Haar laaste skooldag

 

Juffrou Rina en Juffrou Rida maak klaar vandag. Twee jaar van opoffering om tuisonderrig te gee, loop vandag ten einde.

L1220498

Rina en Rida, albei opgeleide onderwysers  en albei reeds afgetree, offer  twee jaar van hulle lewe (so te sê) om weer voltyds te onderrig.

Vir onse mense wat in so ‘n afgeleë plek woon soos Vanwyksvlei, kies jy óf tuisonderrig, óf jou kind gaan koshuis toe vanaf Gr 1 – dikwels honderde kilometer ver. Of, soos Almero en Lolita maak, kies jy dat een ouer in ‘n dorp naby ‘n skool gaan bly met die kinders, terwyl die ander ouer die boerdery/besigheid behartig .

In die plaaswyke  ver van die dorp af, is wel twee mammas wat self tuisonderrig aanbied – een se seun het nou matriek klaargemaak, en een Gr 7. Maar nie almal kan daardie roete kies nie.

Twee ander plaasmammas uit ons gebied ry skoolkar. Elke Maandag Prieska toe en terug en elke Vrydag weer dieselfde roete. Dit werk elkeen ongeveer 2000km per maand uit. Hou in gedagte dat dit grondpaaie is wat in ‘n baie slegte toestand is en waar daar gereeld ‘n band getrap word. Dan praat ons nie eens van die skoolfooie en van koshuisgeld nie. En dis die storie van elke afgeleë plattelandse dorp in die Noord-Kaap en sekerlik elders ook. Beslis ook in die Kalahari waar ons dieselfde gesien het.

Daarom is dit so merkwaardig is dat Rina en Rida bereid was om tuisonderrig aan te bied. Vir Rida is dit wel vir haar eie kleinkind, Lida-Marie wat sy met Gr R en Gr 1 moes help, maar vir Rina was dit iemand anders se kinders wat Gr 3 en Gr 4 moes doen.

Vandag, op die laaste dag, het ons dit gevier. Volgende jaar gaan al drie dogters koshuis toe.

L1220505

 

Onlangs onderneem hierdie twee ‘n verdere opoffering. Hulle vat hierdie drie dogters op toer. Vasie en Rida stel hulle voertuig beskikbaar en die kinders samel geld in vir brandstof. Eers Beaufort Wes en die Karoo Nasionale park toe, toe Oudtshoorn en die krokodil- en volstruisplaas, daarvandaan Gouritz toe vir ‘n besoek aan die Dias Museum, die karveel, die posboom en die akwarium en toe ‘n pretdag op Hartenbos en die veel besproke waterwurm. Die laaste dag word gewy aan kameelritte by Wilgewandel en ‘n besoek aan die Kango Grotte. In hulle leerplan word na al hierdie plekke verwys en nou het hierdie kinders ‘n akkurate assosiasie opgebou.

“Wat was vir julle die hoogtepunt van die toer?”

“Die waterwurm!!” kom dit uit een mond.

Wat ‘n besonderse voorreg is dit nie. Hoeveel ander kinders kry in al hulle jare van onderrig nooit so ‘n geleentheid nie. Ek reken hier is van die woonbuurt se kinders in die plaaslike skool wat nog nooit eens Carnarvon gesien het nie!

Volgens Rina staan hierdie toer uit bo al haar vorige toere. In haar 20 vorige jare van skoolhou op Kenhardt, Keimoes, Carnarvon, Reivilo, Victoria Wes, Prins Albert en Brandvlei, reël sy hordes sporttoere. “Hierdie toer, met hierdie drie kindertjies was nou die spreekwoordelike kersie op die koek. Ek kan nie dink dat ek al soveel in een week gelag het nie!” Sy beskou hierdie twee jaar van ondewys gee as ‘n goeie oorgang nadat sy skoolhou opgegee het om vir 23 jaar op Springbokoog, die familieplaas, te gaan boer. Die plaas is onlangs verkoop en sy is weer ‘n dorpsbewoner.

Op my vraag oor die twee jaar skool by Juffrou Rina, antwoord ChrisMarie sonder huiwering en Anri beaam: “Dit is die beste skool ooit en Juffrou Rina is die heel beste juffrou in die hele wêreld.”

Die Huis Sonder Vensters

Aan die suidelikste einde van Vanwyksvlei, staan daar ‘n huisie sonder vensters. Nog altyd wonder ek oor die huisie? Aan wie behoort die huis? Bly daar iemand? Waarom is daar geen vensters in die huis nie? Wat is die huis se storie?

P1370397

So ontmoet ek vir Piet van Wyk, die eienaar van die huis sonder vensters.

Desjare behoort die perseel aan Vasie se pa as deel van sy beeskraal. Sy koeie, wat toentertyd melk aan die skoolkoshuis voorsien, word in daardie kraal aangehou. Waar die huis tans staan was glo die stoor. Reg voor die huisie (nou die stoep) sien mens nog vandag die kettings waar die koeie vasgemaak is wanneer hulle vroeg soggens gemelk is.

Later jare koop Piet die eiendom by Chrisjan de Bruyn. Al wat nog bly staan van toenterjare se boerderytjie, is die fondasie, mure en enkele stukke van die dak. Piet wil dit aanvanklik afbreek en iets anders daar oprig. Maar volgens munisipale regulasies aangaande ouer geboue met erfenisstatus , mag hy dit nie doen nie. Dus knap hy maar op.

Sewe jaar gelede kry sy ma, Tannie Ethel, ‘n ligte beroerte. Sy woon toe in Jeffreysbaai by Piet se suster. Daar moet oor haar toekoms besluit word. Sy verkies om terug te keer Vanwyksvlei toe, selfs nie eers terug na haar huis van die afgelope 30 jaar in Carnarvon nie. Vanwyksvlei is haar plek; haar wêreld wat sy ken en liefhet van die dag af dat sy en Piet se pa getroud is. Hier is haar kinders gebore en hier het sy haar man begrawe. Hier is haar vriende en haar vetrouelinge.

Piet, sy broer Adriaan en sy suster Elmarie vervul haar wens vir die laaste paar jaar van haar lewe. So kry Piet die huisie in gereedheid terwyl sy ma in Jeffreysbaai aansterk.

Die plan om ‘n groot venster aan die oostekant van die huis in te bou, verander. Slegs een deur aan die oostekant bied toegang tot die huis sodat daar geen gedwonge toegang op enige manier tot die huis verkry kan word nie. Die donkiekar, wat Piet se pa sowat 40 jaar gelede eiehandig gebou het, kry ‘n ereplek binne-in die huis – die huis word letterlik om die donkiekar gebou.

P1370396

Daar is ‘n bad, ‘n toilet, en alles wat nodig is om gerieflik van te lewe – alles binne een ruim vertrek. Buisligte gee genoeg lig van binne sodat dit nooit donker en neerdrukkend blyk te wees nie. Meubels – ‘n bed en hangkaste, ‘n yskas en stoof – maak dit huislik van binne. Piet se suster verfraai die mure met ornamente uit die jare toet; uitgepak op die lysies wat die binnemure vorm – die binnemure van siersteen is kunstig teen die gepleisterde muur opgebou en vorm ‘n gebroke lyn op verskillende hoogtes. Enersyds is dit ten gunste van minder onderhoud en andersyds is dit verrassend esteties.

Twee weke voordat die huis gereed is, bring hulle haar solank Vanwyksvlei toe en vertoef sy in Vasie se gastehuis langsaan. Kort na Tannie Ethel haar intrek in die huis neem, kry sy ‘n tweede beroerte. Hierdie keer is die gevolge erger. Sy verloor haar spraak en is bedlêend. Sy het versorging nodig. Piet, wat toe in Upington woon en werk, reël vir haar versorging. In samewerking met Dr. Vorster en die personeel van die kliniek word ‘n span van 5 versorgers aangestel om in skofte van 12 uur na haar om te sien. Twee-twee werk saam en een bly op bystand. Sabina, Mietjie, Nettie, Katriena en Sanna. Nick Klein, Nettie se man, vervoer hulle heen en weer tussen skofte. Hulle bly gedurig met Piet in verbinding sodat hy op hoogte kan wees van sy ma se toestand. Die afstand tussen Upington en Vanwyksvlei lê hy twee keer per week af om by sy ma te wees.

Een oggend, terwyl Piet weer op pad terug is Upington toe, kom die boodskap dat sy ma se toestand skielik versleg. Hy draai terug en is nog betyds dat sy ma in sy arms kan sterf.

Lank staan die huis na Tannie Ethel se dood toe. Totdat Piet vyf jaar na sy ma se dood besluit om homself daar in te rig vir die tye wat hy Vanwyksvlei toe kom. Hy boer nie meer op die familiegrond op die Brandvlei pad nie, maar besoek die plaas gereeld waar sy ma en pa nou langs mekaar begrawe lê.

Piet se werk is van so ‘n aard dat hy dit per internet vanaf enige plek kan behartig. Hy reël dus sy kom en gaan soos dit hom pas. Tussendeur knap hy op, bou afdakke en omhein die perseel teen donkies wat oral wil in. Tans pryk feesliggies teen die nok van die dak en langs die mure af; gereed vir die feesseisoen – die enigste huis in Vanwyksvlei wat so getooi is.

L1220491

Gerieflik is hy ingerig met ‘n televisie, warm water, elektriese krag. Die huis met sy hoë dak en sy plafon van rosyntjie pallette wat aan kettings van die dakbalke af hang, bly verbasend koel en stofdig.

Piet sê hy kom glad nie eens meer agter dat sy huis nie vensters het nie…

 

Koöperasiestories

 

Die koöperasie op Vanwyksvlei maak toe sy deure toe. 31 Oktober 2017.

En toe maak Rudi en Trudie Oberholzer hom weer oop op 1 November 2017.

KVB (Karoo Vleisboere Koöp) beweer, na byna 2 dekades van dienslewering aan die boere van Vanwyksvlei, dat hier nie geld te make is in ons dorp nie. En daarmee word die enigste brandstofstasie en die enigste ATM in die dorp weggeneem.

20171112_163639

Alles, net mooi alles word deur KVB verwyder. Al die orige voorraad. Die telefoon. Die rekenaar. Die kaartmasjien. Die hele koelkamer (wat glo deur hulle aangebou is) word afgebreek. Niks word agtergelaat om weer iets van te maak nie – en dit nadat daar vir jare nie meer huur betaal is vir die perseel wat van die Boerevereniging gehuur sou word nie.

Rudi en Trudie koop die orige brandstof op – die pompe behoort hoeka nie aan KVB nie maar aan die destydse Boereverening – en red ons van ‘n benarde situsie. Want wie kan bekostig om 80km verder in Carnarvon te loop branstof aanvul?

20171112_163834_1

Maar ‘n brandstoflisensie kan nie aan ‘n individu uitgemaak word nie, daarom vra dit dat die eertydse boerevereniging weer in die lewe geroep moet word. En dit is reeds gedoen.

Praat van ‘n moedige reddingspoging!  Rudi en Trudie onderhandel met GWK (Griekwaland-Wes Koöperasie) en daar word bevind dat, volgens die syfers van KVB die afgelope tyd, hier genoeg potensiaal is om ‘n koöperasie te bedryf. Vanaf 1 Februarie  2018 gaan dit hopelik amptelik hier by ons funksioneer as ‘n franchise van GWK – soos dit tans suksesvol in Griekwastad, Marydale en Niekerkshoop bedryf word.

Dit gaan nie maklik wees nie. Want om as franchise van GWK te opereer, sal hierdie koöperasietjie op die groot kettingnetwerk van GWK geïnstalleer moet word wat groot finansiële insette gaan vereis. En om enigsins op groot maat aankope van voorrade te maak, moet daar aanvanklike bestellings geplaas en goedgekeuring verkry word  by enige groothandelaar.

20171112_163714

????

Intussen moet hier brandstof wees. Hier moet voer wees. Hier moet voorraad wees. En inwoners van Vanwyksvlei moet hulle regeringtoelae uitbetaal kan kry. Dit is waarvoor Rudi en Trudie wil sorg. Dis waarvoor hulle al hulle spaargeld ingestoot het en boonop groot lenings aangegaan het. Want kom wat wil, boere kan nie sonder brandstof en entstof nie en vee kan nie sonder voer nie. Dis waarom hulle bereid is om die oorhoofse koste van munisipale rekenings, die versekering van die gebou en die uitbetaling van lone solank op hulself te neem.

Daar word gereël met ‘n trokeienaar van Douglas om veevoer vanaf Prieska tot hier te bring. Hiervandaan word dit gelaai en gekanaliseer na in al die rigtings rondom Vanwyksvlei. Boer plaas ‘n bestelling; Rudi lewer af. En wie staan in vir die aanvanklike koste …?

Intussen gaan Rudi steeds voort met sy taak as bemarker van skaap. Terwyl Trudie aankope doen op bestelling vir elkeen wat iets nodig het vanaf Kimberley, beman hulle dogter Karin die brandstof- en voeraankope.

Dis  wat ek dienslewering noem. Want as boere eers plan moet maak om van elders hulle brandstof en voer te bekom, sal hierdie lewensaar doodbloei. Nou word dit – en ek moet bysê; met bitter moeilike opoffering – aan die lewe gehou tot hopelik Februarie volgende jaar.

Die Oberholzers bedink groot planne. Elke inwoner van die dorp sal ‘n rekening by die nuwe franchise kan oopmaak (al gebruik hy hom nie direk vir aankope nie) wat hom in staat sal stel om by enige ander GWK te kan koop en brandstof te kan aanvul, en so dividende vir homself te kan opbou.

Voorvatters. Dis soos ek vir Rudi en Trudie leer ken het. Dis wat ek beleef het met die voorbereidings vir die Bull Run. Dis wat my die volste vertroue gee dat hierdie lewensaar uiteindelik weer gaan vloei, gaan bot en gaan bloei.

As als volgens plan verloop, sal ‘n  trok tweeweekliks vir boere op die Brandvleipad en op die Vosburgpad hulle voerbestellings en enige ander toerusting en benodigdhede tot by hulle plaas se indraaipad vat. Transaksies sal per elektroniese oorbetalings gedoen word. Die huidige perseel sal ook opgeknap word en ‘n koffiehoekie sal ingerig word waar boere wat brandstof en voorrade kom aanvul, kan kom afsaal terwyl hulle bestellings opgemaak word.

Want is en was die plaaslike koöperasie nie maar nog al die jare die hartklop van so ‘n klein boeregemeenskappie nie?  Was en is die koöpersie nie maar nog altyd die boer se aanvullingsbron en inligtingsbron nie, sy afsaalplek nie, sy kuierplek nie?