Die Chemie van Goeie CoF₂E₂
Woon mens op so ‘n afgesonderde plek in die wêreld soos Vanwyksvlei, staan ek steeds daarby: moenie snoep op goedkoop koffie nie!
Dis ‘n kuns om daardie koppie koffie perfek te brou. Mens kan so gou ‘n goeie boon in sy peetjie in stuur.
Kom ons begin by die boon, want dis waar mens begin. Jy begin níé jou koppie koffie uit ‘n blik of ‘n bottel nie, want daardie kitsmanier het reeds die koffie verkrag deur dit aan hoë hitte bloot te stel, dit so te kook dat dit ‘n ekstrak word, dit dan te vries en op te breek in kleiner yskristalle en dit dan weer te vriesdroog deur dit te verwarm en die waterdeel te laat verdamp. Nee, begin by die boon.
Ek het nog nie sover gevorder dat ek self die koffieboon brand nie. Daarvoor koop ek steeds gebrandes. En tot onlangs, reeds gemaaldes. Want uiteindelik het ons die koffiemeul van ons grensdae weer hier in Vanwyksvlei in werking gestel.
Elza het met haar laaste besoek aan Port Elizabeth vir ons ‘n pak geroosterde koffiebone van Masterton’s gebring. O, daai geur! Ek ruik weer ‘n rit op teen Russelweg by Masterton’s verby!
Daar word beweer dat die koffiebone vanaf die groen stadium gerooster word teen ‘n temperatuur van so 175˚C. Hoe donkerder die boon, hoe hoër was die temperatuur waarmee dit gebrand is. Ek onthou as kind het Oom Faan Voges op Consortmyn ‘n koffieboompie in sy tuin gehad. Ons het die pragtige rooi, ryp koffiebone afgepluk en die soet lagie afgesuig. Die pit weggespoeg. Ek sou wat wou gee om vandag weer by daai boompie te kon staan en ‘n handvol groen bone af te pluk.
Enewil, daai bone word geroteer terwyl dit brand, of in ‘n drom, of op ‘n plaat met openinge waardeur lug van onder af geblaas word wat die boon kan oplig in die roosterproses. Aanvanklik neem die bone die hitte op en later is dit asof dit brand en hitte uitstraal – kompleet soos houtskool dit doen. Brand dit te ver, sit jy net met ‘n koolstof klont. Daarna word dit afgekoel in bewegende lug.
Ons bêre die koffiepitte in die vrieskas om die geur die beste te bewaar. 50 pitte tel ek vir elkeen van ons af en maal dit met die koffiemeul – om dit te hoor en te ruik as daai slingertjie gedraai word, is deel van die vreugde van daardie spesiale koppie koffie.
Of jy dit reeds gemaal gebruik of self maal, moenie die water laat kook nie! “A kettle boiled is coffee spoiled” word gesê. Ek gebruik ‘n Erln Meyerfles met ‘n plat boom. So kan ek presies die regte hoeveelheid kookwater op die koffiemoer giet. G’n gefilter deur papier of geforseerdery met ‘n plunger nie.
4 Minute. Net vier. Dan word die fles geswirl. Dit veroorsaak ‘n draaikolk wat al die moer na onder trek. Nog so ‘n klein rukkie vir die moer om te stabiliseer, en dan skink mens gerieflik sonder ‘n sif want die moer dam op in die hoek van die fles.
Sonder melk en suiker, dankie. Mmmmm. Koffiekapitaal …