Om die mark te misreken

Ek is g’n entrepreneur nie. Ek kan wel bak en brou en blog. Ek kan grootmaak, ek kan skoonmaak, ek kan mooimaak en ek kan (dog ek) geld maak.

‘n Stalletjie by die WegRy Bull Run! Net die ding om genoeg geld te maak vir ‘n nuwe rekenaar!

Almal gaan dors wees Oktober in Vanwyksvlei. Ek brou al sewe jaar lank kefir en kombucha. Dis nou net die ding, dog ek so ewe.

So begin vermeerder ek my scoby en vergroot my kombuchaproduksie. Koop 300 botteltjies aan en BAIE kilogramme suiker (wat skielik duurder as ooit te vore is).

Drie maande voor die Bull Run begin eksprimenteer ek met waterkefir. Aanvanklik maak ek drie tot vier botteltjies per dag. Later vergroot my kefirkultuur sodanig dat ek tot 11 botteltjies per dag voorberei. Ek eksperimenteer met al wat ‘n vrugtegeur is; aarbei, bloubessie, grinadella, koejawel, kiwi, lemoen, nartjie,pynappel, perske. Later volg ek Hilda se instinkte – gemmer en bloubessie, appel en kaneel, suurlemoenskil en pynappel. Nou moet julle weet, hierdie vars vrugte is nie in Vanwyksvlei te koop nie – ek moet dit invoer vanaf Upington. Ek gebruik die beste bestanddele – organiese suiker, kokosneutsuiker en pienk Himalayasout.

20170912_201416

Gou is daardie 300 botteltjies te min en koop ek nog 450 aan. Ambisieus brou ek boonop nog 100ℓ gemmerbier en 25ℓ suurlemoenbier. Leen nog twee yskaste. Beset die kerksaal se yskas. Gaan stoor botteltjies in die plaaslike slaghuis se koelkamers.

Ek stoor liters en liters vars volroom melk in my vrieskas. Omdat melkkefir net ‘n 2 weke rakleeftyd het, diep ek al my kefirkulture uit die vrieskas op en oor die laaste twee weke voor die Bull Run, berei ek 2ℓ melkkefir per dag. Kos my soggens voor vyf kefir afgooi en bottel. Nuwes berei. Flesse en flesse en siwwe elke dag was. Etikette skryf tot my pen droog word.

Ek laat maak ‘n banier vir my stalletjie. Berei skryfborde voor met al die goeie hoedanighede van kefir en kombucha daarop aangedui. R10 ‘n botteltjie is mos nie te veel nie. Tel my kuikens voordat hulle uitgebroei is. Ek gaan ‘n slag slaan.

Maar niemand soek volksvreemde goete nie. Verkoop 4 botteltjies.

Vrydag. Nou stal ek van elke soort ‘n paar botteltjies uit. As mense dit síén, sal hulle koop – hulle lees mos nie inligtingsborde nie.

Niks.

Namiddag, na die rally-roete, soek ‘n paar ouens iets vir die nadors na die vorige aand se goeie kuier. Ek verkoop nog ‘n paar aan dapper manne wat kans sien vir iets anders. Ek bemark dit as doepa teen babalaas. Nog niks.

20171012_073955

Saterdag pak ek moedig weer die koelbokse. Versit Wilhelm-se-pan toe saam met die konfooi. Op die pan sal almal dors word.  Dit gaan beter want ek anker my botteltjies langs die kerk se koeldrankbad. Maar die aktiwiteite van die deelnemers is ver van die stalletjies af.Ouens wat kom kos soek, koop liewer Coke en Fanta. Sien dalk ‘n botteltjie raak. Op die ou einde sit ek met meer botteltjies in voorraad as wat verkoop is.

Maar wag, dis nie al nie. Fanie en Tersia van Crater Coffee wat die koffiestalletjie het, is bereid om beskuit saam met ‘n koppie koffie soggens te verkoop. Ek bak verbete die paar dae voor die Bull Run sewe baksels beskuit. Ek maak somme!!

Ek laat my skoondogter ook die gaping vat. Hier’s mos ‘n kans om geld te maak. Mense sal mos soek vir aandenkings. Sy tooi blikbekers, blakers van ou telefoonpaalkoppe en hangertjies van ou lense op met ‘n unieke metode van kuns, nl.  spuitnaaldkuns. Met moeite reël ons dat haar pakkie vanaf Pretoria Vanwyksvlei toe kom. Maak ‘n sommetjie; sy sal haar maand se huishuur hiermee kan afbetaal.

 

Helaas.

Ek pas die prys twee keer afwaarts aan. Maar nee, niks verkoop nie. Uiteindelik, aan die einde van die naweek, net voor ek oppak, verkoop ek darem twee bekers en twee blakers en een hangertjie. Sorry Sussie.

Marknavorsing? Nee, net aannames. Persepsies. Gevaarlik. Baie gevaarlik. Deur skande en skade word mens wys.

Bull Run-manne is anders. Al is hulle ginekoloë, prokureurs, makelaars en CEO’s, onderwysers, afgetrede dominee’s of sakemanne, vir die één naweek in die jaar haak hulle uit, het vet pret en jaag stof op. Dán soek hulle g’n probiotika en anti-oksidante nie!

Toe, Maandagoggend by die plaaslike skool in die woonbuurt, kry elk van die 408 leerders ‘n gratis botteltjie koeldrank om die eerste dag van die laaste kwartaal te vier. Die plaaslike sokkerspan ontvang 4 dosyn botteltjies kombucha. Met komplimente van Juffrou.

Nee wat, my 1980 model moet maar nog hou. G’n nuwe rekenaar vir my nie …

En die algehele wenner is ….

VANWYKSVLEI!!

Vanwyksvlei wen al die pad – danksy WegRy Bull Run 2017. Ons is skielik weer op die map. Ten minste 1000 mense, wat nog nooit van Vanwyksvlei gehoor het nie, wéét nou van ons en sal waarskynlik in die toekoms moeite doen om af te draai na ons klein dorpie in die Noord Kaap.

L1220071

Gerrie van Eeden, die man aan die stuur van WegRy Bull Run 2017, en sy span is 100% tevrede met wat onse mense hier in ‘n kort tydjie kon vermag. Bull Run en Vanwyksvlei is vorentoe sinoniem.

Ons plaaslike mense is dankbaar. Daar is bitter hard gewerk die afgelope 3 maande aan bouwerk en voorbereiding van die terrein. Verskuilde vaardighede kom na vore. Organisatoriese vermoëns word ontdek. Leierseienskappe kom aan die lig. Diensbaarheid word die dryfveer. Individue gaan groot onkoste aan om genoeg stalletjies beskikbaar te hê vir die besoekers – van kos en drinkgoed tot aandenkings. Die gemeente staan saam en massas vleis word verwerk en voorberei vir elke aand se braaipakkies. Spanne berei voor aan bykosse by die braai vir deelnemers en beamptes.

L1210748

Vrydag daag die manne een strook deur op met karre ouer as 1980. Opgedollie en getooi vir ‘n naweek vol pret. Die tentedorp kry gees.

Elke deelnemer bring ‘n geskenkpak van skryfbehoeftes van alle soorte saam wat aan die plaaslike skool geskenk word. ‘n Groot toevoeging tot die droogtehulpprojek van so ‘n paar weke gelede word deur deelnemers gemaak in die vorm van voerbale, voerpille en kontant bydraes. Ons harte loop oor.

‘n Volmaan span die kroon oor die volgeloopte tentedorp. ‘n Langverwagte naweek waarvoor die manne al heeljaar voorberei, breek aan.

L1220272

Dwarsdeur die dag word daar gebraai aan skaaptjops, skaapkoppe, braaiwors, sosaties, worsbroodjies, pap en kaiïngs, skaapstertjies en roosterkoeke met skaapvet en stroop om almal gelukkig te hou deur die dag.

Als word beskikbaar gestel vir ‘n suksesvolle aanbieding; van braaihout, ekstra brandstof, koffie uit ‘n ander klas, gebottelde water en ander nat rantsoene, tot ys. Hierdie dienste skuif Saterdag saam met die groot optog deelnemers na Wilhelm-se-pan so 17km buite Vanwyksvlei om daar ook beskikbaar te wees tydens die programitems op die pan.

Groeipyne is daar wel. Ons leer daaruit. Ons ken nou ons mark beter en nou weet ons presies in watter verwagtings en  behoeftes  van menige man (wat net wil kom afsaal en stof opjaag en geniet vir ‘n naweek) ons volgende keer moet voorsien – hierdie is nie ‘n kunstefees of ‘n Kersmark nie!

Ons gemeenskap het gejel. ‘n Gees van welwillendheid staan op onder onse mense. Op eie koste word lang afstande vir mekaar afgelê. Daar word aankope vir mekaar gedoen in Upington of Kimberley. Bestellings vanuit Prieska of Carnarvon word saamgebring as iemand soontoe moet ry. Die saamstaan, saamwerk, saam swoeg, saam moeg word, saam beplan het iets losgemaak onder ons mense waaraan daar reeds lankal ‘n ernstige leemte was agv van die langdurige droogte en swaar tye wat elkeen maar op sy eie moes deurworstel. Ons kyk met nuwe oë na mekaar.

WegRy Bull Run bring vir ons dorp en ons gemeenskap ‘n welkome nuwe inspuiting.  En ‘n dag later, kort na die enorme opruimingsoperasie, oorvloedige reën van 16mm.