Jak 127 bring verligting

 

jak127

Die manne van Jak127 het klaarblyklik my vorige storie raakgelees oor die waternood in Vanwyksvlei (https://wordpress.com/post/karooblog.wordpress.com/3291). Kort daarna ontvang ons ‘n oproep; hierdie groepie sakemanne wil ons dorpie kom seën met water!

Daar word ernstig in die Kaap begin om 5ℓ waterkanne te versamel. Die span is geskeduleer om ‘n werkswinkel vir plaaswerkers in Carnarvon te kom aanbied oor die naweek van 9 en 10 Februarie. Daarna, op pad na ‘n mannekamp in Brandvlei, besoek hulle ons in Vanwyksvlei.

Jak10

Ons dorpie het ‘n geskatte 300 huishoudings. Die aflewering kon nie op ‘n beter dag geskied nie. Want oor die vorige paar dae het beurkrag dit onmoontlik gemaak om selfs uit opgaartenks water te kry – drukpompe kon nie werk nie.

Jak4

5ℓwater is nie baie nie. Maar in tyd van waternood is 5ℓ water alles

Groot die gebaar van die manne van Jak127.

Groot die dankbaarheid van ons dorpsmense.

Jak8

 

MCCI bewerkstellig metamorfose.

Hoe het dit gebeur? Vir my en my maters van Vanwyksvlei, begin alles by die eenvoudige verwerking van herwinde plastiek wat toevallig in Brandvlei raakgesien word (daarvan het ek vroeg in Desember verlede jaar vertel). Saam met ‘n groepie kreatiewes van Carnarvon, beleef ons hierdie transformasie.

So verloop die proses:

8 maande gelede, word MCCI (MeerKAT Creative Community Initiative) in die lewe geroep. Die doel daarvan was drieërelei:

  1. Om kunstenaars en handwerkers vanuit voorheen banadeelde agtergronde te bemagtig
  2. Hulle te voorsien van opleiding in kreatiewe vaardighede asook van die nodige basiese besigheids- en bemarkingsvaardighede
  3. Om hulle in te lyf in die eerste treëtjies van hoe om ‘n volhoubare besigheid te bedryf.

Kragte word saamgesnoer met CDI (the Craft and Design Institute) vanuit Kaapstad. Die twee persone wat van die begin af so passievol is oor hierdie projek, is Mara Fleischer en Rose Cooke. En wat ‘n lekker verhouding ontstaan daar nie tussen ons klomp handwerkers en hierdie twee dames nie!

Twee werkswinkels vind gelyklopend vanaf die laaste week in November 2018 plaas – een in Williston vir Williston en Brandvlei se mense. Die ander een in Carnarvon vir Carnarvon en Vanwyksvlei se mense.

Maklik is dit nie om die pas vol te hou nie. Groot opofferings word deur almal gemaak. Kindertjies moet vir lang tye in ander se sorg geplaas word, sommiges moes verlof neem by die werk, huishoudings moet sonder ons klaarkom en baie tyd (veral familietyd) word ingeboet om op datum te bly met die maak van produkte as opdragte. Net 17 van ons druk deur, tot die einde.

Mara is die persoon wat mense se potensiaal raaksien en aan elkeen leiding gee om ‘n unieke produk te ontwikkel wat professioneel afgerond en markgereed is.

Rose gee die besigheidsbeginsels deur. Tydens ons laaste week laat sy ons in groepsverband ‘n besigheidsbordspel speel. Terwyl ons met mekaar kompeteer, word al die nodige besigheidsbeginsels ingeskerp op ‘n speel-speel manier; van beplanning, begroting, risiko’s neem tot om geld te leen by die bank. Nou is ons reg vir die groothandelaars en vir grootskaalse bestellings! Ons weet hoe om pryse te bereken en is geleer hoe om koste-effektiewe verpakking te maak.

Op SKA SA se onkoste ry, bly en eet ons. Die laaste week sluit die twee groepe by mekaar aan in Carnarvon. Dis so lekker om die lede van die ander groep uiteindelik te ontmoet. En dáár is Maria Pieterson ook, een van die eerste persone wat by my ‘n werkswinkel in Williston gedoen het minder as ‘n jaar gelede! Tóé het ons onder die vaandel van Carpe Diem gewerk. Hier is sy nou, vol selfvertroue en die trotse vervaardiger van artikels met linodrukwerk daarop.

Maria Lakey van Carnarvon verdien ook vermelding. Sy het tydens daardie selfde uitreik in Carnarvon onder my suster, Mariëtte Van Velden, met lapverf begin werk. Sy is tans die bekwame vervaardiger van ‘n magdom gehekelde korporatiewe produkte.

MariaLakey

Maria het ontdek hoe kreatief hekelwerk kan wees

Saam besoek ons as groep SKA se terrein. Ons bly saam en eet saam en werk bedags saam-saam baie hard.

MCCIeetOns deel ons vaardighede en geheime en intellektuele eiendom met mekaar. As iemand vashaak, help almal met ‘n oplossing. Gee wenke vir kortpaaie of beter eindresultate. Daar heers ‘n kreatiewe energie in elke werksessie wat aansteeklik is. Baie word vermag is so ‘n klimaat. Om kreatief besig te wees binne groepverband is terapeuties. Nee, meer nog, dis ‘n sensasie!

Ons skeppings word uiteindelik beoordeel deur ‘n paneel van SKA, CDI en ‘n onafhanklike kunstenaar van Williston, nl. Elsa. Ons moet onsself en ons produk bekendstel en bemark. Die paneel se terugvoer help ons om ons produk beter te vervaardig, beter af te werk, beter te prys of beter te verpak.

MCCIDaren

Daren besig om homself en sy ware bekend te stel

Elkeen van ons gaan ‘n sertifikaat ontvang vir die suksesvolle afhandeling van hierdie inisiatief van MCCI. Dit gaan by elkeen se tuisdorp geskied tydens SKA se die volgende inligtingsessie.

Ons ontvang die goeie nuus dat ‘n groep van 25 entrepeneurs van oraloor wat suksesvol in die handel van kuns- en handwerk is, ons volgende maand kom besoek om bestellings van ons werk te plaas. Dan word ons ook meegedeel dat ons klompie voorkeur sal kry as daar korporatiewe geskenke aangekoop moet word deur SAROA (Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Observatorium). Ook NRF (National Research Foundation) sal aan ons voorkeur gee as daar aankope van gehalte produkte gedoen moet word.

Binne ‘n tydperk van twee-en-‘n-half maande sien ek voor my oë hoe mense kan transformeer. Hoe aandag en ondersteuning, leiding en hulp, hulle kan laat blom van ‘n onseker persoon tot ‘n bekwame en trotse vervaardiger van bemarkbare artikels –  iemand wat besef dat sy vaardigheid in aanvraag is.

En hoe uiteenlopende mense van veskillende herkomste wat saam werk en saam beleef, een hegte groep kan word met groot waardering vir mekaar. Ons ruil telefoonnommers en e-posadresse uit. Ons is nou almal op een WA-groep en deel nuus en foto’s van ons nuutste skeppings met mekaar. Nadese is ons soos familie.

MCCIgroep1

My nuwe MCCI-familie

Vir my gebeur die transformasie grootliks in my kop toe ek vir die eerste keer erkenning kry vir my betrokkenheid by gemeenskappe; dit gaan lankal nie maar net oor plastiekherwinning nie. Dit gaan oor die bemagtiging van mense wat nog nooit blootstelling aan opheffing beleef het nie.

MCCImyne2

Van my handwerk met my storie daarby

 

 

 

 

Hoe MeerKAT, hoe minder hond

So voel ek nou. Hoe meer ek weet van MeerKAT, hoe minder hond voel ek oor die hele SKA-projek.

Ons klompie kunstenaars en handwerkers van Vanwyksvlei, Carnarvon, Brandvlei en Williston, geniet die voorreg om tydens ons laaste werkswinkel van MCCI (MeerKAT Creative Community Initiative) die SKA-perseel te besoek – dis immers SKA wat ons hele werkswinkel van die afgelope tyd, ons vervoer na en vanaf Carnarvon, ons verblyf en ons etes se koste dra.

Per bussie word ons groep van 17 na Klerefontein geneem, die plaas waar SKA se tuisbasis is. By die sekuriteitstoegangshek moet elkeen van ons ‘n alkoholtoets ondergaan; elkeen van ons moet eers in die pypie blaas. Hier gaan niemand onder die invloed in nie.

SKA7waai

Ons word ontvang deur Apiwe Hotele, Tegnologiese Kommersialisasiespesialis van SKA en gekwalifiseerde stelselingenieur (wat die uitstappie vir ons gereël het), Siswe Seranyane, die operasionele onderhoudsbestuurder van SKA, asook deur Lauwrian Andreas wat vir welstand en veiligheid verantwoordelik is. Kortliks word ons ingelig oor wat vir ons voorlê en ons teken vrywaringsvorms – hier gaan niemand sommer net in nie want hierdie is ‘n nasionale sleutelpunt.

Dan vertrek ons na Muisdam en Losberg, die twee plase waar alles gebeur. By die uitgangshek ondergaan ons almal eers weer die toets deur in die pypie te blaas. Gelukkig het niemand ondertussen gevat nie …

Dis ‘n goeie uur se ry na die perseel. Daar gekom, moet ons eers weer dié toets slaag. Dankie tog my blaas is skoon, maar my ander blaas, dié is vol!

Hierdie terrein is beveilig soos Alcatraz. Hoë staalheinings met penne bo-op is reg rondom hierdie perseel. Dis kantore en pakhuise en sentrums en kontrole kamers en wat nog meer, waarin groot dinge gedoen word. Die grootste risiko hier is bestraling. Geen selfoon, geen ‘blue tooth’, geen ‘wi-fi’ word hier toegelaat nie. Miljoene rande se skade kan deur een onnadenkede selfoonaksie aangerig word. Baie word hier opgevang, maar niks word van hieraf uitgestuur nie. Dis streng verbode om met enige toestel skelm selfies te neem of WA-boodskappe te stuur. Alle toestelle áf! Ons word gerieflik voorsien van ‘n veilige kamera waarmee ons ons besoek in foto’s mag vaslê.

In die pakhuise word skottels aanmekaar gesit. Hier word egter geen herstelwerk op hierdie terrein gedoen nie. As iets herstel moet word, word dit afgetakel en na die tuisbasis op Klerefontein vervoer. Die herstelde dele word weer hierheen teruggebring en hier aanmekaar gesit.

Siswe, bekend as Sky, is ons gids. Dis die eerste keer dat SKA ‘n klomp kunstenaars en handwerkers ontvang. Sky slaag daarin om alles verstaanbaar vir ons leke te verduidelik.

SKY

Siswe Seranyane

Ons vergesel hom na die Kontrolekamer wat onder grondvlak is en waarvan die mure geïsoleer is. Dit is sodat geen sein van hier af, die opvangs van die skottels kan beïnvloed nie. Dit is ook die doel van die groot grondwal tussen hierdie perseel en die terrein waar die skottels staan.

Daar is 6 groot rekenaarskerms in hierdie vertrek. Hier word die toestand van elkeen van die 64 MeerKATskottels deurlopend gemonitor. Enige probleem met kragvlakke of beweging van ‘n skottel, kan onmiddelik hier opgetel en aangespreeek word. Beurtkrag het geen invloed op enige aksie wat hier plaasvind nie. Hier word self krag opgewek en deur spesiale tegnieke word ‘n ononderbroke kragtoevoer verseker.

Ons volg Sky na die Optiese Kabel Verspreidingsentrum. Hierdie sentrum met sy derduisende optiese kabels en imposante verspreidingsborde, opereer tussen die skottels en die Korreleerder. By die Korreleerder word ons nie toegelaat nie – statiese elektrisiteit is te hoog en mens het spesiale klere daarvoor nodig. Die Korreleerder belyn al die verskillende seine vanuit die ruimte wat met verskillende invalshoeke die skottels tref, tot ‘n enkele sinvolle datasein deur ‘n proses van interferometrie. Dié word per optiese kabel Kaapstad toe gestuur waar hierdie data ontleed word deur wetenskaplikes en omgeskakel word tot ‘n beeld van wat gehoor is in die ruimte

 

Dit is tyd om die skottels te besigtig en ons is terug in die bus. Gelukkig hoef ons nie weer te blaas nie …

Ons eerste stop is die 7 reuse skottels van KAT 7 (Karoo Array Telescope) wat staan soos Sossusvlei se dooie bome uit ‘n vorige era. Hulle taak is afgehandel. Hulle is in onbruik, hoewel hulle steeds operasioneel is. Hierdie majestieuse skottels se deursnee is 10m. Hulle het buiteruimtelike intelligensie gesoek, swart gate bestudeer en navorsing gedoen oor donker materie. Antwoorde is reeds verkry en hul doel is bereik.

SKA7

Sky verduidelik aan ons waarom ontvangers afgekoel moet word. Hoe word dit gedoen in ons uiterste klimaatstoestande?  Deur ‘n proses bekend as cryogenics, word water in ‘n vakuum afgekoel. Die verkoelingstelsel binne-in elkeen van hierdie skottels, werk met verkoelde water in ‘n tenk in die basis van elke skottel, tesame met ‘n verseëlde lugverkoeler. Hierdie is ‘n trots Suid-Afrikaansontwikkelde proses

Hiervandaan ry ons na HERA (Hydrogen Epoch of Reionization Array). Dit is ‘n buitelandse projek en bestaan uit 300 skottels wat soos onderstebo sambrele op die grond staan. Die oprigtingsproses is tans aan die gang deur gebruik te maak van plaaslike arbeid. Hier leer die outjies waardevolle vaardighede deur blootstelling aan die nuutste tegnologie, soos bv. Kabels van optiese vesels te las. Ek dink hulle gaan later baie hierby baat want mens tel nie hierdie tipe vaardighede sommer agter elke bos op nie.

HERA se skottels is so mooi! Hulle is deursigtig omdat hulle gemaak word van sifpanele. Die raamwerk is PVC-pype. Dit is laekoste strukture wat maklik weer afgetakel kan word. Hulle lê teen mekaar soos selle in ‘n heuningkoek en maak die mooiste skadu’s op die grond. ‘n Skoenlapperagtige ontvanger word met katrolle opgehys om bokant die skottel te hang soos ‘n insek wat op soek is na stuifmeel.

HERAbutterflyAnders as die veselglas oppervlak van KAT 7 en die aluminium oppervlak van MeerKAT, kan hierdie gaasoppervlak golwe weerkaats van frekwensies tussen 70 en 200MHz, want die gaatjies is klein genoeg.

Sou hierdie skottels die antwoorde verskaf het waarna navorsers op soek is, sal dit ook in onbruik verval. Hulle kan vinnig weer afgebreek kan word en is nie soos KAT 7 se skottels wat soos soliede wit olifante – monumente wat vertel van ‘n vining veranderende tegnologie – of MeerKAT se skottels met ‘n beplande leeftyd van 30 jaar nie. Ons groep wat potensiaal sien in elke weggooi ding, droom al klaar oor wat ons sal kan maak met al hierdie kosbare afvalmateriaal.

Nou, uiteindelik, verskuif ons na die terrein waar MeerKAT se 64 skottels staan (ver meer as KAT 7). Wat ‘n imposante struktuur! Hier staan ons in die skadu van een van hierdie indrukwekkende strukture, wat ‘n suiwer produk van Suid-Afrikaanse ingenieurvermoëns is. Anders as die optiese skottels by Sutherland, wat beelde van die ruimte neem, hóór MeerKAT seine vanuit die ruimte, sommige al baie baie jare gelede, en omvorm dit tot beelde. Dit is waaroor radio astronomie gaan – om ‘n prentjie te sien na aanleiding van seine wat gehoor word.

Beste skottel

Daar word tans veral gesoek na waterstof (H) wat ‘n radio frekwensie van 1,3 GHz uitstraal. As waterstof gevind word, kan dit op die moontlikheid van lewe daarbuite dui.

MeerKAT is ‘n hoë frekwensie skottel. 40 panele saam vorm die oppervlak van 10,5m in deursnee. Enige inmenging van ander elektromagnetiese golwe, kan die antennas se werking beïnvloed, maar radiogolwe is skadeloos vir die werking van die skottels. Elke skottel is toegerus met ‘n ontvanger wat met ‘n arm, amper soos ‘n voorarm vanaf ‘n gebuigde elmboog, na die skottel gerig is soos ‘n oop handpalm. Hierdie ontvanger kry ‘n analoogsein en ‘n digitaliseerder skakel dit om in ‘n digitale kode. Dit is hierdie digitale kode wat ontvang word by die Korreleerder en wat belyn word tot ‘n enkel sein wat Kaapstad toe gestuur word om een prentjie in verskillende kleure op te maak.

SKA (Square Kilometer Array) is ‘n projek waarby 8 lande betrokke is. SKA SA is ‘n nie-winsgewende projek. As die minister van wetenskap en tegnologie nie fondse beskikbaar stel nie, kan niks gedoen word nie. SKA is nie die regering nie. Plaaslike munisipaliteite is steeds verantwoordelik vir instandhouding van paaie en water. Eise aan SKA vir beter paaie en verbeterde waterprojekte is dus ongegrond. Plaas liewer druk op die verantwoordelike amptenaar by jou plaaslike munisipaliteit. SKA kan wel bekwame mense voorsien om raad te gee met opknapping en instandhouding en is bereid om dit te doen.

SKA het in ons omgewing hier in die Bo-Karoo ‘n nuwe era laat aanbreek. Wat hier op ons drumpel gebeur, gebeur nêrens anders ter wêreld nie. Hier, in ons midde, staan ‘n radio astronomie teleskoop wat besig is om buiteruimtelike seine op te vang. Ons plaaslike wetenskaplikes het heel eerste toegang tot hierdie seine. Eendag, dalk nie so ver die toekoms in nie, kan daar dalk ‘n Suid-Afrikaner ‘n Nobelprys ontvang vir wetenskap as gevolg van dít wat hier gedoen word by SKA.

En hieroor kan geen regdenkende mens ‘n hond-in-die-mond gevoel hê nie.