Die Fietswiel

Terwyl Johan by die Sinodesitting in Kimberley is, betree iemand weer ons eiendom en steel Johan se fiets se agterwiel helder oordag uit die garage van sy fiets af.

Ek reken dit moes Dinsdagmiddag gebeur het want die oggend nog staan die fiets op sy twee wiele en die aand het dit gereën. Geen spore is sigbaar in die modder nie. Ek ontdek dit eers Woensdagmiddag toe ek wou ry om veldplante te gaan uithaal in die veld na die reën. Daar staan die fiets op sy kop en die wêreld lê besaai met allen keys. Ek rapporteer dit by die polisiestasie.

Omdat ek nie wil inbreek maak op die gees van die Sinode met slegte nuus nie, besluit ek om maar die nuus terug te hou tot Johan terug is. Later besef ek dat hy ‘n nuwe wiel sal moet koop terwyl hy nog in Kimberley is.

Soos ek verwag het is hy ontstoke. Ek kry vir my oor ek nie die garagedeur gesluit het nie.

Terug in Vanwyksvlei gaan maak hy ‘n saak by die polisie sodat hulle dit kan ondersoek. Die nr 15 sleutel se plekkie in die netjiese ry sleutels is ook leeg. “Ek lê maar ‘n verklaring af. As julle die wiel kry is dit nog iets vir julle statistieke” spot Johan so ewe. Daar’s nie veel mense in Vanwyksvlei wat ‘n agterwiel met sewe ratte kan gebruik nie.

Net na twee lui Johan se foon. Dis Mervin, die speurder: “ Dominee, ek het jou fiets se wiel gekry. Ek wag nog net vir die nr 15 sleutel dan bring ek dit saam met die skuldige.”

Hy’s ‘n Gr 4-leerder. So oud soos ons oudtse kleinseun. Dis dieselfde gesiggie wat al hoeveel keer kom brood vra het by die voordeur. Karel (nie sy regte naam nie). Sy ma het saamgekom en staan boos eenkant saam met die speurder. Skel af en toe op hom: “Kyk die mense in die oë!” “Lig op jou kop dat ons kan hoor wat jy sê!”

Dis nie die maklikste wiel om af te haal en op te sit nie. “Toe Ouboet,” sê Johan, “sit hom terug dat ek kan sien hoe doen jy dit.”

Sonder moeite werk hy die ketting oor die ratte. Sit die wiel terug. Konnekteer weer die remme. Dis nie die eerste keer dat hy dit doen nie.

l1180117-blurlaaste

“Ek vra nou die dag vir hom waar kom die wiel vandaan. Hy ry die hele wêreld vol met sy fiets en ek weet mos sy fiets het nie ‘n agterwiel gehad nie” vertel sy ma.

Johan vat die knaap om die skouers en druk hom teen hom vas. Begin met vaderlike teregwysing. “Ouboet, hou seblief op met steel. Anders word jy net groot om jou lewe in ‘n tronk deur te bring.” Johan word nie kwaad nie. Raas nie met die kind nie. Dreig hom nie. Sê hom nie sleg nie. Praat net rustig met hom soos ‘n pa (wat hy seker nie het nie) veronderstel is om dit te doen. Moedig hom aan om weg te bly van maats met verkeerde invloed en aandag te gee aan sy skoolwerk sodat hy eendag êrens kan kom in die lewe.

editted2

Terug in die huis, vertel Johan hoe de vieste in hy was toe hy hoor die wiel is weg. Hoe hy gedink het wat hy met die dief sou maak as hy hom in die hande sou kry. Maar hoe die Vader hom tot ander insigte bring toe hy vroeg die volgende oggend sy Bybel vat en stil word: “Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra …” (Fil 2:15 e.v.)

“Dis of ek die versekering kry dat ek my wiel sal terugkry. My taak is nie om te vergeld nie maar om die lig uit te dra.”

Mag klein Karel tog ‘n stukkie van die lig sien deurskemer …

Skool-skool

 

Na jare van onderwys, neem Rina die plaas Springbokoog oor toe haar bejaarde pa sterf. Vir 23 jaar boer sy vrou-alleen. Nadat sy die plaas verkoop, vestig sy haar op die dorp. “Dan kan ek net sowel weer begin skoolhou…”

Juffrou Rina open haar huisskool aan die begin van 2016 met net een Gr. 3 leerling. Die leerder se ouers kon, met die massiewe lading plaaswerk, nie meer self haar tuisonderrigprogram voortsit nie. Na die eerste kwartaal groei Juffrou Rina se skool met 100% toe nog ‘n Gr. 3 dogter tot die skool toegevoeg word.

Hierdie tweetjies kry die volle kwota aandag wat ‘n kind kan begeer om te kry. Rina vertel graag hoe hierdie twee sedert die begin van die jaar ontwikkel het. Veral hulle selfvertroue en syfervaardigheid. En vir die Engels is hulle nie meer so bang nie. Mens sien dikwels Juffrou Rina se skool êrens in die dorp doenig – of besig met dataversameling van huis tot huis of op toer na die poskantoor of die munisipale biblioteek. Pouses verpes hulle Juffrou Rina se troeletdiere, loop beroof die lêhenne van hulle eiers in die hoenderkampie en oes ietsie uit Juffrou se blommende potplante.

“Chris-Marie, as jy één ding van Juffrou Rina moet sê, wat sal dit wees?”

“Juffrou Rina is die heel beste” kom dit sonder huiwering.

l1140450

 

Juffrou Carol begin sowat 6 weke gelede, met die hulp van Magriet, ‘n kleuterskool op die dorp. “Hier is 105 kinders tussen 2 en 5 jaar op hierdie dorp met geen voorskoolse opvoeding nie. Wat gaan van hulle word?” Een keer per maand besoek ‘n mobiele kleuterskool die dorp vir 2 dae. Wat kan hulle vaslê? Baie speelgoed en kospakkies kom saam met die amptenare van Maatskaplike Ontwikkeling vanaf De Aar.

So begin Juffrou Carol om kennisgewings in die dorp te versprei. ‘n Vertrek by die plaaslike ACVV-gebou (voorheen die meisies-koshuis) word aan haar toegeken. ‘n Week later begin sy en Magriet met ‘n handjievol  kinders ‘n kleuterskool op ‘n perseel – verder niks. Gemeentelede bring enige denkbare ding waarmee mens kinders kan besig hou. ‘n Mat. Gordyne vir die klaskamer. Storieboeke en kinder-CD’s. Ou speelgoed. Blokkies, doppies en proppies. Plastiek bordjies en bekertjies vir hulle etes. Proviand van enige aard om maaltye mee voor te berei. Bedags kry elke kind ‘n goeie ontbyt, stewige middagete en al die tussen-in happies en sappies wat nodig is. Aangekoop uit hierdie dames se eie skraps begrotings. Vars melk. Kaas. Vrugte elke dag.

Carol en Magriet sit hart en siel in die taak om aan hierdie kindertjies ‘n stewige grondslag te gee met die oog op Gr. R. Sommer gou is hulle in ‘n roetine. Sing liedjies en spog met hulle prentjies – vir party seker die heel eerste prentjie in sy of haar lewetjie. Leer van handjies was voor ete, van bid en van slaap na middagete. Wat hulle tuis vertel, laat sommer meer mamma’s en ouma’s hulle kinders hierheen bring. Die skooltjie is nou alreeds 18 sterk.

Verlede week besoek twee predikante van Kimberley, verbonde aan die sinode, die skooltjie. Vroeë Kinderontwikkeling is tans ‘n uiters hoë prioriteit in die Noord-Kaapse sinode. Daar word gekyk na moontlike hulp met registrasie, ‘n besigheidsplan, met leerplanne en befondsing – want om onbepaald hierdie taak voort te sit sonder vergoeding, kan nie van Magriet en Carol verwag word nie.

 

Juffrou Pinnie speel al van 3jaar ouderdom af skool-skool. Dit was al wat sy ooit wou doen en nou reeds vir 37 jaar hier op Vanwyksvlei doen. As Gr. 3 onderwyser by die W P Burger Gedenkskool neem sy tans waar as skoolhoof totdat daar vir volgende jaar ‘n nuwe aanstelling gemaak sal word.

“Dit is ver van my lyn af om in ‘n bestuursposisie oor 12 ander onderwysers te ageer. My eie Gr. 3 kindertjies suig nou aan die agterspeen en ek kom nêrens behoorlik uit nie – nie by hulle of by die hoofskap nie.” Gelukkig is daar nog slegs 7 weke oor van hierdie gogelspel van verantwoordelikhede.

 

Die Gedenkskool het tans 320 leerlinge vanaf Gr. R tot Gr. 7. Daarna moet hulle óf Carnarvon, óf Prieska toe waar daar kosskoolfassiliteite is. Of ophou skoolgaan.

Vroeër jare dien die geboutjie wat tans bekend staan as Sewende Laan, as skooltjie vir bruin kinders. Die huidige skool open in 1982 met meer leerlinge as waarvoor daar klaskamers is. Die oplossing is om skool in twee skofte aan te bied – soggens en smiddae. Later word die dubbelverdieping skoolgebou, wat tans vol in gebruik is, voltooi. Juffrou Mollie, wat al vanaf 1974 hier werk, afgetree het en weer uithelp, vertel met groot entoesiasme van ‘n vorige bedeling: “Ons het met hierdie kinders getoer. Kimberley toe. Oudshoorn toe. Vir baie kinders die heel eerste keer in hulle lewe buite die grense van Vanwyksvlei. Sport gespeel teen ander skole. Netbal. Rugby. Deesdae is vervoer so ‘n kwessie, dat ons nêrens meer kom nie.”

Meneer De Jong, ingevoer vanaf die Paarl, meen huisvesting vir plaaskinders sowel as vir inkomende onderwysers is ‘n groot probleem in Vanwyksvlei. “As hier net ‘n koshuis opgerig kan word waar kinders onder goeie toesig kan bly en kan studeer, sal dinge in hierdie dorp baie verander.” Onbetrokke ouers word as ‘n groot probleem gesien. Die probleem strek egter verder, want talle ouers werk op plase en laat hulle kinders in die sorg van familielede. Dikwels ‘n ouma of oupa wat nie die geletterdheid het om kinders met skoolwerk by te staan nie. Maatskaplike probleme is ‘n ander tameletjie omdat dogters wat nog self kinders is, alreeds ‘n baba het om te versorg.

Die skool beskik oor ‘n rekenaarsentrum wat ongelukkig nie na regte benut word nie vanweë swak internettoegang.

Onse plaaskinders gaan skool in Prieska, Upington of selfs sover as die Paarl en ken van kleins af koshuislewe. Vir hulle breek al die potensiaal oop om ook aan sport en buitemuurse dinge deel te neem. Hoe blink hulle darem nie vir jou uit op daardie terrein nie. Kyk maar na Deon en Gerda se seuns! Op die tuisfront gee Rida Gr. R vir haar kleinkind as voorbereiding vir skool. En die Du Toits en Moolmans doen tans self tuisonderrig. Nou nie die gelyke van derjare se plaasskole nie, maar veel eerder dít as om hulle kinders baie ver van die huis af te laat skoolgaan.

Ek veronderstel dat dit die één groot faktor is waarom kinders nie meer terugkom na die familieplaas op die platteland nie. Derjare was dit makliker as tans om ‘n Gr. 1 plaaskindjie kosskool toe te stuur. Ek meen, toe was daar nog baie neefs en niggies en dalk ouer broers en susters reeds op skool wat koshuis baie minder volksvreemd gemaak het. Deesdae is onse families maar min en uitgedun.

Tragies egter, staan hier ‘n onbenutte skool op die dorp en entropeer. Die skool het op sy dae groot prestasies opgelewer. Net uit hierdie paar huishoudings sigbaar op die foto, is 2 doktore in fisiska, 3 mediese dokters,  1 veearts, 2 siviele ingenieurs, 2 elektriese ingenieurs, 1 chemiekus en ‘n geoloog opgelewer. Hoe is dit moontlik? Maklik. Die skoolraad besluit om slegs kandidate met ‘n BSc graad aan te stel. Stapels aansoeke word ontvang omdat dit ‘n lekker wegspringplek is vir ‘n pas-afgestudeerde met groot ambisie. Net die beste word gekies. En siedaar.

 

 

Dit was egter blou jare gelede. Die seunskoshuis van weleer is ook nou besig om in ‘n ruÏne te verval. As ek net dínk aan die potensiaal van hierdie geboue! Waar wil jy ‘n beter fassiliteit kry om opheffingswerk onder die werkloses te doen. Om handvaardighede aan te leer. Om ongeletterdes toe te rus met bietjie meer lewensvaardighede. Om jongmense van die strate af te keer. Maar helaas … Die onbereikbaarheid van DOW hieroor sal my van frustrasie sommer ‘n lelike woord laat kwytraak.

So. Vat vyf vir elkeen wat vandag tog iets regkry in terme van onderrig ten spyte van hierdie wêrelddeel se sonderlinge omstandighede.

VVV en Karooënaars

 

Man, maar ek hou van die mense van die Karoo. Hulle is nou vir jou ‘n spesiale spesie. Kom ek vertel …

Ons ry terug Vanwyksvlei toe vanaf Suzanne, predikant van Carnarvon, met wie ons saam gery het Kimberley toe vir ‘n sinodale werkswinkel – ons bakkie het ons by haar plek gelaat. Dis so in die koers van half 9 die aand. Net anderkant Oom Daan Vermeulen se plaas, sien ek en Johan skielik rooi strale lig na bo skiet. So asof iemand vuurwerke afsit. Twee breë, rooi bane vorm en hang in die lug soos ‘n V en dit gloei (nie solied nie, meer soos ‘n gaaswerk). Dis omtrent die grootte en hoogte van ‘n windpomp so 50m vooruit aan die linkerkant van die pad. Na omtrent 3 sekondes verdwyn die gloed en toe begin liggies lukraak aan-en-af gaan al op die vlak van die V. Baie  soos daai sonliggies wat mens soms in die teerpad kry om jou te waarsku waar daar padwerke aan die gang is.

l1170054

My voorstelling van wat ek gesien het

 

 

Toe verdwyn die beeld. Die verskynsels het nie meer as 5 sekondes geduur nie.

Ons is sprakeloos.

“Wat de swernoot was dit?.”

“Kan dit dalk een of ander elektroniese afskrikmiddel teen ongediertes wees wat ‘n boer geÏnstalleer het?”

Die verskynsel het nie staties gehang nie – dit het gelyk of dit saam met ons beweeg teen die spoed van so 90km.p.h waarmee ons toe beweeg het. Teen daardie spoed, moes ons maklik 125m gevorder het in daardie 5 sekondes en dit het nie nader gekom of dat ons verby dit beweeg het nie.

Ons ry in stilte voort. Lekker deurmekaar.

“Daar’s dit weer!” Hierdie keer gebeur dit aan die regterkant van die pad. Presies dieselfde. Johan skakel die ligte af. Ons hou stil. Dit verdwyn weer voordat ek ‘n foto kan neem. Ons probeer luister of ons iets hoor. Dis nagstil, behalwe vir ‘n sagte gesing van krag in die geëlektrifiseerde lyndrade. Ons ry maar weer verder.

Na nog 5 of 6km gebeur dit wraggies weer vir ‘n derde maal. Weer regs van die pad. Daar is geen windpomp of konstruksie of lyndrade of hoogspanningsdrade in die omgewing waarop so-iets gereflekteer kan word nie. Dit is ook nie hoog in die hemelruim nie. Hier vlak langs die pad. Moeilik om afstand en grootte in die donker te skat. Ons  moes omtrent 20km afgelê het van die eerste verskynsel tot die laaste een.

Vir die res van die pad sien ons ook nie weer die verskynsels nie.

Die volgende oggend bel ek vir Johan, ons oudste. Vertel vir hom van die verskynsel. Hy het ook geen idee wat dit kon wees nie.

“Wat maak ons hiermee?”

“Sit dit op fb. Miskien het iemand anders dit ook gesien.”

Ek plaas die insident op die Karoogroep se fb-blad en toe begin dit gons soos ‘n bynes. Vriende, as jy wil praat van oorspronklike antwoorde, gekskeerdery, ernstige aannames, lighartige verduidelikings, ontstoke reaksies, bose beskuldiging. Dis uitlatings oor die wederkoms. Dis verklarings van bondels vuurvliegies. Fosfor ligte. SKA toetse. Vliegtuie se uitlaatgasse. Laser. Demoniese aktiwiteite en wat nie nog meer nie. Sommige ouens raak sommer opgewerk oor ander se standpunte. Dit word ‘n taaldebat. ‘n Geloofsdebat. ‘n Draaksteekdebat. Ander raak sinies . Of skepties. Of krities. Of geammuseerd. Of hiperernstig. Of snaaks. Of tong-in-die-kies. ‘n Heel prettige reaksie, sê ek vir julle.

Willie Koorts se mening word ingeroep maar niemand kan dit defnitief verklaar nie.

Al wat ek weet is dat dit wel ‘n VVV was – ons het dan albei onmiskenbaar 3 keer ‘n V gesien…