Deelname doen dít:

Nes die ylwordende platteland, is ons gemeenskappie (lees gemeentetjie) in Vanwyksvlei ook besig om al dunner en minder te word – kompleet soos oumenshaarverliessindroom

Dan gebeur daar een keer elke jaar ‘n kerkbasaar.

I define connection as the energy that exists between people when they feel seen, heard, and valued; when they can give and receive without judgement; and when they derive sustenance and strength from the relationship”  lees ek in Brené Brown se boek The Gifts of Imperfection.

Dis wat die kerkbasaar regkry.

Ver meer as die bedraggie wat ons skraal gemeentetjie kan insamel tydens ‘n basaar, is die versterking van verhoudinge onder lidmate. Van bande wat weens die druk om te oorleef al begin-begin uitrafel. Van ‘n al groterwordende drag wat enkelinge moet dra omdat die somtotaal van moontlike deelnemers besig is om angswekkend vinnig minder te word.

Om saam te sweet. Om saam vir ‘n hele dag te staan en vleiswerk. Om saam tot diep in koue nagte te verpak, te merk, te weeg, te prys. Om saam sat te word vir sukkel. Om saam te skater vir kwinkslae. Om saam hartseer te raak oor ons vir Oom Gertjie en vir Mike opnuut mis. Om saam ‘n remenissensie op te roep oor vanmelewe se basaars. Om saam weer jou gemors op te ruim …

Om die laaste baksel uit te keer van maandelange gebak aan beskuit en koekies. Om te besin oor die saal se uitleg – watter stalletjie waar sal wees. Om donkeroggend alweer die eerste pannekoekbeslag in sissende panne neer te laat. Om kratte vol verwerkte vleis in te dra saal toe. Vure vroegoggend brand te steek vir braaivleis. Dosyne bakkie basaarpoeding uit te skep. Servette te vou en teegoed reg te sit

Tafels uit te pak met gebak, gebottel, gebrei, gehekel, gedroog en gestook. Kookwater te laat sing ter lafenis.

 

Dan word die opening amper soos ‘n afsluiting – die werk is reeds volbring. Dan word gesien hoe al daardie voorbereiding binne ‘n paar uur omgesit word in dienslewering aan die gemeenskap (wat net so noustrop trek). Hoe elke offer ingelruil word vir munte en note waarmee vorentoe fyn gewerk moet word  om die gemeente se voortbestaan te waarborg.

Dan sink dankbaarheid in. Want energie uit alle oorde word sinergie. ‘n Nuwe konneksie kom los. Mense kan gee en ontvang sonder oordeel. Mense voel weer nuttig. Hulle waarde kry ‘n hupstoot. Hulle voel weer raakgesien vir dít waarmee hulle goed is. Hulle ywer en hulle geld kan weer ‘n sinvolle bydrae maak tot die gemeente se voortbestaan.

Deelname doen mos dit.

Bull Run, hou ons dop!!

Advertisements

4 comments

  1. Franlie Lexow · July 7, 2017

    Hoe lus is ek nou vir basaar pannekoek en kerrie en rys!

    Like

  2. Elna Bekker · July 7, 2017

    So so mooi geskryf, My hart trek punt na daardie mense wat so ribbetjies regsny en pekel met spesiale doepa’s vir die braai! Die lag, die steun, die sente wat die Heer SAL seën, die samehorigheid in nederigheid, Kerkpoeding, met vla, ‘n bottel inmaak mosterdsous, ‘n hekellappie, en die glimlagte wat oop op beur.!

    Like

  3. Gerrit Kruger · July 10, 2017

    Wat ‘n kosbare tyd vir ‘n gemeente om bande te bou. Seën vir julle toegebid. Wens ons stadsgemeente kon daardie dag bywoon.

    Like

  4. Leonette Smit · July 10, 2017

    Jip Swaer. Spanbou van ‘n ander aard

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s