KLIP, KLEI EN KLINIEK

My stapmaat, Rina, (ons stap vroeg voor sonop so om en by 10 km) neem ons saam na haar vorige plaas. Sy woon tans as afgetredene in die dorp nadat sy sowat 25 jaar daar vrou-alleen geboer het na haar ouers se dood. Die plaas, Sringbokoog, is bekend vir die pragtige voorbeelde van Boesmankuns op die ysterklippe wat in die omgewing gesaai lê. Studies het getoon dat van die gravures dateer sover terug as 2000 jaar. Ander weer, vanweë die verskil in tegniek wat gebruik is, kan tot 700 jaar terug gedoen gewees het. Hoe ookal, om deur daardie klipharde oksiedlaag van so ‘n pikswart ysterklip te kon graveer met iets wat nie ‘n Bosch elektriese boor was nie, bly ‘n wonder.

Met een van ons uitstappies in die omgewing klouter ek en Johan een laatmiddag af na die droë oppervlak van die Vanwyksvleidam. Dié dam staan al langer as ‘n eeu. Dit was die heel eerste staatsdam wat aangelê is met die oog op besproeiïng van landerye en boorde in die omgewing. In my wildste verbeeldingsvlugte kan ek my nie indink hoe dit moes gelyk het toe hier landerye en boorde was wat uit die kanale vanuit die dam besproei is nie. Hier suid van ons huis het glo ‘n kanaal geloop waar soveel as 10 windpompe gestaan het. Tans is dit net droë, dorre aarde met Prosopisbosse wat leegtes en kanale toestaan en ‘n paar windpompgeraamtes hier en daar.

Vanwyksvleidam is gedurende 1882-1884 gebou. Garwood Alston, landmeter en boukundige ingenieur het die aanvoorwerk tot die bou asook die bou van die dam behartig. Die vloer van die dam is gevul met potklei sodat die water nie kon wegsyfer deur die gruisgrond nie. Toe ons in Augustus hier was vir onderhandelings om ‘n brugtyd in die gemeente te kom uitdien, was hier nog water in die dam. Nou lê die hele dam droog en toegeslik.

Terwyl ons in die droë dam rondloop, merk ek die droë, gebarste blokke slik wat strek so ver as mens kan sien. Ek neem ‘n blok saam, week dit in water, knie dit af en maak ‘n pot. Hoe ek die pot gaan vuur, sal ek nog sien. Dalk ‘n gat in die grond maak en vul met Prosopishout. Maar eers moet ek die kanale volg en probeer toestemming kry om van die potklei te mag verwyder …

Ons onderneem ons eerste amptelike inkopietog Carnavon toe. Net na sewe klok ons in met die oog op ‘n ontbyt by Wimpy voordat ons met besigheid begin. Maar Wimpy is nie in Carnavon nie. Die Spar waar ons aankope vir die volgende maand doen, is kleiner as ‘n voorstedelike een. Die bank waar ons oorbetalings wil doen, het nie fasiliteite vir internet banking nie. Ons leer weer leef net van die nodigste en die basiese. Gelukkig floreer my kefir op melk wat die skoolkar vir my van Prieska af saambring, my kombucha fermenteer vrolik in die bedompige spens, spruite het ek al suksesvol gekweek van kekirertjies, roketsaad en lensies en my derde brousel gemmerbier is reeds gebottel. Brood bak ons weer self soos in die dae op die Grens.

Die bult aan die dorp se westekant waar die waterreservoir is, is ‘n gawe plek om die dorpie te sit en besigtig. Veral as daar ‘n volmaan oor die dorpie losbreek. Gisteraand was dit ons voorreg om die maan met ‘n koue bier te sit en inwag. My teorie, dat die volmaan opkom reg teenoor die plek waar die son ondergaan, is weer bevestig – presies daar waar my skaduwee se kop val in die ooste, stel ek my kamera op. En jou waarlik. Die maan se groot pomelokop verskyn reg in my lens.

Nou kan ek ook saampraat oor ‘n kleindorpse kliniek. ‘n Dokter van Carnavon kom besoek elke Woensdagmiddag die kliniek. In temperatuur wat raak-raak aan die 40˚, sit ons saam met ander onder die afdak en wag vir die dokter. Antie Annie Tieties van 101 jaar wat in ‘n rolstoel sit, was ‘n karretjiemens wat saam met haar man en dertien kinders van plaas tot plaas gewerk het. Al dertien kinders leef nog.

My bespataarde bene pyn van opgehewe rooi vlekke wat warm en sensitief is  vir aanraking. Dit laat my vrees vir ‘n bloedklont. Maar as ek so kyk  na Antie Annie se dik geswelde boomstompbene, vol knoppe en letsels, en hoe sy nie die gejeuk kan uitlos nie, makeer ek, liewe vriende, op hierdie aarde net mooi niks.

Kunstige sangravures in die klipharde ysterklip

Kunstige Sangravures in die klipharde ysterklip

P1370268

Nog ongebak, maar hier’s my eerste pot van damklei

P1370284

Die volmaan breek los oor die horison presies daar waar ek my kamera opgestel het

Advertisements

15 comments

  1. elza · October 28, 2015

    Ek wil 1 pot bestel asb, as jy grootskaal maak verkoop ek graag by die Spier mark vir jou.

    Like

  2. Zinta · October 28, 2015

    Dis ‘n besonderse mooi pot!

    Like

  3. Lizane · October 28, 2015

    Elza, dink ons moet maar ry en ons potte gaan haal! Miskien kan ons maar iets lekker van die Kaap saam vat.

    Like

    • Leonette Smit · October 29, 2015

      Ek het ‘n beter idee: ek reel vir julle ‘n rit in SAMMY se taxi. R400 Hy laai jou by jou plek op en weer af

      Like

  4. theronesther · October 28, 2015

    Daardie volmaan oor karooveld maak ‘n woordelose preek

    Like

  5. coetzee2014 · October 29, 2015

    Baie lekker gelees. Dankie. Hoop daar kom nog baie.

    Like

  6. Elna · October 30, 2015

    Is die plat pot die tweede? Ek bestel een klein platte om vol kersies te laai…[Nee, nie die’s vir krismis nie, daai rooi regte egte Ficksburg-kersies. Leonette, ek het nie besef die boesman-tekeninge is gegraveer nie? Ek dag dis met boomsappe ens. geverf… Dis besonders, geseënde vriende!

    Like

  7. Leonette Smit · October 31, 2015

    Elna, dis wraggies gegraveer met niks anders nie as ‘n ander ysterklipskerf! Wag eers laat ons sien of die pot die vuring kan deurstaan.

    Like

  8. Johan · November 9, 2015

    Baie interessant. Ek het groot geword op Van Wyksvlei in die 1950’s. Toe was dit ‘n totaal ander plek gewees.

    Btw, jy moet die buurdrop se naam reg spel! Dit is CarnaRvon

    Like

  9. Johan · November 9, 2015

    Ek wonder of jy nie dalk vir ons old timers die mense se name en vanne kan noem wanneer jy oor iemand praat nie. Dalk is dit iemand wat mens geken het in jou kinderdae daar, of familie van so iemand. Wat is tant Breggie se van, byvoorbeeld?

    Like

  10. Leonette Smit · November 9, 2015

    Tannie Breggie Botma

    Like

  11. Johan · November 10, 2015

    Natuurlik. Baie dankie. En Rina van Springbokoog? Ek behoort te weet wie haar ouers was. O ja, en ook die tannie van George wie se seun begrawe is en wat 90 geword het? Baie dankie

    Like

  12. Leonette Smit · November 10, 2015

    Rina is Van Wyk. Tannie Bettie Augustyn se seun is begrawe. Ek sal ‘n knop in die oor maak om die vanne te onthou, dankie

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s