In die gene van diegene

 

P1390348

Soos wat die nuwe skoolkwartaal aanbreek, verskyn Andrew (name is verander om identiteit te verbloem) weer klokslag by die voordeur. Die hele Desember het ek hom nie gesien nie. Hy was blykbaar in Carnarvon vir die skoolvakansie en verseker my hy het Graad 1 geslaag.

“Het Doeminie nie vi my ietsie om te eet’ie, of ‘n vyfrandjie vi bietjie meel?” Hy’s so klein soos een van my kleinseuns en ek vind dit bitter moeilik om hom weg te stuur sonder iets. Maar ek weet dis waarom hy elke dag weer terugkeer.

“Hoekom is jy nie in die skool nie?” Dis 11uur. Die tweede dag van die nuwe kwartaal.

“Ek was byrie skool. Ma’ ons’et vroeg uitgekom.”

Gedagtig aan sy oorspronklike storie dat sy pa en ma op ‘n plaas werk en dat die mense in die woonbuurt wat na hom moet kyk, gedurig gesuip lê, het ek en Johan al die maatskaplike werkster probeer opspoor om raad te vra. Maar helaas…

“Kom ons laai hom in die bakkie en vat hom na sy huis toe, dat ons kan sien onder watter omstandighede bly hy” is Johan se voorstel.

Johan doen die aanvoorwerk: “Vat ons na jou huis toe.”

“Nee, Doeminie, my pagoed en magoed is albei afgedood.”

“By wie bly jy dan?”

“By my se oupa en ouma.”

“Nou vat ons soontoe.”

Terwyl Johan die bakkie uit die garage trek, gryp ek gou ‘n halwe piesangbrood uit die vrieskas. Kan dit nie oor my hart kry om die kind sonder iets te laat gaan nie.

“Hier op, Doeminee.” “Jy meen, links?” “Hier af, Doeminie.” “Regs, sê jy?” En so ry ons kruis en dwars deur die woonbuurt. Op paaie waar ons alreeds vroeër oor is.

Skielik stop hy ons. ‘Hie’so Doeminee.” Hy wys na ’n modderhuisie waarvan die plankdeure dig gesluit is. “Lyk my hulle het geloep.” Hy spring uit en gaan ruk aan die deure. “Nee, hulle issie mee hierie.”

Die buurvrou staan nuuskierig nader. Ons groet net op ’n afstand, maar ek knoop nie ’n geselsie aan nie. Andrew vat die pad met sy halwe piesangbrood en gaan sit agter ’n hoop stene om te eet. Ons vat maar weer die pad huis toe. Skaars weggetrek of ’n man wat van vooraf aankom, wys ons moet stop. “Dis my huis daai. Wie soek julle?” Ons verduidelik dat Andrew gesê het dis waar hý bly.

“Nee, Andrew se ma bly da’ naby die Volle Evangelie. Dis my huis daai.”

Ek stap weer terug na Andrew toe. Die buurvrou het als gestaan en uitluister. “Dis Andrew daai. Sy magoed is Fiena Boon, bly da’ by sy oupa en ouma” en sy wys in die rigting van die Volle Evangeliekerk. “Hy moet nog in die skool wees. Onse kjenners is nog’ie uit nie.”

“Klim, Andrew, wys nou vir ons die regte huis waar jy bly.” Hy klim. Klou sy broodjie styf vas. Wys die regte pad. Ons stop voor nommer 382.

Sy ma maak die agterdeur oop. Sy’t ’n vadoek in die hand. “Kan ek help, Doeminie?” Sy weet blykbaar wie ons is, al het ons nog nooit ontmoet nie.

Ons verduidelik dat ons gekom het om te sien waar Andrew bly en of hy versorg word, want hy kom vra elke dag kos.

“Ek’s juis besig om ietsie te maak, Doeminie, ek was net nog heeloggend doenig hie’ innie huis. Ma’ ons het dittie breed nie. Skuld so baie vir Lewis Stores. Maar hie ís kos, Doeminie.” (Ek moet nog iemand ontmoet wat nié vir Lewis Stores iets skuld nie…)

“Hoekom is hy nie in die skool nie? Hy sê hy was skool toe maar hulle het vroeg uitgekom.” Die oupa staan ook nuuskierig nader. “Môre Doeminie.” Almal in die woonbuurt, lyk dit my, weet wie ons is.

“Nee sien, die onderwyser het hom blou-oog geslaat gister. Ek wil nog skool toe om mettie hoof te ga’ praat.” Die stories klop nie.

Met dié kom die ouma om die huis geskuifel met ’n loopraampie. Met een oogopslag kyk sy my deur – my skoengrootte, my rokgrootte, seker ook my borsmaat… Sy steek haar hand na my toe uit en ons groet. “Het Mevrou dan nie vir my ’n ou paar skoene nie…?”

Advertisements

14 comments

  1. Franlie Lexow · January 19, 2016

    Ai, Leonette, dit is so kostelik. Groete vir Doeminie. En ja, ons hou ook baie van piesangbrood!!!

    Like

  2. Leonette Smit · January 19, 2016

    Franlie, jy het nie dalk vir my ‘n ou nommertjie uit die dae toe jy nog bietjie groter was as nou nie?

    Like

  3. Zinta · January 19, 2016

    Kostelik. Natuurlik weet almal van doeminie en mevrou doeminie! Julle het seer sekerlik al diep spore getrap in jul gemeenskap 👞👠❤️

    Like

  4. Leonette Smit · January 19, 2016

    Dis seker hoekom hulle ou skoene soek

    Like

  5. Dalina · January 19, 2016

    Ag ja dubbel like vir die skryf, maar dis eintlik so hartseer

    Like

    • Leonette Smit · January 19, 2016

      Is dit nie, Dalina. Sal hierdie boosheid ooit gebreek kan word?

      Like

  6. Annien Kriel · January 19, 2016

    Leonette ek verlustig my in jou stories. Ek ken nog baie in die “lekasie” Dis vir my so lekker as ons daar by die winkel stop en hulle gesels met my omdat my ouers legendes in die dorp was.

    Like

    • Leonette Smit · January 19, 2016

      Vir my is alles nuut en baie interessant. Lyk my almal ken vir almal

      Like

  7. Selomé van Rensburg · January 19, 2016

    Doeminie en Mevrou Doeminie moet ma by my ko draai by di hys, hier is dalk sô pa goeikies om saam te stuur vi die ouma en die babies da.

    (1 KRONIEKE 4:10)
    Jirre, stier tog nou U se wolklikheit,
    en goi U se drippelse op onse koppe yt.
    Gjee onse weidingse meerderder gras
    en hou ons tog oener U se vlerkense vas.
    Keer die beerlou* van onse lyfte af weg
    en draai tog net onse lewe bietjie reg:
    lattie hyl ons nie innie nagte so matlik slattie,
    ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie

    (so mooi – raak gelees êrens op die internet)

    Like

    • Leonette Smit · January 20, 2016

      Diep! Dankie, dink dis Hans Du Plessies se Groekwapsalms. Dankie, ek kom maak beslis ‘n draai

      Like

  8. Anli Theron · January 20, 2016

    Oooooo ek sien jy lier vanni lewe, Andrew het kla gelier by sy oumagoed

    2016-01-19 15:17 GMT+02:00 Bo-Karoo :

    > Leonette Smit posted: ” Soos wat die nuwe skoolkwartaal aanbreek, verskyn > Andrew (name is verander om identiteit te verbloem) weer klokslag by die > voordeur. Die hele Desember het ek hom nie gesien nie. Hy was blykbaar in > Carnarvon vir die skoolvakansie en verseker my hy het Gr” >

    Like

  9. Elna Bekker · January 23, 2016

    Ow my, die tragiek en die humor… Ek sien dit. [Hoop hierdie word ‘n boek…]

    Like

  10. Leonette Smit · January 23, 2016

    Die lekker van WordPress is dat dit klaar gepubliseer is!! En als bly bymekaar as ek dit eendag wil aftrek en uitdruk

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s