‘n Beker vir ‘n bottel

Sedert my betrokkenheid by plastiekherwinning in Vanwyksvlei, slaan ek ‘n nuwe roete in met die talle bedelaartjies elke dag by my voordeur; ‘n beker sop vir elke ekosteen.

L1450815

In die afgelope tyd het ek al bykans 80 ekostene versamel. Dalk sal ek nie in mý tyd daarmee ‘n kaja in Vanwyksvlei kan bou nie – ek kan dit altyd bydra vir Loxton se huisbouprojek.

‘n Ekosteen is ‘n 2ℓ koeldrankbottel wat styfvol geprop is met plastiek- en tjipssakkies wat die hele wêreld vol rondlê. Die bottle word styf toegedraai sodat dit as ‘n harde bousteen vir beddings of bankies of self huisies gebruik kan word. ‘n Fondasie van so 2 rye stene diep, is blykbaar’n  voldoende basis om op te bou. Daar word beweer dat ‘n plastiek koeldrankbottel ‘n leeftyd van 1000jaar het. As dit nog toegemessel kan word, vorm dit ‘n stewige, geïsoleerde muur wat ons almal en ons nageslagte sal oorleef.

Daar kan om en by (volgens volume) 200 klein tjipssakkies (styf ingedruk) in ‘n 2ℓ koeldrank bottel inpas. Dit beteken dat sowat 16 000 sulke sakkies nié in Vanwyksvlei se veld beland het nie sedert die bottel-sop-projek. (Die arme kinders wat in hierdie dorp aan die lewe gehou word met so ‘n groot hoeveelheid tjips en puffs gelaai met MSG!!)

Self gooi ek nooit meer plastiek of polistreen in die asblik nie. Dit beland tog net weer êrens in die veld. Dis my aandeel om my koolstof voetspoor te verklein, want brand hulle die plastiek by die asgate, word 3kg CO₂ in die atmosfeer vrygestel vir elke 1kg plastiek wat brand. Saans, as ons sit en TV-nuus kyk, prop ek die dag se plastiekafval in ‘n leë 2ℓ bottel. Jy sal nie glo hoeveel gekompakteerde plastiek daarin pas nie. Amper ‘n week se afval van ons twee oues gaan gemaklik in een so ‘n bottel in.

Vandat dit bekend geword het dat ek sop in ruil vir ‘n ekosteen gee, lui my voordeurklokkie al van huistoegaantyd elke middag tot die son sak. “Jy’t ‘n lat vir jou g@t gepluk, my vrou” verwyt Johan my. Nou lê ek ‘n reël neer: nie voor 5uur in die middag nie! Anders is ek pal besig om koppies sop aan te dra! Maar ai, wat weet ‘n Vanwyksvleiertjie wat in Gr 3 nog nie eens kan lees en skryf nie, wat ‘5uur’ beteken. Ek beduie na die weste: “As die son so hoog soos daai paal bo die randte hang, dán is dit eers 5uur. Nie voor dit nie!” Ag julle, as dit die dag bewolk is, hoe moet ‘n kind nou weet van vyfuur. En hoe kan hy dan wag as hy so opgewonde is oor sy vol bottel en sy maag is leeg. Dan moet ek byvoeg dat dit nou nie net meer kinders is wat bottels volprop nie.

Nee, ek is geensins armer van al die sop-uitdeel nie! As ek nie sop het nie, kan ‘n sakkie springmielies ook ‘n honger magie kalmeer.

Maar die omgewing is heelwat skoner …

Advertisements

Plêstiek issie vi’ wegstiek; Episode 2

20180517_110016

Vanwyksvlei se werkswinkel om handwerk van herwinde plastiek te maak, realiseer met 18, ja 18! deelnemers.

Nooit het ek so ‘n oorweldigende reaksie op my kennisgewing verwag nie. Spring ek darem vir jou rond om almal se begeesterdheid om allerhande mooi goed van plastiek te maak, te kan bedien!

Ek begin my werkswinkel, nadat ons geopen en mekaar leer ken het, gewoonlik met ‘n algemene motivering oor die noodsaaklikheid van herwinning. Dan trek ons los om te leer plarn maak (plastic yarn). Sommer gou sien ek waarmee ek te doen het – gemoedelikheid en kwinkslae soos die klomp sit en drade uitrek – julle kan net dink!

Binne die oggend van die eerste dag is al my sakke wat ek probeer bymekaar maak het, opgebruik. Dit noop die deelnemers om uit te gaan en sakke, bottels en proppe te gaan bymekaar maak. Dis mos presies waaroor herwinning gaan.

Die span werk met ywer  en entoesiasme. Die een kreatiewe eindproduk na die ander word op die tafel opgestapel. Niemand is tevrede om net een tegniek te leer nie. Ek staan bont. Maar sommer gou sien ek hoe hulle mekaar begin help. Dies wat reeds weet hoe om te weef, of te fuse, of te vleg, help ‘n ander. Katriena wys vir Grieta hoe om blommetjies te maak. Amelda help vir Antoinette om kraletjies in te werk.  Grieta help vir Zetta om die plarn in die naald te kry. Eileen wys vir Joanna hoe om met ‘n warm naald gaaitjies te smelt. Sharon en Magdalena pak ‘n projek gesamentlik aan. Daar heers ‘n gees van samewerking en eensgesindheid.

Ant Annie hou almal aan die lag. Haar hande kan nie sonder haar mond koördineer nie: “Die Here is my Herder julle moet my nou los dat ek kan konsentreer niks sal my ontbreek nie ek gaan die heel mooiste handsak hekel wat julle nog ooit gesien het Hy laat my neerlê maar sie julle ophou om my aandag af te trek in groen weivelde na waters waar… maak iemand dan nie bietjie koffie nie?”

Net Katriena Mostert sê nie ‘n woord nie. Op haar eie sit sy die een hekelwerkie na die ander en afhandel. Berei self haar plastiekstroke daarvoor voor en as haar sakke opraak, gaan soek sy nog.

20180517_161329

Katriena word beloon met ‘n grooot tol wol. Sy het my die minste ‘gepla’

Elke oggend as ek oopsluit, is die saal netjies aan die kant. Elke snippertjie en rafeltjie opgevee en als mooi netjies georden by elkeen se werksplek. Dis ‘n plesier om met hierdie span te werk. Spontaan doen een van hulle soggens ‘n gebed as ons open. Ek kry te doen met mense wat almal al een of ander tyd deur die lewensmeule is en tog met soveel blymoedigheid voortgaan. Hartseer stories ontvou soos ons sit en saamwerk.

20180517_160552

Die span van CWP met hulle opsieners

Meeste van die deelnemers is CWP-werkers wat afgedeel is vir die werkswinkel. Hulle oorreed hulle opsigter om te kom kyk na die mooi goed wat hulle reeds gemaak het. Toe Teresa, die opsigter dit sien, is sy so beïndruk met wat vermag is, dat sy daar en dan besluit dat elke span voortaan plastiek wat rondwaai in die dorp, asook bottels en proppies sal bymekaarmaak in swart sakke wanneer hulle  uitgaan om te skoffel.

Hoera!! ‘n Oorwinning vir Vanwyksvlei se rommelprobleem!!

Die Ring

Sedert ons aankoms in Vanwyksvlei in Oktober 2015, beleef ons ‘n gevoel van afstand tussen die Kerkrade en die Ring. Ringsgemeentes in hierdie geweste is inderdaad kilometers van mekaar geleë.  Dit voel asof ons as pastoriepare elk op ‘n eiland moet oorleef. Gemeentes vereenselwig hulle nie met die Ring nie en praat van ‘ons’ en ‘hulle’.

Tot op daardie stadium handhaaf die gemeentes die ou gewoonte van ‘n Ringsitting wat elke tweede jaar plaasvind, verteenwoordig deur die leraar en ‘n kerkraadslid van elke gemeente. Die vergadering vind streng formeel plaas. Kerkrade doet voort op ‘n model wat al eeue oud is.

Binne ‘n kort tydperk kry ook Williston, Brandvlei en Vosburg elk ‘n nuwe predikant. Die Ring word geseën met nuwe mense met vars idees, baie ervaring en ‘n oorvloed entoesiasme. Tydens die eerste byeenkoms van Ringspredikante word ‘n besluit geneem om die verhouding tussen Kerkrade en Ringsgemeentes aan te spreek.

L1180426

Muller en Eureka van Williston, Andrea en Jason van Loxton, met klein Jasmine, Johan en dan Plantjie, wat intussen plek gemaak het vir Jaco van Vosburg. Suzanne-hulle van Carnarvon is nie op die foto nie, geneem voor Rudi en Nicolene se tyd.

‘n Voorneme om jaarliks informele Ringsittings te hou, kry gestalte. Al die Ringspredikante stem saam dat daar ‘n behoefte aan sosiale interaksie bestaan en besluit om mekaar jaarliks te besoek soos wat gemeenteprogramme dit toelaat. Dit sal ons ‘n begrip gee vir mekaar se omstandighede, die gees en manier van elke gemeente se werksaamhede, ons kan by mekaar leer en die gemeentes kan die Ringspredikante leer ken as gewone mense met gewone behoeftes.

Sedertdien vind ‘n paar Predikantsbyeenkomste plaas. Twee Ringsittings is reeds gehou in ‘n ontspanne en aangename gees. Predikante en Kerkraadslede se genote woon die byeenkomste by.

Al ses gemeentes in die Ring; Brandvlei, Carnarvon, Loxton, Vanwyksvlei, Vosburg asook Williston is reeds in 2018 besoek. Aanvanklik word die leraarspaar besoek om openhartig te gesels oor hulle belewenisse in die gemeente. Daarna word die kerkraad en hulle genote besoek. Rudi, die Ringsvoorsitter fassiliteer die gesprek. Na aanleiding van 1 Tim 3:15 bespreeek die vergadering die betekenis van die woorde: die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Die gemeente se identiteit en sy roeping kom ter sprake.

‘n Gesprek sonder die leraarspaar volg waarin die kerkraad hulle belewing van die leraarspaar kan lug gee. Terugvoer geskied na beide kante toe. Daarna word gesellig verkeer rondom braaivleisvure en kan almal mekaar op ‘n informele vlak leer ken.

Gevolglik voel ons as predikantspare nou almal baie nader aan mekaar. Ons as pastoriepare en ook Jaco van Vosburg – wat nog enkellopend is – wéét nou waar staan ons met die kerkraad. Kerkrade verstaan hulle leraarspare baie beter. Waardering is na beide kante toe vir mekaar uitgespreek waarvoor daar nie voorheen ‘n forum was nie.

‘n ‘Ons-gevoel’ is beslis besig om momentum op te bou in die Ring van Carnarvon.

Terloops Muller en Eureka, ons jubel saam met julle oor julle nuwe status: Oupa en Ouma van ‘n eerste kleinkind!

Plêstiek issie vi’ wegstiek

Twintig plastiese sakke wat ge’fuse’ is om een dekoratiewe bak te maak, is baie beter as twintig sakke wat in die asblik beland. Dertig sakke om ‘n mat mee te maak, veel beter as dertig sakke deur die wind verwaai.

 

 

So bevind ek my alweer, vir die hoeveelste keer, betrokke by ‘n ding. Dit deur die toedoen van my suster; Mariëtte van Wellington. Van die eerste keer af wat sy by ons kom kuier, is sy so aangegryp deur die groot getal werkloses in Vanwyksvlei en die min geleenthede tot ontwikkeling, dat sy weer ‘n wilde perd gaan staan en opsaal. Nou is ons ‘n span van vier (en binnekort meer) wat ons vaardighede deel met almal in ons omgewing wat belang stel – Vanwyksvlei, Carnarvon, Williston en Loxton. Mariëtte doen verf- en skildertegnieke, Iréne van Caledon gee opleiding vir tuisversorgers van belêendes en bejaardes, Gwen van Bettysbaai bied naaldwerkklasse aan. Die uwe is ingegrawe in plastiekherwinning en handwerk met plastieksakke en plastiek bottels.

In Vanwyksvlei meld net een belangstellende aan en die werkswinkel word gekanselleer – Die afstand om vanuit die Kaap te ry met al die aangekoopte voorrade, verblyf op pad en in die dorp asook petroluitgawes regverdig dit net nie.

Ons eerste werkswinkel skop af in Williston. Net een inskrywing! Ons sak op die munisipaliteit toe om hulp te vra om meer lede te werf, vaar die woonbuurt in om belangstellendes aan te keer, maak ‘n paar oproepe en eindig met dertien deelnemers waaronder heelparty CWP-werkers. Aan die einde van daardie week deel ons sertifikate uit en al ses tuisversorgers se kontakbesonderhede word by die winkel opgeplak as kandidate vir ‘n werk as tuisversorgers.

L1440780

Die tweede werkswinkel vind in Carnarvon plaas. Veertien verwerf sertifikate in tuisversorging, die ander nege doen o.a. kuns, plastiekverwerking en naaldwerk.

Daarna is ons Loxton toe. Sewentien belangstellendes voltooi die werkswinkel.

Die positiewe van hierdie onderneming is om die deelnemers se getuienis en terugvoer te hoor:

“Mevrou, ek kan nie vir jou vertel hoe hierdie week my lewe verander het nie.”

“Nou gaan ek elke middag al my kleinkinders wat ek moet versorg leer plastiekgoed maak – en sommer al hulle maats ook!”

“Mevrou, ek kon nie slaap laas nag nie. Ek het heelnag net lê en dink aan al die mooi goed wat ek vandag gaan maak.”

“Die Here het julle oor my pad gebring. Ek wou nog my lewe lank skilder, en kyk wat het ek in hierdie week leer doen!”

“Van kleins af droom ek daarvan om ‘n tailor te word. Nóú gaan ek een word.”

L1450119

Iréne maak die opleiding van versorgers baie prakties.  Hulle oefen om voete en toonnaels te doen op inwoners van die plaaslike ouetehuis. Sy demonstreer hoe ‘n bedlêende pasiënt volledig in ‘n bed gewas word. In Williston en Carnarvon gebruik sy ‘n ou dame in die ouetehuis. In Loxton doen sy haar demonstrasie op ‘n parapleeg wat in ‘n klein donker kamertjiein die woonbuurt lê. Sy rug is in ‘n onderonsie gebreek en sy ma (wat ook moet werk om die pot aan die kook te hou) versorg hom met groot toewyding. Maar sy kamertjie het geen venster nie – al die ruite wat gebreek is, is toegeplak en toegetimmer om die koue uit te hou. Iréne gaan reël by die koöpersie om ruite te sny en af te lewer. Godfrey, die handige word betaal om die ruite te gaan insit. Nou kom daar darem weer sonlig die kamertjie binne. ‘n Rolstoel is aan hom geskenk, maar is te klein vir hom om te gebruik. Iréne reël met die plaaslike predikant, Andrea, om die rolstoel te gaan omruil met een van die groter ou model rolstoele van die eertydse ouetehuis sodat die jongman se ma hom soms buitentoe kan stoot.

Verder maak sy haar opleiding wat sy al vir 20 jaar doen, en waardeur daar al 9 000 versorgers werk gekry het, beroepsgerig. Sy leer hulle hoe om ‘n siekekamer mooi in te rig, goed te ventileer, hoe om ‘n skinkbord met kos of tee mooi te dek, sy leer hulle dissipline en netheid en gee ‘n breedvoerige oorsig oor algemene gesondheid. Hulle moet ‘n eksamen slaag alvorens hulle ‘n sertifikaat kan kry.

Gwen doen die naaldwerk in Carnarvon in ‘n VGK-saaltjie sonder masjiene – aanvanklik is daar nie eens elektrisiteit om ‘n strykyster te gebruik nie. Maar elke dag bemeester hulle ‘n nuwe tegniek – hoe om ‘n soom in te sit, ‘n stukkende plek te stop, ‘n ribtrim aan te werk, te appliek en ‘n ritssluiter in te werk. En elke dag maak hulle ‘n nuwe skepping met die hand. In Loxton tref sy ‘n volledig toegeruste naaldwerklokaal aan. Daar maak elk van die ses naaldwerksters elke dag ‘n nuwe kledingstuk of handsak waarmee hulle die aand van die sertifikaatuitdeling modeparade hou.

Mariëtte leer haar student van kleur en die kleurwiel. Sy begelei hulle om enige ou skinkbord of koekblik of bord ‘n nuwe lewe te gee.

Hulle leer selfs kaartjies en naambordjies maak en voltooi selfs hulle eerste skildery. Tussendeur rap en riel hulle!!

L1450314

Die uwe beklemtoon die belangrikheid van herwinning. Ons standpunt vanwaar ons vertrek is om die omgewing te red – om nie meer één plastiese sak of bottel in ons leeftyd die asblikroete te laat gaan nie, want so beland dit tog net weer op die verkeerde plek. Ons weef, brei, hekel, knoop, lamineer, modelleer en dekoreer met plastiek. Elke snippertjie afval gaan in ‘n 2ℓ koeldrankbottel om ‘n ekosteen van te maak – later gaan ons daarmee bou! Deesdae kry g’n bedelaar meer by my voordeur sommer net ‘n broodjie of ‘n koppie sop verniet nie – die heersende betaalmiddel is ‘n volgepropte ekosteen.

Die sertifikate is net tydelikes. As hulle al vier modules per vak suksevol voltooi het, verwerf hulle ‘n permanente, gelamineerde sertifikaat waarop seëls die betrokke suksesvole kursusse aandui – amper soos ons destydse Sondagskoolsertifikaat

Nou probeer ons weer opnuut om Vanwyksvlei te mobiliseer. Hou duimvas …

Ons het ‘n N.R.O gestig onder die naam Carpe Diem Opleidingsentrum. Om hierdie bemagtiging in die Noord-Kaap te kan doen, vra ons elke deelnemer R20 per dag, net sodat hulle met trots kan voel dis iets wat hulle self verwerf het. Dit dek nie eens ons oorhoofse koste nie. Ons maak maar staat op donasies om die werk te kan voortsit.

Kry ek gister die goeie nuus: Rymondo en Godfrey wat in Loxton die plastiekherwinning gedoen het, kry ‘n bestelling van 100 matte vanuit Carnarvon se wêreld.

Dis mos nou presies wat ons probeer regkry; werkskepping!

Haar skaduwee

 

Vir omtrent ‘n week is haar skaduwee sonder haar. Sy het geval. Haar skouer ontwrig en die humerus se kop boonop gebreek. Sy is per ambulans Kimberley se hospitaal toe.

20180225_114959Shadow, haar ou swart Labrador, is totaal verlore sonder haar.  Want sy los nie eens vir Shadow alleen tuis selfs as sy winkels of kerk toe gaan nie. Hy raak heel die klits kwyt as hy alleen moet bly. Sy los hom eerder in die kar as wat sy hom alleen tuis laat want hy kan maklik van skone angs op ‘n verwoestingstog gaan.

Toe die ambulans met haar vertrek, is Shadow troosteloos. Ons ontferm ons oor hom. Hy en Van Zijl kompeteer effens by die kosbak, maar verder gedra Van Zijl hom darem aanvaarbaar teenoor die onverwagte gas.

Daar steek ‘n onweer op. Shadow se angsvlakke styg en hy verdwyn die dorp in op soek na haar. Eers twee dae later daag hy weer onverwags op. Weier daarna om die huis selfs vir ‘n vol blaas te verlaat. Verwese sonder sy mens.

Sy het Shadow 10 jaar terug gekry toe sy weer getroud is. Sedertdien is sy en Shadow onafskeidbaar

Haar lewe is een groot stuk getuienis van God se genade en van tweede kanse. ‘n Hele paar jaar gelede kom sy en ‘n vriend in Vanwyksvlei aan. Hulle huur ‘n huis. Na ‘n paar dae sterf haar vriend. Sy is ontwortel. As volslae alkoholis sukkel sy om wortel te skiet in Vanwyksvlei.

Mettertyd vind sy haar voete. Sy trou weer en versorg haar man tot sy dood. Sy word nagelaat met Shaddow en ‘n huis van haar eie. Haar enigste inkomste is pesioen.

Engele soos Hester en Erik op haar pad laat haar nie aan haar lot oor nie – anders het sy ‘n kluisenaarsbestaan gevoer. Waar sou sy nie dán opgeëindig het nie!

Sowat twee jaar gelede, word sy verkies tot die kerkraad. Sy blom. Nou kan sy vir die Here, wat so goed is vir haar, iets beteken. Sy begin woon die vrouebybelstudie by.

Sy snap iets van die volkome nuwe lewe in Christus waar die skadu’s van die verlede nie meer enige effek op die hede kan hê nie. Sy staan op uit die skadu’s van ‘n mislukte eerste huwlik. Sy gooi die skandvlekke van ‘n lewe met alkoholisme van haar skouers af. Sy genees oombliklik van alkoholisme sonder enige onttrekking of nagevolge. Sy al 2 jaar skoon en kry sedertdien nie eens meer lus vir drank nie – selfs nie toe sy in erge pyn ná die val was nie. Sy bearbei links en regs onder mense in die dorp wat niks anders as ‘n lewe met drank ken nie. Haar getuienis is kragtig. Haar toewyding aan die Here is aansteeklik.

Niks kry haar onder nie. Nie ‘n gebreekte pols verlede jaar nie. Nie ‘n beseerde duim in ‘n motorongeluk nie. En nou ook nie ‘n af skouer nie. Selfs in die donker tye van pyn en ongemak en beperkte beweging en nagte van min slaap sien sy net die positiewe raak. Die skadu van hierdie val se ongerief en intense pyn kan nie haar stralende dankbaarheid en openhartige getuienis demp nie.

Met haar fenomenalee sangstem loof sy steeds weer, vandat sy terug is uit Kimberley, vroegoggende die Here vir elke nuwe dag se genade en sorg. Vir elke skadukol in haar lewe wat Hy met sy genesende lig kom wegvee het.

En Shadow is weer onlosmaaklik aan haar sy.

Van Zijl

Ons is weer herenig met Van Zijl.

Van Zijl word ons s’n die dag voordat ons in Junie verlede jaar terugkeer Vanwyksvlei toe. Sy boetie word die Smitte in Pretoria s’n. Sy pa; ‘n rifrug. Sy ma; ‘n Labrador. Ons moet ‘n hond hê teen die inbrekers deesdae.

Pas ses weke oud. Gou ‘n draai by die veearts vir al die nodige inentings en ontwurmings, want die naaste veearts aan Vanwyksvlei is óf in Upington, óf in Douglas.

Om sy inentingskaart te voltooi, moet hy ‘n naam hê. “Ag, skryf maar Van Wyk, want hy gaan saam Vanwyksvlei toe.” Op daardie stadium het hy nog nie sy naam aan ons gewys nie – mens moet mos eers ‘n hond se regte naam ‘ontdek’.

Met ons aankoms in Vanwyksvlei, besef ek sy naam gaan nie werk nie. Hier’s te veel van Wyks in Vanwyksvlei. Dis Rina Van Wyk, Gert Van Wyk, Piet Van Wyk, Rossie Van Wyk, Jurie van Wyk. Maar, Van Wyk is al amper gewoond aan die klank van sy naam. Die beste wat ek kan doen is om dit te verander na Van Zijl.

Van Zijl se kombersie lê voor my bed. Dis Winter en dis bitter koud. As hy wil gaan piepie, is ek gepantser teen die koue saam met hom uit. Later is hy so oulik, as die laaste druppeltjie val, spoed ons terug kamer toe na die snoesigheid van ons beddegoed, al is dit so asemrowend om in die ysige koue die helder sterrenag te bewonder.

IMG-20170721-WA0001

Op drie maande ry Johan per ongeluk oor Van Zijl se agterbeen. Hy, wat so mal oor mense is, huppel in ‘n onbewaakte oomblik voor die bakkie in, na Vasie se werkers wat oorkant die paadjie staan en wag om te help om die kragopwekker van die bakkie af oor te laai op Vasie se bakkie. Ek hoor net een tjank en toe wéét ek; dit het gebeur. Tref Van Zijl tjankend op die voordeurtrappie aan. Die agterbeen is af net bokant sy knieg. Is die heup ook af? Waar is die bakkie oor? Is hy inwendig beseer? Johan voel soos ‘n hond.

Kos ons toe daar en dan opsaal en Upington toe. Ken g’n veearts daar nie maar bel rond en laat weet ons is op pad met van Zijl. Stop eers by DeBruynsrus sodat Tilla vir hom ‘n shot teen pyn kan gee. Heelpad sit ek agter in die bakkie met hom op my skoot. Hy het baie pyn. Kan skaars beweeg. Stilhou en piepie langs die pad is pynlik.

Dit was eers teen die einde van daardie dag dat die veearts ons kon inlig dat die heup nie beskadig is nie, net die been. Hy sal moet opereer en ‘n pen insit want die been is in sy groeiplaatjies mors af. Dis Vrydag en hy sal dit eers na die naweek kan doen. Sondag moet daar gepreek word, dus word Van Zijl ingeboek by die veearts en ons keer sonder hom terug huis toe.

Amper ‘n week later en ons kan weer Upington toe om Van Zijl te gaan haal.

20170919_213012

Maar Van Zijl kom nie reg nie.

Hy trap nie op die been nie. As ons ‘n entjie gaan stap kan ek sien hy’t pyn. Ses weke later haal ek die steke uit. Die wond is genees maar die been nie. Hy slaap rusteloos snags. Ek slaap op die vloer in die TV-kamer op ‘n matras langs hom. Dit tjank sulke fyn tjankies deur die nag. Annelien beveel antibiotika aan. Tilla wil hê hy moet na ‘n ander veearts toe gevat word. Rina vermoed die pen het geskuif.

Carnarvon se veeinspekteurs besoek Vanwyksvlei om alle honde in te ent teen hondsdolheid. Ek vra hulle opinie. “Hierdie hond se heup is ontwrig man! Jy kan dit duidelik sien.”

Ek bel weer die veearts in Upington. Ons moet weer die tog soontoe aanpak. Na ‘n volgende X-straal word bevind dat als in plek is. Daar is net kwaai infeksie in die been waar die pen in is. Annelien was reg – antibiotika.

Na ‘n hewige kursus antibiotika en baie pynstillers, begin Van Zijl weer speel soos drie maande van tevore. Hy raak baldadig. Huppel agter waaiende blare aan. Raak spelerig met ander honde as ons gaan stap. Op sewe maande is hy weer hond en haal als in waarop hy die afgelope drie maande uitgemis het.

Maar dis tyd vir ons jaarlikse verlof. En hy kan nie saam nie. Ons boek hom in by Vlekkie Immelman, sy beste maatjie. Tania sal hom vir ons versorg vir die maand wat ons weg sal wees. Sy stuur dan en wan foto’s van Van Zijl en Vlekkie. Lyk nie of hy ons mis nie. Maar ons mis hom.

IMG-20180122-WA0008

En nou, na ‘n maand, is ons weer herenig. Van Zijl ken ons darem nog en lyk darem nog lief vir ons.

20180123_191959

En hy’t weer sy plek ingeneem voor my bed op sy kombersie.

 

Geraldine en die Waterkar

L1230375

Water loop nie meer bedags in die krane in Vanwyksvlei nie. Tuin natgooi is al baie lankal buite die kwessie. Selfs die Kanniedood in my tuin is al dood.  Daar is net nie meer water in die krane nie vanweë die droogte en die swak waterdruk.

L1230380

Tensy jy so gelukkig is om ‘n watertenk op jou erf te besit wat oornag vol loop van dorpswater, met ‘n drukpompie wat aanskop as die krane oopgedraai word, moet jy maar voordag reeds genoeg begin opgaar vir die dag se gebruik. Want vanself kom die water nie meer uit by die huise nie, veral nie by díé hoër op teen die hang in die woonbuurt nie – die drukking is net te swak. Hier in die onderdorp spoeg dit soms vroegoggend so ietsie uit die krane voordat die mense water begin gebruik. Maar dit neem ‘n leeftyd om ‘n koppie water getap te kry.

Danksy die gereelde ritte van die waterkar, kry die huise hoër op in die woonbuurt tog daagliks water. Vir 14 jaar al ry Oom Schalk Esquire die waterkar. Reginald en Geraldine is sy assistente.

L1230377

Geraldine is ‘n vrou van vele vaardighede. Sy werk by die munisipaliteit as algemene werker. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. As daar pad herstel moet word, spring sy saam in. As daar draad gespan moet word, doen sy mee. As die dorp se vuilgoedsakke op ‘n Dinsdag weggery moet word, is sy op die sleepwa. Kom die rioolwa vanaf Carnarvon, is Geraldine daar om mangatte oop te gooi en suiers in te laat.

Onlangs het sy ‘n kursus bygewoon in boorgatpompherstel. Vanwyksvlei is afhanklik van boorgatwater. Daar is een boorgat wat sy water met behulp van ‘n sonpomp na die reservoirs in die aanleg pomp – of na die plant, soos die mense van die aanleg praat. Die ander drie of vier boorgate is toegerus met elektriese pompe. En ‘n man moet weet hoe werk hierdie pompe, want ons kan nie híér ‘n dag sonder water bekostig nie.

Verder is Geraldine ma van vier dogters en ook reeds ouma. Sy gooi haar volle gewig in by die kerk en by skoolaktiwiteite en by die dorp se sopkombuis. Sy is begenadig met ‘n lieflike sangstem. Al vier haar dogters ook. Hulle sing gereeld saam by kerkfunksies. Sy en haar oudste het juis verlede jaar met die Erfenisdagvierings so mooi gesing. Saam het hulle ‘n stuk getiteld New South Africa gesing en Geraldine se solo lied was Surely the Presence of the Lord.

Hierdie waterkar-ryery gaan heel somer so aan. Elke liewe dag van die week. In die winter is dit nie so ‘n groot probleem nie. Maar veral nou, met die vreeslike hitte en droogte in hierdie gebied, ry Oom Schalk en Geraldine soms soveel as vier ritte per dag deur die woonbuurt. Hulle begin vroegmiddag, net na 3nm. Die twee Jo-Jo’s, elk 2500ℓ, word volgetap uit die resevoirs by die aanleg onder in die dorp. Met die 5000ℓ op die sleepwa, vaar hulle die woonbuurt in. Op sentrale punte kom ontvang mense water met hulle dromme en kanne en emmers. As die Jo-Jo’s leeg is, is dit eers terugdraai en weer gaan opvul. Ek het al gesien dat hulle tot na nege saans, soms amper hier teen tienuur, steeds waterkar ry.

Wanneer die trekker en sleepwa vir iets anders gebruik moet word, soos vir Dinsdag se vuilgoedsakke, moet die Jo-Jo’s eers van die sleepwa afgehaal word. En na die rondtes weer opgelaai word.

Dit het al gebeur dat iets fout gaan met die boorgatpompe. Dan moet water aangery word van Carnarvon se kant af. Bo-op die kop agter die dorp staan twee groot reservoirs. Die reservoirs vanaf die aanleg, voed hierdie groot reservoirs deur die nag. As hulle die dag vol is, is daar sommer lekker druk in die krane op die dorp. Maar dit het baie lanklaas gebeur, want die pompe bly skaars voor om die paar reservoirs by die aanleg gevul te kry.

Schalk meen hulle word darem ordentlik vergoed vir al die ekstra ure wat hulle insit en oortyd werk elke dag van die week. Maar, hoe meer mens verdien, hoe meer word mos afgetrek, reken hy.

L1230371

Schalk Esquire, die waterkardrywer

Nou wonder ek maar net; Is daar dan nie ‘n langtermyn oplossing moontlik vir die probleem nie, eerder as om vir oortyd en brandstof en onderhoud aan die trekkertjie te betaal – al vir veertien jaar lank?

Om Stories op te diep

As dit nie vir Bertus Reën was nie, het ek steeds gewonder oor Rosa de Wet.

L1140142

Rosa de Wet lê begrawe op Jan-Hendrik en Karin Hoon se plaas Klipkolk op die Brandvleipad, sowat 66 km uit Vanwyksvlei. Die eerste keer wat ek op hulle paas kom, merk ek hierdie graf met sy pragtige steen op wat buite die ringmuur van die familiebegraafplaas staan. My nuuskierige navraag beantwoord Erina, Jan-Hendrik se ma: “Dis die graf van Dr D F Malan se skoonma.”

L1140137

 

Hier’s ‘n storie, dink ek. Maar my soektogte op die internet lewer niks op nie. D F Malan was twee keer getroud – eers met ‘n Martha van Tonder en toe met ‘n Maria Louw. Nie een van dié se nooiensvanne stem ooreen met Rosa Hermina (Schalkwijk) de Wet nie. Verder is hy eers in 1923 getroud toe Rosa de Wet al lankal dood was – dus kon sy nie sy skoonma gewees het nie

Ek nader vir Kosie van Schalkwyk of hy dalk iets weet. Later ontmoet ek sy neef in Potchefstroom, Peet van Schalkwyk, wie se oupa desjare in die distrik van Vanwyksvlei geboer het. Hy verwys my na ‘n oom van hulle in Carnarvon. Maar steeds lewer my navraag geen lig op nie.

Dalk is dit maar net ‘n wolhaarstorie.

So verloop meer as ‘n jaar. En Bertus Reën wat oorkant die straat bly, klop aan om hulp te vra by Johan. Sy kar kan nie in rat kom nie en moontlik weet Johan wat fout is, want hy het dikwels al gesien Johan werk aan die voertuie en moet iets van karre se enjins af weet.

Ek nooi vir Bertus in om solank binne te kom wag want Johan is gou saam met Jan La Grange koöperasie toe. Hulle behoort nie lank te wees nie.

Uit ons geselsery kom ek agter Bertus het voor sy koms na Vanwyksvlei by die Nasionale Argief in Heidelberg gewerk. Ek vertel hom van my soektog na Rosa de Wet se geskiedenis wat niks opgelewer het nie.

L1140140

Daar en dan spring Bertus in om met sy meerdere vaardigheid vir my elektronies te help soek. Voor die son die horison in die weste raak, lê ‘n foto van Rosa se sterftekennis vanuit die Argief op my rekenaar.

IMG-20170710-WA0005 - Copy

Al wat ek daaruit wys word, is dat Rosa de Wet ten tye van haar oorlye met haar tweede man getroud was – sy was eers getroud met ‘n Johannes Louwrens Zandberg. En dat sy op Klipkolk (ook bekend as Loog of Lodewykskolk), Jan-Hendrik-hulle se huidige plaas oorlede is en daarom daar begrawe is.

Later soek ek weer na ‘n skakel tussen Rosa de Wet en Dr. D F Malan. Ek ontdek ‘n verhandeling oor die vroue in sy lewe: Behind Every Man: D F Malan and the women in his life. Geskryf deur Lindie Korf.

Dit lees soos ‘n storie. Hoe hy na sy studie as predikant deur sy pa se tweede vrou, Esther, bygestaan is in die pastorie en ook in die tyd daarna toe hy sy politieke loopbaan begin het in die Kaap. Op 50 tree hy vir die eerste keer in die huwelik met Mattie van Tonder wat 23 jaar sy junior is. Sy sterf na vier jaar van getroude lewe terwyl sy swanger is met hulle derde kind en laat twee klein seuntjies agter. Veel later is hy met sy tweede vrou getroud, Maria Ann Sophia Louw, wat hom oorleef het.

Bertus diep vir my D F Malan se eerste vrou se sterftekennis op uit die argiewe: Martha Margaretha Elizabeth Malan, gebore Zandberg. Zandberg? ZANDBERG!

IMG-20170712-WA0003 - Copy

BINGO!! Mattie, oftewel Martha was inderdaad Rosa se dogter by haar eerste man, Johannes Lourens Zandberg. Die einste Martha wat as die derde kind, as mondige, aangedui word op Rosa de Wet se sterftekennis.

IMG-20170710-WA0005 - Copy (2)

Sy was, volgens Lindie Korf, besig met haar studie as verpleegkundige toe haar ma, Rosa de Wet oorlede is. Sy onderbreek haar studie om na haar kleiner boeties en sussie te gaan omsien. Later raak sy betrokke by ‘n Vrystaatse boer. ‘n Paar maande voor hulle in die huwelik sou tree, is hy in ‘n ernsige ongeluk as invalide gelaat. Sy hou by haar belofte en trou tog met hom. Twee jaar later sterf hy en laat haar goed na. Sy besluit om haar studie in verpleegkunde voort te sit in die Stellenbosch. Dit is dáár wat sy D F Malan ontmoet en later met hom in die huwelik tree (haar tweede huwelik en dus nié as ‘n nooi de Wet nie) op die ouderdom van 29 jaar.

Rosa de Wet het toe waarlikwaar D F Malan se skoonma geword. Al was dit na haar dood. Erina was toe reg.

Erina het ook te vertel dat haar man, Everhardus, se pa die plaas Klipkolk by de Wet gekoop het. Sy seun Jan Rosie (seker n.a.v. sy ma se naam), het daar naby op Jobsekolk geboer. Dikwels as hy daar verby gekom het, het hy sy ma se grafsteen met ‘n sakdoek kom afvee.

As ek níé vir Bertus ingenooi het nie, sou ek nooit geweet het van Rosa de Wet nie. En jý ook nie.

L1200620

Bertus aan’t snuffel in die argiewe

Volmaan magic

P1370281

Met ‘n vorige volmaan, stap ek met my driepoot en kamera by die agterhekkie uit.  In die veldjie agter die huis is net die regte plek om die volmaan se opkoms vas te vang.

“Wa gaat Doemenie heen? Vra ‘n klomp kleintjies wat in die skemeraand nog in die strate speel.

“Ek gaan lande ploeg.”

“Kan ons saam kom?”

“Kom.” Hulle streep agter my aan. Deur die draad klouter ek en hulle agterna. Vroeër die middag  het ek ‘n mooi kolletjie gaan uitkyk vanwaar ek die maan kan afneem. Ek en Johan het die vorige aand op die kop agter die dorp die maan ingewag en daarom weet ek presies waar hy gaan kop uitsteek. En ook hoe laat.

My driepoot word opgestel en die kindertjies raak opgewonde. “Sy gaan snêppies vat!”

“Da’s hy Doemenie, daar boe” en enetjie wys na ‘n voëltjie bo in die boom. Hulle raak ywerig om voëltjies te soek maar merk op dat ek my kamera op die horison instel.

“Nou wat gaan Doemenie daar snêp?”

“Julle sal nou-nou sien as dit gebeur.” Ek skat daar’s nog ‘n paar minute oor voordat die maan sal opkom.

“Wat gaan gebeur?”

“Wag, julle gaan nou sien. Iets wonderliks gaan daar ver oor die randjie gebeur.”

“Wat Doemenie?”

“Wag en sien.” Hulle lyk skielik onseker. Dis nou al byna donker. Party staan nader aan my en enetjie staan sommer styf teen my, ingeval dit wat gaan gebeur dalk nóú gaan gebeur.

“Julle moet net eers to 100 tel. Dan sal dit gebeur. Kan julle tot by 100 tel?”

“Jaaaa, Doemenie!” en hulle val weg, “eeeen, tweeee, drieeee, vieeeer, …”

Ek tel saam en rek aspris die ‘tieeeeen,… twiiiiiintig, … de-e-e-rtig, …’ lank uit om tyd te wen.

Ek jok nie vir julle nie, op ‘ho-o-o-nderd’ breek die maan se oranje skedel die donker aand se vrugwater  en ‘n gloed stoot die duister terug.

L1120603

“Wat’s dit?! Wat’s dit?!” gil en skreeu dit rondom my. Die enetjie langs my gryp beangs my bene vas.

“Wat dink julle is dit?”

“Dissie son!!”

“Die son kom mos nie in die aand op nie.”

“Dan’s dit die maan” hoor ek die verligting.

“Ma hoe doen Doemenie dan nou vanaand sukke magic?”

P1410364

Oorle Annie Blom se kjênd

“Sy soek iets lekkers. Want haar ma is dood.” Dis die eerste woorde wat ek hoor toe ek die voordeur oopstoot as antwoord op die deurklokkie wat vier, vyf keer gelui word. Vyf kleintjies van verskillende ouderdomme staan teen die gaasdeur. Elkeen het seker ‘n beurt gevat om die klokkie te lui.

“Ag siestog, ek is jammer. Wie was jou ma?”

“Blom. Annie Blom”

“Wanneer is jou ma dood?”

“Gisteraand.”

“Wat het gebeur? Was sy siek?”

“Sy’t gif gedrink toe dooi sy.” Sonder ‘n sweempie emosie of hartseer.

L1200027

Is dit ‘n storie om my sag te maak om iets te bedel? Sy is sekerlik nog nie 6 jaar oud nie. Maar die groter seuntjies val dadelik weg met ‘n storie. ‘n Opgemaakte storie? “Hulle het haar vanoggend gebegrawe.”

Iets rym nie. Dis skaars 11uur. Gisteraand dood en vanoggend gebegrawe en als oor en uit?

“Hoe dan so gou?” wil ek weet.

“Die lykshuis se krag is af” het ‘n groter seuntjie dadelik ‘n antwoord reg. Sjoe, was daar dan so gou ‘n graf gereed? Kon hulle dan so gou al die familie hier kry? Gewoonlik vat dit tot 2 weke om almal kans te gee om die begrafnis by te woon. Ek begin vermoed hierdie storie is uit die duim gesuig.

“Nou hoe is sy begrawe?”

“Met ‘n doek oor haar kop en in ‘n ou rok.” Dis dieselfde slim knaap met die vinnige antwoorde.

“Hulle het haar in die graf laat insak” vertel ‘n ander enetjie.

“Hoe diep was die graf?”

Die ‘weeskindjie’ hou haar een armpie op tot bokant haar kop. Sy moes al by ‘n begrafnis gewees het.

“Het hulle haar nie in ‘n kis gesit nie?”

“Ja, in ‘n houtkis.” Nou hoe sou die knaap kon sien daar is ‘n doek oor haar kop en sy lê in ‘n ou rok as sy gekis was?

“Ek kan nie dink dat dit die waarheid is nie. Maak julle nie hierdie storie op nie? Kan ek gaan verneem of Annie Blom regtig dood is?”

“Gaan,” se wysneusie, “ry met die bakkie.  Laai ons in dat ons Doemenie kan loop wys.” Dit het hulle ook al gehoor – dat ek kinders in die bakkie laai dat hulle my moet gaan wys waar bly die pa of ma wat nie vir hulle sorg nie.  En dan vat hulle my op ver ompaaie vir ‘n lekker pretrit.

Ai, kan ek elke geval gaan ondersoek?

Toe gee ek maar.

Sulke oorspronklikheid moet darem beloon word.

Net na skool die volgende dag is weeskindjie en haar maatjie weer hier vir iets te ete. Die ougat maatjie herken ek van ‘n vorige keer. Dit was ‘n Sondagmiddag en ek het gestaan en klei afbrei. Sy wou weet wat my makeer – hoekom speel ek dan in die modder?

Nadat sy my ‘n lang ruk ernstig gestaan en betrag het, vra sy: “Doemenie, hoe kry Doemenie Doemenie se hare so glad?”

L1200025

Nou is die tweetjies alweer hier. Ek vermoed die ander drie staan net agter die heining, indien iets uitgedeel gaan word.

“Hoe gaan dit vandag met jou ma?” vra ek vir weeskindjie.

“Goed dankie, Doemenie.”

Sy is blykbaar nie meer dood nie …