Duisternis vs Lig

12042779_662960343841871_2165648036144952851_n[1]

 

 Met hierdie diep woorde begin die aangrypende teks van die Passiespel wat Mariëtte van Velden, Neelsie van Zyl en Jo-Anne Huizies op die planke bring. Die heel eerste multikulturele Passiespel waarvan ek weet waar daar van verskillende rasse- en kultuurgroepe gebruik gemaak word om die stryd tussen die Lig en duister uit te beeld. ’n Unieke kombinasie van hogere koorwerke, Afrika tromme, etniese danse, kletsrym en swaar tjello- en orrelmusiek.

Kinders uit die woonbuurt Mbekweni op die tromme, dansers van Rejoice dansskool in die Paarl, koorsang van Musica Kantory in Bellville, ’n fenomenale rapper van die Andrew Murray Sentrum in Wellington  en ’n proffesionele voordragkunstenaar is die kontrasterende bestanddele waarmee hierdie unieke Passiespel gebruik word om, buiten die herhaling van die eeuoue paasboodskap op ’n nuwe manier, ook brûe tussen kulturele, sosiale en denominale groepe te bou.

 

Meer as twintig jaar gelede, tydens hulle arbeid in die sendingveld in Malawi, lê Mariëtte snags en luister na die nagtelike tromslae. Een boodskap vanaf een gehuggie, word opgevang en verder oorgedra aan ’n volgende. Hier kry die konsep gestalte om die Christelike boodskap op só ’n manier, amper soos in morse kode, oor te dra. Sy begin die aanvoorwerk. As mens nie self kan nie, en nie fondse het om so iets te laat gebeur nie, reik jy uit na familie met gawes. So kry sy die teks geskryf deur Erika Ochse. Laat sekere dele deur die uwe oorskryf in kletsrym. Kry vir Tommie Ferreira as ’n komponis aan boord wat musiek kan komponeer wat die uiterse pynlike en eensame pad van die Verlosser deur swaar koorwerk, ‘n orrel en ’n tjello kan  uitbeeld.

Met die tyd ryp om brûe tussen kulture neer te lê, lanseer sy die projek. Neelsie Van Zyl begin die Kantory afrig. Elmien Thom stem in om die orrel te speel. Self kry Mariëtte ’n ritmegroep uit Mbekweni aan die gang. Tjellis Alma Coertzen deel in die begeleiding. Jo-Anne Huizies choreografeer danse op die ritme van tromme en kletsrym. Haar span dansers word saamgestel uit lede van haar dansskool en meisies uit die gemeenskap wat nog nooit voorheen gedans het nie. Sy improviseer selfs ‘n solodans as Maria.

12279060_662960767175162_8755794436872182632_n[2]

Jo-Anne Huizies as Maria

 

Jeanette Ingwerson, met haar dramatiese stem, kom aan boord om afwisselende dele van die teks voor te dra.

 

10258794_662960647175174_3533521525035622192_n[2]

Jeanette met haar  ryk, dramatiese stem.

Paul Lawrence, met sy liefde vir die saak, bly oor as die enigste rapper van ’n groep van vier. Met sy Engelse aksent, rap hy die Afrikaanse teks meesterlik:

580399_662960357175203_5525636305744838081_n[1]

 

1558568_662960433841862_7732046220715715642_n[1] 

10639396_662960493841856_8333127693356685059_n[1]

 

 Die voorbereiding word ’n groter brugbou-aksie as wat iemand kon voorspel. Want om proffesionele mense, wat net ’n uur in die week het om koor te oefen, en kinders uit ’n informele nedersetting op een verhoog aan een produksie te laat werk, word ’n groter uitdaging as wat enigeen kon voorspel. Dit vereis begrip vir mekaar se omstandighede. Dit vra geduld as die Afrika-horlosie anders aftik as die hoogs gesinchroniseerde, geprogrammeerde stadsproduk. Dit benodig geloof as hoofspelers kort voor ’n optrede belangstelling verloor en onttrek. Dit eis ongekende uithouvermoë om kinders uit verskillende skole af te rig, aan te ry, gemotiveerd te hou, te beloon. Dit soek gebedsgroepe wat konstant moet intree. Dit kos takt as misverstande opduik. Dit vereis visie om mense betyds op te kommandeer om kostuums te begin maak al is fondse skraal. Dit opsig self raak ’n styd waarin die duister werkliker word as wat mens wil voorgee.

20160320_201159_1

Die dansers wat die duister uitbeeld, dra swart mantels wat later verander in die hele spektrum van lig

Dan is daar nog elemente soos klank, beligting en choreografie, waarsonder so-iets nie aangebied kan word nie. Daar is reklame nodig. Borge word ’n noodsaaklikheid. Vrywilligers wat uit eie sak kan instaan vir die te ete en te drinke en te karweie vanuit drie verskillende rigtings tydens repitisies moet aanboord kom.

 

L1120551

Daar is altyd tyd vir sosiaal verkeer as almal smul aan die lekker kos waarvoor vrywilligers sorg.

Gelukkig speel lojale mense soos Adré Malherbe van Island of Hope in die Paarl ’n ongeëwenaarde rol. Met sy charisma kry hy mense aan boord wat in elke behoefte kan voorsien. Die ATKV en Drakenstein Munisipaliteit tree in as borge. Anonieme donateurs maak hulle beursies oop. Gemeentes koop in en bied geleenthede vir die ritmegroep om op te tree tydens eredienste om solank blootstelling te kry.

 

Iets begin gebeur wat groter word as die twee optredes wat geskeduleer is (Moedergemeente in Wellington en Welgemoed in Bellville). Mense begin begrip ontwikkel vir mekaar se omstandighede. Kinders uit ’n plakkers milieu kry blootstelling wat nooit sou kon gebeur nie. Deure gaan vir hulle oop. Verhoudings oor grense heen ontstaan. Kruiskultureel kom iets los. Mense beleef vir die eerste keer regtig die boodskap.

 

So laat die Lig deur die duister

Barabas vry

en word die Lig weggelei.

Skeur die gordyn en breek nou die deure oop

vir die fees van vryspraak

om almal na God se Lig te nooi

 

Van die graf en dood

bly net ’n wegrolklip,

’n doek wat eenkant lê!

 

EN DAAR  IS  LIG!

IMG_4699

Ek is bevoorreg om dit te kan beleef. Hoe al die dele ’n geheel word om die oorwinning aan die kruis dmv hierdie uiteenlopende genres uit te beeld. Die duister ís oorwin. Die Lig seevier. Bloot te oordeel aan die uiteenlopendheid van die gehore wat kom uit elke denkbare ras en kultuurgroep, is die sukses reeds sigbaar. En nou, meer as ooit tevore, moet kulture en klasse grense laat sak om brûe neer te laat sodat dié boodskap oraloor gehoor kan word.

Jakkalsroep

100_2410

Onlangs kry Johan kans om saam met ‘n ervare jakkalsjagter te gaan jakkalsroep. Johan is agter die stuur van die bakkie en die jakkalsjagter is agterop – op die stoel wat daarvoor ingerig is.

Maartmaand is volgens die kenners ‘n goeie tyd om onder die jakkalse in te klim. Dis wanneer die nuwe lammers aankom en die nuwe jakkalswerpsel van die vorige jaar begin afpaar. Hulle is nog jonk en onervare, nuuskierig en maklik om deur enige roeper mislei te word.

Een broeipaar kan vir ‘n boer astronomiese skade aanrig. Hierdie skade groei eksponensieel soos wat die kleintjies groot word en ook ‘n broeipaar vorm. Daar word gereken dat as elke jakkals net een lam per week vang (en dis konserwatief bereken), word daar 52 lammer per jaar deur daardie een jakkals afgeskryf. Wanneer daar nog ‘n werpsel kleintjies is om voor te sorg, kan dit baie meer wees as ‘n lam per week. Die teef vertoef omtrent ‘n week in die gat met die kleintjies. Daarna beweeg sy buitentoe en soog by die bek van die gat om nie vasgekeer te word nie. Deurentyd vang die reun behalwe vir sy eie behoefte, ook vir die teef en vir die kleintjies. Die reun sal slegs die lam se pens en sagte binnegoed uitvreet en vir die kleintjies by die gat gaan uitbraak. Mens kan reken op twee lammers per aand in hierdie tyd. Teen ‘n koste van R1000 per lam kan mens maar net ‘n sommetjie maak oor die skade wat hulle ‘n boer aanrig per jaar. En nou praat ons maar net van één broeipaar per plaas, wat ook konserwatief geskat word.

Dié boere wat reeds hulle grensdrade teen hoë koste geëlektrifiseer het, is die enigstes wat nie ‘n jakkalsroeper sal inhuur of ‘n permanente jakkalsvanger op sy plaas in diens sal hê nie. Vroeër jare het elke boer maar op sy eie manier die jakkals probeer uitdun. Self gejag of ‘n jagter laat kom. Die insidensie van slagting onder die skaap gemonitor. ‘n Skatting probeer maak op watter nag die jakkals weer gaan toeslaan (glo so elke derde nag). Met ‘n fluitjie, waarmee verskillende geluide nagemaak is, die jakkals probeer lok en gehoop vir ‘n suksesskoot.

Jakkalse se nuwe werpsel kom ongeveer in Julie of Augustus aan. September is die lammers baie kwesbaar vir die groot vangs. As daar ‘n tweeling is, kan die skaapooi nie die jakkals van albei afweer nie en word een lam ‘n sagte teiken. Teen Desember is die klein jakkalsies groot genoeg om self te jag. As hulle dan begin afpaar in Maart, voordat hulle ‘n nuwe broeipaar vorm, probeer die boere hulle uithaal.

099

Jakkalsroep is ‘n fyn kuns. ‘n Prysenswaardige vaardigheid.  Die jakkalsjagter rig sy bakkie in met ‘n roterende stoel agterop waaraan ‘n staander vir sy geweer, ‘n teleskoop en ‘n soeklig aangebring word. Die stoel is hoog gelig en kan 360˚ roteer. Die roeper is ‘n CD van dieregeluide – meestal geluide van diertjies in nood – wat met afstandbeheer gewerk word. Aan die sykant is hake aangebring waaraan die karkasse van die slagoffers gehaak word – die boer wat betaal wil ten minste sien waarvoor hy betaal …

IMG-20160307-WA0007

Die jakkalsjagter moet die wind in ag neem, die posisie van die water ten opsigte van sý posisie asook die posisie van die roeper wat uitgesit word. Dan moet hy die gedrag van jakkalse baie goed ken. ‘n Jakkals wat een keer vrygekom het sal moeilik weer vasgetrek kan word – hulle onthou daardie ervaring lewenslank.  Leer dit ook aan hulle kleintjies. ‘n Onervare jagter maak jakkalse  net nog meer skelm. Dus het die jakkalsjagter net een kans om dit reg te doen. Net een.

Met die roeper reg uitgesit en die windrigting bekend, kan die jagter met die soeklig rondspeel om te sien  of daar jakkalse reageer op die geluide wat hy speel. Hy posisioneer die bakkie naby ‘n gatdam, beweeg die soeklig heen en weer en as hy vermoed hy het jakkalsoë in sy visier, domp hy die ligte en beweeg terug tot waar hy die ogies gewaar. Dan het hy sekondes tyd om die lig te verhelder en die skoot af te trek. Sy teleskoop aan sy geweer, asook die soeklig, beweeg perfek saam.

087

Die jakkalsjagter sal ook die situsasie lees. As daar kompetisie bestaan vir ‘n teef, sal hy op die agressie van ‘n reun fokus met behulp van die roeper. Dan speel hy geluide van ‘n ander reun. As dit honger is wat ‘n jakkals dryf, sal hy geluide van ‘n hasie of ‘n steenbokkie in nood speel. Soms is dit ‘n onervare jakkalsie wat bloot uit nuuskierigheid reageer. Kennis en geduld is goud werd.

‘n Ervare jakkalsjagter sal ook nie draaijakkalse of bakoorjakkalsies aansien vir jakkals nie. Draaijakkalse se tandjies is te klein om skade aan ‘n lam aan te rig en bakoortjies vreet net insekte. Mens wil hulle nie uitroei nie. Hulle hoogtes en manier van hardloop verskil soveel dat die ervare jagter weet wanneer hy met hulle te doen het.

Hierdie betrokke jakkalsjagter jag maklik 12 – 15 nagte per maand . Bepaald gewoond aan min slaap en nagdeur is vir hom niks. Hy het ‘n wettige permit om te doen wat hy doen. Is hoogs in aanvraag vanweë sy kennis en ervaring. Sy prys per jakkals is haalbaar, gesien in die lig van die aantal lammers wat hy die boer spaar.

Met die nag reg, die wind reg, die maan reg en die drywer reg, is dit weer eens ‘n suksesvolle ekskursie – ‘n ou broeipaar en nog drie jong pare word in dié nag uitgehaal.

013

Wêreldbiddag in Vanwyksvlei

Pas terug vanuit Pretoria om ons sake vir ‘n langtermyn verblyf in Vanwyksvlei te gaan reël, daag Lena Kampies van die African Methodist Episcopal (AME) kerk hier op. “Of juffrou weet dat dit vanjaar die NG se beurt is om die wêreldbiddag vir vroue hier in die dorp aan te bied.” Sy bring ‘n blaadjie saam met die boodskap van die 86ste biddag soos saamgestel deur die vroue van Kuba. Hier in Vanwyksvlei roteer die kerke  elke jaar om ‘n beurt te kry om die biddag aan te bied op die eerste Vrydag van Maart.

Volgens Oom Johannes, wat in die tuin werk, was Lena Kampies al ‘n paar keer hier in die tyd wat ons weg was. Ek is so dankbaar vir die program want ons kerk het nog niks ontvang nie en ek het gewonder oor die biddag.

Dis ‘n lywige program en vereis deelname en voorlesings van 10 vroue. Lena organiseer vir ons ‘n vergadering een middag in die woonbuurt met vrywilligers uit elke denominasie. Maar intussen sterf haar jongste suster in die Kaap en sy moet inderhaas Kraaifontein toe. Haar suster moet in Vanwyksvlei te ruste gelê word en dis ‘n groot gereëlery om haar oorskot hierheen vervoer te kry en die begrafnis hier ter plaatse te organiseer.

So ontmoet ons tog mekaar op die bestemde dag in die woonbuurt by die AME se kerkgeboutjie. Dit is ‘n karige eenvertrek geboutjie wat vindingryk versier is om ‘n atmosfeer van aanbidding en piëteit te skep. Ons doen die rolindeling, bespreek die program en doen voorbidding vir die dag. Op die vooraand van die biddag sal ons mekaar om half-vyf in die NG-kerkgebou ontmoet om als mooi in te oefen en seker te maak die program vloei met 10 sprekers en 1 mikrofoon.

Half vyf word vyfuur met net vyf rolspeler teenwoordig. Tilla kom tot ons redding. Bel inderhaas ‘n paar kontakte by die VGK, kommandeer hulle daar en dan op en ry hulle aan. Imprompto oefen ons.

Die program is so opgestel dat dit heelparty simbole vereis wat deel uitmaak van die leefstyl van die Kubaanse vroue – ‘n mandjie vrugte en groente, kerse, suikerriet, die vlinderjasmyn, die Kubaanse vlag en ‘n Bybel. Suikerriet in Vanwyksvlei? Die vlinderjasmyn? Vrugte en groente?

Maar wat maak mens as ‘n haastige oproep om dit wat kort per geleentheid vanaf Pretoria deur te stuur, skipbreuk lei? Piro lewer ‘n paar kratte by ons af met goed vanaf die huis, waarvoor ons nie plek gehad het. Maar die trommel met die bestelling daarin is nie daarby nie. Dit het agtergebly. Genadiglik het vriend Bauer vir Piro ingejaag met ‘n appelboks vol groente wat hy ook wou saam stuur. Die mandjie groente as simbool is dus nie ‘n probleem nie. Kerse en die kanselbybel ook nie. Die res improviseer mens maar. En waar jy nie meer kan improviseer nie, buig jy die program.

L1120432

Vir die gasvryheidsdeel bring Annemarie suurlemoene vir lemonade vanaf Piketberg. Heila wat die skooltrip ry, doen die nodige aankope in Prieska vir ‘n soet happie en skenk eiers. Tannie Petro en tannie Elize stuur bottels vir die lemonade.Tania sit die program op die rekenaar met toepaslike foto’s en musiek. Kommandeer sommer die skool ook op om kinders te stuur. Magriet organiseer tafels voor die in- en uitgang van die kerk. Mara bring ‘n rangskikking van wit lelies. Alle beskikbare hande pak bottels en glase uit en begin skink. Rida skuif voor die orrel in. Van oral oor daag vroue op en siedaar, ‘n suksesvolle byeenkoms met goeie bywoning.

Tog, dit gaan nie noodwendig oor die bywoning nie. Die belangrikste is dat vroue en kinders in Vanwyksvlei oor kultuur- en denominasiegrense heen, die voorreg en die blootstelling kry om saam met derduisende vroue oor die hele wêreld dieselfde sake op dieselfde dag voor die troon van die Vader te kan bring.

Baie dankie aan almal. Dankie, tannies van Kuba. En dankie, Lena Kampies van Vanwyksvlei.