Surrogaat hen

As ‘n hen besluit sy het lank genoeg gebroei en sy staan op voordat al die eiers uitgebroei is, breek dit my hart. Mens kan mos nooit die transformasie wat daar plaasgevind het net sommer so laat vaar nie. Veral nie as die dop gepik is en jy alreeds die kuikentjie daarbinne kan hoor piep nie!

20170404_085425

Basta hen, ek is nie ‘n hoender nie, maar ek kan broei as ek moet!

As mens nie die kuiken kan hoor nie, werk dit om die eier in ‘n glas water te toets. Ek dink dis vriendin Elna wat my dit geleer het. As die eier in ‘n glas water stil lê, is die eier waarskynlik vrot of die kuiken dalk dood. Maar ‘n lewendige kuiken se bewegings binne-in die dop, laat wip die eier op en af in die water. Hoe lank voordat die eier uitbroei, kan die glasietruuk ongelukkig nie uitwys nie. Dus broei ek maar voort aan so ‘n eier.

Vir my werk dit om die eier in ‘n foeliesakkie (dié waarin teesakkies verpak word) met ‘n pleister onder my hart vas te plak. Met my hemp bo-oor, kan niemand sien ek broei nie. Ongelukkig is ek nie goed genoeg bedeeld om die eier tussen my boesems in te druk nie.

20170403_160935

Ek het al menige kuiken so uitgebroei terwyl ek skoolgehou het.  Een het uitgebroei terwyl ek ‘n vriendin ondersteun het in Unitas hospitaal toe haar kind onder operasie was (dis sekerlik die eerste kuiken ter wêreld wat in ‘n hospitaal gebore is). Selfs in die erediens het ek al gesit en broei. Nie net hoenderkuikens nie. Selfs  ganseiers en eendeiers het ek al so gered. ‘n Volstruiseier sal ek liewer op ‘n ander manier probeer uitbroei …

Die probleem kom as die kuiken teen slaaptyd nog nie uitgebroei het nie. Mens slaap maar moeilik met ‘n eier teen jou pens vasgeplak. Dis dan wanneer ek die hen weer gaan leen vir die nag. Sy sien nie wat ek in die donker onder haar indruk nie. Mens moet dan net voor die hen op wees die volgende oggend, voor sy dalk die vreemde kuiken bykom of die eier koud in die nes agterlaat.

Mens kan altyd ‘n ander hen wat broei gebruik. Maar as haar eiers nog ver van uitbroei is, en sy besluit om op te staan nadat jou eier uitgebroei het, sit jy met ‘n groter probleem as wat jy gehad het. Nee, broei liewer self.

Om surrogaat hen te speel, is maklik. Mens hoor gedurig die kuiken piep in die dop. Dis wanneer hy ernstiger begin piep dat jy weet die geboorte is naby. So het ek op ‘n keer tydens ‘n vergadering gehoor my kuiken gaan kom. Gelukkig was die vergadering aan die klaarmaak. Ek vra toe ‘n oomblik van gewyde stilte en bring my eier tevoorskyn. Op daardie presiese oomblik breek die dop dramaties in twee en val die kuiken onvas uit die dop. “Nóú,” sê die voorsitter, “het my oë álles gesien!”

20170404_071358

Dit vat ‘n paar dae van voer totdat die kuiken sterk genoeg is om by die res van die span kuikens wat voor hom uitgebroei is, aan te sluit. Eiergeel en geweekte katpille kry ‘n kuiken gou op die been. Weer eens druk mens maar net weer saans die kuiken onder die niksvermoedende hen in. Teen sonop die volgende oggend besef die hen nie dat sy een meer kuiken bygekry het nie. En die kuiken aanvaar die nuwe gesin as vanselfsprekend.

In Vanwyksvlei in die pastorie is daar tans weer iets besig om uit te broei …

8 comments

  1. Anita Schutte · April 4, 2017

    Hallo Leonette, die gemeenskap én pluimvee sal hulle broeimasjien mos nooit laat gaan as julle tyd klaar is nie!!! Wonderlike storie.

    Gaan goed by ons, het laas week vir Johan ‘n e-pos gestuur, maar die adres is onbekend, sê hulle, laat weet as dit verander het.

    Sterkte en baie liefde vir jou/julle én die uitbroeiery van watter aard ook al!

    Groetnis,

    Anita

    Like

  2. travel460 · April 4, 2017

    Wat ń pragtige storie. Jy is ‘amazing’!

    Liked by 1 person

  3. Franlie Lexow · April 5, 2017

    Ai,nou het ek alles gehoor van oupa Tom se nasate!!! Seker hy sou die storie geniet het!!! Lekker broei xx

    Like

  4. marietjie raath · April 8, 2017

    Dankie liewe Leonette, dis briljante inligting…… Dit weet ek, die Ferreira bloed loop ver! My gedagtes gaan sommer 45 jaar terug ma al die planne wat julle altyd kon maak….briljant!!! Danbkie heerlik om te lees.

    Like

  5. Mariette · April 9, 2017

    Leef en laat leef!

    Like

  6. mariette van Velden · April 9, 2017

    Looovve jou kuikenstorie

    Like

  7. Elna Bekker · April 10, 2017

    So probeer ek toe ook [vir een hele dag] jou uitbroei teorie toets, toe al my hoenders geslag MOET word, omdat hulle die buurvrou se tuin bo myne verkies, en sy maak fyn tuin met mooi plante wat blom! Ek lees toe op die internet, wat summier verklaar dat dit onmoontlik is omdat ‘n hoendehen se liggaamstemperatuur baie hoër as ‘n mens s’n is [het jy dit geweet [?!] ek dag toe ” basta. julle weet nog niks van ‘uit Afrika Borwa’ nie, my vriendin het, en kan! my broeiery was van korte duur, want ek wis niks van die tee-sak-foelie nie [Joko?] ek keer toe sommer vir my die enigste klein hennetjie en een halstarrige haan af, wat nie in die slag-boks beland nie. Ek kan nie wag vir die eerste eiers om dit weer te probeer nie. – Terloops – dit was nie ek wat vir jou die wenk van die sinkende en wippende eier gegee het nie, maar ek weet dat ‘n verrotte eier dryf…

    Like

  8. Abrie Joubert · April 11, 2017

    Kan mens dit met volstruiseier ook doen? 🙂

    Like

Leave a comment