Die wit koevert

Bestaan  daar ‘n barometer vir ware vriendskap? Elke mens het seker sy eie een. Ons s’n is ‘n wit koevert.

Gereeld lê die groot wit koevert  in ons posbus. Propvol uitknipsels uit die Beeld. Al sedert 2012.

L1200715

Daar was ‘n tyd in Lyttelton toe ons Vriend Bauer se Beeld met hom gedeel het. As hy klaar gelees het, kom druk hy die koerant in ons heining of in ons posbus.

In 2012 verkas ons uit Pretoria vir ‘n sabbatstyd van 9 maande – eers Kalahari toe, daarna Boemanland toe. Beeld volg ons – of liewer, dele van Beeld. Netjies uitgeknip en versamel in ‘n groot wit koevert. Aanvanklik aangestuur na die adres in Upington van ons plaasvrinde van Askham, waar ons ons vestig. Later na die adres in Loeriesfontein van ons plaasvrinde aldaar.

Soos ‘n gelukspakkie. Elke oopmaak van daardie koevert is ‘n verrassing. ‘n Vreugde.

Ek soek eerste al die Donderdagrubrieke uit van Annemarie van der Walt. Daar’s Blou Willems en Wilhelm Jordaans. Daar’s Piet Matipa’s en Ivor Price’e. Elise Tempelhoffs en Petro Hansens.  Maretta Bellingans en soms ‘n koddige spotprent. Redaksionele kommentaar van belangrike gebeure is versamel. Interessante artikels bygevoeg vir genot. Sport-, veral rugbybrokkies. En dan altyd ‘n kopie van Sondag se blokraaisel uit Rapport. Poeding.

En dan soms iets vanaf die tuisfront in Lyttelton. ‘n Begrafnisbrief van een van die gemeentelede uit ons vorige gemeente, Lyttelton-Oos – Ds Freddie of tannie Rachel; Christina Landman se ma. Of, soos onlangs, Johann Botha, wat graag Vanwyksvlei besoek het, se begrafnisbrief. Iets  wat ons sal raak om te sê ons word nog ge-ag as deel van daardie gemeenskap. Ons word nog op hoogte gehou.

L1200717

Mens kan ware vriendskap aan baie dinge meet. Die gereelde oproep as jy verjaar. ‘n WhatsAppie uit die bloute. ‘n Sondagaand langafstand oproep. Daardie onmenslike afstand vanaf Jongensfontein of Bettiesbaai of Askham of Wellington of Pretoria of Durban of Somerset-Wes of Parys, al die pad Vanwyksvlei toe om te kom kyk hoe leef die Smitte.

Of jy meet dit aan die gereelde ritme van die wit koevert in ons posbus.

Dankie Johan Bauer.

Om Stories op te diep

As dit nie vir Bertus Reën was nie, het ek steeds gewonder oor Rosa de Wet.

L1140142

Rosa de Wet lê begrawe op Jan-Hendrik en Karin Hoon se plaas Klipkolk op die Brandvleipad, sowat 66 km uit Vanwyksvlei. Die eerste keer wat ek op hulle paas kom, merk ek hierdie graf met sy pragtige steen op wat buite die ringmuur van die familiebegraafplaas staan. My nuuskierige navraag beantwoord Erina, Jan-Hendrik se ma: “Dis die graf van Dr D F Malan se skoonma.”

L1140137

 

Hier’s ‘n storie, dink ek. Maar my soektogte op die internet lewer niks op nie. D F Malan was twee keer getroud – eers met ‘n Martha van Tonder en toe met ‘n Maria Louw. Nie een van dié se nooiensvanne stem ooreen met Rosa Hermina (Schalkwijk) de Wet nie. Verder is hy eers in 1923 getroud toe Rosa de Wet al lankal dood was – dus kon sy nie sy skoonma gewees het nie

Ek nader vir Kosie van Schalkwyk of hy dalk iets weet. Later ontmoet ek sy neef in Potchefstroom, Peet van Schalkwyk, wie se oupa desjare in die distrik van Vanwyksvlei geboer het. Hy verwys my na ‘n oom van hulle in Carnarvon. Maar steeds lewer my navraag geen lig op nie.

Dalk is dit maar net ‘n wolhaarstorie.

So verloop meer as ‘n jaar. En Bertus Reën wat oorkant die straat bly, klop aan om hulp te vra by Johan. Sy kar kan nie in rat kom nie en moontlik weet Johan wat fout is, want hy het dikwels al gesien Johan werk aan die voertuie en moet iets van karre se enjins af weet.

Ek nooi vir Bertus in om solank binne te kom wag want Johan is gou saam met Jan La Grange koöperasie toe. Hulle behoort nie lank te wees nie.

Uit ons geselsery kom ek agter Bertus het voor sy koms na Vanwyksvlei by die Nasionale Argief in Heidelberg gewerk. Ek vertel hom van my soektog na Rosa de Wet se geskiedenis wat niks opgelewer het nie.

L1140140

Daar en dan spring Bertus in om met sy meerdere vaardigheid vir my elektronies te help soek. Voor die son die horison in die weste raak, lê ‘n foto van Rosa se sterftekennis vanuit die Argief op my rekenaar.

IMG-20170710-WA0005 - Copy

Al wat ek daaruit wys word, is dat Rosa de Wet ten tye van haar oorlye met haar tweede man getroud was – sy was eers getroud met ‘n Johannes Louwrens Zandberg. En dat sy op Klipkolk (ook bekend as Loog of Lodewykskolk), Jan-Hendrik-hulle se huidige plaas oorlede is en daarom daar begrawe is.

Later soek ek weer na ‘n skakel tussen Rosa de Wet en Dr. D F Malan. Ek ontdek ‘n verhandeling oor die vroue in sy lewe: Behind Every Man: D F Malan and the women in his life. Geskryf deur Lindie Korf.

Dit lees soos ‘n storie. Hoe hy na sy studie as predikant deur sy pa se tweede vrou, Esther, bygestaan is in die pastorie en ook in die tyd daarna toe hy sy politieke loopbaan begin het in die Kaap. Op 50 tree hy vir die eerste keer in die huwelik met Mattie van Tonder wat 23 jaar sy junior is. Sy sterf na vier jaar van getroude lewe terwyl sy swanger is met hulle derde kind en laat twee klein seuntjies agter. Veel later is hy met sy tweede vrou getroud, Maria Ann Sophia Louw, wat hom oorleef het.

Bertus diep vir my D F Malan se eerste vrou se sterftekennis op uit die argiewe: Martha Margaretha Elizabeth Malan, gebore Zandberg. Zandberg? ZANDBERG!

IMG-20170712-WA0003 - Copy

BINGO!! Mattie, oftewel Martha was inderdaad Rosa se dogter by haar eerste man, Johannes Lourens Zandberg. Die einste Martha wat as die derde kind, as mondige, aangedui word op Rosa de Wet se sterftekennis.

IMG-20170710-WA0005 - Copy (2)

Sy was, volgens Lindie Korf, besig met haar studie as verpleegkundige toe haar ma, Rosa de Wet oorlede is. Sy onderbreek haar studie om na haar kleiner boeties en sussie te gaan omsien. Later raak sy betrokke by ‘n Vrystaatse boer. ‘n Paar maande voor hulle in die huwelik sou tree, is hy in ‘n ernsige ongeluk as invalide gelaat. Sy hou by haar belofte en trou tog met hom. Twee jaar later sterf hy en laat haar goed na. Sy besluit om haar studie in verpleegkunde voort te sit in die Stellenbosch. Dit is dáár wat sy D F Malan ontmoet en later met hom in die huwelik tree (haar tweede huwelik en dus nié as ‘n nooi de Wet nie) op die ouderdom van 29 jaar.

Rosa de Wet het toe waarlikwaar D F Malan se skoonma geword. Al was dit na haar dood. Erina was toe reg.

Erina het ook te vertel dat haar man, Everhardus, se pa die plaas Klipkolk by de Wet gekoop het. Sy seun Jan Rosie (seker n.a.v. sy ma se naam), het daar naby op Jobsekolk geboer. Dikwels as hy daar verby gekom het, het hy sy ma se grafsteen met ‘n sakdoek kom afvee.

As ek níé vir Bertus ingenooi het nie, sou ek nooit geweet het van Rosa de Wet nie. En jý ook nie.

L1200620

Bertus aan’t snuffel in die argiewe

Deelname doen dít:

Nes die ylwordende platteland, is ons gemeenskappie (lees gemeentetjie) in Vanwyksvlei ook besig om al dunner en minder te word – kompleet soos oumenshaarverliessindroom

Dan gebeur daar een keer elke jaar ‘n kerkbasaar.

I define connection as the energy that exists between people when they feel seen, heard, and valued; when they can give and receive without judgement; and when they derive sustenance and strength from the relationship”  lees ek in Brené Brown se boek The Gifts of Imperfection.

Dis wat die kerkbasaar regkry.

Ver meer as die bedraggie wat ons skraal gemeentetjie kan insamel tydens ‘n basaar, is die versterking van verhoudinge onder lidmate. Van bande wat weens die druk om te oorleef al begin-begin uitrafel. Van ‘n al groterwordende drag wat enkelinge moet dra omdat die somtotaal van moontlike deelnemers besig is om angswekkend vinnig minder te word.

Om saam te sweet. Om saam vir ‘n hele dag te staan en vleiswerk. Om saam tot diep in koue nagte te verpak, te merk, te weeg, te prys. Om saam sat te word vir sukkel. Om saam te skater vir kwinkslae. Om saam hartseer te raak oor ons vir Oom Gertjie en vir Mike opnuut mis. Om saam ‘n remenissensie op te roep oor vanmelewe se basaars. Om saam weer jou gemors op te ruim …

Om die laaste baksel uit te keer van maandelange gebak aan beskuit en koekies. Om te besin oor die saal se uitleg – watter stalletjie waar sal wees. Om donkeroggend alweer die eerste pannekoekbeslag in sissende panne neer te laat. Om kratte vol verwerkte vleis in te dra saal toe. Vure vroegoggend brand te steek vir braaivleis. Dosyne bakkie basaarpoeding uit te skep. Servette te vou en teegoed reg te sit

Tafels uit te pak met gebak, gebottel, gebrei, gehekel, gedroog en gestook. Kookwater te laat sing ter lafenis.

 

Dan word die opening amper soos ‘n afsluiting – die werk is reeds volbring. Dan word gesien hoe al daardie voorbereiding binne ‘n paar uur omgesit word in dienslewering aan die gemeenskap (wat net so noustrop trek). Hoe elke offer ingelruil word vir munte en note waarmee vorentoe fyn gewerk moet word  om die gemeente se voortbestaan te waarborg.

Dan sink dankbaarheid in. Want energie uit alle oorde word sinergie. ‘n Nuwe konneksie kom los. Mense kan gee en ontvang sonder oordeel. Mense voel weer nuttig. Hulle waarde kry ‘n hupstoot. Hulle voel weer raakgesien vir dít waarmee hulle goed is. Hulle ywer en hulle geld kan weer ‘n sinvolle bydrae maak tot die gemeente se voortbestaan.

Deelname doen mos dit.

Bull Run, hou ons dop!!

Die Wondergenesing van Marie Vermeulen

In die Karoo is ‘n plaashuis sonder ‘n aga so ondenkbaar soos ‘n klok sonder ‘n klepel. Elke plaaskombuis het een. En elkeen word al van vroegwinter af brandgesteek en gloei letterlik die hele winter deur. ‘n Ketel  word net nadergetrek en sommer gou is daar kookwater vir ‘n lekker koppie koffie.

6047fd28fd9766faded0e1675d2321d3

Op Bloubos probeer Daniël en Marie die aga brandsteek. Met Oupa Daan se afsterwe en die lang tyd wat daar nie op die plaas gewoon is nie, het die stoof vir lank nie gewerk nie. Gewoonlik word ‘n blikkie met brandspiritus in die stoof geplaas en so word die stoof brandgesteek. Maar die brandspiritus wat hulle laas by die Pakistan se winkeltjie gekoop het, het g’n fut nie – hy maak nie hond haar-af nie.

Laatmiddag, toe dit lyk asof die aga steeds nie gevat het nie, probeer Marie weer. Hierdie keer gebruik sy ‘n nuwe bottel brandspiritus wat Daniël by die koöperasie gekoop het. Wat Marie nie opmerk nie, is dat daar ‘n klein kooltjie in die blikkie is. Met die uitgooi, spring daar ‘n vlam en die hele bottel spiritus ontplof in Marie se hand. Die brandende spiritus spat oor haar gesig, teen die mure, gordyne, kaste. En orals brand dit.

Die geluid van skroeiende hare, die lekkende vlamme teen alles in die kombuis, die futiele pogings van haar en ou Sara om die vuur te blus is ondenkbaar. Die vlamme weier om te bedaar. Uiteindelik geblus, met al die skok en skade rondom hulle, besef Marie dat sy die volle aanslag van die vlamme in haar gesig gekry het.

Sy loop heel kalm terug van die spieël af om die histeriese Sara te probeer kalmeer. “Toemaar Sara, kyk ek is oraait, als gaan oraait wees, ek gaan nou loop hopsitaal toe en dan gaan die dokters my sommer mooi fix, moenie worry nie.”

Daniël, wat die lawaai en geskreeu in die kombuis gehoor het, kom by die agterdeur in. Sien tot sy ontsteltenis die skade van die vlamme. Sien vir Marie! Toe huil Marie. Nie oor pyn of oor haarself nie, maar oor die twee rooi fluweel hartjies wat teen die muur gehang het wat verskroei het. Hulle was so mooi …

Daniël het  Marie in die kar en hulle jaag die 20km Carnarvon hospitaal toe. Drie kilometer verder skop die pyn in. Marie beskryf dit as ‘n pyn gelykstaande aan kookolie wat heeltyd oor jou gesig uitgegiet word. Dis ondraaglik seer. Nie eens haar begreekte rugwerwel van 2 jaar tevore toe die bakkie gerol het, is so seer soos hierdie aanhoudende brand wat voel asof dit al dieper en dieper haar vel inbrand nie.

Marie neem ‘n selfie van haar geskende gesig en stuur dit aan almal op haar adreslys: “Ek het my gesig lelik verbrand. Bid asb vir my.”

18555976_10154681829487183_7864991825185093654_n

Marie, borrelende Marie het die wysheid om hulp op die regte plek te vra. Min mense het dit. Baie mense beskou dit as ‘n swakheid, as dwaasheid, as ontoereikendheid om te erken dat jy hulp nodig het. Nie Marie nie. Sy steek nie haar weerloosheid weg of skerm agter ‘n masker van ‘vrolikheid’ nie. Wat jy sien, is die ware Marie.

By die hospitaal, behandel die dokter haar met groot simpatie. Al die dooie vel word van haar gesig verwyder. Dik salf word aangesmeer en haar hele gesig word verbind. Hierdie proses word elke oggend vir die volgende week herhaal. Na daardie eerste nag is haar oë toegeswel. Sug begin syfer uit elke brandplek op haar gesig. Waar dit droog geraak het, moet verbande losgetrek word. Dis elke oggend ‘n pynlike herhaling. Maar elke oggend word sy dik met salf gesmeer en weer toegebind met verbande.

18491413_10154684736907183_7189671185401319963_o

Sy datteer elke dag haar vordering op en deel dit, soos net sy kan doen, met almal wat vir haar bid – met al die nodige positiewe verslae van hoe goed dit gaan en goed die Here vir haar is. “Ek gaan ‘n splinternuwe velletjie en hare kry. Hierdie is ‘n hele extreme make-over.”

In The Healing Power of the Healthy Mind gaan slaan ek hierdie woorde na: “This inner climate – this positive approach to life – actually contributes to a swifter healing from the emotional punches life throws.” Dis Marie Vermeulen!

Op die sesde dag na die ongeluk, maak die dokter die verbande oop. Hy kan nie glo wat sy oë sien nie! Marie se gesig is ‘n wonderwerk. Die genesing is fenomenaal!

18739889_10154705456782183_890381650322840895_n

Van toe af, smeer Marie elke aand haar gesig met weefselolie van die befaamde rooibostannie in. En elke oggend staan sy verstom oor die verbetering wat oornag ingetree het. Sy deel haar vordering met almal wat haar ken met dankbaarheid vir elkeen se meelewing en gee onbeskaamd al die eer aan die Here.

Net 23 dae na die ongeluk rapporteer Marie haar genesing aan die wêreld met die nodige before en after foto’s.

19029503_10154748978537183_4252916508650034337_n

En ek dink weer aan wat ek gelees het in The Healing Power of a Healthy Mind: “Healing, whether it is accomplished by prayer, medicine, surgery, vitamins, exercise, or telling yourself the truth, is God’s work.”