Ware Oos

Dis hoe die son vanoggend oor Vanwyksvlei opkom. Presies, presies Oos.

P1410658

Vandag gaan net so lank wees soos vannag

Met die son presies in die ooste, gloei die grafte vanoggend in suiwer goud. Dis ‘n skouspel. ‘n Tafereel van gloed vir ‘n oomblik, en dan is dit weer verby. Amper soos ‘n salwing oor hulle wat was, lank lank gelede. So lank gelede soos nog in die 1800’s.

 

Hier rus groot geeste van weleer wat ook vanoggend baai in die oostergloed.

 

Ek wonder hoe dit gaan wees as al hierdie grafte, en ander reg oor die aarde, op een oomblik eendag, gelyktydig oopgaan en die aarde sy dooies teruggee (Joh 5:28,29 en Hand 24:15).

Vir die dag van oordeel

Advertisements

Skaapafval

P1410188

“SeënVaderwatonseet. GeedatonsUnooitvergeet.” Dan sug Oupa die “Amen” agterna uit – mens hoor net die A…

Pa dra vir Ouma die groot ysterpot met die afval van die koolstoof af tafel toe. Sy stoot die plankie waarop die pot moet staan vir hom nader. Die hingsel van die ysterpot klink teen die tafelblad toe Pa hom neersit. Ouma lig die sware deksel op met ‘n vatlap; loop kombuis toe met die deksel onderstebo waarin die stoom opdam. Geurig stoom die kerriereuk soos die offerrook van Abel na die plafon waaraan ‘n enkel gloeilamp hang.

Ma sit die enemmel skottel met spietwit uitgeswelde stampmielies voor Oupa neer. Hy begin skep. Daarna skep Ma ons vyf se borde boepensvol met stampmielies. Sy deel die vleis regverdig tussen ons vyf borde. Elkeen kry ‘n groot skep geel pensvel met die mooiste fatsoen blokkies daarop. Sy druk die lepel diep in die stampmielies sodat die sous in ‘n krater lê. Dan skep sy vir ons elkeen ‘n lepelvol beentjies om af te suig daarby. Elkeen kry eweveel aartappeltjies.  Oupa het dit nog self vanoggend vir Ouma gaan uitspit. “Kleintjies, hoor jy , Tom. En hou hulle heel” het sy agterna geroep. Die sakkie met harsings is vandag spesiaal vir Pa.

Ouma sny solank die groot koepelbrood. Die kors knars onder haar mes. Krummels spat op die tafeldoek. Pa kry ook die korsie. Hy smeer die plaasbotter dik. Vat solank ‘n hap nog voordat hy die afval geproe het.

Ma skep die fyn stowekwepers langs ons bergies stampmielies. Die soet pienkerige stroop meng met die geel kerriesous van die skaapafval. Oupa suig behaaglik aan die beentjies. Klap sy tong hoorbaar na elke happie. Vee onnodig hard die kerriesous uit sy grys baard met die jammerlappie.

“Ma, dit smaak vorentoe” komplimenteer Pa vir Ouma. Sy glimlag skalks. “Ek soek nog die mens wat Ma kan oortref as dit by kook kom.” Nou glimlag Ouma breed. Maar sy hou haar besig om die brood vir ons te help smeer.

“Kwepers Pa?” vra Ma.

“Nee dankie kind. Na ete met room.”

My maag bult maar ek móét hierdie laaste afvalsousie met my brood opvee.

“Sias van die koöperasie het toe daai trekker bestel lig Oupa vir Pa in. “Sê hy behoort aanstaande week op die stasie aan te kom.”

“Dis goed Pa” sê Pa. “Daai trekker sal ‘n groot aanwins vir Pa wees hier op die plaas.”

Die telefoon in die gang lui ‘n lange en twee kortes. Dis nie Ouma-hulle se lui nie. Ons eet rustig voort. Oupa slaan met ‘n vlieëplak na ‘n lastige vlieg. Hy is gereed vir sy kwepers en vars room.

Ons kinders praat nie. Dis ongehoord. Maar ons baai ons in die genoeglike samesyn om die groot ou geskropte houttafel. Soos elkeen van ons ons bordjies leeg eet, bedank ons Ouma opreg vir die heerlike kos soos Ma ons aangesê het om te doen. Heerlik was dit voorwaar. Ek wens ek het nog plek vir ‘n halwe snytjie brood met taaipit perskekonfyt. Maar ek kry nie eens my glas melk opgedrink nie. En hier by Ouma betaam dit nie om iets halfpad te los nie. Net die beentjies word uiteindelik uitgekrap vir Lêssie, Oupa se skaaphond.

“Virwatonsnoukongeniet, geeonsUlofeerendank. Voedooksoonsesielemetdiebroodvandieewigelewe. Amen.”

P1410460

Hierdie stuk het ek as opdrag geskryf tydens ‘n skryfskool wat ek bevoorreg was om by Riana Scheepers by te woon. Haar kommentaar hierop: my hart gaan staan. Komende van iemand wat kan skryf en wat kan SMEUL oor kos, plaas ek dit hier nadat ons vandag gesmul het aan aan die skaapafval van die hamel wat Vasie dié week vir ons geslag het.

P1410449

En wat Sara vir ons geskraap het.