Hier kom ‘n ramp

Die hele uitgestrekte oppervlak van die Vanwyksvleidam is tans begroei met prosopis boompies wat al so hoog staan soos ‘n mens.

dam1

Die laaste foto wat ek van die dam met water in het, is op 31 Januarie hierdie jaar geneem.

dam3

‘n Duideliker foto van die damoppervlak met water in, is geneem op 9 Augustus verlede jaar.

damlaaasteSedertdien het dit wel ‘n slag of wat gereën, ons het lekker reën op 31 Januarie vanjaar en weer op 14 Februarie gehad. Maar sedertdien is daar geen invloei van water in die dam nie.

Die laaste foto van die damoppervlak SONDER boompies, is geneem op 16  Februarie verlede jaar.

damdroog

Vroeg in Oktober vanjaar het ek en Ria en Rina een oggend dam toe gestap. Ons wou vir Ria, ‘n kuiergas, ons dam gaan wys. Toe het ek reeds opgemerk dat daar orals boompies uitspruit op die droë damoppervlak. Dit was drie maande gelede, julle!!

En nou het die boompies oorgeneem en kans gekry om diep wortel te skiet. Reën dit nou, sal daardie boompies nie verdrink nie, hulle sal floreer. Probeer mens hulle afkap, sal hulle net stoel, soos prosopis bome gewoonlik maak. En as hulle eers begin bosmaak het, word dit ‘n ondeurdringbare woud vir mens of dier. Kap mens dit af en behandel met gif – die enigste manier om van hulle ontslae te raak – word die dam se water vergiftig as dit dan sou reën en water die dam sou binnevloei. Dink net aan al die voëls, visse, diere wat so bedreig gaan word.

Damskraap in hierdie wêreld word gereeld gedoen. So word elke gatdam se kapasiteit vergroot vir wanneer die reën kom. Dis bitter lanklaas by die Vanwyksvleidam gedoen – nie in ons tyd die afgelope drie jaar nie. Instandhouding. Gebrek daaraan het reeds baie ander rampe in ons land veroorsaak. Die Vaalrivier is maar een van die baie.

Die hele soom van die Vanwyksvleidam en al die kanale vanuit die dam wat veronderstel is om water na die dorp toe te laat deurvloei, is al vir jare dig begroei met prosospis. Dis moeilik om te glo dat daar ‘n dekade of wat gelede, nog grasperke en vrugteboorde in Vanwyksvlei was. Dat die enigste teerstraat weerskante deur sterk bome omsoom was. Dat daar in die kanaal oos van die dorp byna 90 winddpompe werksaam was wat water na elke erf in die dorp gepomp het. Die enigste teken daarvan vandag, is geraamtes van ‘n enkele windpomp of twee, en ‘n gebarste dam in feitlik elke erf. Kan ‘n dorp so vinnig sterf?

Jammer. Ek sou graag die jaar op ‘n positiewe noot wou afsluit. Maar om stil te bly, weer nie die ramp af nie …

Op pad na Angola op 2 wiele

‘n Duitser, Stefan Pittelkow, van Ravensburg, doen hier aan op soek na oornagplek. Hy ry Angola toe op sy fiets. Het in Kaapstad begin drie weke gelede en na ‘n week of wat in Robertson, in die pad geval.

stefan3

Stefan is die toonbeeld van ‘n lewende biltong – bruin gebrand deur die Karooson en gesening van al die kilometers se trap. Sy liggaamsvetinhoud is sekerlik diep in die negatief. Hy doen hierdie ding al vir 50 jaar. Sy eerste fietstoer op 12jarige ouderdom was van Duitsland na Frankryk. Hy het alreeds die wêreld plat gery met sy fiets. Australië. Die Sahara. Sy fiets is toegerus met twee saalsakke wat als bevat – kampeertoerusting, gereedskap om die fiets mee te herstel as hy teëspoed sou kry, ekstra onderdele en binnebande, asook kos. Water kry hy al langs die pad uit windpompe.

Mens wonder hoe hy dit regkry. Finansiëel, bedoel ek. As ‘n elektroniese programmeerder het hy sy eie besigheid gehad waar hy elektroniese meetinstrumente vervaardig het. Hiermee het hy die akkuraatheid bepaal van die vervaardiging van onderdele, veral dié van vliegtuignavigasietoesusting. Maar op 62 werk hy nie meer nie omdat alles deesdae so oordadig gereguleer word in Duitsland, dat sy werk naderhand 90% admin en verslae was en nie meer die ware Jakob nie.

Sy vrou, ‘n mediese dokter, sluit in Februarie by hom aan om saam met hom Etosha en Kgalagadi te toer. Dan sit hy sy tog voort  na Angola. Sy terugvlug is bespreek vir April 2019.

Stefan praat Engels. Ook maar so moeilik soos ek, maar ons verstaan mekaar. As hy ‘n Duitse term se vertaling soek, gebruik hy sy selfoon daarvoor.

Ons reël vir hom slaapplek by Jan en Tilla want hy moet daarlangs verby op pad Upington toe via Kenhardt. Ons huis is vol met familie vir Kersfees en Rina, Vanwyksvlei se enigste gastehuiseienaar, is tans by haar familie. Daar geniet hy egte Karoogasvryheid, maak kennis met skaapstertjies en gesonde familiesamesyn.

Stefan1

Stefan geniet DeBruynsrus en sy mense en plaasdiere, wat soos werfdiere is, so baie, dat hy nog ‘n dag daar oorstaan. Ek kan dit glo ja, want dit is beslis nie oor hy op Kersdag nie op pad wil wees nie. Kersfees op DeBruynsrus is amper soos Kersfees in Betlehem se stal.

stefan2

Juwele van die Karoo

Een van die opwindendste dele van ons verblyf in Vanwyksvlei is die onverwagse ontdekking van juwele. Soos JP Steenkamp, die Graad 6 onderwyser op die dorp.

JpSteenkamp

 

Op ouderdom 52, behaal hy ‘n B.Ed graad nadat hy as jong seun na Gr.10 die skool moes verlaat om, soos so baie ander kinders van sy tyd, die gesin te help onderhou. Hy raak groot op George-Eiland by Keimoes waar hy skoolgaan by die plaaslike primêre skool en later by Oranjesig in Keismoes.

Na skool kry hy werk as stoorman in die besproeiïngsektor in die Paarl waar hy 30 jaar diens verrig. Steeds spook die gedagte by hom dat hy tot meer in staat is en vir beter bestem is.

Hy skyf in by ABET (Adult Based Education and Training) in 2011 by CLC in Wellington waar hy eers weer sy standerd 7 moes oordoen en behaal sy matriek die volgende jaar. In daardie selfde jaar word hy reeds ‘n student by Unisa waar hy met sy onderwysgraad begin en saam met matriek, merkwaardig genoeg, die eerste drie modules van sy eerstejaar studie afhandel. Vier jaar later, in 2016, vang hy graad.

jp1

“Wat was jou dryfveer? Wie het jou gemotiveer om soveel in te sit, dit terwyl jy voltyds stoormeester was?”

“Daardie droom om onderwyser te kan word wat steeds lewendig was, was grotendeels die dryfveer. Die vlammetjie het ek nie self aangesteek nie. Diep binne-in my het ek net altyd geweet dat ek daarvoor bestem is. My vrou se ondersteuning, asook die van my kinders, was deur die bank agter my.”

Die enigste aanstelling wat hy toe kon kry by die Onderwysdepartement, was hierdie een in Vanwyksvlei. Vanaf 1 Januarie 2017, dien hy die gemeenskap as onderwyser en word ‘n jaar later permanent aangestel.

Sy mense woon steeds in die Paarl. Hy sien hulle slegs elke skoolvakansie. Sy een dogter volg in haar pa se voetspore en behaal volgende jaar haar B.Ed by Unisa – dit terwyl sy ook voltyds in diens is by ‘n maatskappy in die Paarl.

JP geniet sy nuwe lewe as onderwyser met sy hele hart. Sy siel is in sy beroep. Hy vertel dat sy proefondervinding tydens sy studies net sy droom om onderwyser te word, verder versterk het.

Het hy nog ‘n verdere droom? Ja, hy sal graag eendag, voordat hy aftree-ouderdom bereik, ‘n skool wil bestuur.

Ons hou jou dop, JP!

JP

Ek gaan saam; ek sit voor

Want ek wil nie uitmis waar daar wonderwerke besig is om te gebeur nie.

Alles het begin by die mandjies wat die skoolkinders van plastiek weef, wat agtergelaat is in Brandvlei. Na afloop van die Ringsitting. By Die Windpomp. Om verkoop te word aan die Sjinese wat die volgende week daar sou aandoen om na die rieldanse te kom kyk.

20180829_073506

In opdrag van SKA word ‘n projek geloods in die Bo-Karoo. Werkswinkels word aangebied in die area waar SKA opereer om mense wat handwerk doen te help om hulle produk te ontwikkel en markgereed te kry – dis ‘n inisiatief om ekonomiese en volhoubare ontwikkeling in afgeleë gemeenskappe te bevorder. Craft and Design Institute van die Kaap, met die kundigheid en vaardigheid, voer die taak uit. Mara en Rose van CDI is op pad vanaf die Kaap Karoo toe. Hulle staan oor op Brandvlei by Die Windpomp – die einste plek van ons Ringsitting. Sien die mandjies. Kry my besonderhede. Nooi ons uit na die werkswinkel in Carnarvon – SKA dra al die uitgawes.

Die werkswinkel skop af. Ons word deur Andrew per taxi opgelaai en soontoe vervoer (gelukkig nie my eerste ervaring van taxi-ry nie…) en gehuisves in luuksheid in die Lord Carnarvon Gastehuis. Elkeen in ‘n eie kamer, victoriaans gemeubeleer met eie badkamer, lugreëling, TV. Eet saans in die Lord Kitchen van ‘n spyskaart af.

Ons is 13 kursusgangers vanuit Vanwyksvlei en Carnarvon. Williston en Brandvlei se kursus lewer 24 kursusgangers op. Mara en Rose kyk na elkeen van ons se produkte en begelei ons om ons produk te ontwikkel volgens die behoefte van die mark. Ons leer om vir die mark te produseer. Hoe om ons produk te variëer volgens die piramiedemodel – die laagste brood-en-botter lyn, die middelreeks vir ‘n duurder, groter, meer gedetaileerde produk, asook vir die topreeks waar mens dalk een keer per jaar ‘n groot, duur, eksklusiewe produk verkoop kan kry.

Ons breinstorm oor hoe om ons unieke omgewing te verkoop in ons produk. Hoe om dinge wat eie is aan ons kontrei in ons produk in te werk: skapies, kokerboom, windpomp, boesmantekeninge, korbeelhuisies. Hoe om ons produk te ontwikkel deur dit ‘n nuwe funksie te gee – hetsy vir die skoolkind of vir die korporatiewe wêreld of vir die toeris of vir binneversiering. Ons verbreed ons horisonne met ons produk deur dit wyer te begin aanbied – as ‘n sleutelhouer, as ‘n yskasmagneet, as ‘n biermatjie, as ‘n boekmerk, as ‘n oorbel, as ‘n bedlampie, as ‘n rugsak. Ons bekyk die eindelose moontlikhede van bloot die gebruik van ander materiale of die kombinasie van materiale.

Gemaksones is nog altyd, so dink ons, ‘n veilige plek. Word ons darem daar vir jou uit ons s’n gepluk deur blootstelling aan uitdagende oefeninge; skets toe-oë, skets onderstebo, toer die dorp deur en ets teksture af op papier met vetkryt. Allerhande vreemde goed wat weer ‘n nuwe lewe kan kry word opgetel. Ons bekyk gewone dinge deur ‘n klein gaatjie geknip in ‘n vel papier. Leer om te fokus. So sien ek ‘n ander gaatjie raak wat ek defnitief nie andersins sou opmerk nie…

CDI3

Een laatmiddag ry ons saam met Estelle uit na die plaas Koeëlkop om klippe te gaan optel wat beskilder kan word. ‘n Vrolike klomp kursusgangers wat elke oomblik geniet.

Ons speel met tegnieke. Ons ontdek kleur. Ons verbind tot ‘n span. Ons besluit voortaan staan ons bekend as Erdman Creatives na analogie van die Meerkat Teleskoop. Ons kry hoop. Ons werk. Ons eet. Ons lag. Ons geniet. En dit in ‘n dorp sonder water waar toilette nie eens gespoel kan word nie.

CDI6

Agter v.l.n.r. Jason,  Garrith, die uwe, Estelle, Rose, Sharon, Werner, Maria. Voor: Nash, Gavin, Mara, Stefanus en Allistair

Tussendeur deel ons ons drome met mekaar. Ons deel middele en materiale en idees onder mekaar waarmee ons ons produkte kan verbeter. Daar heers ‘n kreatiewe energie. Almal is besig met een of ander proses. Dit brei en hekel en ontwerp en beplan. Dit knip en plak en stryk en teken. Ons ontdek nuwe maniere van dinge doen deur ander prosesse te begin toepas. ‘n Haardroër word ingespan om plastiek te vervorm. Dis ‘n A-ha-oomblik om te ontdek dat fusie met ‘n strykyster plastiek beter laat plak as die beste gom!

CDI deel mildelik uit wat nie in ons omgewing beskikbaar is nie. ‘n Soldeerbout. Lapverf. Wassers. Tolle hekelgare en borduurgare. Ringetjies vir sleutelhouers. Hakies vir juwele. Notaboekies. Teegoeddoeke. Gom. Spieëls. Hekel- en breipenne. Tou. Elke middag word ons getrakteer op ‘n wegneem-ete en liters koeldrank..

Verpakking kry baie aandag. Omdat dit jou produk se prys grootliks beïnvloed, word ons geleer om goedkoop maar treffende maniere van verpakking te ontdek. Hier troon herwinde materiale loshande bo uit. Mens verstom jou oor die moontlikhede wat in elke weggooi koeldrankbottel skuil. Soos Maria met reg opmerk: “Niemand mag meer ‘n leë bottel weggooi nie!”

Hoe werk mens ‘n prys uit vir jou handwerk of kunswerk? Daardie vraag word beantwoord deur ‘n logiese model wat Rose deurgee. Niemand kan jou nou meer indoen nie want hierdie model dek als – materiale, uitgawes, tyd, arbeid, krag, verpakking. Om die koste van jou produk te bepaal is ‘n wetenskap, maar om die prys te bepaal is voorwaar ‘n kuns.

Mara sit met elkeen individueel. Bekyk elkeen se kunswerk, gee raad en maak voorstelle. Sy help elkeen om sy eie unieke produk te verfyn en dit te ontwikkel tot ‘n reeks.

CDI5

Afwerking kry baie aandag. Opdragte word gegee vir volgende keer. Ons sit met tonne huiswerk. Daar’s nie tyd vir ginnegaap hierdie Desember nie. Werk gaan ons werk!

’n Groot klomp welwillendheid breek los. Estelle skenk vir Stefanus – bedrewe met handwerk maar beperk aan middele – ‘n hele sweismasjien! My jarelange droom om ‘n pottebakkersbedryf met die dorpsmense in Vanwyksvlei te begin, kry vlerke. Deur ‘n riemtelegram wat begin loop – kan julle glo – ontvang ons ‘n skenking vanaf Carnarvon se VGK-predikantspaar van ‘n pottebakkersoond en ‘n wiel! Verlede week is ‘n klomp van hulle besittings opgeveil omdat hulle aftree en eersdaag verhuis. En die afslaer het vergeet om die pottebakkersgoed op te veil! Noem mens dit toevallig?

IMG-20181209-WA0023

Wat het ek julle gesê? Hier kom regtig ‘n groot ding! ‘n Baie grote!!

Waternood in Vanwyksvlei

P1350594

Boorgate, die enigste bron van water in Vanwyksvlei, is besig om op te droog.

Bedags loop die krane glad nie meer nie. Elke huishouding word beperk tot slegs 25ℓ. Voor elke huisie staan die waterkanne opgestapel. Want Oom Schalk ry tot 11 roetes per dag na elke deel van die dorp met die trokkie (die trekker is stukkend). Dit is 2 500ℓ op ‘n slag. Altesaam 27 500ℓ water word daagliks vervoer. Hoeveel kilometer per dag met diesel wat ongeveer R17,00/ℓ kos?

Die enigste boorgate wat nog water lewer, is Smouskolk 1 en 2. Smouskolk 3 en 4 is reeds opgedroog. Waverley en die dorp se boorgat gooi darem ook nog.

Plase in die omgewing, soos Môreson en Jaersfontein, het nog goeie water. Hulle is bereid om die dorp te help as die nood te hoog raak. Het alreeds gehelp om watertenks by die kampterrein te vul tydens die BullRun. Of om die pad stofnat te maak met die waterkar.

Party van ons dorpsmense het nog steeds reënwater. Die pastorie, wat bevoorreg is om 4 reënwatertenks op die erf te kan hê, deel uit. Daar is elke dan en wan mense by die hek met bottels wat drinkwater kom vra. Want die dorpswater is nie meer lekker nie.

water1

Snags kom daar ‘n dun straaltjie munisipale water deur wat weer ons tenks voed. Maar die watedruk is te swak om die huise wat hoër op, bokant die hoofstraat lê, te bereik. Soos dié van Rina en Magriet. As daar egter beurtkrag is (soos wat feitlik daagliks gebeur) en die drukpomp wat daardie water moet deurstoot na onse krane toe werk nie, beteken daardie watervoorraad niks. Die krane bly droog.

Dis glad nie ‘n gawe tyd om sonder water te moet sit nie. Jy wil nie weet hoe dit is as die dagtemperature so styg soos hier by ons in Vanwyksvlei, en daar is nie water as lafenis nie. Maar laat ons nie kla nie, want die boorgate wat wel lewer se pompe werk mos met sonkrag.

Sopas ‘n werkswinkel bygewoon in Carnarvon. Dieselfde lot daar. Beurtkrag. Geen water. Toilette wat nie kan spoel nie. Stof en sweet wat nie saans afgespoel kan word nie. Eish.

Vonke spat by raadsvergaderings oor die waterkrisis. Sommiges beweer dis swak bestuur. Ander is weer van mening dat daar wél water in die omgewing beskikbaar is – selfs boorgate wat nie gebruik word nie – waarvan die munisipaliteit net nie weet nie. Raadslede word uitgetrap. Verguis. Maar daar is glo reeds geboor in die omgewing. Die gate is óf droog, óf die water is onbruikbaar brak.

En dan is daar onlangs ‘n reuse werkskeppingsprojek uitgesit met reusagtige tenders om ‘n pypleiding aan te lê vanaf Carnarvon na Vanwyksvlei. Om watter water hierheen te lei? Wonder mens…

Maar as selfs die koerajongs om die kerk begin vrek, moet jy weet dis vrek droog.

P1350581