VVV en Karooënaars

 

Man, maar ek hou van die mense van die Karoo. Hulle is nou vir jou ‘n spesiale spesie. Kom ek vertel …

Ons ry terug Vanwyksvlei toe vanaf Suzanne, predikant van Carnarvon, met wie ons saam gery het Kimberley toe vir ‘n sinodale werkswinkel – ons bakkie het ons by haar plek gelaat. Dis so in die koers van half 9 die aand. Net anderkant Oom Daan Vermeulen se plaas, sien ek en Johan skielik rooi strale lig na bo skiet. So asof iemand vuurwerke afsit. Twee breë, rooi bane vorm en hang in die lug soos ‘n V en dit gloei (nie solied nie, meer soos ‘n gaaswerk). Dis omtrent die grootte en hoogte van ‘n windpomp so 50m vooruit aan die linkerkant van die pad. Na omtrent 3 sekondes verdwyn die gloed en toe begin liggies lukraak aan-en-af gaan al op die vlak van die V. Baie  soos daai sonliggies wat mens soms in die teerpad kry om jou te waarsku waar daar padwerke aan die gang is.

l1170054

My voorstelling van wat ek gesien het

 

 

Toe verdwyn die beeld. Die verskynsels het nie meer as 5 sekondes geduur nie.

Ons is sprakeloos.

“Wat de swernoot was dit?.”

“Kan dit dalk een of ander elektroniese afskrikmiddel teen ongediertes wees wat ‘n boer geÏnstalleer het?”

Die verskynsel het nie staties gehang nie – dit het gelyk of dit saam met ons beweeg teen die spoed van so 90km.p.h waarmee ons toe beweeg het. Teen daardie spoed, moes ons maklik 125m gevorder het in daardie 5 sekondes en dit het nie nader gekom of dat ons verby dit beweeg het nie.

Ons ry in stilte voort. Lekker deurmekaar.

“Daar’s dit weer!” Hierdie keer gebeur dit aan die regterkant van die pad. Presies dieselfde. Johan skakel die ligte af. Ons hou stil. Dit verdwyn weer voordat ek ‘n foto kan neem. Ons probeer luister of ons iets hoor. Dis nagstil, behalwe vir ‘n sagte gesing van krag in die geëlektrifiseerde lyndrade. Ons ry maar weer verder.

Na nog 5 of 6km gebeur dit wraggies weer vir ‘n derde maal. Weer regs van die pad. Daar is geen windpomp of konstruksie of lyndrade of hoogspanningsdrade in die omgewing waarop so-iets gereflekteer kan word nie. Dit is ook nie hoog in die hemelruim nie. Hier vlak langs die pad. Moeilik om afstand en grootte in die donker te skat. Ons  moes omtrent 20km afgelê het van die eerste verskynsel tot die laaste een.

Vir die res van die pad sien ons ook nie weer die verskynsels nie.

Die volgende oggend bel ek vir Johan, ons oudste. Vertel vir hom van die verskynsel. Hy het ook geen idee wat dit kon wees nie.

“Wat maak ons hiermee?”

“Sit dit op fb. Miskien het iemand anders dit ook gesien.”

Ek plaas die insident op die Karoogroep se fb-blad en toe begin dit gons soos ‘n bynes. Vriende, as jy wil praat van oorspronklike antwoorde, gekskeerdery, ernstige aannames, lighartige verduidelikings, ontstoke reaksies, bose beskuldiging. Dis uitlatings oor die wederkoms. Dis verklarings van bondels vuurvliegies. Fosfor ligte. SKA toetse. Vliegtuie se uitlaatgasse. Laser. Demoniese aktiwiteite en wat nie nog meer nie. Sommige ouens raak sommer opgewerk oor ander se standpunte. Dit word ‘n taaldebat. ‘n Geloofsdebat. ‘n Draaksteekdebat. Ander raak sinies . Of skepties. Of krities. Of geammuseerd. Of hiperernstig. Of snaaks. Of tong-in-die-kies. ‘n Heel prettige reaksie, sê ek vir julle.

Willie Koorts se mening word ingeroep maar niemand kan dit defnitief verklaar nie.

Al wat ek weet is dat dit wel ‘n VVV was – ons het dan albei onmiskenbaar 3 keer ‘n V gesien…

Advertisements

5 comments

  1. coetzee2014 · October 1, 2016

    Wat ‘n rare verskynsel. As mens dalk in die dag kon gaan kyk, of daar enige snaakse tekens of oorblyfsels is/was.

    Like

  2. Ben le Roux · October 1, 2016

    Julle het te vinnig gery! Julle het die vierde V gemis! Dit staan vir Vlieënde VuurVliegies vir ‘n Vale! Hie-hie
    Meer ernstig, as julle uitvind wat dit veroorsaak het, laat weet ons!

    Like

  3. Mariette · October 1, 2016

    Nou is ek soooooo jaloers. Ek wil ook drie V’s sien.

    Like

  4. Mtatazela · October 2, 2016

    Dankie vir die deel. Het die petalje op Karooblad gevolg. Toe ek die inskrywing lees toe weet ek hier kom sports.

    Like

  5. Elna Bekker · October 3, 2016

    en dat jy kan kuns is verseker! Versekerde Volle Vrede!

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s