WAT WERK IN VANWYKSVLEI, EN WAT NIE

Het ek nou vir my ‘n lat gepluk met die bedelklonkies! Elke middag, elke middag nes ons bietjie wil gaan rus. Intussen het hulle aangegroei van drie na drie maal daardie getal. Om die voordeurklokkie te laat skril, is dalk deel van die bedelplesier. Maar ek leer vinnig wat werk en wat werk nie (of wie werk nie) hier in die Bo-Karoo nie. Miskien moet ek hulle maar inspan om vir my donkiemis op te tel in ruil vir ‘n broodjie. Iets sal ek moet doen aan die dooie grond, want my groente oorleef maar net-net.

Een van my eerste lesse was met Oempie Johannes Goeieman. Hy versorg die kerk en die pastorie se tuin. Woensdag kondig hy aan: “En ek verjaar mos nou môre.” Dit ontgaan my heeltemal en Donderdag werk hy met slegs ‘n gelukwensing. Hy is maar taamlik afgehaal die namiddag hier weg toe daar nie ‘n koek oorhandig word nie.

Vrydag verneem ek of sy verjaarsdag darem lekker was. So-so, antwoord hy. Maar Antie Betjie Adams, wat die kerk kom afstof en uitvee, haak daar van doer op pad kerk toe af: “Hy’t mos‘ie ‘n koek gehat’ie.” Toe gaan bak ek maar gou een.

Wat wel veronderstel is om te werk, is die spanne met die oranje pakke – soos die lapswaaiers orals waar daar padwerke aan die gang is. Hier is glo vier sulke spanne wat elk twee dae per week skoffel. Dan pay hulle sowat R700 per maand.

Staan ek en Johan nou die dag en kyk hoe 35 van hulle (met altesaam 2 grawe, 1 hark, 1 vurk, 1 kruiwa en die res stokke) ‘n slootjie wat toegespoel het, moet oopmaak. Daar’s baie wat baie het om te vertel en die werkery gaan tog te gesellig voort. Toe die grondjie wat uit die sloot kom elders in iemand se inrit gelykgemaak is, loop sit hulle in die skadu van ‘n bouval oorkant die straat. Dis nog nie 9uur nie maar dit kuier lekker verder. Toe die sirene die middaguur se breuk aankondig, staan hulle moeggekuier op en drentel weg om hulle etensuur te gaan benut. Vanoggend weer, skoffel hulle presies dieselfde stukkie kaal aarde oorkant die straat waaraan hulle twee keer verlede week geskoffel het. Hier groei tans niks in hierdie dorre weer nie, dus weet ek regtig nie waaraan daar so geskoffel word nie. G’n grassie of bossie of vygie of duwweltjie sal ooit weer kans kry om daar te groei nie. Aan die Prosopisbos en die papiere wat daar vasgewaai het, word egter nie geraak nie.

Hierdie spanne word glo deur Waterwese betaal. Deel van hulle pligte is om Prosopisbome uit te kap. Prosopis is ‘n geharde indringerplant wat epidemies aanteel. Ons het dit al deur die hele Noord-Kaap gesien – in die Kalahari, die Tankwa, in die Boesmanland, oor die hele droë Karoo heen, en nou weer hier. Ek dink Oom Kraai van Niekerk, destydse minister van Landbou, draai in sy graf om as hy sien wat van sy inisiatief geword het. Hy’t glo gesoek na ‘n geharde plant vir hierdie wêreld en toe saad vanaf SuidWes ingevoer.

Die boom verdring alles wat inheems is. In die Kalahari vrek selfs Kameeldoring soos wat Prosopis hulle water steel. Die wortelstelsel is baie diep – oral in hierdie deel van die land kan mens sien hoe loop die are van ondergrondse water soos wat die weliggroeiende Prosopis dit aandui. Die jong bome groei soos struike, is dig gespasiëer en maak lang lote wat goedbedeel is met dorings, wat dit haas onmoontlik maak om vir iets aan te wend. Hierdie tyd van die jaar staan die bome geil in die blom – ‘n geel trossie met baie stuifmeel. Verder dra die boom soet peule wat baie goeie veevoer uitmaak. Maar selfs dit bevorder die verspreiding van die plant teen ‘n hewige tempo. Word die boom afgekap, spruit hy net met meer vors uit. Al wat help is afkap en gif gooi, deeglik rondom die stam.

Gelukkig, Mnr Bauer, gee Prosopis goeie braaihout wat lekker kole maak…

Die nagte hier was tot laas week nog koel, maar is tans drukkend. Soggens breek die dag windstil. Die landsvlag voor die SAPD-geboutjie hang impotent teen die vlagpaal af. Sodra die son sy kop oor die oostelike heuwels opstaan, staan die windjie ook op. En daarmee saam die landsvlag. Dan kan die wind heeldag woed dat die warm stowwe staan. Laatmiddag sal hy net so skielik weer gaan lê. Maar geen teken van ‘n wolkie nie. Dit bly dor en droog en skroeiend warm. Boere voer lankal hulle vee teen hoë onkoste. Water is min. Op Prieska is daar glo al verlede Sondag gebid vir reën.

Die naweek het ons amper gedink ons beleef reën in die Bo-Karoo. Namiddag se koers begin die wolke vinnig saampak. Sommer gou slaan blitse plek-plek uit. Groot druppels begin hier en daar neerplof. Maar die wind steek op en daar gaan al die belofte van goeie reën Prieska se kant toe, waar dit glo 20mm uitgesak het. Wys jou net.

Sondag roep ons ook hier plaaslik ‘n biddag vir reën uit. Johan sal moet uithaal en wys…

Oempie Johannes word 59

Oempie Johannes word 59

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die gehate Prosopis wat als wat leef se water steel

Die weer bou op oor Vanwyksvlei

Die weer bou op oor Vanwyksvlei

9 comments

  1. Esmarie van Niekerk · October 21, 2015

    Ek lees só lekker!
    Is saam met Mariëtte en Neelsie in Hartenbos vir hulle beplanning met Passiespel.
    Liefdegroete, ook aan Johan

    Like

  2. Ilne portwig · October 21, 2015

    Lekker gelees, ek hoop nie julle 2 werk algar onder die stof daar nie! Sal help bid vd reen. Hiers dit ook maar erg droog. Ekt onlangs die Tankwa v 10 dae per voet beleef. Daardie is nou ware sielstyd en briektyd en hardeskyf aflaai . Dan kom mens rustig tuis…. Net om weer te versnel. Aiai

    Like

  3. Elna · October 23, 2015

    Aw jy skryf net soos dit is. MOOI!

    Like

  4. Gerda Kriel · October 23, 2015

    Ek lees jou blog oor jou aankoms in Van Wyksvlei met ‘n knop in my keel… My ouma en oupa boer daar… Oom Chris-jan en tannie Marthie de Bruyn. My tannie en haar man (Tilla en Jan la Grange) is ook nou daar…. Die wêreld kruip diep onder mens se vel-naelstring jou vas aan die land en die sand en die mense! Wanneer ons kom kuier sal ek kom tee drink!

    Like

    • Leonette Smit · October 23, 2015

      Hallo Gerda, Ons het vir Tilla en Jan reeds ontmoet. Ons is maar twee weke hier en ek kan getuig daarvan dat hierdie wereld op mens kan groei.
      Kom drink asseblief tee as jy in Vanwyksvlei kom.

      Like

  5. Soldaat · October 26, 2015

    Kleindorpiestories – my gunsteling! Ek sien uit na baie meer!

    Like

  6. Gerrit Kruger · October 26, 2015

    Ai wat ‘n wonderlike en vreugdevolle bediening moet dit nie wees nie.
    Mag ons Hemelse Vader julle elke dag ryklik seën met die kosbare werk wat julle daar doen.
    Liefde en baie groete

    Gerrit en Rika

    Like

    • Leonette Smit · October 27, 2015

      Dankie Swaer, kan nie glo dat ‘n mens in so ‘n situasie kan wees dat mens se eie batterye weer gelaai word terwyl jy bedien nie. Kom kuier en kom beleef self.

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s