Grond, water en vuur

P1380706

Die eertydse huise is almal gebou met modderstene wat met strooi gemeng is

Tydens een van ons oggendstappies, kom ek en Rina by die eertydse steengroewe uit aan die oostekant van die begraafplaas. Mens kan onmiddelik sien dat hier eens op ‘n tyd stene gevorm en gebak is. Rina vertel dat die grond aan oom Doupie behoort en dat Lionel, van die slaghuis, se pa die steenmaker was.

Ek spoor Lionel se pa op. George Adams maak nie meer vandag stene nie. Hy is ‘n pastoor by een van die Pinksterkerke in die woonbuurt, Die Herbouers, en verdien verder sy brood deur deel te wees van ‘n bouspan wat regeringshuisies oprig – of moet ek sê opgerig het, want sedert November 2015 gaan daar steed nog niks aan nie. En … geen werk, geen geld. Hy het so ver terug as 1975 by Oompie Mat Klein geleer stene maak wat in die meent sy steengroewe gehad het. Al Copperton se huise is destyds gebou met stene wat hulle hier gemaak het.

P1390138

George Adams, steenmaker en tans pastoor

Daarna maak die lewe met hom ‘n paar ander draaie totdat Deon Oberholzer vir hom die deure oopmaak in 2002 om op sy pa, oom Doupie se grond vlak buite die dorp, met ‘n besigheid te begin.

 

George verduidelik die proses van steenmakery: Potklei word met pik en graaf losgemaak. Dit word met kruiwaens aangery na die menger. Die menger is ‘n 200ℓ drom. Binne-in is ‘n as gemonteer met vier sparre wat die klei moet brei. Dié is verbind met ‘n disselboom wat deur ‘n donkie in die rondte gedraai word om die potklei te meng met sand en as. Die sand word verkry van die rooisloot naby die skougronde. As word verkry van die reeds uitgebrande steenoond.

‘n Mengsel van 3 kruiwaens potklei en twee kruiwaens sand en as (wat 50:50 gemeng is) word die dag vooraf gemeng met water in ‘n diep kom. Oom Hans Goeieman ry die water aan met ‘n waterkar vanaf ‘n gatdam daar naby (later neem Oom Hans Mostert oor as drywer van die waterkar).

Twee werkers vul die 200ℓ drom met hierdie mengsel. Soos wat dit suksesvol gebrei word deur die donkie wat geduldig al in die rondte loop, stoot die voorbereide kleimengsel aan die onderkant van die drom deur ‘n poort van so 12’’X 12’’ en val op ‘n bank van so heuphoogte waar die vormdraers dit kom opskep. Hierdie skepproses werk so: ‘n vorm wat 4 stene op ‘n slag maak, word volgeskep en met ‘n plank afgeskraap. Dit word dan gedra na die baan waar dit uitgedop word. Nog ‘n werker strooi dan uitgebrande as bo-oor sodat die stene nie maklik bars tydens die uitdroogproses nie. Dan doop die vormdraer sy vorm in ‘n 20ℓ emmer water om dit skoon te kry, strooi soutsand binne-in die vorm soos wat mens ‘n koekpan met meel bestrooi om te verhoed dat die koek vasbrand in die pan.  Tot   6 000 stene word per dag so gelê deur 4 vormdraers.

P1390137

In hierdie einste drom is voorheen klei gemeng waarmee stene gevorm is

Die volgende dag krap hulle die sykante van die stene met ‘n skaapskêr reguit en plaas die stene op ‘n ander sykant om verder te droog. Na 24 uur pak hulle die stene in windblokke om die drogingsproses te bespoedig. As dit lyk na reën, word seile bo-oor die vars stene getrek

 

Sodra die stene kurkdroog is, word dit in formasie gepak vir die vuringsproses. Dis ‘n ingewikkelde stelsel waar daar in die bodemlaag gangetjies gelaat word tussen aangrensende rye stene. Hierdie gangetjies vul hulle op met steenkool. Die tweede laag stene word dwars gepak bo-oor hierdie gangetjies en staan sy teen sy, sodat daar luggange vorm en die een steen die volgende een kan brandmaak om so die hitte te versprei reg deur die kolom stene. Agtereenvolgens word laag vir laag so gepak. Uiteindelik, as al die stene op hierdie manier gestapel is, bou die manne ‘n skermmuur reg rondom die kolom stene en begin by ‘n poort ‘n hoop steenkool brand te maak. Hierdie gloeiende kole word in die gangetjies ingestoot met ‘n lang koleskraper sodat die kole in die gangetjies die hitte kan kry. Geleidelik begin die hele kolom stene te brand. George sê die stene gloei naderhand na ‘n week deurskynend so witwarm word hulle. Dan neem dit nog ‘n paar weke voordat daardie hele kolom stene sodanig afkoel dat mens dit met die hand kan afpak.

P1390124

George demonstreer hoe die stene in formasie gepak is vir die vuringsproses

P1390167

In hierdie ou foto van George kan mens nog die waterkar, die drom met sy disselboom, die bane waarop stene uitgekeer is en die formasie waarin die gedroogde stene gepak is om te brand, duidelik sien.

Vroeër jare is die huisies met ongebakte kleistene gebou wat versterk is met strooi. Orals is die oorblyfsels van hierdie modderhuise nog sigbaar. Hierdie nuwe gebakte stene word die boustene van meeste van die huise wat tans nog staan in Vanwyksvlei. Al die nuwe regeringshuise word met gebakte stene gebou en groot hoeveelhede stene word verkoop in Prieska en Kenhardt.

“Wanneer het hierdie bedryf dan opgehou werk, George?”

“2007 het ons die laaste stene gebrand, Mevrou.” Dit wil vir my voorkom asof die deure vir hom toegemaak is deur diegene wat nie dieselfde politieke sentiment as hy deel nie.

“Wat het jy nodig om met jou kennis en vaardigheid weer so ‘n bedryf te begin?”

“Grond, Mevrou. Grond, water en steenkool. Die bedryf sal homself betaal.”

6 comments

  1. coetzee2014 · January 12, 2016

    Hier in ons wêreld is daar nog baie sulke steenmakers. Dreig al baie lank om so ‘n blog te skryf.

    Like

  2. Leonette Smit · January 12, 2016

    Ja, dis jammer dat sulke kundigheid in ons wereld tot niet moet gaan

    Like

  3. Rolene Oosthuizen · January 12, 2016

    My oupa John Louwrens was Albertinia se eerste baksteenmaker.Sy klei het hy en ‘n helper desjare met die voete getrap.Ook oond gepak en brand gesteek-o en as die wind opkom en te kwaai waai, bak sommige stene klinkers en ander is half gebak.

    Like

  4. Elna Bekker · January 23, 2016

    Wonderlik! Ag kan ons nie maar die man van grond voorsien nie, kan ons nie maar terug-keer na “mense” nie, ag jy gee my so weëmoed na ‘n tyd wat ons nog vir mekaar om gegee het. Is dit dalk dieselfde klei wat jy in die dam gekry het?

    Like

  5. Leonette Smit · January 23, 2016

    Nee, die dam s’n is suiwer potklei. Hierdie klei is baie dieselfde maar is grootliks gemeng met fyn sand. Omtrent elke gatdam in die omgewing het klei in. Dit sedimenteer uit en as die dam weer skoongeskraap word, meng dit weer met sand. Maar nou le^ al daai wonderlike damklei meters onder die water – tot eendag…

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s