Burre en die Bull Runners

24176883_10155894496544104_1715248425151125309_n

Burre Burger, die man wat hoop bring aan moedelose boere in die droogte geteisterde gebiede in ons land

Vanoggend lees ek op Burre Burger se Droogtehulp fb-blad van vrag nommer 599 wat saam met 30 ander vragte Willowmore toe is. Dit is Burre se droom om 600 vragte van hoop voor Kersfees aan boere in nood te kan aflewer. Burre, jou 600ste vrag het alreeds gearriveer – in Vanwyksvlei, meer as twee maande gelede al.

Via die Bull Runners.

Kort voor WegRy se Bull Run ontvang Vanwyksvlei se boere die eerste twee vragte mielies as droogtehulp deur die inisiatief van Burre Burger. Ek het daarvan vertel in my blog op https://wordpress.com/post/karooblog.wordpress.com/2675

Jan La Grange bel net daarna vir Gerrie van Eeden, die organiseerder van WegRy se 2017 Bull Run om te hoor of die Bull Runners nie Burre se inisiatief verder kan neem nie. Die nood hier is gróót!

Net daar kommandeer Gerrie die deelnemers op wat op pad is Vanwyksvlei toe. Die reaksie is oorweldigend positief. Daar word vertel dat van die deelnemers reeds op pad is. Ouens sluit by mekaar aan op pad om oor te slaap op Douglas. Bydraes word gemaak om voer op Prieska te koop. Daar word gelaai waarvoor daar plek is. Die manne kom hier in Vanwyksvlei aan met sakke voerpille in hulle tjorre se kattebakke, lusern bale op die dakrakke, voerbale op trokke en sleepwaens.

L1220134

Een deelnemer bied sy vragmotor en sleepwa aan en laai vol. Vasie moet vir die aflaai ‘n span werkers opkommandeer.

L1210912

Toe elke bietjie eers afgelaai is, gesorteer en opgestapel, staan daar ‘n hele vrag voer.

Sedert daardie eerste vrag wat Burre gereël het, en sedert die Bull Runners se daaropvolgende bydraes,  kom nog 3  vragte voer hier aan. Tydens die Bull Run se wedrenne op Wilhelm se pan, trek nog ‘n trok van Burre se projek die terrein binne – volgelaai met mielies. Dit bring die totaal van skenkings van mielies op 105 ton.

Kort daarna stoot nog ‘n trok met voer vanaf Clocolan voor sonop een oggend vroeg die dorp binne. Dirk Van der Merwe van Boesmanland Vervoer op Kakamas stel die trok beskikbaar.

Die laaste trok met voerbale en lusernbale kom al die pad vanaf Lydenburg se wêreld wat Piet Rabie van Kraaibosch skenk. Robbie Moldenhauer bring dit met sy eie trok al die pad hierheen. Echo diesel skenk die brandstof. Ene Willie Roelofse koördineer die hele skenking.

 

 

Vanwyksvlei se boere lig kop op. Daar’s weer hoop. Die skaap kan gevoer word en hoef nie meer keelaf gesny te word in die veld nie. Hoop is ‘n mooi ding om te sien. Hoop werk aansteeklik. Hoop maak welwillendheid los onder mekaar. Hoop laat deel sonder om die koste te bereken. Hoop het ‘n mooi klank te midde van moeilike omstandighede. Hoop se kleur is helder al lê die veld swart gebrand. Hoop sien wat nog nie sigbaar is nie. Hoop laat lewe.

Jy het baie meer as voer gebring, Burre. Jy het inderdaad hoop gebring. Nie net die 600 of meer vragte volgelaai daarvan nie, maar ook hoop vir almal wat kennis geneem het van jou wonderlike onderneming via sosiale media. Hoop vir almal wat meegewerk het daaraan.  Hoop vir almal – mens en dier – wat aan die ontvangkant is. Daar is nou tonne hoop waar daar eens bitter min oor was.

En nou is daar ook hoopvolle afwagting op reën.

Advertisements

Geraldine en die Waterkar

L1230375

Water loop nie meer bedags in die krane in Vanwyksvlei nie. Tuin natgooi is al baie lankal buite die kwessie. Selfs die Kanniedood in my tuin is al dood.  Daar is net nie meer water in die krane nie vanweë die droogte en die swak waterdruk.

L1230380

Tensy jy so gelukkig is om ‘n watertenk op jou erf te besit wat oornag vol loop van dorpswater, met ‘n drukpompie wat aanskop as die krane oopgedraai word, moet jy maar voordag reeds genoeg begin opgaar vir die dag se gebruik. Want vanself kom die water nie meer uit by die huise nie, veral nie by díé hoër op teen die hang in die woonbuurt nie – die drukking is net te swak. Hier in die onderdorp spoeg dit soms vroegoggend so ietsie uit die krane voordat die mense water begin gebruik. Maar dit neem ‘n leeftyd om ‘n koppie water getap te kry.

Danksy die gereelde ritte van die waterkar, kry die huise hoër op in die woonbuurt tog daagliks water. Vir 14 jaar al ry Oom Schalk Esquire die waterkar. Reginald en Geraldine is sy assistente.

L1230377

Geraldine is ‘n vrou van vele vaardighede. Sy werk by die munisipaliteit as algemene werker. Haar hande staan vir niks verkeerd nie. As daar pad herstel moet word, spring sy saam in. As daar draad gespan moet word, doen sy mee. As die dorp se vuilgoedsakke op ‘n Dinsdag weggery moet word, is sy op die sleepwa. Kom die rioolwa vanaf Carnarvon, is Geraldine daar om mangatte oop te gooi en suiers in te laat.

Onlangs het sy ‘n kursus bygewoon in boorgatpompherstel. Vanwyksvlei is afhanklik van boorgatwater. Daar is een boorgat wat sy water met behulp van ‘n sonpomp na die reservoirs in die aanleg pomp – of na die plant, soos die mense van die aanleg praat. Die ander drie of vier boorgate is toegerus met elektriese pompe. En ‘n man moet weet hoe werk hierdie pompe, want ons kan nie híér ‘n dag sonder water bekostig nie.

Verder is Geraldine ma van vier dogters en ook reeds ouma. Sy gooi haar volle gewig in by die kerk en by skoolaktiwiteite en by die dorp se sopkombuis. Sy is begenadig met ‘n lieflike sangstem. Al vier haar dogters ook. Hulle sing gereeld saam by kerkfunksies. Sy en haar oudste het juis verlede jaar met die Erfenisdagvierings so mooi gesing. Saam het hulle ‘n stuk getiteld New South Africa gesing en Geraldine se solo lied was Surely the Presence of the Lord.

Hierdie waterkar-ryery gaan heel somer so aan. Elke liewe dag van die week. In die winter is dit nie so ‘n groot probleem nie. Maar veral nou, met die vreeslike hitte en droogte in hierdie gebied, ry Oom Schalk en Geraldine soms soveel as vier ritte per dag deur die woonbuurt. Hulle begin vroegmiddag, net na 3nm. Die twee Jo-Jo’s, elk 2500ℓ, word volgetap uit die resevoirs by die aanleg onder in die dorp. Met die 5000ℓ op die sleepwa, vaar hulle die woonbuurt in. Op sentrale punte kom ontvang mense water met hulle dromme en kanne en emmers. As die Jo-Jo’s leeg is, is dit eers terugdraai en weer gaan opvul. Ek het al gesien dat hulle tot na nege saans, soms amper hier teen tienuur, steeds waterkar ry.

Wanneer die trekker en sleepwa vir iets anders gebruik moet word, soos vir Dinsdag se vuilgoedsakke, moet die Jo-Jo’s eers van die sleepwa afgehaal word. En na die rondtes weer opgelaai word.

Dit het al gebeur dat iets fout gaan met die boorgatpompe. Dan moet water aangery word van Carnarvon se kant af. Bo-op die kop agter die dorp staan twee groot reservoirs. Die reservoirs vanaf die aanleg, voed hierdie groot reservoirs deur die nag. As hulle die dag vol is, is daar sommer lekker druk in die krane op die dorp. Maar dit het baie lanklaas gebeur, want die pompe bly skaars voor om die paar reservoirs by die aanleg gevul te kry.

Schalk meen hulle word darem ordentlik vergoed vir al die ekstra ure wat hulle insit en oortyd werk elke dag van die week. Maar, hoe meer mens verdien, hoe meer word mos afgetrek, reken hy.

L1230371

Schalk Esquire, die waterkardrywer

Nou wonder ek maar net; Is daar dan nie ‘n langtermyn oplossing moontlik vir die probleem nie, eerder as om vir oortyd en brandstof en onderhoud aan die trekkertjie te betaal – al vir veertien jaar lank?

Skoonmaak of doodmaak

L1230013

Die enigste lappie groen wat ek deesdae vanuit ons studeerkamer kan sien, lê en hyg in die skroeiende son tussen ‘n hoop rommel en ‘n prosopisbos wat erg stoel op ‘n kaal stuk aarde. Nie eens die duwweltjies het hierdie seisoen opgekom nie. Dis die enigste veldplantjies met blommetjies  waar die bye nog besoek kan aflê.

Ek hef my oë op van my werk. Nee, nie dít nie! Die skoffelspanne is jou wrintiewaar besig om daardie einste lappie groen uit te skoffel. Wat de … Dis al wat nog lewe in hierdie der dorte – ‘n moedige lappie patrysdruifbossietjies. In daardie area het laas, toe dit gereën het, bietjie waters opgedam gestaan. Die kinders van die buurt het daardeur geploeter en geplas, tog te lekker.

Ai toggie, dis mos nou nie mý verantwoordelikheid om die skoffelspanne aan te sê wat om te doen en wat om nie te doen nie. Ek probeer verder werk.

Elke keer wat ek opkyk, is my hart seerder. Daar gaan die enigste goedjies wat nog oorleef. Ek kan dit nie toelaat nie. Ek spring op en stap soontoe. Maar wat gaan ek sê? Ek kan hulle tog nie verbied om hulle werk te doen nie …

“Môre julle.”

“Môre Juffrou.” Die paartjies wat skoffel, kom regop en leun half op hulle se grawe. Die res, wat sit, bly sit,

“Gaan dit goed met julle?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Werk julle lekker?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Kan ek vir julle ‘n storie vertel?”

“Ja, dankie Juffrou.”

“Daar was eendag ‘n lappie grond. Dié lappie grond was op die randjie van dood in die hetige son en skroeiende wind. Net voor hy finaal die gees gee, besef hy dat as hy nie iets drasties doen aan sy ellendige situasie nie, hy vir ewig en altyd morsdood gaan sterf.”

Die klomp staar my aan of ek ‘n moroon is. Ek beur voort.

“So span hy sy laaste kragte in en neem ‘n besluit: ek gaan elke saadjie wat oor my waai vasvang en koester. Ek gaan elke druppeltjie dou of vog gryp en my bes doen om daardie saadjies te laat groei. Ek gaan nie sonder terugveg sommer net so vir ewig en ewig uitsterf nie.” Ek kyk in twaalf paar vasgenaelde oge vas. Ek druk deur.

“Dit was nie lank daarna nie, toe verskyn die eerste groen skynseltjie oor daardie lappie aarde. Die stukkie grond is só opgewonde, hy probeer harder as ooit tevore om elke plantjie aan die lewe te hou. Kort voor lank staan die groen bossie bankvas op sy oppervlak. Toe die westewinde weer begin woed en die son weer vel begin brand op die stukkie aarde, gee die plantjies darem ietwat van ‘n koelte as lafenis en waai die boonste grond wat geanker is nie sommer net weg nie. ‘Ek het dit gemaak! Ek lewe!’ jubel die lappie aarde dit bly uit.”

Sien ek ‘n skynsels van lig in party oë?

Toe vra ek: “Wie het vir julle gesê om vanoggend híér te kom skoffel?”

“Maar Juffrou sien, ons maak mos die dorp skoon” sê een namens die groep.

“Ja, ek weet en ek het groot waardering vir wat julle doen.” Ek buk af en tel een uitgeskoffelde plantjies op. “Ken julle hierdie plantjie?”

“Hy groei maar hier oral rond” antwoord ‘n ander een.

“Ken julle sy naam?”

Ek dink nie hulle het gedink onkruid kan ‘n naam hê nie. “Dis ‘n patrysdruif. Kyk, sy blaartjies lyk soos vet korreltjies. Hy lyk nogal na ‘n trossie druiwe. Weet julle, hierdie is, nes die naam sê, wonderlike kos vir die voëltjies. As al die ander kos in die veld op is, dan is daar nog altyd patrysdruif.”

L1230010

“Ja, maar Juffrou ons móét die dorp skoonmaak.”

“Daar is ‘n fyn lyn tussen doodmaak en skoonmaak” antwoord ek. Ek groet en stap terug, terwyl my hart moedeloos sug oor al die rommel wat teen drade vasgewaai, net so gelaat word.

Tuis merk ek op dat daar ernstig gepraat word onder die groep. Ek gaan maak troostee. Toe ek weer voor my rekenaar kom sit, sien ek die skoffelspan het opgepak.

Nou sit hulle op die straathoek onder die koelte van ‘n boom.

l1180187[1]