Volie van Geelie kerk

Bedel betaal nie meer nie. Nuwe inisiatiewe is nodig om iets vir ‘n honger maag te kry.

Daagliks. Daagliks is hulle hier by die voordeur. Lui die klokkie. Nie een keer nie. Elkeen in die groepie kry ‘n beurt. Is dit ‘n wedywering? Om te sien wie se drukkie van die klokkie gaan die doemenie of sy vrou voordeur toe lok?

Soms is die gesiggies so pateties dat ek nie anders kan as om te gee nie. Al weet ek ek sterk hulle in hulle kwaad. Maar êrens moet mens hierdie onding in die bek ruk. Hulle kan nie al van so klein af hierdie euwel aanleer nie!

20160630_162546

Op ‘n stadium het ek  gevra of hulle vir my kom sing as ek die voordeur oopmaak en ‘n kleine skare staan daar in afwagting. Gou word dit toe die nuwe tendens. As die klokkie lui: “Ons kom vir doemenie sing.” Dan val hulle weg met: “Anda Hies blad, fô-êwwer unda Hies blad …” of “Hy hou die jille wêreld, in sy hand …” vir ‘n aalmoesie of wat.

Gee jy vir die viertjies by die voordeur ‘n droë perske of ‘n koekie, dan peul daar 10 ander agter die boom uit wat in afwagting (met minder bravade) staan. Deesdae loer ek eers om die hoek om te sien hoeveel onse is dié keer in die pond voor ek spens toe loop.

P1430207

Die tyd wat ons weg was vir Ma se verjaarsdag, het hulle blykbaar agtergekom dat hulle die duiwe wat in die hoenderhok vasgekeer word, kan vang. Totdat Johan hulle in die hoenderhok betrap. Onder die indruk dat hulle hoenders of eiers kom steel, trek hy enetjie vas. Gee dit toe nou vir jou ‘n geskrou af! Totdat dit hortend en stotterend uitkom dat hulle agter die duiwe aan is. Dan breek alle skanse en hardvogtigheid maak plek vir deernis.

L1180136

Soggens is daar ‘n voedingsprogram by die skool. Maar nie almal wat kom bedel gaan skool toe nie. Dus moet daar ander inisiatiewe aan die dag gelê word om die doemenie sover te kry om te gee. Tref Johan drietjies by die voordeur aan met ‘n verfrommelde potloodlysie in die vorm van ‘n kollektevorm. “Dis vir die loop, doemenie.”

“Watse loop?”

“Doemenie moet R4.00 betaal want ons gaan stap” en hulle beduie waar hy sy naam moet inskryf as borg vir wat-ook-al hulle gaan stap.”

“Wie reël dit?”

“Die kerk doemenie.”

“Watter kerk?”

Enetjie stamp aan Anderenetjie: “Watter kerk is julle nou weer?”

Johan verduidelik aan hulle dat so ‘n lysie geen krag dra nie. As die kerk so iets organiseer, sal dit ‘n amptelike getikte lys wees van die Kerk.

Druipstert is hulle daar weg.

Vanmiddag terug. Die krag is af. Die deurklokkie wil nie lui nie. Maar hulle word nie van stryk gebring nie. Nie met so ‘n gawe plan nie. Roep en roep tot ek kom oopmaak. Oorhandig aan my die lys vir die loop wat doemenie gister gevra het:

20170621_175949

Vinnig Op Pad Na Haar Honderdtal

L1200127 (2)

 

“Ek was honger en jy het my gevoed, in die siekeboeg en jy het my kom besoek. My voete was met vislyn verstrengel en jy het dit losgeknip, ek het ondersteuning nodig gehad en jy het my bemoedig.”

Dis die woorde n.a.v. Matt 25 waarmee Broer Bingle sy toespraak oor Ma Chrissie afsluit tydens Saterdag se feeviering.

P1430093

Boet Bingle Ferreira aan die woord

En ek kan byvoeg: Ek is onregmatig besoldig en jy het vir my opgekom by die raad. Ek was onmagtig om my kinders in ‘n skool te kry en jy het vir my toegang bewerkstellig. Ek was werkloos en jy het vir my iets gereël …

Ma word 90. Ons baie spesiale ma met die positiewe ingesteldheid, dankbare hart, wydbelese gees, onwrikbare geloof, fyn waardering vir elkeen se uniekheid, kenner van poësie en literatuur, politiek, sterre, kruie. Wat elke dag vars groente uit haar tuintjie eet. Wat steeds kook en hekel en blokraaisels invul. Wat nog tuinmaak en flink kan beweeg. Wat haar ontferm oor elke hadedah, eend, kolgans, skoorsteerveër wat hier nesmaak. Wat presies weet wanneer Venus  of Jupiter oggend- of aandster is. Wat die afgelope 16 jaar na Pa se dood in Groen Wilgers ‘n lewe van eenvoud en dankbaarheid uitleef.

Al haar kinders, kleinkinders en agter-kleinkinders, skoonfamilie en vriende  trek saam om dit te vier.

P1430174

Ma Chrissie met ‘n klompie van haar 22 agter-kleinkinders

 

Soos die befaamde A-team kom ‘n plan bymekaar. Vanuit Parys bring een bondels helium  balonne en tafelnommers.  Vanuit Roodepoort kom ‘n ander met stapels kolwyntjies. Vanuit Pretoria word ‘n meesterstuk van ‘n feeskoek,  versigtig verpak, staangemaak. Vanuit Upington pakkies tuisgebakte koekies vir elke sitplek. Vanuit Muizenberg  ‘n kaartjie met tamatiesaad (ter herdenking van Ouma met haar ewige groentetuin) as aandenking by elke tafelpasing.  Tafelrangskikkings word afgelaai – geprakseer in  karakoere, opgetel anderkant Hoopstad op pad fees toe. Tafelplasings, mooi afgedruk met die vetplanttema, word opgeplak. Naamkaartjies by elke gedekte plek. ‘n Gedenkalbum waarin elkeen ‘n boodskap kan neerskryf.

Familie en Vriende van oral – Durbanville, Betlehem, Bela Bela, Wellington, Durban, Delareyville, Potchefstroom – omhels mekaar. Kamera’s flits en elke denkbare oomblik word vasgevang.

P1430083

 

Ma, wat na haar huwelik met Pa, op 22 vir Ousus Wilma in ‘n grashut in Rhodesië grootmaak terwyl Pa ‘n boormasjien bedryf, wat as skoolsekretaresse in Barberton saam met ons skoolbus ry vanaf Consortmyn, wat later jare bekwaam funksioneer as die sekretaresse van die burgemeester in Orkney  en uiteindelik aftree as die sekretaresse van die rektor van POTE, kry ons al vyf groot en geleerd te midde van swaarkry en armoede.

Ons vier haar lewe terwyl sy nog deel is van ons groot familie. Ma het net dankbaarheid op die hart teenoor almal wat sy in haar toesprakie puntsgewys  opnoem. Dat sy in ‘n knus  plekkie op die walle van die Mooirivier kan woon, dat haar maandelikse heffing stiptelik betaal word, dat sy ‘n goeie medies het, dat sy goeie oogsorg geniet, dat sy daagliks ‘n BEELD ontvang en maandeliks ‘n WEG in haar pos kry, dat alle onderhoud aan haar woonstel gedoen word, dat sy gereeld winkels en dokters toe geneem  word, dat kinders en klein-kinders gereeld haar bel en by haar kom inloer.

P1430137

Ma aan die woord met haar dankbaarheidsrede

Leo, oorlede Pa se eerste naamgenoot is ‘n bekwame meester van ons seremonie. “As Malusi Gigaba ons minister van finasies kan wees, kan Frits seker vir ons die seën vra” kry hy ‘n lae hou in na sy broer wat sonder sigbare stoornis dit bekwaam doen.

P1430085

Leo Kok aan die woord

Soveel inisiatief wat agter die skerm vorm aangeneem het, maak hierdie feestelheid moontlik. ‘n Buffet-ete is vir ons aangelê by Parys Gholfbaan se restaurant. Laat ons feesvier in die oortreffende trap voordat ‘n oop graf ons saamdwing.

Vanoggend skryf sy op die bord in die oord se portaal:

Die las van jare, ouderdomsverdriet

– Die kers wat uitbrand tot die blaker-blik –

Skenk my geduld om dit te dra, verkwik

Deur wat die tyd wat voorlê nog kan bied.

 

Laaste strofe van Kersnagvers

deur Louis Leipoldt

Uit Die Braambos Brand

Nagrit met ‘n Grys Hond

 

Die bus is op skedule. Ek word ontvang deur ‘n bekwame buswaardin. As die enigste opklimmer in Beaufort Wes by die Wimpy, sokkel-sokkel ek met my handbagasie teen die trappe op na my aangewese plek is in die boonste dek. Plant my hele soliede self in 7B.

travelpass_img2[1]

Die reisgenoot langs my ‘n jeugdige. Het oorfone op. Is konstant met sy ander iemand besig per video call. As die sein breek, bel hy weer. Hy praat ‘n vreemde taal wat nie die tongvalle het van enige van ons ander 10 amptelikes nie. Klink meer na Portugees. Seker ‘n Mosambieker. Kom ons noem hom Moza Mbieker. Kon darem groet en verneem Moza is op pad Pretoria toe.

Net twee ander reisgenote op die boonste dek is van my mense. Vroeg-vroeg gegroet, hulle laaste oproepe gemaak en selfone se klank sag gestel. Die ander – klein, groot, oud, jonk – is immer aan’t kommunikere. ‘n Ieder en ‘n elk het ‘n selfoon. Die ma en haar 3 spruite van ouderdomme pas skoolgaande tot sterk tiener wat later in Kimberley opklim, is elk toegerus met ‘n selfoon. Dit whatsapp dwarsdeur die nag.

‘n Blêrende TV voor in die ruim beeldsend ‘n futuristiese fliek van Will Smith. Gelukkig het ek oorproppe.

Later raak dit stiller. Mense dommel weg. Die TV word afgeskakel en die ligte gedoof. Ek kan ongesteurd voortlees op my kindle. Ek hoor salige snorke. Nou slaap almal.

‘n Selfoon lui skril. “Halô. Re ritse re phetse bantle.”

“Re qeta ho feta H o p e t o w n  hona Jwale.”

“Êh. Re palame ha monate bese ha e ya tlala.”

“Robala ha monate we tla bua hape. Sala hantle.”

Die tempo waarteen SMS’e en whatsapp’s luidkeels deurkom spreek van meelewing, elk met sy mense wat weggesien het en wat wag. Daar’s nie so iets soos in stilte boodskappe stuur en ontvang nie. Als word gedeel, nes die knap spasies tussen ons.

Want Moza Mbieker regs van my het ook aan die slaap geraak. Sy leë Fantablikkie rol heen en weer onder ons sitplekke deur tot ek hom vasgetrap kry.  In ‘n asblik druk. Maar Moza slaap en hel gevaarlik oor na my kant. Ek draai maar my rug en probeer ook wegraak. Later skrik ek wakker. Moza lê styf lepel teen my rug. Dis darem bietjie warmer so en ek hou my posisie. Mens steur mos nie iemand wat so lekker slaap nie …

Die bus sus sag tot stilstand in Kimberley. Die ligte gaan aan. Die buswaardin kondig ‘n 10 min verfrissing aan. Reisigers klim af en nuwes klim op. Ons skarrel vir verfrissing en Moza vir ‘n Steers burger. Hy verpas amper die bus maar sak langs my neer met sy middernag happie.

Mense raak weer stil. Die bus seil sag met die N12 langs. Verby Warrenton. Verby Christiana.

Verder agtertoe skril ‘n selfoon weer deur die slaapnewels. “Halô. Re palame ha monate.”

”Re haufi le W o l m a r a n s t a d.”

My slaap is verby. Reken uit hoe laat ons Potch sal binnevaar sodat ek ook mý mense kan laat weet.

‘n Paar dae later sit ek en my bejaarde Ma van 90 en Annemarie, my skoondogter, trots in die PUK se ouditorium.  Johan, ons oudste spruit,  ontvang sy tweede magistergraad.

IMG-20170523-WA0012

Om dié groot oomblik te kon meemaak, regverdig enige opoffering van enige aard. Selfs ‘n rit met ‘n grys donkie deur die Karoo sou ek daarvoor kon aandurf.