjie brood met taaipit perskekonfyt. Maar ek kry nie eens my glas melk opgedrink nie. En hier by Ouma betaam dit nie om iets halfpad te los nie. Net die beentjies word uiteindelik uitgekrap vir Lêssie, Oupa se skaaphond.

“Virwatonsnoukongeniet, geeonsUlofeerendank. Voedooksoonsesielemetdiebroodvandieewigelewe. Amen.”

P1410460

Hierdie stuk het ek as opdrag geskryf tydens ‘n skryfskool wat ek bevoorreg was om by Riana Scheepers by te woon. Haar kommentaar hierop: my hart gaan staan. Komende van iemand wat kan skryf en wat kan SMEUL oor kos, plaas ek dit hier nadat ons vandag gesmul het aan aan die skaapafval van die hamel wat Vasie dié week vir ons geslag het.

P1410449

En wat Sara vir ons geskraap het.

Vanwyksvleidam

p1400988

Hierdie dam is die oudste staatsdam en is nog met pik en graaf gemaak

Ons dorp het ‘n dam. Ook ‘n doodlekker dam maar nie een waar meisies hulle hare was en kam nie.  Dis te modderig. Flaminke en ander watervoëls gee  egter nie veel om daarvoor nie. Tog is dit al vir baie jare’n lekker plek vir die dorpenaars om te gaan uitspan.

l1150247

Ons dam is egter ouer as Boegoeberg se dam of die Vaaldam of die Gariep of enige ander staatsgeboude dam want ons dam staan al van 1884 af.

‘n Week terug ry ek en Johan dam toe vir ‘n sonsaksopie. Daar’s nie ‘n druppel in die dam nie. Al vir lank is die dam so droog.

Gisteroggend swem Ernst (van Wegry – Agterpaaie faam) lekker in sy onnie in die water, want die dag vantevore het dit in die omtes gereën en die dam het water so ver die oog kan sien.

p1390514

 

 

Sien, hierdie dam is so slim ontwerp, dit kan enige plek in die omgewing reën, dan word die dam gevoed. Die koppies in die omgewing vorm ‘n natuurlike kom wat enige reënwater afvoer dam toe. Al lyk dit nie na ‘n indrukwekkend ontwerpte opvangdam nie.

p1400986

Enige bui in die opvangsgebied se water vloei uiteindelik in die dam

‘n Skot met die naam van Garwood Alston kry al die lof vir hierdie stuk ingenieurwerk. Hy was ‘n landmeter wat hom ook as boukundige ingenieur bekwaam het.

In 1856 kom hy as 18-jarige na Suid-Afrika. Hy kry vir hom ‘n boere meisie, Lizabeth Peronella de Wit. Hulle trou in 1860 en 9 kinders word uit hulle huwelik gebore. Nadat hy ‘n hele klomp opmetingsprojekte gedoen het vir die spoorweg, kom woon hy en sy familie op ‘n plaas in die gebied van Vanwyksvlei. Dis hier waar hy die moontlikheid raaksien van ‘n opgaardam. Suid van die dorp lê die randte in ‘n formasie sodat dit ‘n groot opvangsgebied vorm.

l1130232

Van bo van Frankieskop af, kan mens duidelik sien van waar orals die water dam toe vloei

En wyd om die dorp is die moontlikheid groot vir landerye wat met die opvangswater natgelei kan word. Hy lê ‘n konsep van die dam voor en dit word in 1879 ondersoek. Dit word goedgekeur en die bouery begin in 1882.

Die dam word gebou met pik en graaf. Osse, muile en donkies word ingespan om die dam te skraap.  Bakskrapers en wielskrapers word gebruik. ‘n Wal van 9,7m word aan die westekant gebou met ysterklip wat per slee aangekarwei word uit die omgewing. Hierdie wal is 311m lank. Die hele dam word uitgevoer met potklei uit die omgewing wat ook per trekdier aangery moet word. Dit keer dat die water te gou weer wegsyfer.

‘n Toring word met klippe wat van Frankieskop af kom, gebou. Dit word met bokwaens en donkiekarre aangery.  Die toring is hol en het ystertrappe aan die binne- sowel as die buitekant om teen die toring te kan opklim. Vyf staalsluise wat in 1883 Engeland gemaak is, word aangebring op die toring. Dit kan met sleutels wat 1m lank is, oopgedraai word. Hierdie sluise laat water deur aan die kant van die toring en onderdeur die toring. Teen die toring  word ‘n gekalibreerde plaat aangebring waar die hoogte van die watervlak gelees kan word. Die hoogste merk staan op 8,2m.

‘n Probleem duik op om die toring te bereik as die watervlak met 4m styg. Daarom word ‘n staalbrug gebou om vanaf die damwal tot op die toring te strek. Hierdie konstruksie kom op Carnarvonstasie aan en word met donkiewaens aangery Vanwyksvlei toe. Die hele kontrêpsie word langs die dam aanmekaar gesit en met toue opgehys en in posisie vasgebout.  Dis deesdae ‘n lekker plek om te gaan foto’s neem.

l1170085

Kanale vanaf die dam voer water na gebiede rondom die dorp waar daar sowat 9 morg grond per persoon uitgemeet word om te begin verbou. Dit is ‘n enorme groot taak om al die lande uit te meet, die kanaal groot genoeg aan te lê sodat die boere naastenby gelyktydig water kan kry omdat die plantseisoen bitter kort is. Dan moes daar nog ‘n ekstra opgaardam aan die eindpunt van die kanaal gebou word om al die oortollige waters op te vang vir gebruik vir mens en dier. Neem nou in ag dat hierdie gebied geen standhoudende rivier het nie. Buiten die kanaal wat die lande van water voorsien, word ‘n kanaal gebou wat die dorpsmense van leiwater moet voorsien het. Tientalle windpompe word aangebring in hierdie kanaal om water tot in elke erf se dam te pomp.

Daarbenewens word ‘n kanaal van bykans 12km vanaf die Carnarvonleegte aangelê. Hierdie kanaal voer meer as 44 000 kiloliter water na die dam die paar dae in die jaar wat dit wel loop.

Garwood Alston is nie net ‘n landmeter en ‘n bou-ingenieur nie, hy is beslis ook ‘n visioenêr. Maar hy word nooit ‘n miljoenêr nie, want die hele bou van die dam, die damwal, die toring en sy brug en al die  kanale, met die besoldiging van al die werkers wat vir meer as drie jaar daaraan bou, kos die goewerment daardie jare glo net in ponde wat gelykstaande is aan R66 000.

20170216_191113

‘n Kykie oor die dam se opvangsarea