In Die Hitte Van Die Oomblik

Nadat die wasgoed op die draad en die kombuis uiteindelik ietwat skoner is, besluit ek om die pad te vat. Ek het lanklaas geloop en dis so vars buite. Ietwat bewolk maar die sonnetjie breek tog dan en wan deur. Die wêreld is skoon en vars en poele water soom die paaie.

My stapmaat herstel nog nadat sy ‘n beentjie in haar voet gebreek het. Ek vat koers Springbokoog se rigting. Dis so bevrydend om alleen te loop sonder enige bedreiging. Ek stort my hart heelpad uit voor die Here oor elkeen van my kinders en my klein-kinders, my ma, my hele uitgebreide familie, my geestelike familie, my wederhelf, my vriende daar ver.

Later tel ek ‘n dropper op wat ideaal is om ‘n kruis van te maak. Dit word my wandelstaf. By die 6km bordjie uit Vanwyksvlei voel ek nog nie lus om om te draai nie. Ek stoot aan. Dalk kan ek kom tot daar waar ek en Elza laas omgedraai het. Ek verlang na haar. Stuur haar ‘n audio message met my selfoon om te vertel waar ek stap en hoe ek haar mis.

13450861_10156973020390627_7757536939901512695_n[2]

Bo-op die volgende bultjie draai ek om want my blaas is vol en ek wil ‘n donga soek om in af te sak om te pieps. Terug by die 6km bordjie gooi ek my wandelstaf en ander houterige mooiïghede, wat ek reeds opgetel het, neer om later eendag te kom oplaai. Die draai voor my, bekend as pajamadraai, is vol modder. Te laat. Ek is in hom. My stapskoene pak swaar aan van die kleierige modder. So beweeg ek na die oorkant toe waar dit hoër is en die pad harder. Maar die modder sit. Ek stap tot by die lyndraad. Vee my sole aan die styfgespande bloudraad af. Dit zinggggg na alle kante toe. Staan ek en luister na die geluid wat links en regs wegsterf. Word bewus van ‘n ander geluid. Iemand storm op my af.

Ek swaai om. ‘n Jong klong met ‘n wheel bar in sy hand steek vas. ‘n Paar treë van my af. Hy lyk verward. Het daar dalk iets gebeur waarvoor hy hulp nodig het. “Gee my jou foon!” skree hy.

My foon is in my pantie gedruk want my stapbroek het nie sakke nie. “WAT!!” Die episode waar my foon onlangs met geweld van my afgeneem is in die Kaap skielik vars in my geheue. Nie weer nie!

“Jou foon! Gee hom hier!” Maar die outjie kom nie nader nie en lig nie die yster nie.

Ek loop reg op hom af. Tot in sy gesig: “Ek het nie ‘n foon by my nie. Ek loop nie met ‘n foon rond nie. Hoekom sal ek? Kyk hoe mooi en hoe vry is dit hier in die oopte…”

“Gee jou foon!”

“Wéét jy wat ‘n foon aan jou doen as jy dit by iemand afneem? Jy word getrace. Al verkoop jy hom kan die polisie daai foon terugtrace na jóú toe. Jy word altyd uitgevang.”

“Ek is nie van hier nie. Hulle sal my nie kry nie. Gee jou foon!”

“Jy sal nooit met so iets wegkom nie. Die dorpie is klein. Iémand sal weet van jou.”

“Gee jou foon. Asseblief.” Toe waag ek dit. ‘n Booswig vra nie asseblief nie.

“Kom, stap saam met my. Dis duidelik dat ek en jy baie het om oor te gesels.”

Ek draai om en stap terug rigting Vanwyksvlei. Maar nou is my rug op hom gedraai en ek is benoud. Ek draai half-half om. Hy staan nog waar hy staan en vra weer my foon, met baie minder bravade.

Ek hou aan stap en wink hom net met my hand nader terwyl ek aanstap. “Kom jy? Laat ek bietjie ‘n paar dingetjies met jou bespreek. Ons moet praat. Ek wil hoor van jou lewe. Dis duidelik dat jy ‘n baie ongelukkige outjie is. Jy moet my vertel.” So babbel ek voort en hoop net hy kry my net nie met daai wheel bar van agter af nie. Al wat ek weet is dat die Here nog die hele pad by my is en dat ek nie moet wys ek is bang vir hom nie. Snaaks, ek was nie bang nie, net bleddie verontwaardig.

Hy val langs my in. Loop aan my linkerkant en hou die yster nie meer in sy regterhand nie maar half weggesteek aan sy linkerkant – ver van my af. Ek hou aan loop. Nie haastig nie, maar op ‘n fris stappie.

“Ek wil net vir jou sê, daar’s baie méér in die lewe as drank en seks en dwelms en om fone te roof en karre te kaap. Daar’s ‘n lewe daarbuite met soveel wonderlike geleenthede en potensiaal wat jy nie moet misloop deur stupid goed te begin doen nie. Vandag het die Here met jou ‘n afspraak gemaak. Jy’t gedog jy kry ‘n ou tannie langs die pad met ‘n foon wat jy kan afvat. Maar ek kan vir jou baie meer gee as ‘n foon. Kom ek vertel jou iets van jouself. Jy loop met ‘n groot stuk seer rond en jy dink daar’s net een manier om met daai seer te deal en dis om verder seer te maak. Is ek reg?”

“Ja, mevrou is reg.”

“Het jy nog ouers?”

“Nee, my ma en my pa is afgedood.?”

“Ek is jammer. Hoe lank gelede?”

“Twee jaar.”

“Was jou ma siek?”

“Kanker.”

“En jou pa?”

“Asma.”

“Ek is jammer. Dit moes vir jou verskriklik gewees het. Was jy nog op skool?”

“Ja. Toe moes ek uit om te gaan werk.”

“Het jy nog boeties en sussies?”

“Net ‘n boetie ouer as ek.”

“Tot watter graad het jy gekom?”

“Sewe.”

“Mens kan nie veel met graad 7 doen nie, maar ten minste het jy iets. En ek wil vir jou sê dat die Here vir jou baie meer bestem het as wat jy kan dink. Jy’t nog ‘n verstand. ‘n Brein. En dis die heel belangrikste orgaan in jou hele liggaam. Die Bybel sê nie verniet nie in Rom 12: 1 en 2 Laat God julle verander deur julle gedagtes te vernuwe” en daar begin ek om my praatjie te rehearse vir die womens conference. “As jy weet watter beter lewe God vir jou begeer, sal jy Hom ‘n kans gee. Daar lê soveel onontgunde potensiaal in jou. As jy net ‘n greintjie daarvan kan besef sal jy bereid wees om jou lewe om te draai nog voor ons die dorp bereik. ”

“Mevrou, ek moet om verskoning vra…”

“Dis reg. Ek aanvaar jou verskoning. En ek kan sien dat jy nog duidelik tussen reg en verkeerd kan onderskei. Dis ‘n goeie teken. Want dit sê vir my iets van jou siel. Ek weet nie eens wat jou naam is nie.”

“Jeffrey.” (nie sy regte naam nie)

“Jeffrey, ek wil vir jou verduidelik dat daar twee maniere is waaroor jy oor jouself kan dink. Jy kan óf glo wat mense van jou sê – Jeffrey is ‘n sus en ‘n so se mens. Hy’s ‘n total loss. Hy sal nooit êrens kom nie. Mens kan hom nie vertrou nie.Daai outjie verdien om gefoeter te word… ens. Óf jy kan glo wat God van jou dink; dat Hy jou innig liefhet, ‘n groot behae in jou het, Hom verheug oor jou en die heel beste vir jou begeer. Want as Hy na jou kyk, sien hy nie die Jeffrey wat net graad 7 het, of mense se selfone wil afvat nie, Hy kyk deur die oë van Christus wat ook vir jou gesterf het aan die kruis. En Hy sien ‘n mens wie se skuld volledig afgeskryf is. As jy jou lewe vir Hom gee, is dit ongelukkig nie ‘n waarborg dat dit altyd met jou goed sal gaan nie – dis nie wat die Bybel sê nie, maar Hy sal wel jou lewe deur bý jou wees, al gaan dit ook hoe sleg. Hy sal jou bystaan met moed en met raad en met uitkoms, as jy Hom net ‘n kans sal gee. Het jy al baie swaar gehad in jou lewe?”

“Ja.”

“Wil jy my vertel?”

“Grootword was swaar.”

“Het mense jou seer gemaak of was dit armoedeswaar.”

“Armoede. Maar mense het my seergemaak.”

“Lank terug of onlangs?”

“Onlangs.”

“Wil jy my vertel daarvan?”

“Nee.”

“Is reg, ek respekteer dit. Jy moet net weet dat jy op God se beskerming kan staat maak. Hoekom het jy my nie seergemaak nie? Dis oor die Here by my was. Ek het heelpad met Hom gepraat, daarom weet ek Hy was by my en het Hy my beskerm.” Vir ‘n rukkie stap ons in stilte. Hy ruik na drank maar ek verseg om vrees toe te laat oor wat hy aan my kan doen. Dis nog omtrent 4km dorp toe. Ek bid net dat my selfoon in my pantie nie nou moet lui of ‘n whatsapp moet kry nie.

“Wie het die grootste invloed op jou gehad in jou lewe?”

“My ma.”

“Ek kan sien jou ma het vir jou baie beteken.”

“Ja.”

“En jy mis haar nog steeds.”

“Ja.”

Ek sien ‘n desperate kind kind sonder hoop vir die toekoms. Uitgelewer in hierdie verlate wêreld van ons aan die enigste en steeds kwynende opsie – plaaswerk. ‘n Kind wat seker ook droom om maar net ‘n iemand te wees. Ook êrens in die lewe beter omstandighede te bereik as tans. Wat dalk ook die illusie het dat ‘n selfoon dit kan bring.

“Jeffrey, ek wil my verbind om vir jou ‘n aardse ma te wees, mag ek maar. Ek bly daar agter die kerk en jy mag enige tyd na my toe kom as jy jou ma se raad en hulp nodig het. As dit swaar gaan, kom praat. As jy ‘n besluit moet neem, kom, laat ek jou help. Enige tyd. Ek sal dit baie graag vir jou wil doen.”

Hy antwoord nie. Hy loop stadiger. “Ek moet nou die bos gebruik.”

“Is reg so Jeffrey, ek stap solank aan.”

Hy sluit nie weer by my aan nie. Ek kyk nie om nie. ‘n Kilometer verder piep my selfoon. Ek antwoord nie ingeval hy agter my is of my dophou. Steeds bid ek net dat die Here my sal beskerm. Nog ‘n kilometer verder is daar huisies langs die pad en ek begin veiliger voel. Waag dit naderhand om die sms te lees. “Wag ek vir jou vir tee?” vra Johan. Met bewende vingers antwoord ek: “kom haal springbokoogpad”

Net buite die dorp pik Johan my op.

My bene is skielik lam…

Klein Insidente; Groot Impak

‘n Dogter van een van Vanwyksvlei se vorige predikante stuur ‘n boks vol geskenkies aan die kinders in die gange –  dis die gebied in ons dorp waar die sinkhuisies staan. Rina en Magriet deel uit. Ek neem foto’s. Van die foto’s plaas ek op sosiale media. Een is van Rachel Adams met haar kleinkind.

L1130288

Rachel Adams met haar kleinkind

Die ander een is van Attie visser met sy ghitaar voor sy huisie

L1140090

Attie Visser voor sy huis in die gange

Iemand vanuit Stellenbosch sien dit en vra toestemming om daarvan te mag skilder.

Hier is die eindresultaat:

Sy skryf drie skilderye in. Al drie word gekeur vir die jaarlikse uitstalling deur SASA (South African Society of Arts)  wat plaasvind in die John Winter Hall (voorheen Sanlamsaal)  Kirstenbosch Gardens op 21 Oktober 2017.

Helena Jordaan (nee Schoeman) het geen formele kunsopleiding nie. Sy matrikuleer in 1982 by Carnavon Hoërskool. Eers in 2003 begin sy onder Luie Audi haar liefde vir kuns uitlewe. Woon ‘n hele paar werkswinkels by. In 2007 neem sy deel aan haar eerste kunskompetisie. Die inspirasie vir die kunswerke wat sy inskryf kom toe ook uit die hartjie van Vanwyksvlei.

Nou gaan Rachel Adams en Attie Visser van Vanwyksvlei in Kirstenbosch pryk as “Ouma Rachel” en “Die Musiekmaker”.

Goue Oues

 

 

3739F78900000578-3740238-image-a-1_1471195255937[1]

Met Wayde Van Niekerk se goud, en sy 74-jarige afrigter, Tannie Ans Botha, wat hom oor ‘n tydperk van drie jaar in ‘n wêreldkampioen omskep het, kan ek nie anders as om te gesels oor ouderdom nie. My oorle skoonma het immer gesê: “Die oud is niks, dis daai dekselse derdom.” Ek wil sê: “Oud? So what!”

Tannie Grieta (85) van Williston, hoor van ons kunsnaweek in Vanwyksvlei. Sy wou nog altyd! ‘n Paar oproepe later, tel Mariëtte (my sus vanaf Wellington, wat die kursus kom aanbied) haar op pad hierheen in Williston op en bring haar Vanwyksvlei toe. Sy skilder haar eerste twee skilderye. En beslis nie haar laaste twee nie!

Tannie Grieta Theron verloor haar eie ma,’n suster van Rina (my stapmaat op die dorp) se ouma toe sy 3 jaar oud is. Rina se ma maak haar groot.Tannie Grieta (of Tannie Pottie soos sy algemeen bekend staan) verlaat skool in standerd 8. Sy gaan help as ‘n assistant by die skoolkoshuis op Williston. Later skryf sy oor die pos in en behaal haar standerd 9 en matriek in 1 jaar. Op Williston trou sy, maak haar twee kinders daar groot en woon steeds selfstandig op die dorp.

Die daaropvolgende naweek hou ons vrouekonferensie in die kerksaal. Vanaf Vrydagaand tot Sondagmiddag woon Tannie Elizabeth Cola (86) en haar suster Tannie Hester Maya (83), al die sessies by, vanaf die oggend se ontbyt, tot die aand se afsluiting. Wakker, gretig om te leer en entoesiasties om deel te wees van ‘n onvergeetlike naweek van geestelike pitkos en susterlike samesyn in ons dorp.

Albei suster word gebore in Vanwyksvlei. Hulle ma sterf ook vroeg toe tannie Hester ook maar 3 jaar oud is. Hulle pa trou weer en werk as plaasarbeider op verskillende plase in die omgewing. Moffiesdam. Springbokoog. Leeukolk.

Tannie Elizabeth maak 9 kinders groot. Ten spyte van ‘n heupvervanging vyf jaar gelede, loop sy nog sterk. Tannie Hester se man ontval haar as jong meisie. Sy trou nooit weer nie en het geen kinders nie. Tannie Elizabeth se kinders is soos haar eie. Na haar aftrede by Tamboerskloof Primêre Skool, koop sy die huis in Hoofstraat waarin hulle tans woon. Sy is ook steeds flink op die been ten spyte van ‘n knievervanging, ‘n heupvervanging asook ‘n slegte bo-beenbreuk ‘n paar jaar gelede – juis by ‘n vrouekonferensie in Wellington. Nie een van hulle het die voorreg van skoolopleiding nie maar m.b.v. ABET-klasse kan Tannie Hester wel lees en skryf.

Tannie Breggie, binnekort 91, wat al die jare by Cornau Handel werk, help steeds daar uit. Stap al die pad vanaf haar huisie tot by die winkel om diens te doen as die Sassa pensioene op die eerste dag van die maand daar uitbetaal word. Heeldag op haar voete hou sy ‘n wakende oog tussen die rakke vir hande wat items onregmatig toe-eien.

P1370122

Oor twee naweke woon ons ‘n familiereunie by. Dan bring ek my 89-jarige ma met my saam terug Vanwyksvlei toe om vir ons te kom kuier. Want sy wíl sien hoe dit hier lyk. Sy wíl ervaar hoe ons lewe in die Bo-Karoo is. Sy wíl nog ‘n maal ‘n nuwe deel van ons land verken (4 jaar gelede het sy die Kalahari vir die eerste keer aangedurf toe ons ons Sabbatstyd daar begin het). Sy wil op niks uitmis nie.

Solank die derdom nog nie toegeslaan het nie, is daar altyd ‘n rede om met iets nuuts te begin. Ontdek ‘n nuwe skrywer. Begin ‘n nuwe handvaardigheid. Maak ‘n nuwe vriend. Skakel in op ‘n nuwe radiostasie of TV-kanaal. Leer ‘n nuwe taal. Probeer ‘n nuwe leefstyl. Gee nuwe woorde aan jou ou storie. Begin bou aan ‘n nuwe nalatenskap. Bemeester die rekenaar. Dít, my liewe vriend, gaan die derdom besweer!

Want die LEWE is nog lank nie verby nie. Die LEWE, vra vir my en my sussie, begin eintlik eers na aftrede.

Oom Jacob Olyn, die swerwer

L1150254

Oom Jacob Olyn is ‘n swerwer. ‘n Bekende gesig in Vanwyksvlei. Sit gereeld sommer net op ‘n dag langs die pad of voor die koöperasie. Altyd op pad êrens heen, wagtend vir sy lift. Praat altyd van Kokkie wat hom gaan kom oplaai Carnarvon toe of met wie hy saamgekom het vanaf Carnarvon.

Oom Jacob is blind. Hy lyk nie verslons nie. Is altyd netjies aangetrek en die twee komberse en reissak wat hy met hom saamdra is altyd skoon en netjies. Niemand weet waar hy bly en of hy familie het in Vanwyksvlei nie.

Oom Jacob het ‘n mank voet, maar hy swerf immer. Glo kinders wat hom eendag onder die klippe gestook het en sy hakskeensening afgegooi het

Oom Jacob is altyd honger. As ek met hom gesels sal hy altyd vra vir ‘n broodjie; baie beleefd en altyd baie dankbaar vir wat hy kry, met die belofte om my te betaal as hy sy geld kry.

Oom Jacob ‘pay’, soos die mense hier rond sê – wat beteken hy kry ‘n Sassa-pensioen. Maar hy het nie ‘n ID-dokument nie. Sou iemand namens hom sy uitbetaling kry en namens hom dit uitleef?

Oom Jacob is ook altyd op pad kliniek toe om die dokter te sien, al is dit op ‘n Saterdag as die kliniek nie oop is nie. Hy wag altyd vir die dokter: “Nee, my klei’nooi, die dokter kom glo eers môre, so ek loop maar net weer om langs die pad te gaan wag tot môre. Kan tog nie in die dorp bly nie. Hier vat hulle net mens se goed.

Oom Jacob kom van Prieska, waar hy glo op ‘n plaas gewerk het totdat hy nie meer kon sien nie. Soms praat hy van sy dogter op Douglas wat op pad is om hom te kom haal.

Sou oom Jacob dalk ook eendag weer kan sien soos Jan Barend, as hy ook ‘n katerakverwydering kan ondergaan? Mens wonder wat hy moet doen om te kan kwalifiseer daarvoor. Mens wonder maar…