Annie Swarts teken 100 aan

Die seisoen het amptelik vandag gedraai. ‘n Nuwe seisoen begin ook vandag in Tannie Anna Swarts se lewe. Van vandag af leef sy ‘n lewe ná ouderdom 100.

 

Tannie Anna is gebore op 20 September 1918. Sy onthou nog die dae as die dam gereeld weer geskraap moes word, vroeg in die vorige eeu. Haar pa was een van die dambouers wat in 1882 begin is. Sy vertel hoe haar pa nog moes help om die damwal met bokvelle uit te lê. Op die bokvelle is klippe gepak waarmee die wal gekompakteer is. Dit is dan weer toegepak met potklei. Die damwal staan vandag nog net so.

By haar in haar karaktervolle huisie hier in Vanwyksvlei, woon ‘n hele paar geslagte saam.

Anniekoek

Sewe kinders is vir haar en haar man gebore waarvan slegs twee nog lewe. Haar dogter, Rachel, versorg haar tans. Tannie Annie kan nog goed loop, kan nog goed genoeg sien om daagliks naaldwerk met die hand te doen, hoor minder goed, kan nog verbasend goed onthou en het nog haar eie tande. Sy voer nog ‘n sinvolle gesprek met mens en lewe ‘n lewe van opperste dankbaarheid.

AnnieS

Sy vertel dat haar pa naby Humansdam rond gewoon het toe die dam se bouery in 1882 begin is. Hy was een van die dambouers wat met esels potklei vir die dam aangery het. Later jare word sy in Smouskolk se omgewing gebore as een van drie dogters van haar pa en ma. Haar ouers het ook by die Ingelsman op Garskolk gewerk waar sy moes help miskoeke optel om vuur mee te maak.  As jong meisies gaan grawe sy en haar susters sout onderkant die damwal uit en dra dit op hulle koppe dorp toe in ruil vir lewensmiddele.

Haar man het by Oom Doupie Oberholzer se pa op die Lande gewerk en later vir Doupie self. “Ek het al Doupie-goed se kinders help groot maak. Op hierdie rug van my het ek Deon-hulle rond gedra. Ook vir einste André Oberholzer wat nou so ‘n groot man is.”

Tannie Anna vertel dat haar pa op ouderdom 101 gesterf het. Sy goeie gene leef voort in hierdie inspirerende vrou.

 

Advertisements

Solotrap, vrou-alleen

Vrou-alleen trap Leonie Yendall per fiets deur die Noord-Kaap op pad Grahamstad toe. ‘n Roete wat haar terugneem na haar wortels en na die gebied waar sy grootgeraak het.

LeonieY

 

Ek ontmoet haar by Doupie en Elize Oberholzer waar sy vanaand oorstaan. Wat ‘n indrukwekkende vrou! Sy is eintlik, behalwe dat sy ‘n opperste avonturier is, ‘n nguniboer in vennootskap met haar man naby Grahamstad. Geen uitdaging, lyk my, is vir haar te groot nie.

Agt dae gelede val sy in die pad by Grootdrink. Sy het pas die Visrivier saam met ‘n paar vriendinne gestap. Op pad terug laai haar stapmaters haar met fiets en al af by Grootdrink vanwaar sy haar toer begin.

Van Grootdrink na Groblersdal. Daarvandaan na Boegoebergdam waar sy op die plaas Zeekoebaart oorbly vir nog ‘n dag. Dan tot by Marydale waar sy eers na sononder die dorpie bereik. Vanaf Marydale tot op die plaas Gelukspan, toe tot op De Naawte en vandag tot op Vanwyksvlei.

Haar fiets, Die Mamba, is spesiaal vir die grondpad van die Noord-kaap opgebou. Alles ry sy saam – tent, slaapgoed, water, proviand, klere. Alles wat moet laai, laai ook deur ‘n dinamo op die fiets sodat sy nooit sonder selfoon is nie.

Waar sy kom, staan sy oor. Wie ook al slaapplek aanbied, daar slaap sy, ongeag ras, kleur of stand. So kom sy doodmoeg in Marydale aan. Uit die donkerte kom Jerome en bied slaapplek by sy ma se huis aan waar sy ‘n salige nagrus geniet.

oorstaan2

In Marydale bied Moira hierdie kamertjie aan waar Leonie kon oornag

Geen vasgestelde afstand per dag nie. Soos die weer en die Gees haar lei, so pas sy aan. Een dag is dit 58km, die volgende 38km, dan weer ‘n hengske 75km. Of sy staan bloot ‘n dag oor en kuier net. Dis alles deel van haar toerervaring.

Leonie is gesiggestremd. Sy ly aan gloukoom maar laat haar nie daardeur onder kry nie. Sy het ‘n spesiale toepassing op haar foon wat haar help lees en waarmee sy alles doen – foto’s neem, internet, daaglikse inskrywings op fb, die werke.

Voorheen het sy wel al saam met groepe fietstoere onderneem. Maar sy verkies die solo-idee, waar sy kan stop om ‘n toneeltjie wat haar opval, te kan afneem sonder dat dit iemand anders se spoed breek. Op dié manier mis sy niks – nie ‘n kostelike naambord of ‘n medereisiger of ‘n interessante karakter nie.

Mag jy kosbare nuwe kennisse opbou op jou soloreis deur die Karoo. En mag jou reis verder een van groot hoogtepunte in jou lewe wees. Bon voyage!

‘n Barnabasbelewenis

Die bedieningspad kan soms ‘n eensame pad wees. Veral op ‘n klein, afgesonderde Karoodorpie soos Vanwyksvlei. Maar dan beleef jy uit die bloute ‘n Barnabasmoment – ‘n moment van bemoediging.

Barnabas

So kry Johan ‘n versoek van Jak127, ‘n organisasie wat hom beywer vir die ondersteuning van veral weduwees en wese, om een aand by ons te oornag op pad deur die Karoo. Hulle is sewe manne, soek slaapplek en wil graag die aand saam met ons verkeer.

Kommandeer gou vir Rina en Rida op om te help met die slaapplek en maak gereed om die sewe manne te ontvang vir ‘n Karoobraai by ons aan huis. Pragtige, toegewyde manne met ‘n liefde vir die Here en sy mense.

Hennie van Vreden, (oud polisieman en die stigter van Jak127 – gegrond op die skrifwoord in Jakobus 1:27), Marius, Dewald, Ron, Danny, Pieter en Charl se twee voertuie sleep net so na 4nm hier in vanaf Vosburg. En ons begin kuier.

jak127

Op my navraag oor die doel van hulle sending, en onder die indruk dat hierdie uitreik ‘n program behels om die plaaslike gemeenskap te kom bedien, hoor ek dat hierdie manne bloot deur die Karoo reis om medegelowiges te bemoedig. Hulle het nie ‘n program nie. Hulle beoog om van dorpie tot dorpie deur die Karoo te reis en telkens net een aand oor te bly. Verder vertrou hulle die Gees om hulle te lei – wat hulle by elke oornagstaning moet aanbied, sal afhang van die omstandighede.

Charl het ‘n woord van God ontvang uit Hand 20:2 om op reis te gaan en mense op sy pad te bemoedig. En dis wat hierdie sewe manne doen. Hulle kom bedien. Bring baie meer as wat hulle kan ontvang.

Ons, wat almal swaar dra aan die bekommernis oor die toekoms van ons gemeente, ons wat hard besig is met voorbereidings vir die BullRun, ons word bedien. Ons, wat nie een daarvan bewus is hóé ernstig ons juis op hierdie stadium van ons bediening, bemoediging nodig gehad het nie, oes die seën van hulle besoek.

Om so ‘n klomp begeesterde manne te hoor getuig van God se werking in hulle lewe, inspireer van vooraf.  Om geleentheid te kry om ook jou hart teenoor hulle oop te maak, is bevrydend.

Later demonstreer Dewald die bordspel Eagels and Turkeys (wat hy en sy vrou ontwerp het) aan ons. Dis ‘n kragtige manier om mense aan die praat te kry oor hulle vrese en bekommernisse, maar ook te deel in hulle seëninge en dankbaarheid. En so spoel dit oor in voorbidding vir elkeen van ons.

Barnabas se naam was eers Josef. Sy naam beteken “iemand wat mense moed inpraat”. Een van die mense wat eintlik maar agter die skerms gewerk het maar ‘n kragtige bediening van bemoediging aan medegelowiges beoefen het. Dis wat hierdie manne kom doen.

En ek beslaan hulle tot ridders van die Barnabasbrigade.

Sela

Ontruim.

 

So onvermydelik soos die dood, so is huisopgee vir elkeen. Een of ander tyd in jou lewe moet jy daardeur.

So is dit ons voorreg om die afgelope paar weke weer deur daardie oefening te gaan. Nie omdat ons nou op pad ouetehuis toe is nie, maar omdat ons kinders uit ons huis in Pretoria getrek het. Daar staan die leë huis met huisraad – want ons is net met ‘n klein bietjie persoonlike besittings Vanwyksvlei toe drie jaar gelede. Al ons goed is nog daar sonder dat ons die kinders stoorgeld betaal het.

Die kinders beweeg aan. Ons moet ook.

Gelukkig val die oefening saam met ‘n uitnodiging van NG Lyttelton-Oos aan Johan om ‘n preekbeurt te gaan waarneem tydens die viering van hulle 60ste bestaansjaar. Die plaaslike kerkraad staan die besoek toe. Ons vertrek ‘n week voor die preekbeurt om solank ons besittings te gaan stoor – dis nog ses maande voordat ons kontrak met Vanwyksvlei verstryk.

Nou wonder ek? Sal jy al jou besittings gaan stoor as jy weet jy skaal in elk geval oor ses maande drasties af? So vlieg ons in en maak radikaal minder. Neem onemosioneel besluite oor uitsmyt, skenk, herwinning, stoor. Sien, een of ander tyd móét almal daardie besluit neem, anders neem iemand hom (wee jou) namens jou.

Daar’s hopies: hierdie gaan Hospice toe, daardie word geskenk aan Solidariteit, ‘n ander hopie is nog die kinders s’n, díés kan die skool op Vanwyksvlei gebruik, dít hou ons, daai wil ons nog gebruik, hierdie gaan vir die herwinningstrollies op asblikdag, boeke wat ons nooit weer gaan lees nie, kan gaan vir die kerk se boekrak. Jy moet mooi kophou tussen hopies om nie deurmekaar te raak nie …

Rye en rye teologiese boeke is nêrens meer in aanvraag nie. Stapels en stapels wiskunde en wetenskap studiesstukke en vraestelle gaan nooit weer gebruik word nie. Alles gaan vir papierherwinning.

Meubels en huisraad word weggery stoorplek toe.

Tussendeur word die huis se vloere herstel. Daar’s meer stof as dít wat mens nodig het vir nadenke of dankbaarheid. Dan moet daar nog geverf word ook want ons moet ‘n goeie huurder kry – hierdie is ons enigste pensioen. Dus word die week twee. Later twee en ‘n half …

huisf

Dis nie die eerste keer dat ons afskaal nie. Met elke verhuising gebeur dit noodgedwonge. Wanneer die kinders een na die ander die huis verlaat, neem hulle baie van hulle eie besittings saam. Ek reken alle mense doen dit ook in fases eerder as om eensklaps ontslae te raak van ‘n leeftyd se opgegaarde goed.

Hoe dankbaar is ek en Johan vir hierdie oefening van die afgelope paar weke. Dit leer ons ‘n duur lewensles. Die onnodige bagasie wat mens met jou saamsleep is soos ‘n binding. Weggee, weggooi, wegmaak, wegstuur, wegsmyt is bevrydend. Dit waarsonder jy ‘n paar jaar reggekom het kan iemand anders se lewenskwaliteit verbeter. Opgaar grens aan sonde …

Om ligter verder te reis word lekker. Goeters knel. Dis makliker met minder.

Minimalisme word ons motto. Ontruiming, ontdek ons, verruim.

Nagstemerrie-ondervinding

Kan jy jou indink hoe dit moet voel om as Vanwyksvleier op Parkstasie in Johannesburg beroof te word? Dit gebeur met Angeline Beekman.

Angres

Angeline en Evangeline

Op pad na ‘n profetiese konferensie in Pretoria reis sy met haar dogtertjie, Evangeline, van amper 4, per taxi van Vanwyksvlei na Prieska. Van Prieska na Kimberley. Van Kimberley na Johannesburg en word afgelaai op Parkstasie. Daar moet sy ‘n taxi Pretoria toe kry om by die skouterrein afgelaai te word waar die konferensie plaasvind. Maar alles is so groot en vreemd en besig. Wie moet sy vra om hulp? Om Inligting?

Met haar dogtertjie en haar bagasie probeer sy taxi staanplek nommer 52 kry volgens inligting wat sy ontvang het. Maar geen sukses. Sy vorder nie. Die dag se skadu’s word lank.

Oplaas terug na die oorspronklike plek van aankoms. Sekuriteitsbeamptes verstaan nie haar navraag nie; sy praat Noord-Kaap Afrikaans, hulle Tswana.

Die taxi wat haar in Johannesburg besorg het, staan nog geparkeer op die oorspronklike plek. Sy vra hulp. Hy verwys haar na sy co-driver. Dié bied aan om haar te help dra aan haar bagasie tot by die staanplek van die taxi’s na Pretoria. Op pad soontoe lui haar selfoon. Sy beantwoord die oproep. ‘n Tweede keer lui die selfoon. Dis haar ouma van Prieska. Maar voordat sy behoorlik kan antwoord, neem die co-driver haar foon af, sonder enige seremonie. Evangeline begin huil.

Die co-driver neem Angeline se bagasie en deursoek dit. Vat al haar geld. Sy staan daar tussen malende mense, probeer haarself nie verdedig of ander se aandag trek nie, omdat sy te bang is hy raak geweldadig. Al wat sy doen is om haar dogtertjie te beskerm en haar heeltyd te probeer gerusstel.

Daar sit sy. Gestrand op Parkstasie sonder geld en sonder enige manier om hulp te ontbied. Sonder beskerming. Verlore tussen ‘n massa haastige Gautengers op pad êrens heen. Sonder kennis of ervaring van so ‘n grootstad situasie. Maar nie sonder geloof nie.

Angeline het haar Verlosser as 17jarige leer ken en leef baie naby aan Hom. Sy vertrou Hom vir leiding. Sy probeer kalm bly. Sy stap al die pad terug na die oorspronklike taxi om te rapporteer dat sy co-driver haar beroof het. Die taxibestuurder ontken dat hy ooit ‘n co-driver gehad het of hom gestuur het om haar te help. Sy is verslae.

Sonder bohaai oor haar lot, vra sy hulp aan verbygangers. Hulle beduie haar na die naaste polisiestasie. Dit word al donker. Evangeline huil van skok en honger. Die polisie beskou haar as die krimineel. Wil nie eens ‘n verklaring afneem nie. Het geen simpatie nie en verleen geen bystand nie. Omstanders ontferm hulle en maak namens haar ‘n oproep na haar mense in Vanwyksvlei. Vanwyksvleiers reageer met langafstandoproepe terug na hulle eie mense in Gauteng. So kom die Slambee’s se skoonseun van Nigel, ‘n metropolisielid, tot haar redding. Neem haar en Evangeline onder hulle vlerk vir die nag. Help haar met taxigeld om die volgende dag weer tot in Kimberley te kom. Dié nag slaap sy en die kindjie by die taxi staanplek.

Angeliene3

Intussen raak haar man bekommerd omdat hy niks van haar hoor nie – sy beantwoord dan nie haar foon nie. Hy probeer haar aangee as vermis.

In Kimberley word sy weer deur simpatieke medereisigers gehelp om per taxi tot in Prieska te kom. Die skoolkar wat Vanwyksvlei se kinders vir die nuwe week Prieska toe bring, verneem van haar lot en spoor haar op. Bring haar veilig terug huis toe.

Angeline en haar dogtertjie keer ongedeerd terug na Vanwyksvlei. Sy gee alle eer vir hul beskerming en die hulp wat vreemdes gegee het, aan die Here. Sy’t die konferensie misgeloop, maar haar ondervinding het haar geleer wat dit beteken om onder die skadu’s van die Allerhoogste te kan skuil.

Hoe anders kon dit nie uitgedraai het nie!

 

Plêstiek issie vi’ wegstiek; Episode 2

20180517_110016

Vanwyksvlei se werkswinkel om handwerk van herwinde plastiek te maak, realiseer met 18, ja 18! deelnemers.

Nooit het ek so ‘n oorweldigende reaksie op my kennisgewing verwag nie. Spring ek darem vir jou rond om almal se begeesterdheid om allerhande mooi goed van plastiek te maak, te kan bedien!

Ek begin my werkswinkel, nadat ons geopen en mekaar leer ken het, gewoonlik met ‘n algemene motivering oor die noodsaaklikheid van herwinning. Dan trek ons los om te leer plarn maak (plastic yarn). Sommer gou sien ek waarmee ek te doen het – gemoedelikheid en kwinkslae soos die klomp sit en drade uitrek – julle kan net dink!

Binne die oggend van die eerste dag is al my sakke wat ek probeer bymekaar maak het, opgebruik. Dit noop die deelnemers om uit te gaan en sakke, bottels en proppe te gaan bymekaar maak. Dis mos presies waaroor herwinning gaan.

Die span werk met ywer  en entoesiasme. Die een kreatiewe eindproduk na die ander word op die tafel opgestapel. Niemand is tevrede om net een tegniek te leer nie. Ek staan bont. Maar sommer gou sien ek hoe hulle mekaar begin help. Dies wat reeds weet hoe om te weef, of te fuse, of te vleg, help ‘n ander. Katriena wys vir Grieta hoe om blommetjies te maak. Amelda help vir Antoinette om kraletjies in te werk.  Grieta help vir Zetta om die plarn in die naald te kry. Eileen wys vir Joanna hoe om met ‘n warm naald gaaitjies te smelt. Sharon en Magdalena pak ‘n projek gesamentlik aan. Daar heers ‘n gees van samewerking en eensgesindheid.

Ant Annie hou almal aan die lag. Haar hande kan nie sonder haar mond koördineer nie: “Die Here is my Herder julle moet my nou los dat ek kan konsentreer niks sal my ontbreek nie ek gaan die heel mooiste handsak hekel wat julle nog ooit gesien het Hy laat my neerlê maar sie julle ophou om my aandag af te trek in groen weivelde na waters waar… maak iemand dan nie bietjie koffie nie?”

Net Katriena Mostert sê nie ‘n woord nie. Op haar eie sit sy die een hekelwerkie na die ander en afhandel. Berei self haar plastiekstroke daarvoor voor en as haar sakke opraak, gaan soek sy nog.

20180517_161329

Katriena word beloon met ‘n grooot tol wol. Sy het my die minste ‘gepla’

Elke oggend as ek oopsluit, is die saal netjies aan die kant. Elke snippertjie en rafeltjie opgevee en als mooi netjies georden by elkeen se werksplek. Dis ‘n plesier om met hierdie span te werk. Spontaan doen een van hulle soggens ‘n gebed as ons open. Ek kry te doen met mense wat almal al een of ander tyd deur die lewensmeule is en tog met soveel blymoedigheid voortgaan. Hartseer stories ontvou soos ons sit en saamwerk.

20180517_160552

Die span van CWP met hulle opsieners

Meeste van die deelnemers is CWP-werkers wat afgedeel is vir die werkswinkel. Hulle oorreed hulle opsigter om te kom kyk na die mooi goed wat hulle reeds gemaak het. Toe Teresa, die opsigter dit sien, is sy so beïndruk met wat vermag is, dat sy daar en dan besluit dat elke span voortaan plastiek wat rondwaai in die dorp, asook bottels en proppies sal bymekaarmaak in swart sakke wanneer hulle  uitgaan om te skoffel.

Hoera!! ‘n Oorwinning vir Vanwyksvlei se rommelprobleem!!

Die Ring

Sedert ons aankoms in Vanwyksvlei in Oktober 2015, beleef ons ‘n gevoel van afstand tussen die Kerkrade en die Ring. Ringsgemeentes in hierdie geweste is inderdaad kilometers van mekaar geleë.  Dit voel asof ons as pastoriepare elk op ‘n eiland moet oorleef. Gemeentes vereenselwig hulle nie met die Ring nie en praat van ‘ons’ en ‘hulle’.

Tot op daardie stadium handhaaf die gemeentes die ou gewoonte van ‘n Ringsitting wat elke tweede jaar plaasvind, verteenwoordig deur die leraar en ‘n kerkraadslid van elke gemeente. Die vergadering vind streng formeel plaas. Kerkrade doet voort op ‘n model wat al eeue oud is.

Binne ‘n kort tydperk kry ook Williston, Brandvlei en Vosburg elk ‘n nuwe predikant. Die Ring word geseën met nuwe mense met vars idees, baie ervaring en ‘n oorvloed entoesiasme. Tydens die eerste byeenkoms van Ringspredikante word ‘n besluit geneem om die verhouding tussen Kerkrade en Ringsgemeentes aan te spreek.

L1180426

Muller en Eureka van Williston, Andrea en Jason van Loxton, met klein Jasmine, Johan en dan Plantjie, wat intussen plek gemaak het vir Jaco van Vosburg. Suzanne-hulle van Carnarvon is nie op die foto nie, geneem voor Rudi en Nicolene se tyd.

‘n Voorneme om jaarliks informele Ringsittings te hou, kry gestalte. Al die Ringspredikante stem saam dat daar ‘n behoefte aan sosiale interaksie bestaan en besluit om mekaar jaarliks te besoek soos wat gemeenteprogramme dit toelaat. Dit sal ons ‘n begrip gee vir mekaar se omstandighede, die gees en manier van elke gemeente se werksaamhede, ons kan by mekaar leer en die gemeentes kan die Ringspredikante leer ken as gewone mense met gewone behoeftes.

Sedertdien vind ‘n paar Predikantsbyeenkomste plaas. Twee Ringsittings is reeds gehou in ‘n ontspanne en aangename gees. Predikante en Kerkraadslede se genote woon die byeenkomste by.

Al ses gemeentes in die Ring; Brandvlei, Carnarvon, Loxton, Vanwyksvlei, Vosburg asook Williston is reeds in 2018 besoek. Aanvanklik word die leraarspaar besoek om openhartig te gesels oor hulle belewenisse in die gemeente. Daarna word die kerkraad en hulle genote besoek. Rudi, die Ringsvoorsitter fassiliteer die gesprek. Na aanleiding van 1 Tim 3:15 bespreeek die vergadering die betekenis van die woorde: die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. Die gemeente se identiteit en sy roeping kom ter sprake.

‘n Gesprek sonder die leraarspaar volg waarin die kerkraad hulle belewing van die leraarspaar kan lug gee. Terugvoer geskied na beide kante toe. Daarna word gesellig verkeer rondom braaivleisvure en kan almal mekaar op ‘n informele vlak leer ken.

Gevolglik voel ons as predikantspare nou almal baie nader aan mekaar. Ons as pastoriepare en ook Jaco van Vosburg – wat nog enkellopend is – wéét nou waar staan ons met die kerkraad. Kerkrade verstaan hulle leraarspare baie beter. Waardering is na beide kante toe vir mekaar uitgespreek waarvoor daar nie voorheen ‘n forum was nie.

‘n ‘Ons-gevoel’ is beslis besig om momentum op te bou in die Ring van Carnarvon.

Terloops Muller en Eureka, ons jubel saam met julle oor julle nuwe status: Oupa en Ouma van ‘n eerste kleinkind!

Plêstiek issie vi’ wegstiek

Twintig plastiese sakke wat ge’fuse’ is om een dekoratiewe bak te maak, is baie beter as twintig sakke wat in die asblik beland. Dertig sakke om ‘n mat mee te maak, veel beter as dertig sakke deur die wind verwaai.

 

 

So bevind ek my alweer, vir die hoeveelste keer, betrokke by ‘n ding. Dit deur die toedoen van my suster; Mariëtte van Wellington. Van die eerste keer af wat sy by ons kom kuier, is sy so aangegryp deur die groot getal werkloses in Vanwyksvlei en die min geleenthede tot ontwikkeling, dat sy weer ‘n wilde perd gaan staan en opsaal. Nou is ons ‘n span van vier (en binnekort meer) wat ons vaardighede deel met almal in ons omgewing wat belang stel – Vanwyksvlei, Carnarvon, Williston en Loxton. Mariëtte doen verf- en skildertegnieke, Iréne van Caledon gee opleiding vir tuisversorgers van belêendes en bejaardes, Gwen van Bettysbaai bied naaldwerkklasse aan. Die uwe is ingegrawe in plastiekherwinning en handwerk met plastieksakke en plastiek bottels.

In Vanwyksvlei meld net een belangstellende aan en die werkswinkel word gekanselleer – Die afstand om vanuit die Kaap te ry met al die aangekoopte voorrade, verblyf op pad en in die dorp asook petroluitgawes regverdig dit net nie.

Ons eerste werkswinkel skop af in Williston. Net een inskrywing! Ons sak op die munisipaliteit toe om hulp te vra om meer lede te werf, vaar die woonbuurt in om belangstellendes aan te keer, maak ‘n paar oproepe en eindig met dertien deelnemers waaronder heelparty CWP-werkers. Aan die einde van daardie week deel ons sertifikate uit en al ses tuisversorgers se kontakbesonderhede word by die winkel opgeplak as kandidate vir ‘n werk as tuisversorgers.

L1440780

Die tweede werkswinkel vind in Carnarvon plaas. Veertien verwerf sertifikate in tuisversorging, die ander nege doen o.a. kuns, plastiekverwerking en naaldwerk.

Daarna is ons Loxton toe. Sewentien belangstellendes voltooi die werkswinkel.

Die positiewe van hierdie onderneming is om die deelnemers se getuienis en terugvoer te hoor:

“Mevrou, ek kan nie vir jou vertel hoe hierdie week my lewe verander het nie.”

“Nou gaan ek elke middag al my kleinkinders wat ek moet versorg leer plastiekgoed maak – en sommer al hulle maats ook!”

“Mevrou, ek kon nie slaap laas nag nie. Ek het heelnag net lê en dink aan al die mooi goed wat ek vandag gaan maak.”

“Die Here het julle oor my pad gebring. Ek wou nog my lewe lank skilder, en kyk wat het ek in hierdie week leer doen!”

“Van kleins af droom ek daarvan om ‘n tailor te word. Nóú gaan ek een word.”

L1450119

Iréne maak die opleiding van versorgers baie prakties.  Hulle oefen om voete en toonnaels te doen op inwoners van die plaaslike ouetehuis. Sy demonstreer hoe ‘n bedlêende pasiënt volledig in ‘n bed gewas word. In Williston en Carnarvon gebruik sy ‘n ou dame in die ouetehuis. In Loxton doen sy haar demonstrasie op ‘n parapleeg wat in ‘n klein donker kamertjiein die woonbuurt lê. Sy rug is in ‘n onderonsie gebreek en sy ma (wat ook moet werk om die pot aan die kook te hou) versorg hom met groot toewyding. Maar sy kamertjie het geen venster nie – al die ruite wat gebreek is, is toegeplak en toegetimmer om die koue uit te hou. Iréne gaan reël by die koöpersie om ruite te sny en af te lewer. Godfrey, die handige word betaal om die ruite te gaan insit. Nou kom daar darem weer sonlig die kamertjie binne. ‘n Rolstoel is aan hom geskenk, maar is te klein vir hom om te gebruik. Iréne reël met die plaaslike predikant, Andrea, om die rolstoel te gaan omruil met een van die groter ou model rolstoele van die eertydse ouetehuis sodat die jongman se ma hom soms buitentoe kan stoot.

Verder maak sy haar opleiding wat sy al vir 20 jaar doen, en waardeur daar al 9 000 versorgers werk gekry het, beroepsgerig. Sy leer hulle hoe om ‘n siekekamer mooi in te rig, goed te ventileer, hoe om ‘n skinkbord met kos of tee mooi te dek, sy leer hulle dissipline en netheid en gee ‘n breedvoerige oorsig oor algemene gesondheid. Hulle moet ‘n eksamen slaag alvorens hulle ‘n sertifikaat kan kry.

Gwen doen die naaldwerk in Carnarvon in ‘n VGK-saaltjie sonder masjiene – aanvanklik is daar nie eens elektrisiteit om ‘n strykyster te gebruik nie. Maar elke dag bemeester hulle ‘n nuwe tegniek – hoe om ‘n soom in te sit, ‘n stukkende plek te stop, ‘n ribtrim aan te werk, te appliek en ‘n ritssluiter in te werk. En elke dag maak hulle ‘n nuwe skepping met die hand. In Loxton tref sy ‘n volledig toegeruste naaldwerklokaal aan. Daar maak elk van die ses naaldwerksters elke dag ‘n nuwe kledingstuk of handsak waarmee hulle die aand van die sertifikaatuitdeling modeparade hou.

Mariëtte leer haar student van kleur en die kleurwiel. Sy begelei hulle om enige ou skinkbord of koekblik of bord ‘n nuwe lewe te gee.

Hulle leer selfs kaartjies en naambordjies maak en voltooi selfs hulle eerste skildery. Tussendeur rap en riel hulle!!

L1450314

Die uwe beklemtoon die belangrikheid van herwinning. Ons standpunt vanwaar ons vertrek is om die omgewing te red – om nie meer één plastiese sak of bottel in ons leeftyd die asblikroete te laat gaan nie, want so beland dit tog net weer op die verkeerde plek. Ons weef, brei, hekel, knoop, lamineer, modelleer en dekoreer met plastiek. Elke snippertjie afval gaan in ‘n 2ℓ koeldrankbottel om ‘n ekosteen van te maak – later gaan ons daarmee bou! Deesdae kry g’n bedelaar meer by my voordeur sommer net ‘n broodjie of ‘n koppie sop verniet nie – die heersende betaalmiddel is ‘n volgepropte ekosteen.

Die sertifikate is net tydelikes. As hulle al vier modules per vak suksevol voltooi het, verwerf hulle ‘n permanente, gelamineerde sertifikaat waarop seëls die betrokke suksesvole kursusse aandui – amper soos ons destydse Sondagskoolsertifikaat

Nou probeer ons weer opnuut om Vanwyksvlei te mobiliseer. Hou duimvas …

Ons het ‘n N.R.O gestig onder die naam Carpe Diem Opleidingsentrum. Om hierdie bemagtiging in die Noord-Kaap te kan doen, vra ons elke deelnemer R20 per dag, net sodat hulle met trots kan voel dis iets wat hulle self verwerf het. Dit dek nie eens ons oorhoofse koste nie. Ons maak maar staat op donasies om die werk te kan voortsit.

Kry ek gister die goeie nuus: Rymondo en Godfrey wat in Loxton die plastiekherwinning gedoen het, kry ‘n bestelling van 100 matte vanuit Carnarvon se wêreld.

Dis mos nou presies wat ons probeer regkry; werkskepping!

Haar skaduwee

 

Vir omtrent ‘n week is haar skaduwee sonder haar. Sy het geval. Haar skouer ontwrig en die humerus se kop boonop gebreek. Sy is per ambulans Kimberley se hospitaal toe.

20180225_114959Shadow, haar ou swart Labrador, is totaal verlore sonder haar.  Want sy los nie eens vir Shadow alleen tuis selfs as sy winkels of kerk toe gaan nie. Hy raak heel die klits kwyt as hy alleen moet bly. Sy los hom eerder in die kar as wat sy hom alleen tuis laat want hy kan maklik van skone angs op ‘n verwoestingstog gaan.

Toe die ambulans met haar vertrek, is Shadow troosteloos. Ons ontferm ons oor hom. Hy en Van Zijl kompeteer effens by die kosbak, maar verder gedra Van Zijl hom darem aanvaarbaar teenoor die onverwagte gas.

Daar steek ‘n onweer op. Shadow se angsvlakke styg en hy verdwyn die dorp in op soek na haar. Eers twee dae later daag hy weer onverwags op. Weier daarna om die huis selfs vir ‘n vol blaas te verlaat. Verwese sonder sy mens.

Sy het Shadow 10 jaar terug gekry toe sy weer getroud is. Sedertdien is sy en Shadow onafskeidbaar

Haar lewe is een groot stuk getuienis van God se genade en van tweede kanse. ‘n Hele paar jaar gelede kom sy en ‘n vriend in Vanwyksvlei aan. Hulle huur ‘n huis. Na ‘n paar dae sterf haar vriend. Sy is ontwortel. As volslae alkoholis sukkel sy om wortel te skiet in Vanwyksvlei.

Mettertyd vind sy haar voete. Sy trou weer en versorg haar man tot sy dood. Sy word nagelaat met Shaddow en ‘n huis van haar eie. Haar enigste inkomste is pesioen.

Engele soos Hester en Erik op haar pad laat haar nie aan haar lot oor nie – anders het sy ‘n kluisenaarsbestaan gevoer. Waar sou sy nie dán opgeëindig het nie!

Sowat twee jaar gelede, word sy verkies tot die kerkraad. Sy blom. Nou kan sy vir die Here, wat so goed is vir haar, iets beteken. Sy begin woon die vrouebybelstudie by.

Sy snap iets van die volkome nuwe lewe in Christus waar die skadu’s van die verlede nie meer enige effek op die hede kan hê nie. Sy staan op uit die skadu’s van ‘n mislukte eerste huwlik. Sy gooi die skandvlekke van ‘n lewe met alkoholisme van haar skouers af. Sy genees oombliklik van alkoholisme sonder enige onttrekking of nagevolge. Sy al 2 jaar skoon en kry sedertdien nie eens meer lus vir drank nie – selfs nie toe sy in erge pyn ná die val was nie. Sy bearbei links en regs onder mense in die dorp wat niks anders as ‘n lewe met drank ken nie. Haar getuienis is kragtig. Haar toewyding aan die Here is aansteeklik.

Niks kry haar onder nie. Nie ‘n gebreekte pols verlede jaar nie. Nie ‘n beseerde duim in ‘n motorongeluk nie. En nou ook nie ‘n af skouer nie. Selfs in die donker tye van pyn en ongemak en beperkte beweging en nagte van min slaap sien sy net die positiewe raak. Die skadu van hierdie val se ongerief en intense pyn kan nie haar stralende dankbaarheid en openhartige getuienis demp nie.

Met haar fenomenalee sangstem loof sy steeds weer, vandat sy terug is uit Kimberley, vroegoggende die Here vir elke nuwe dag se genade en sorg. Vir elke skadukol in haar lewe wat Hy met sy genesende lig kom wegvee het.

En Shadow is weer onlosmaaklik aan haar sy.

Van Zijl

Ons is weer herenig met Van Zijl.

Van Zijl word ons s’n die dag voordat ons in Junie verlede jaar terugkeer Vanwyksvlei toe. Sy boetie word die Smitte in Pretoria s’n. Sy pa; ‘n rifrug. Sy ma; ‘n Labrador. Ons moet ‘n hond hê teen die inbrekers deesdae.

Pas ses weke oud. Gou ‘n draai by die veearts vir al die nodige inentings en ontwurmings, want die naaste veearts aan Vanwyksvlei is óf in Upington, óf in Douglas.

Om sy inentingskaart te voltooi, moet hy ‘n naam hê. “Ag, skryf maar Van Wyk, want hy gaan saam Vanwyksvlei toe.” Op daardie stadium het hy nog nie sy naam aan ons gewys nie – mens moet mos eers ‘n hond se regte naam ‘ontdek’.

Met ons aankoms in Vanwyksvlei, besef ek sy naam gaan nie werk nie. Hier’s te veel van Wyks in Vanwyksvlei. Dis Rina Van Wyk, Gert Van Wyk, Piet Van Wyk, Rossie Van Wyk, Jurie van Wyk. Maar, Van Wyk is al amper gewoond aan die klank van sy naam. Die beste wat ek kan doen is om dit te verander na Van Zijl.

Van Zijl se kombersie lê voor my bed. Dis Winter en dis bitter koud. As hy wil gaan piepie, is ek gepantser teen die koue saam met hom uit. Later is hy so oulik, as die laaste druppeltjie val, spoed ons terug kamer toe na die snoesigheid van ons beddegoed, al is dit so asemrowend om in die ysige koue die helder sterrenag te bewonder.

IMG-20170721-WA0001

Op drie maande ry Johan per ongeluk oor Van Zijl se agterbeen. Hy, wat so mal oor mense is, huppel in ‘n onbewaakte oomblik voor die bakkie in, na Vasie se werkers wat oorkant die paadjie staan en wag om te help om die kragopwekker van die bakkie af oor te laai op Vasie se bakkie. Ek hoor net een tjank en toe wéét ek; dit het gebeur. Tref Van Zijl tjankend op die voordeurtrappie aan. Die agterbeen is af net bokant sy knieg. Is die heup ook af? Waar is die bakkie oor? Is hy inwendig beseer? Johan voel soos ‘n hond.

Kos ons toe daar en dan opsaal en Upington toe. Ken g’n veearts daar nie maar bel rond en laat weet ons is op pad met van Zijl. Stop eers by DeBruynsrus sodat Tilla vir hom ‘n shot teen pyn kan gee. Heelpad sit ek agter in die bakkie met hom op my skoot. Hy het baie pyn. Kan skaars beweeg. Stilhou en piepie langs die pad is pynlik.

Dit was eers teen die einde van daardie dag dat die veearts ons kon inlig dat die heup nie beskadig is nie, net die been. Hy sal moet opereer en ‘n pen insit want die been is in sy groeiplaatjies mors af. Dis Vrydag en hy sal dit eers na die naweek kan doen. Sondag moet daar gepreek word, dus word Van Zijl ingeboek by die veearts en ons keer sonder hom terug huis toe.

Amper ‘n week later en ons kan weer Upington toe om Van Zijl te gaan haal.

20170919_213012

Maar Van Zijl kom nie reg nie.

Hy trap nie op die been nie. As ons ‘n entjie gaan stap kan ek sien hy’t pyn. Ses weke later haal ek die steke uit. Die wond is genees maar die been nie. Hy slaap rusteloos snags. Ek slaap op die vloer in die TV-kamer op ‘n matras langs hom. Dit tjank sulke fyn tjankies deur die nag. Annelien beveel antibiotika aan. Tilla wil hê hy moet na ‘n ander veearts toe gevat word. Rina vermoed die pen het geskuif.

Carnarvon se veeinspekteurs besoek Vanwyksvlei om alle honde in te ent teen hondsdolheid. Ek vra hulle opinie. “Hierdie hond se heup is ontwrig man! Jy kan dit duidelik sien.”

Ek bel weer die veearts in Upington. Ons moet weer die tog soontoe aanpak. Na ‘n volgende X-straal word bevind dat als in plek is. Daar is net kwaai infeksie in die been waar die pen in is. Annelien was reg – antibiotika.

Na ‘n hewige kursus antibiotika en baie pynstillers, begin Van Zijl weer speel soos drie maande van tevore. Hy raak baldadig. Huppel agter waaiende blare aan. Raak spelerig met ander honde as ons gaan stap. Op sewe maande is hy weer hond en haal als in waarop hy die afgelope drie maande uitgemis het.

Maar dis tyd vir ons jaarlikse verlof. En hy kan nie saam nie. Ons boek hom in by Vlekkie Immelman, sy beste maatjie. Tania sal hom vir ons versorg vir die maand wat ons weg sal wees. Sy stuur dan en wan foto’s van Van Zijl en Vlekkie. Lyk nie of hy ons mis nie. Maar ons mis hom.

IMG-20180122-WA0008

En nou, na ‘n maand, is ons weer herenig. Van Zijl ken ons darem nog en lyk darem nog lief vir ons.

20180123_191959

En hy’t weer sy plek ingeneem voor my bed op sy kombersie.