KLIP, KLEI EN KLINIEK

My stapmaat, Rina, (ons stap vroeg voor sonop so om en by 10 km) neem ons saam na haar vorige plaas. Sy woon tans as afgetredene in die dorp nadat sy sowat 25 jaar daar vrou-alleen geboer het na haar ouers se dood. Die plaas, Sringbokoog, is bekend vir die pragtige voorbeelde van Boesmankuns op die ysterklippe wat in die omgewing gesaai lê. Studies het getoon dat van die gravures dateer sover terug as 2000 jaar. Ander weer, vanweë die verskil in tegniek wat gebruik is, kan tot 700 jaar terug gedoen gewees het. Hoe ookal, om deur daardie klipharde oksiedlaag van so ‘n pikswart ysterklip te kon graveer met iets wat nie ‘n Bosch elektriese boor was nie, bly ‘n wonder.

Met een van ons uitstappies in die omgewing klouter ek en Johan een laatmiddag af na die droë oppervlak van die Vanwyksvleidam. Dié dam staan al langer as ‘n eeu. Dit was die heel eerste staatsdam wat aangelê is met die oog op besproeiïng van landerye en boorde in die omgewing. In my wildste verbeeldingsvlugte kan ek my nie indink hoe dit moes gelyk het toe hier landerye en boorde was wat uit die kanale vanuit die dam besproei is nie. Hier suid van ons huis het glo ‘n kanaal geloop waar soveel as 10 windpompe gestaan het. Tans is dit net droë, dorre aarde met Prosopisbosse wat leegtes en kanale toestaan en ‘n paar windpompgeraamtes hier en daar.

Vanwyksvleidam is gedurende 1882-1884 gebou. Garwood Alston, landmeter en boukundige ingenieur het die aanvoorwerk tot die bou asook die bou van die dam behartig. Die vloer van die dam is gevul met potklei sodat die water nie kon wegsyfer deur die gruisgrond nie. Toe ons in Augustus hier was vir onderhandelings om ‘n brugtyd in die gemeente te kom uitdien, was hier nog water in die dam. Nou lê die hele dam droog en toegeslik.

Terwyl ons in die droë dam rondloop, merk ek die droë, gebarste blokke slik wat strek so ver as mens kan sien. Ek neem ‘n blok saam, week dit in water, knie dit af en maak ‘n pot. Hoe ek die pot gaan vuur, sal ek nog sien. Dalk ‘n gat in die grond maak en vul met Prosopishout. Maar eers moet ek die kanale volg en probeer toestemming kry om van die potklei te mag verwyder …

Ons onderneem ons eerste amptelike inkopietog Carnavon toe. Net na sewe klok ons in met die oog op ‘n ontbyt by Wimpy voordat ons met besigheid begin. Maar Wimpy is nie in Carnavon nie. Die Spar waar ons aankope vir die volgende maand doen, is kleiner as ‘n voorstedelike een. Die bank waar ons oorbetalings wil doen, het nie fasiliteite vir internet banking nie. Ons leer weer leef net van die nodigste en die basiese. Gelukkig floreer my kefir op melk wat die skoolkar vir my van Prieska af saambring, my kombucha fermenteer vrolik in die bedompige spens, spruite het ek al suksesvol gekweek van kekirertjies, roketsaad en lensies en my derde brousel gemmerbier is reeds gebottel. Brood bak ons weer self soos in die dae op die Grens.

Die bult aan die dorp se westekant waar die waterreservoir is, is ‘n gawe plek om die dorpie te sit en besigtig. Veral as daar ‘n volmaan oor die dorpie losbreek. Gisteraand was dit ons voorreg om die maan met ‘n koue bier te sit en inwag. My teorie, dat die volmaan opkom reg teenoor die plek waar die son ondergaan, is weer bevestig – presies daar waar my skaduwee se kop val in die ooste, stel ek my kamera op. En jou waarlik. Die maan se groot pomelokop verskyn reg in my lens.

Nou kan ek ook saampraat oor ‘n kleindorpse kliniek. ‘n Dokter van Carnavon kom besoek elke Woensdagmiddag die kliniek. In temperatuur wat raak-raak aan die 40˚, sit ons saam met ander onder die afdak en wag vir die dokter. Antie Annie Tieties van 101 jaar wat in ‘n rolstoel sit, was ‘n karretjiemens wat saam met haar man en dertien kinders van plaas tot plaas gewerk het. Al dertien kinders leef nog.

My bespataarde bene pyn van opgehewe rooi vlekke wat warm en sensitief is  vir aanraking. Dit laat my vrees vir ‘n bloedklont. Maar as ek so kyk  na Antie Annie se dik geswelde boomstompbene, vol knoppe en letsels, en hoe sy nie die gejeuk kan uitlos nie, makeer ek, liewe vriende, op hierdie aarde net mooi niks.

Kunstige sangravures in die klipharde ysterklip

Kunstige Sangravures in die klipharde ysterklip

P1370268

Nog ongebak, maar hier’s my eerste pot van damklei

P1370284

Die volmaan breek los oor die horison presies daar waar ek my kamera opgestel het

WAT WERK IN VANWYKSVLEI, EN WAT NIE

Het ek nou vir my ‘n lat gepluk met die bedelklonkies! Elke middag, elke middag nes ons bietjie wil gaan rus. Intussen het hulle aangegroei van drie na drie maal daardie getal. Om die voordeurklokkie te laat skril, is dalk deel van die bedelplesier. Maar ek leer vinnig wat werk en wat werk nie (of wie werk nie) hier in die Bo-Karoo nie. Miskien moet ek hulle maar inspan om vir my donkiemis op te tel in ruil vir ‘n broodjie. Iets sal ek moet doen aan die dooie grond, want my groente oorleef maar net-net.

Een van my eerste lesse was met Oempie Johannes Goeieman. Hy versorg die kerk en die pastorie se tuin. Woensdag kondig hy aan: “En ek verjaar mos nou môre.” Dit ontgaan my heeltemal en Donderdag werk hy met slegs ‘n gelukwensing. Hy is maar taamlik afgehaal die namiddag hier weg toe daar nie ‘n koek oorhandig word nie.

Vrydag verneem ek of sy verjaarsdag darem lekker was. So-so, antwoord hy. Maar Antie Betjie Adams, wat die kerk kom afstof en uitvee, haak daar van doer op pad kerk toe af: “Hy’t mos‘ie ‘n koek gehat’ie.” Toe gaan bak ek maar gou een.

Wat wel veronderstel is om te werk, is die spanne met die oranje pakke – soos die lapswaaiers orals waar daar padwerke aan die gang is. Hier is glo vier sulke spanne wat elk twee dae per week skoffel. Dan pay hulle sowat R700 per maand.

Staan ek en Johan nou die dag en kyk hoe 35 van hulle (met altesaam 2 grawe, 1 hark, 1 vurk, 1 kruiwa en die res stokke) ‘n slootjie wat toegespoel het, moet oopmaak. Daar’s baie wat baie het om te vertel en die werkery gaan tog te gesellig voort. Toe die grondjie wat uit die sloot kom elders in iemand se inrit gelykgemaak is, loop sit hulle in die skadu van ‘n bouval oorkant die straat. Dis nog nie 9uur nie maar dit kuier lekker verder. Toe die sirene die middaguur se breuk aankondig, staan hulle moeggekuier op en drentel weg om hulle etensuur te gaan benut. Vanoggend weer, skoffel hulle presies dieselfde stukkie kaal aarde oorkant die straat waaraan hulle twee keer verlede week geskoffel het. Hier groei tans niks in hierdie dorre weer nie, dus weet ek regtig nie waaraan daar so geskoffel word nie. G’n grassie of bossie of vygie of duwweltjie sal ooit weer kans kry om daar te groei nie. Aan die Prosopisbos en die papiere wat daar vasgewaai het, word egter nie geraak nie.

Hierdie spanne word glo deur Waterwese betaal. Deel van hulle pligte is om Prosopisbome uit te kap. Prosopis is ‘n geharde indringerplant wat epidemies aanteel. Ons het dit al deur die hele Noord-Kaap gesien – in die Kalahari, die Tankwa, in die Boesmanland, oor die hele droë Karoo heen, en nou weer hier. Ek dink Oom Kraai van Niekerk, destydse minister van Landbou, draai in sy graf om as hy sien wat van sy inisiatief geword het. Hy’t glo gesoek na ‘n geharde plant vir hierdie wêreld en toe saad vanaf SuidWes ingevoer.

Die boom verdring alles wat inheems is. In die Kalahari vrek selfs Kameeldoring soos wat Prosopis hulle water steel. Die wortelstelsel is baie diep – oral in hierdie deel van die land kan mens sien hoe loop die are van ondergrondse water soos wat die weliggroeiende Prosopis dit aandui. Die jong bome groei soos struike, is dig gespasiëer en maak lang lote wat goedbedeel is met dorings, wat dit haas onmoontlik maak om vir iets aan te wend. Hierdie tyd van die jaar staan die bome geil in die blom – ‘n geel trossie met baie stuifmeel. Verder dra die boom soet peule wat baie goeie veevoer uitmaak. Maar selfs dit bevorder die verspreiding van die plant teen ‘n hewige tempo. Word die boom afgekap, spruit hy net met meer vors uit. Al wat help is afkap en gif gooi, deeglik rondom die stam.

Gelukkig, Mnr Bauer, gee Prosopis goeie braaihout wat lekker kole maak…

Die nagte hier was tot laas week nog koel, maar is tans drukkend. Soggens breek die dag windstil. Die landsvlag voor die SAPD-geboutjie hang impotent teen die vlagpaal af. Sodra die son sy kop oor die oostelike heuwels opstaan, staan die windjie ook op. En daarmee saam die landsvlag. Dan kan die wind heeldag woed dat die warm stowwe staan. Laatmiddag sal hy net so skielik weer gaan lê. Maar geen teken van ‘n wolkie nie. Dit bly dor en droog en skroeiend warm. Boere voer lankal hulle vee teen hoë onkoste. Water is min. Op Prieska is daar glo al verlede Sondag gebid vir reën.

Die naweek het ons amper gedink ons beleef reën in die Bo-Karoo. Namiddag se koers begin die wolke vinnig saampak. Sommer gou slaan blitse plek-plek uit. Groot druppels begin hier en daar neerplof. Maar die wind steek op en daar gaan al die belofte van goeie reën Prieska se kant toe, waar dit glo 20mm uitgesak het. Wys jou net.

Sondag roep ons ook hier plaaslik ‘n biddag vir reën uit. Johan sal moet uithaal en wys…

Oempie Johannes word 59

Oempie Johannes word 59

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die weer bou op oor Vanwyksvlei

Die weer bou op oor Vanwyksvlei

Aankoms in Vanwyksvlei

Sonder teëspoed kom ons op Vanwyksvlei aan op die hittigste uur van ‘n giftige warm dag. Die plaaslike munisipaliteit beoefen gedwonge beurtwater- die pompe wat water uit die boorgate trek, moes êrens in iemand se onbewaakte waakbeurt lug gesluk het. Dis dor.

Die tafel in die pastorie staan gedek en ons word hartlik ontvang met ‘n middagete. Sleutels word oorhandig. Ons “trek” in. My oshart tamatieplantjies, paprikaplantjies, italiaanse spinasie en slaaisaailinge het die rit oorleef maar soek ernstig na koelte. Waar ek hulle in hierdie dorre grond gaan plant, sal ek maar eers moet sien.

Die yskasgoed en paar stukkies vriesgoed (wat lankal ontdooi het) moet eerste aandag kry. Terwyl ek uitpak, begin Johan voorberei want hy het ‘n begrafnis geërf as intreepreek. Boetie van tannie Bettie word môre begrawe. Die oudste van 6 kinders, downsindroom, het gesterf 61 jaar en 1 dag na sy geboorte. Hy het in sy lewe selfs ’n pofadderpik oorleef. Tannie Bettie het hom aan die lewe gehou met ’n petrollap op die wond tot op Carnavon want Vanwyksvlei se serum het uitgedroog. Boetie se oorskot word vanaf George hierheen gebring, waar hy en tannie Bettie gewoon het, sodat hy langs sy oorlede pa neergelê kan word.

Dis ’n groot pastorie. Groot vertrekke ten volle gemeubeleerd. Ons is hier met net die nodigste persoonlike goed en kos vir ’n maand. Aanvullings sal ons maandeliks op Carnavon gaan doen.

Teen sononder stap ons om die dorpie om ons stram litte weer te herbelyn na die 913km rit. ’n Donkie volg ons nuuskierig. Ons ontmoet vir Jan Witbooi, die plaaslike loodgieter. Die padskraper het ’n waterpyp oopgeskraap op pad skouterrein toe – môre vind ’n skoudans plaas – en Jan doen wat ’n loodgieter moet doen.

Saterdagoggend word ons 5uur wakker van ’n paradeprediker wat almal oproep tot bekering. Hier staan ’n herlewingstent in die township. Die prediker se luidspreker het blykbaar net een volume – maximum. ’n Hammondorrel sinkroniseer met akkoorde die prediker se woorde, sowel as die intensiteit daarvan.

Boetie se begrafnis breek aan met wind wat woed teen ’n spoed van by die 60km/h. Ten minste is die aanvoelbare temperatuur nou baie draagliker. Maar o tog, die stof! ’n Ander begrafnis is neffens ons s’n aan die gang. Sedert 1920 deel die gemeente amptelik die bestaande kerkhof met die kleurlingwoonbuurt – blank oos en kleurling wes van die ingangspaadjie. ’n Skare kleurlinge dans en sing, klap hande en stuur hulle oorledene vrolik die ewigheid in. Johan probeer die formulier lees onder die luide gesing langsaan. ’n Kleurlingvrou kom nuuskierig nader en verneem beleefd by my of sy ook die plegtigheid aan ons kant mag bywoon. Het sy Boetie geken, of doen sy net ’n heimlike vergelyking? Ons doen stroef die geloofsbelydenis en strooi roosblare teen die wind. Antie Gertie trek los met Die Here is my Herder. Baie gepas, want Johan se boodskap was op versoek van die familie uit Psalm 23 omdat Boetie se liggaam gevind is met sy Bybel oop by Psalm 23.

In die kerksaal is ’n spread uitgepak wat nie gelyke in ’n stadsgemeente het nie. Aan olywe en tong, koue soutvleis en melktert, fyn happies en delikaat gesnyde geroosterde kaas-en-tamatie toebroodjies is daar nie gesnoep nie. Waar kry die mense in hierdie afgeleë gehuggie soveel vars slaai? Winkels is hier nie juis nie. Het iemand spesiaal daarvoor Prieska toe gery?

Sondag breek aan. Johan is gereed vir sy toetrede as tydelike leraar. Die klok wat dateer uit 1912, lui die eerste gelui. Lui die tweede gelui. Die kerkraad is uitgedun, want Abel, die hoofouderling en al sy familie wat ook kerkraadslede is, is nie teenwoordig nie – hulle vier tannie Bettie wat vandag 82 word se verjaarsdag op die plaas voordat sy moet terug George toe.’n Diaken verwelkom ons amptelik.

Na afloop van die diens, word weer geëet en gedrink en saam gekuier. Party ouers is reeds vort om kinders so ver as die Paarl weg te bring vir die skool wat môre vir die laaste kwartaal begin. Laerskoolkinders se ouers val eers môre-oggend 4uur in die pad Prieska toe om hulle kinders betyds by die skool af te laai – Vrydag sal hulle weer gaan haal word vir die naweek. So ry hulle vier keer per week hierdie skoolrit van 130km.

Na kerk lui die voordeurklokkie. Drie klonkies, netjies uitgevat, begin al drie gelyk vra vir ’n werkie, soos papiertjies optel of bossies uitspit vir ’n broodjie. Hulle se pa-goed en ma-goed werk êrens op ’n plaas en kom net elke tweede naweek dorp toe. Hulle bly by mense wat volgens hulle nie vir hulle iets te ete gee nie en heeldag gesuip lê. Eldino, Poena en William is drie ‘newe’ – Gr 5, 3 en 1 onderskeidelik. Hulle is hier weg met ’n pakkie koekies – dis al waarop ek my hande kon lê wat eetbaar is – en ’n piesang elk, met die ooreenkoms dat hulle vir my enige ou blik sal bring waarin ek my groente kan uitplant. Ek het lankal gesien dat niks in die dorre, skroeiwarm tuin dit gaan maak nie.

Die dorp is kleiner as Loeriesfontein. Hier is ’n munisipale kantoor, ’n biblioteek, ’n koöperasie, ’n algemene handelshuis (waar mens van pilchards tot olie tot doom tot bicycle tyres tot babadoeke tot lugtyd kan koop), ’n slaghuis, ’n poliesstasie, ’n drankwinkel en les bes, ’n spaza wat deur ’n libanees bedryf word. Hier is ook ’n poskantoor, want ek het ’n posbode op ’n poskantoorfiets sien ry.

En hier is muskiete met dieselenjins! Moenie my vra waar hulle uitbroei nie – seker in die lugversorging se waterstelsel…

Tot volgende keer.

Die eerste dorpsbewoner wat kom kennis maak

Die eerste dorpsbewoner wat kom kennis maak

Die vrolike begrafnisgangers vanuit die kleurlingwoonbuurt

Die vrolike begrafnisgangers vanuit die kleurlingwoonbuurt

Eldino, Poena en William

Eldino, Poena en William