Jaloersbuie en verspoelings

 

P1390421

Die eertydse lande is vol water

 

 

Vir meer as ‘n week bou die weer mooi op. Die westewind verwaai gelukkig nie meer die were nie. Mooi bly die wind oos.

Reg rondom Vanwyksvlei sak jaloersbuie uit, maar in die dorp bly dit droog. Teen Donderdagnag sak ‘n sagte reën uit. Ons word wakker met die sagte gesuis van reën op die sinkdak en geute wat gôr. Soos wat dit lig word in die ooste, kan mens sien die lande van weleer lê toe onder die water.

P1390395

Jaloersbuie -hulle sak by jou uit maar nie by my nie…

 

 

 

P1390526

Die waters dam op, want waarheen spoel dit waar daar nie reeds water is nie?

 

 

Ek stoot die agterdeur oop en word bewus van ‘n konstante vibrasie vanuit die lande. Kan dit paddatjies wees? Vanuit die dorre droë aarde het hulle net eenvoudig verskyn. Blikslanertjies. Dis wat die mense hulle hier rond noem. Dit lewe! Watervoëls, soos vanuit nêrens, honk deur die lug en syg by die vol gatdamme neer. Die donkievul huppel baldadig al om sy ma. Bloedrooi fluweelagtige reëngoggatjies is ook maar net daar. Vanwaar? Die reënmeter staan op 26mm.

Soos wat die nuwe week begin, kom al meer gerugte van lekker neerslae in. Maar steeds is daar plase waar nog geen reën geval het nie. Ons hou week van gebed en by al ons dankgebede pleit ons steeds vir wye reën.

Op Swartpan, in die Kalahari, laat weet Nico het daar na 2 jaar van droogte, uiteindelik ‘n allemintige 84m uitgesak. En steeds pak die were saam. Nog neerslae word verwag.

Dan word die weer dik en donkerblou. By Frankieskop en Môreson sak 55mm uit en die paaie verspoel. Daardie aand sak nog 55mm uit en maak die paaie onbegaanbaar. Die waters stroom die Vanwyksvleidam binne. Op Toekoms is 32mm gemeet. Vasie rapporteer van 45mm op een kamp tot 120mm by ‘n ander. By die verste reënmeters op Hottentotsdam kon hy nog nie uitkom nie vanweë die erge verspoelings. Rudi se trok staan op die dorp –daar’s nie ‘n manier wat daai trok op die plaas kan uitkom nie. Maar op Debruynsrus en De Riet wag hulle nog geduldig vir reën.

P1370319

‘n Week gelede was die dam nog dor en leeg…

 

P1390462

… en kyk nou!

 

Uit die droë driedoringbosse breek spierwit blomme uit en die skaap weier die kos in die voerkrale – hulle smul aan die soet-soetste blomme. Uitgeteerde springbokke baljaar tussen die driedorings. Nuwe lewe beur oornag uit die gewillige aarde en die 8-dae grassies gloei alreeds groen.

P1390544

Uit die dorre aarde beur die lewe

 

 

P1390577

Die soet driedoringblomme

 

Sondagoggend is ons ‘n skrale 12 mense in die kerk. Die res kan as gevolg van die verspoelings nie deurkom vanaf die plase nie

Die aarde leer ons hoe om met dankbaarheid te reageer as God Hom ontferm; as Hy die lug antwoord en dié antwoord die grond en die grond antwoord met koring, wyn en olie … (Hosea2:20,21)

In die gene van diegene

 

P1390348

Soos wat die nuwe skoolkwartaal aanbreek, verskyn Andrew (name is verander om identiteit te verbloem) weer klokslag by die voordeur. Die hele Desember het ek hom nie gesien nie. Hy was blykbaar in Carnarvon vir die skoolvakansie en verseker my hy het Graad 1 geslaag.

“Het Doeminie nie vi my ietsie om te eet’ie, of ‘n vyfrandjie vi bietjie meel?” Hy’s so klein soos een van my kleinseuns en ek vind dit bitter moeilik om hom weg te stuur sonder iets. Maar ek weet dis waarom hy elke dag weer terugkeer.

“Hoekom is jy nie in die skool nie?” Dis 11uur. Die tweede dag van die nuwe kwartaal.

“Ek was byrie skool. Ma’ ons’et vroeg uitgekom.”

Gedagtig aan sy oorspronklike storie dat sy pa en ma op ‘n plaas werk en dat die mense in die woonbuurt wat na hom moet kyk, gedurig gesuip lê, het ek en Johan al die maatskaplike werkster probeer opspoor om raad te vra. Maar helaas…

“Kom ons laai hom in die bakkie en vat hom na sy huis toe, dat ons kan sien onder watter omstandighede bly hy” is Johan se voorstel.

Johan doen die aanvoorwerk: “Vat ons na jou huis toe.”

“Nee, Doeminie, my pagoed en magoed is albei afgedood.”

“By wie bly jy dan?”

“By my se oupa en ouma.”

“Nou vat ons soontoe.”

Terwyl Johan die bakkie uit die garage trek, gryp ek gou ‘n halwe piesangbrood uit die vrieskas. Kan dit nie oor my hart kry om die kind sonder iets te laat gaan nie.

“Hier op, Doeminee.” “Jy meen, links?” “Hier af, Doeminie.” “Regs, sê jy?” En so ry ons kruis en dwars deur die woonbuurt. Op paaie waar ons alreeds vroeër oor is.

Skielik stop hy ons. ‘Hie’so Doeminee.” Hy wys na ’n modderhuisie waarvan die plankdeure dig gesluit is. “Lyk my hulle het geloep.” Hy spring uit en gaan ruk aan die deure. “Nee, hulle issie mee hierie.”

Die buurvrou staan nuuskierig nader. Ons groet net op ’n afstand, maar ek knoop nie ’n geselsie aan nie. Andrew vat die pad met sy halwe piesangbrood en gaan sit agter ’n hoop stene om te eet. Ons vat maar weer die pad huis toe. Skaars weggetrek of ’n man wat van vooraf aankom, wys ons moet stop. “Dis my huis daai. Wie soek julle?” Ons verduidelik dat Andrew gesê het dis waar hý bly.

“Nee, Andrew se ma bly da’ naby die Volle Evangelie. Dis my huis daai.”

Ek stap weer terug na Andrew toe. Die buurvrou het als gestaan en uitluister. “Dis Andrew daai. Sy magoed is Fiena Boon, bly da’ by sy oupa en ouma” en sy wys in die rigting van die Volle Evangeliekerk. “Hy moet nog in die skool wees. Onse kjenners is nog’ie uit nie.”

“Klim, Andrew, wys nou vir ons die regte huis waar jy bly.” Hy klim. Klou sy broodjie styf vas. Wys die regte pad. Ons stop voor nommer 382.

Sy ma maak die agterdeur oop. Sy’t ’n vadoek in die hand. “Kan ek help, Doeminie?” Sy weet blykbaar wie ons is, al het ons nog nooit ontmoet nie.

Ons verduidelik dat ons gekom het om te sien waar Andrew bly en of hy versorg word, want hy kom vra elke dag kos.

“Ek’s juis besig om ietsie te maak, Doeminie, ek was net nog heeloggend doenig hie’ innie huis. Ma’ ons het dittie breed nie. Skuld so baie vir Lewis Stores. Maar hie ís kos, Doeminie.” (Ek moet nog iemand ontmoet wat nié vir Lewis Stores iets skuld nie…)

“Hoekom is hy nie in die skool nie? Hy sê hy was skool toe maar hulle het vroeg uitgekom.” Die oupa staan ook nuuskierig nader. “Môre Doeminie.” Almal in die woonbuurt, lyk dit my, weet wie ons is.

“Nee sien, die onderwyser het hom blou-oog geslaat gister. Ek wil nog skool toe om mettie hoof te ga’ praat.” Die stories klop nie.

Met dié kom die ouma om die huis geskuifel met ’n loopraampie. Met een oogopslag kyk sy my deur – my skoengrootte, my rokgrootte, seker ook my borsmaat… Sy steek haar hand na my toe uit en ons groet. “Het Mevrou dan nie vir my ’n ou paar skoene nie…?”

Grond, water en vuur

P1380706

Die eertydse huise is almal gebou met modderstene wat met strooi gemeng is

Tydens een van ons oggendstappies, kom ek en Rina by die eertydse steengroewe uit aan die oostekant van die begraafplaas. Mens kan onmiddelik sien dat hier eens op ‘n tyd stene gevorm en gebak is. Rina vertel dat die grond aan oom Doupie behoort en dat Lionel, van die slaghuis, se pa die steenmaker was.

Ek spoor Lionel se pa op. George Adams maak nie meer vandag stene nie. Hy is ‘n pastoor by een van die Pinksterkerke in die woonbuurt, Die Herbouers, en verdien verder sy brood deur deel te wees van ‘n bouspan wat regeringshuisies oprig – of moet ek sê opgerig het, want sedert November 2015 gaan daar steed nog niks aan nie. En … geen werk, geen geld. Hy het so ver terug as 1975 by Oompie Mat Klein geleer stene maak wat in die meent sy steengroewe gehad het. Al Copperton se huise is destyds gebou met stene wat hulle hier gemaak het.

P1390138

George Adams, steenmaker en tans pastoor

Daarna maak die lewe met hom ‘n paar ander draaie totdat Deon Oberholzer vir hom die deure oopmaak in 2002 om op sy pa, oom Doupie se grond vlak buite die dorp, met ‘n besigheid te begin.

 

George verduidelik die proses van steenmakery: Potklei word met pik en graaf losgemaak. Dit word met kruiwaens aangery na die menger. Die menger is ‘n 200ℓ drom. Binne-in is ‘n as gemonteer met vier sparre wat die klei moet brei. Dié is verbind met ‘n disselboom wat deur ‘n donkie in die rondte gedraai word om die potklei te meng met sand en as. Die sand word verkry van die rooisloot naby die skougronde. As word verkry van die reeds uitgebrande steenoond.

‘n Mengsel van 3 kruiwaens potklei en twee kruiwaens sand en as (wat 50:50 gemeng is) word die dag vooraf gemeng met water in ‘n diep kom. Oom Hans Goeieman ry die water aan met ‘n waterkar vanaf ‘n gatdam daar naby (later neem Oom Hans Mostert oor as drywer van die waterkar).

Twee werkers vul die 200ℓ drom met hierdie mengsel. Soos wat dit suksesvol gebrei word deur die donkie wat geduldig al in die rondte loop, stoot die voorbereide kleimengsel aan die onderkant van die drom deur ‘n poort van so 12’’X 12’’ en val op ‘n bank van so heuphoogte waar die vormdraers dit kom opskep. Hierdie skepproses werk so: ‘n vorm wat 4 stene op ‘n slag maak, word volgeskep en met ‘n plank afgeskraap. Dit word dan gedra na die baan waar dit uitgedop word. Nog ‘n werker strooi dan uitgebrande as bo-oor sodat die stene nie maklik bars tydens die uitdroogproses nie. Dan doop die vormdraer sy vorm in ‘n 20ℓ emmer water om dit skoon te kry, strooi soutsand binne-in die vorm soos wat mens ‘n koekpan met meel bestrooi om te verhoed dat die koek vasbrand in die pan.  Tot   6 000 stene word per dag so gelê deur 4 vormdraers.

P1390137

In hierdie einste drom is voorheen klei gemeng waarmee stene gevorm is

Die volgende dag krap hulle die sykante van die stene met ‘n skaapskêr reguit en plaas die stene op ‘n ander sykant om verder te droog. Na 24 uur pak hulle die stene in windblokke om die drogingsproses te bespoedig. As dit lyk na reën, word seile bo-oor die vars stene getrek

 

Sodra die stene kurkdroog is, word dit in formasie gepak vir die vuringsproses. Dis ‘n ingewikkelde stelsel waar daar in die bodemlaag gangetjies gelaat word tussen aangrensende rye stene. Hierdie gangetjies vul hulle op met steenkool. Die tweede laag stene word dwars gepak bo-oor hierdie gangetjies en staan sy teen sy, sodat daar luggange vorm en die een steen die volgende een kan brandmaak om so die hitte te versprei reg deur die kolom stene. Agtereenvolgens word laag vir laag so gepak. Uiteindelik, as al die stene op hierdie manier gestapel is, bou die manne ‘n skermmuur reg rondom die kolom stene en begin by ‘n poort ‘n hoop steenkool brand te maak. Hierdie gloeiende kole word in die gangetjies ingestoot met ‘n lang koleskraper sodat die kole in die gangetjies die hitte kan kry. Geleidelik begin die hele kolom stene te brand. George sê die stene gloei naderhand na ‘n week deurskynend so witwarm word hulle. Dan neem dit nog ‘n paar weke voordat daardie hele kolom stene sodanig afkoel dat mens dit met die hand kan afpak.

P1390124

George demonstreer hoe die stene in formasie gepak is vir die vuringsproses

P1390167

In hierdie ou foto van George kan mens nog die waterkar, die drom met sy disselboom, die bane waarop stene uitgekeer is en die formasie waarin die gedroogde stene gepak is om te brand, duidelik sien.

Vroeër jare is die huisies met ongebakte kleistene gebou wat versterk is met strooi. Orals is die oorblyfsels van hierdie modderhuise nog sigbaar. Hierdie nuwe gebakte stene word die boustene van meeste van die huise wat tans nog staan in Vanwyksvlei. Al die nuwe regeringshuise word met gebakte stene gebou en groot hoeveelhede stene word verkoop in Prieska en Kenhardt.

“Wanneer het hierdie bedryf dan opgehou werk, George?”

“2007 het ons die laaste stene gebrand, Mevrou.” Dit wil vir my voorkom asof die deure vir hom toegemaak is deur diegene wat nie dieselfde politieke sentiment as hy deel nie.

“Wat het jy nodig om met jou kennis en vaardigheid weer so ‘n bedryf te begin?”

“Grond, Mevrou. Grond, water en steenkool. Die bedryf sal homself betaal.”