‘n Opvolg op Jan se Goedvoelstorie

 

IMG-20160623-WA0003

Johan, Jan en Tilla saam met Elmo en Machiel van Clocolan

 

 

 

Moses kry sy opdrag van God by ‘n braambos. Gideon by ‘n dorsvloer. En Elmo by sy radysland.

Dáár lê God die name van Jan en Tilla La Grange van Vanwyksvlei op sy hart. Daardie aand om 9, stuur hy ‘n Whats App-boodskap aan die groeplede van hulle boerevereninging: ”Ek ry met ‘n vrag voerbale Vanwyksvlei toe.” Teen 11 uur het hy nie net 4 vragte voerbale nie, maar twee trokke met sleepwaens, vyf-en-‘n-half ton sakke voerpille en sout, ‘n skenking van diesel vir albei trokke en geskenke in die vorm van pamperlanggoed vir die La Granges. Om 11:13 ontvang Tilla ‘n epos vanaf Elmo: “Ons kom, julle moet net uithou maar ons kom en bring vir julle voer.” Tilla is te aangedaan om sy e-pos te beantwoord.

Dis omtrent half 5 op ‘n Saterdagmiddag. Die trokke, elk met ‘n sleepwa, met Elmo en sy broer Machiel aan die stuur bereik uiteindelik veilig hul bestemming.

Dis ‘n aandoenlike oomblik. Dis mooi om te sien hoe boere mekaar hand gee, hoed in die hand, harte vol dankbaarheid. Die trokke word die plaaswerf ingelei.

Jan, so opgewonde soos ‘n jongman by sy eerste ryding en Tilla, so tranerig soos ‘n ma by haar oudste se troudag, ontvang die trokke op De Bruinsrus. Die plaaswerkers staan al van vroegmiddag af die trokke en inwag. Die skuur is skoongemaak vir die kosbare vrag.

Die groot aflaai begin. Elke beskikbare persoon sit hand by om voor donker die vrag afgelaai te kry.

Elke storie het ‘n aanloop. Tilla vertel dat sy Elmo en Machiel se ouers (wat vir haar kinders in Kroonstad skoolgehou het) in Bloemfontein raakloop toe sy haar tannie, Petro Oberholzer, soontoe neem vir ‘n lensoorplanting. Daar kon hulle weer op hoogte kom van mekaar se omstandighede. Kon hulle hoor van die droogte wat sommige boere in die Karoo steeds in ‘n knellende greep het.

Elmo is ook hard geslaan deur die droogte. Maar vir hom het daar reeds uitkoms gekom. Dit het goed gereën in Clocolan en sy weiding is aan’t herstel. Sy Japanese radysland wat hy aangeplant het vir beesvoer staan juis en juig met bultende vrugte. Kontant het hy nie, maar voerbale (wat hy nie meer so broodnodig het nie) het hy wel. So hoor hy sy Meester se opdrag.

Ek sing saam met die Griekwapsalm:

Daar is ‘n Jeer in die jimmel,

Hy sôrre vi ons,

Hy sôrre vi ons.

Want nie lank terug nie, toe die eerste skenking van die vreemdeling uit Melkbosstrand aan die La Granges nog net ‘n herinnering was, kom twee trokke vol mielies vanuit die noorde. Hulle verdwaal en beland in Vanwyksvlei. Besef hulle fout en draai om. Ry terug Prieska se rigting. ‘n Ent verder, deur ‘n skerp dippie, glip die agterste trok se flap oop en skenk mielies vir kilometers.

Rudie, juis op pad vanaf Prieska, sien die gemors op die pad wat net aanhou en aanhou. Stop om ondersoek in te stel. Sien dis kosbare mielies. Bel vir Jan: “Bring sakke en grawe en helpers – hier lê ‘n skenking vir kilometers…” Nou is ook daardie ‘skenking’ reeds totaal uitgeput. En toe kom Elmo se opdrag van Bo.

Sê nou net vir my daar is nie ‘n Jeer in die jimmel wat sôrre nie. En ek bewys jou verkeerd.

L1140610

Jan en Tilla, vol verwondering oor hoe die Here te werk gaan met sy kinders.

Advertisements

‘n Opvolg van Sina se Verdwaling

 

 

Op 15 Desember 2015, stuur ek die verhaal van Sina se Verdwaling via my blog die wêreld in.

In Stellenbosch sit Elza in haar kantoor by Spier voor haar rekenaar. Sy sien die storie op my fb-blad.

In dieselfde kantoor sit Marina, Elza se kollega, en ontvang terselfdertyd dieselfde storie vanaf haar tannie wat sy op die Karoogroep raakgelees en aangestuur het.

“Elza, dit moet jou ma wees wat hierdie geskryf het.”

“Dis sy, ja. Ek het dit ook nou net gelees.”

“Vra vir jou ma of dié Daniel waarvan sy vertel, se van Vermeulen is – ek dink sy praat van my boetie…”

Daniel en Marina het dieselfde van – Marina uit haar pa se eerste huwelik en Daniel uit sy pa se  tweede huwelik. Hulle pa is reeds 11 jaar gelede oorlede. Oom Daan Vermeulen, vir wie Daniel tans hier in die omgewing van Vanwyksvlei boer, is dus albei van hulle se oupa. Daniel en Marina sien mekaar in 2009 laas op hulle oupa se 80ste verjaarsdag.

Met Vadersdag op hande, kom kuier Elza en Marina die naweek vanuit Stellenbosch – Elza by ons en Marina by oupa Daan en ouma Susan op die plaas duskant Carnarvon.

L1140646

Marina, Oupa Daan en Elza

 

 

Dis die eerste keer sedert haar pa se dood dat Marina weer op haar oupa se plaas kom. Haar pa se kleintydse spore lê nog hier. Soos wat Oupa Daan met haar deur die plaas rondry, wys hy vir haar haar pa se handewerk uit. Goed wat hy gebou het. Opgerig het. Aangeplant het. “Die truksvylaning het hy self nog vanaf saad aangeplant. Die naambordjie van die plaas self opgerig”.

Sy monumente staan steeds.

Daniel en sy vrou Marie sluit by hulle aan op die plaas vir ‘n goeie ou familiebraai.  Dis Marina en Marie se eerste ontmoeting met mekaar en dis ‘n goeie ontmoeting. Die wêreld is inderdaad klein, want nou is daar meer as net kollegaskap wat Marina en Elza aan mekaar verbind – Marina se skoonsus, Marie, en  Elza se swaer, Andries (Leonette se man) is eie neef en niggie .

Dis altyd goed as familie weer by mekaar uitkom. Dankie Sina Witbooi as jou verdwaling iets daarmee te doen het…

IMG-20160620-WA0011

Die Vermeulens

SO ANDERS, TOG SO EENDERS

 

L1120935

Lena Kampies, president van die AME

 

“Hêllo Juffrou, dis Lena.” Ek herken Lena Kampies van die AME-Church se stem. “ Lena wil net by Juffrou hoor of Juffrou seblief Donderdag vir Lena-hulle by die AME Bybelstudie kan kom aanbied, Juffrou.”

Sy ontvang my by die kerkie se hek met haar uniform van die African Methodist Episcopal Kerk se Womens League aan – ‘n swart uniform met ‘n spierwit kraag; simbolies van die redding van Christus wat inwig tussen die sonde van hierdie donker wêreld waarin ons ons bevind. Op haar kop die kedotjie van luiperdvel wat krag en sterkte simboliseer.

Die son hang al laag oor Krismiskop. Binne in die skemerdonker kerkie, sing die susters reeds ‘n koortjie. Daar’s so ‘n stuk of twaalf vrouens byeen wat ritmies saam met die lied tydhou – ‘n beat uitslaan op die Bybel wat op hul skote lê:

O loof die Here o my siel,

en al wat in jou is,

loof syne groot en heilg’e Naam,

sing sy gedag-te-nis.

Ek neem my plek in hulle kringetjie in. Nou-al bekend met die klein ruimtetjie van die AME-kerk met sy klein venstertjies. Vanmelewe se rooi fluweelgordyntjies voor die venstertjies. Karige gemeubeleerd. ‘n Rangskikking van plastiekblomme in die een hoek. ‘n Wêreld weg van ons eie imposante dubbelvolume kerkgebou met sy baie lig, sy eeu oue houtbanke en egte silwerware. Maar tog dieselfde gevoel van piëteit en  belonging wat hier heers.

L1120876

Lena staan op met die laaste refrein van die koortjie. “Goeiedag aan Juffrou en aan almal hier teenwoordig.” Vriendelike gesigte beaam haar verwelkoming met ‘n kopknik in my rigting. “Dankie Juffrou, dat Juffrou altyd bereid is om vir ons te kom help. Welkom aan die susters van die Womens League en aan elke vrou wat gekom het”. Dis duidelik dat die Womens League die hoogste status besit in hulle geledere.

Lena gaan voort: “Welkom ook aan die besoekers van die ander kerke wat saam met ons kom aanbid.” Daar is hoorbare instemming in die kring. “Ons gaan nou weer ‘n koortjie sing en dan sal suster Elna vir Juffrou welkom heet en daarna sal suster Sarah vir ons ‘n gebed doen. Dan kan Juffrou maar voortgaan met die Bybelstudie.”

Elna staan op om my weer welkom te heet – hierdie keer amptelik. “ Juffrou, dis vir ons ‘n baie groot voorreg om Juffrou vanmiddag in ons midde welkom te heet. Baie dankie dat Juffrou ingestem het om vir ons Bybelstudie te kom hou. Ons stel dit baie hoog op prys. Dankie dat Juffrou altyd so gewillig is om ons te kom help as ons op Juffrou se nommer druk. Ons sien baie uit na die boodskap wat Juffrou vanmiddag vir ons bring. Mag die Here vir Juffrou en vir Dominee ryklik seën. Nogmaals baie welkom by ons, Juffrou.”

Suster Sarah staan op. Begin bid. ‘n Gebed waarin sy die Here weer dankie sê vir my teenwoordigheid by hulle kringetjie. Ek voel klein tussen al hierdie opregte dank en waardering. Soos ek nou al gewoond is aan hulle manier van bid is daar vele beaamings en instemmings. “Jaaa Jirre, jaaaa.” Hoe meer  instemming hoe hoër klim die tempo en die intensiteit van haar gebed. Sy behou vir ‘n wyle die driftigheid van haar gebed en dan neem die tempo en volume weer geleidelik af en uiteindelik beëindig sy haar gebed met ‘n sagte, sugtende, eerbiedige “Amen”.

Almal sit in afwagting met hulle Bybels gereed op die skote. Ek betrek almal by die naslaan en saamlees van die betrokke Skrifgedeeltes. Hulle help mekaar die tekse naslaan. As Hebreërs nie in die Ou Testament wil opduik nie, help soek hulle hom in die Nuwe Testament en as Jakobus nie tussen die Evangelies te vinde is nie, gee iemand ‘n bladsynommer sodat almal mettertyd die plek het. Ywerig neem almal deel aan die saamlees en saamgesels. Dit raak al meer meelewend soos wat die waarhede van die Skrif begin praat. Ons raak die goed aan waarmee elkeen kan identifiseer. Daar’s algemene  konsesus oor die vrymakende waarhede waarmee ons besig is. Sensitiewe snare word aangeraak. Vrymoedigheid vlam op oor die goed wat pla. Openlik word goed oopgekrap en bepraat. Daar’s trane van opregtheid en openhartigheid. Ek is verras oor die openlike vrymoedigheid. Ek luier oor ‘n saak as ek sien daar’s nog praatwerk wat gedoen moet word. As iemand ‘n seerplek oopvlek, gun die ander haar om oop te maak – daar’s g’n teken van ongemaklikheid daarmee nie. Saam soek ons na die genesende krag van die Woord en die leiding van die Gees. Dis maar presies nes ons Bybelstudiegroep te werk gaan, behalwe vir veel meer ongeïnhibeerdheid – iets meer soos ongekunstelde onskuld.

Suster Rachel was tot dusver redelik stil in die linkerkantste hoek. Maar nou laat sy ook van haar hoor. “Dis nes Juffrou sê. Ons kan nie maar maak asof als reg is terwyl daar onmin in onse harte sit nie. Die Gees praat va’mirrag met my oor hierdie dinge. Dis nie reg as daar onnerlangs geskinner en gepraat word nie”. Teen hierdie tyd sit sy nie meer nie. Sy neem centre stage in en woes beduie sy met albei arms. “Ons is almal veronderstel om één in Christus te wees. Nou belieg en belaster ons mekaar en dit as susters in die Jirre. Dis nie reg nie. Ons kan nie so maak nie. As iemand iets teen die annereen het, moet ons daaroor praat. Openlik. Ons kan nie agter mekaar se rûe praat en agteraf wees nie.” Daar’s instemming in die kring wat soos vet op die vuur is. Nou kry sy tweede asem. “Die Heilige Gees dryf my, susters, om vandag hierie ding aan te roer. Ons kan nie die Jirre se seën op onse planne verwag as ons so maak nie. Dis nie tot Sy eer nie.” Skynbaar weet almal waarvan sy praat. Koppe knik en hoofde sak. Sy praat rustiger en beduie minder. Neem tevrede weer haar plek in en ons hervat.

Daar’s soveel openhartigheid. Soveel opregtheid onder hierdie toegewyde groepie vroue. Verwondering groei algaande, hoe meer ek met hulle te doen kry. Hulle bedieningswerk is nie maar sommer net so terloops nie. Wat hulle doen, doen hulle in alle opregtheid en hulle doen hom ordentlik. Met styl. Met respek. Met openhartigheid. Met oorgawe. Met die bietjie waaroor hulle beskik.

Ons gaan oor tot gebed. Almal begin gelyk te bid. Ek verluister my. Lena Kampies se stem voer die bo-toon. Soos wat sy in drif toeneem, so doen die groep mee. Crecendo. Vivace .Fortisimo. Dis ‘n algemene gegons met gebede wat dreun van intensiteit. Net Lena, as leier, se gebed kan onderskei word bo die gedreun uit. Ek hoor hoe sy ons bediening aan die Here opdra. Hoe sy bid vir Juffrou en vir Dominee en vir hulle kinders en klein kinders wat so ver van hulle af woon. Wanneer haar gebed begin afwentel doen die res daaraan mee. Moderato. Ritenuto. Diminuendo. Pianisimo. En dan gaan almal gelyk oor om die Onse Vader saam te bid. Amen.

L1120946

Susters Sarah, Lena en Rachel

Lena neem weer die voortou. “Ons gaan nou weer ‘n koortjie sing. Dan, terwyl suster Meisie en suster Emma vir ons ‘n drankie gaan inskink, sal suster Pandré vir Juffrou bedank vir die boodskap.”

Sy sit in: “Lei my, Here, lei my Here lei my

Lei my na die waters waar daar rus is.

Soos ‘n boom geplant,

soos ‘n boom geplant by waterstrome

wat sy vrugte gee aan Jesus

op die regte tyd”

Die kringetjie sing wiegend, dansend saam en klap die ritme spontaan saam. Toe oë sing sommiges saam. Nog ‘n maal en nog ‘n maal word die koortjie entoesiasties saamgesing. Dan neem almal weer hulle sitplekke in. Net Pandré bly staan.

“Dit is nou my voorreg om almal hartlik te bedank. Dankie, Suster Lena wat met Juffrou gereël het om vir ons die Bybelstudie te kom aanbied. Dankie aan elke Suster van die Womens League wat hier teenwoordig is. Dankie ook aan onse besoekers van ander denominasies wat hulle weg oopgesien het om ons te kom besoek. Baie dankie aan Suster Anne en suster Rina vir die drankies wat ons na afloop van die verrigtinge gaan geniet. En dan, laaste maar nie die minste nie, baie dankie Juffrou. Woorde ontbreek om my om vir Juffrou te sê hoe dankbaar ons is vir vanmiddag se boodskap. Ons het baie geleer en dit was vir ons ‘n riem onder die hart om hierdie boodskap vandag te hoor. Mag die Here vir Juffrou en vir Dominee ryklik seën.”

L1120951

Suster Elna en suster Pandré

 

Dis net ‘n biduur, dink ek. Net ‘n Bybelstudiegeleentheid. Maar hier doen hulle hom só intens, dat hy status verkry. Niks se ge-afskeep nie. Elkeen se ‘toesprakie’ is deeglik voorberei.

Dan kom suster Meisie en suster Emma in met ‘n skinkbord met glasies oranje koeldrank. Ek het al geleer dat gaskoeldrank hier in Vanwyksvlei baie meer punte tel as aanmaakkoeldrank. Dis spesiaal aangekoop vir Juffrou se besoek, hierdie bottels Orange Twist.

Met my glasie leeg, groet ek. Wil voor donker by die huis wees. Ek ry stadig deur die straatjies van die woonbuurt met sy kleihuisies en sinkstrukture. Straatjies vol kinders en honde. My gedagtes besig met die kultuurverskille wat heers tussen ons. Maar hoe ons taal en ons geloof ‘n krag is wat soos gom ons aan mekaar verbind.

Die strate van die woonbuurt is ‘n gesellige spul hierdie tyd van die aand. Kinders van alle groottes speel nog met oorgawe in die dag se laaste lig. Jillend en gillend en al hardlopende agter ‘n wiel of ‘n hond aan. Party skop bal. Ander stoot kaskar. Vroue loop diep in gesprek met mekaar. Iemand staan en groentetjies natgooi. Oues sit op ‘n lendelam stoel by ‘n oop agterdeur wat al baie lae verf gesien het. ‘n Troppie bokke word aangejaag na ‘n kampie toe. Hoenders soek stellasies uit. Ek herken Sewendelaan op TV-skerms wat deur oop deure sigbaar is.

L1140114

Die geselligheid herhinner my aan ‘n prentjie wat ek al voorheen gesien het. ‘n Beeld van ‘n buurt se rustige simbiose. Maar waar…?

Ek het hom. Die ouwêreldse prentjie van ‘n buurt se meelewing op die Quality Street blikkie.

Net, ‘n Bo-Karoose kwaitoweergawe daarvan.