Vertrek vanaf Vanwyksvlei

Totsiens Vanwyksvlei. Johan het amptelik ‘n Akte van Demissie van die NG gemeente Vanwyksvlei ontvang. Wat ‘n wonderlike ervaring was die laaste drie jaar en drie maande nie vir ons nie. Watter wonderlike vriende het ons nie gemaak nie. Die impak daarvan sal nog lank en wyd uitkring.

Laasteakte

Vasie, leierouderling, oorhandig aan Johan die Akte van Demissie

Wat ons beleef en geleer het:

Streekstaal: Nadese kan ons ook sê dat ons in Vanwyksvlei so gelukkig was soos ‘n driepeer hings. Ons ken ook nou ‘n hele paar belangrike mense wat hoog neergesit is. Ons het ook heelparty ontmoet wat definitief ‘n ander pampoen se pit is, of anders gestel; ‘n ander dam se eend. Ons het mense van alle posture leer ken, o.a. ouens wat só krom is soos ‘n moflam wat pas teen insekte gedokter is. Of so gewigtig is, hulle kan ‘n kar stofdig sit. Dan is daar hulle met so ‘n sterk eiewil, hulle kook nie sag nie. Ander wat so leeg kan lê dat hulle godsonbruikbaar is. Hier en daar is daar siele sonder broers of susters wat bekend staan as ‘n korhaankuiken. En waar ‘n samekoms goed bygewoon word, is heitjie en meidjie teenwoordig. Lekker ryk en bruikbaar die taal van die Vanwyksvleiers. Ja, ek moet erken, ek weet ook nou dat diegene wat hulle vertellings deurspek met f- en d-woorde, nie noodwendig swets nie – hulle raak net driftig meegevoer.

Familie hiërargie: Sekere families in Vanwyksvlei neem nog steeds die prominente posisies in die samelewing in, nes hulle pa’s, oupa’s en grootjies van desjare. Hulle het die sê in die samelewing. Wee jou as jy hulle durf teëgaan op ‘n vergadering, want in Vanwyksvlei slaat hulle die ghitaar. Jy praat ook nie sommer van hulle by enigeen nie, want op ‘n manier is almal êrens verwant of stam uit dieselfde oermoeder of -vader.

Familie vetes: Nêrens anders het ons dít teëgekom soos hier nie; families wat nie met mekaar versoen nie. Meestal oor ‘n testament waardeur hulle nie só bevoordeel is soos hulle verwag het nie. Dat mense botweg weier om te versoen, soveel so, dat hulle nie eens met mekaar kontak maak oor die dood van ‘n geliefde nie, is vir my kop te moeilik om te begryp.

Aanpasbaarheid: Ons het ‘n mens leer ken in Vanwyksvlei wat weet hoe om klaar te kom met wat beskikbaar is. Niemand kan daardie slegte grondpad van 80km tussen Vanwyksvlei en Carnarvon, of die een van 126km na Prieska sommer net aanpak vir ‘n paar vars tamaties of room of pienk garing nie. Koop jy ‘n tamatie vir R15 by die ZamZoere? Nee, jy vind ‘n alternatief. Dis waarom Vanwyksvleiers nie sommer ‘n rit aanpak sonder om vriende betyds daarvan te sê nie. Vanwyksvleiers doen moeite vir mekaar. Vanwyksvleiers is aangewese op mekaar.

Lojaliteit: Dit is die lojaliteit van baie Vanwyksvleiers wat gemaak het dat die Bull Run gerealiseer het in Vanwyksvlei, dat daar elke Sondag steeds ‘n erediens kon plaasvind, dat die slaghuis en die algemene handelaar nog kan voortbestaan en dat ‘n kerkbasaar tog nog gehou kon word. En daardie lojaliteit gaan oor die saak, nie oor die mens nie. Kosbaar!

Weldoeners: Ons het beleef hoe weldoeners in hierdie drie jaar van droogte op eie onkoste boere uithelp wat nie staatshulp ontvang het nie. Dit is hartroerend om te kon sien hoe mense mekaar bystaan met hulp as vee begin vrek of ‘n siekte uitbreek onder die skaap. Of om kinders en studente se klasgelde betyds betaal te kry as die kontantvloei finaal opgedroog het.

Base: Dan is daar diegene wat hulle hele lewe lank nog bitter min ander blootstelling as net Vanwyksvlei gehad het. “Op my plaas wat ek geërf het, waar ek gebore en getoë is, is ek nog altyd baas”. So ‘n persoon het geen ervaring van hoe om in ‘n groep kollegiaal om te gaan nie. Daarom sal hy sê en nie voorgesê word nie. Anders werk hy eenvoudig nie saam nie!

Koninkryksbegrip: Met ‘n gemeente wat vanjaar reeds 102 jaar bestaan, is daar steeds lidmate wat dink die kerk is ‘n sosiale klub waar hul lidmaadskap per WhatsApp gekanselleer kan word as dinge nie meer in hulle smaak val nie. Dit gaan vir hulle oor wat die Here vir hulle kan doen en nie andersom nie. Die ‘ek’ staan so groot in die voorgrond, dit grens aan narcisme. Dan is daar die toegewydes wat steeds die hartkolp van die gemeente vorm. Vir wie dit opreg gaan oor God se saak en nie hullle eie agenda nie. Ware burgers van die Koninkryk van God.

Skindertonge: Hoe kleur mens jou lewe in as jy net jou eie klein wêreldjie het? As jou dag volgens TV-programmme verloop en sepies en die weeklikse tydskrif jou waardes bepaal? Jy bespreek ander se sake en lewe. Jy borduur daarop voort. Natuurlik. Daarom leer mens gou op so ‘n klein plekkie vir wie jy iets kan vertel en vir wie nie. As toets, raak jy ‘n klomp strooi kwyt voor sekeres en kyk na ‘n ruk met hoeveel wol daarom dit weer by jou uitkom.

Vroegoggend stappe: Met Rina van Wyk, my diep stapmaat, het ek kilometers en kilometers  vroeg soggens afgestap. En natuurlik diep dinge bepraat. As dit nie hiervoor was nie … Ek het ‘n paar voetslaan skoene ópgestap. Hoekom het ek nie rekord gehou van die afstande wat ons saam gestap het nie?

laastestap

Oggendstappie op die Springbokoogpad

Waarin ons kon slaag en nié in kon slaag nie:

Skouterrein: Johan het met sy bouervaring viervoet ingeklim in die voorbereiding van die skouterrein vir die Bull Run. Hy het die loodgieterswerk behartig by die nuutaangeboude ablusieblok. Dit sluit in die installering van toilette, wasbakke en storte met al die pype vir watertoevoer en -afvoer daarvan.

Instandhouding: Vir die volle tydperk van ons verblyf het Johan die instandhouding van die pastorie en die bakkie van die kerk op hom geneem. Hy het die badkamer se geroeste waterpype vervang met nuwes, die stort se geroeste pype uitgekap, vervang en weer toegemessel. Die teëlwerk het hy nie self gedoen nie, maar laat doen. Gloeilampe en buisligte het hy vervang waar nodig. Messelwerk het hy self gedoen. Ruite het hy vervang na die twee inbrake wat ons gehad het. Ou deurknippe wat sukkel gediens. Muskietgaas weer vasgesit. Skarniere ge-olie. Vir die braaiplek ‘n toesluit staalhek gesweis, sodat ons hout en braaigereedskap nie kon wegraak nie. As daar werk aan die voertuig gedoen moes word, het hy dit self gedoen – gereeld gediens, onderdele bestel, wiele self reggemaak. Ons laat die pastorie en die bakkie in goeie, werkende toestand agter.

Waters ry:  Johan het by ‘n hele paar geleenthede boere uitgehelp wat vir ‘n tyd moes weggaan en op hulle plase hulle waters vir hulle gery; vir Francois, vir Mike, vir Vasie en vir Paul.

Besigheidsritte: Vir tannie Herlina het Johan gereeld Carnarvon toe bestuur met haar motor vir banksake, doktersbesoeke en haarafsprake. Hy was altyd bereid om te help met ritte. Soos vir Chrisjan De Bruyn, toe sy been in Upington geamputeer moes word.

Versoening:  Ons kon nie daarin slaag om versoening te bring nie, tussen mense wat jarelange vetes met mekaar of met die kerk gehad het.

Ringsake: Onder Johan se voorsitterskap is ‘n sensitiewe ringsondersoek in die gemeente van Carnarvon suksesvol afgehandel.

‘n Toeganklike pastorie: Ons pastoriedeur was immer oop. Mense kon enige tyd instap. Koffie, tee of ‘n koue bier was onbeperk beskikbaar. Alle inwoners van Vanwyksvlei is dieselfde behandel – die agterdeur was bedoel om vuilgoed uit te vee, nie mense in te laat nie. By ons kombuistafel is baie gedeel. Dáár het Lena Kampies van die AME vir my en Johan kom bid soos geen gemeentelid dit gedoen het nie. Talle gemeentelede het vertel dat dit die eerste keer is sedert hulle katkisasiedae dat hulle voet in die pastorie gesit het. Mag die gemeente se pastorie nog lank funksioneer en altyd oop wees vir almal.

Foto’s: In baie huise in Vanwyksvlei pryk foto’s wat ek geneem het. Gr R diplomaplegtighede. Gr 9 afskeid. Doopgeleenthede. Erfenisdag. Debutante. Begrafnisse. ‘n Troue. Die laaste twee jaar pryk van my foto’s van die kerkgebou op die kerkalmanak.

laastekerk

My laaste foto van NG Vanwyksvlei se kerkgebou

 

Van die foto’s wat ek van Vanwyksvlei se mense op sosiale media geplaas het, is geskilder of ontwikkel met my toestemming. So is ‘n skildery van Rachel wat deur Helena Schoeman Jordaan, ‘n befaamde skilder van Stellenbosch, gemaak is, gekeur om in Kirstenbosch Gardens te pryk.

 

En Attie van Wyk en sy ghitaar is ook in pastel verewig deur die skilder Chrissie Roodt. Tertia Pretorius het ‘n lieflike portretstudie van Betjie Adams gemaak.

Nooit het ek iemand laat betaal vir die neem van foto’s nie, net vir dít waarvan hulle uitdrukke wou laat maak – ek het hulle slegs die bedrag laat betaal wat dit my gekos het om te laat maak as ek Stolpers in Upington besoek het. So skuld ‘n klomp mense my steeds ‘n klomp geld, maar dis nou tot daarnatoe. Mense kan wel sê dis dwaas, maar ek reken ek kon ‘n diens lewer wat andersins buite meeste inwoners se bereik was.

Kursusse: Heelparty opleidingsgeleenthede is aangebied in die dorp, waaronder ‘n paar uitreike, ‘n vrouekonferensie asook ‘n skilderkursus.

Laasteskilderklas

Dan was ek grootliks betrokke by opleiding in verwerking van herwinde plastiek.

Laaste4Dit het die deure vir dorpsmense oopgemaak om deel te word van ‘n projek wat SKA geloods het mbv CDI, wat bekend staan as MeerKAT Creative Community Initiative. Mense soos Stefanus Tieties en Sharon Baadjies het grootliks daarby gebaat en het dit hulle lewens in ‘n nuwe rigting gestuur.

 

Ekostene: Dit was my droom om genoeg ekostene gemaak te kry deur die dorpsmense om daarvan iets te bou. Ek kon egter nie daardie projek voltooi nie. Al die stene wat ek bymekaar gemaak het (in ruil vir iets te ete) het ek oorhandig aan Stefanus. Hy onderneem om dit ‘n skoolprojek te maak en tog eendag iets daarvan te laat kom.

Naaldwerk: Dié het ek dikwels gedoen.  Vir elke kerkbasaar. Vir George Adams, lekeprediker van die Gemeente van die Herbouers, het ek ‘n toga gemaak. Vir enkele ander inwoners het ek ook ‘n paar stukkies klere gemaak.

laastegeorgeadams

Gebak: Op bestelling het ek graag gebak. Kolwyntjies, verjaarsdagkoeke en ‘n feeskoek vir ‘n belydenisaflegging. Ek het dit nooit vir ‘n ekstra inkomste gedoen nie, maar net gevra wat dit my aan bestanddele gekos het. Weereens, waar anders moet Vanwyksvleiers heen vir so ‘n diens?

Verjaarsdae: Vir elke vrouelidmaat het ek met elk verjaarsdag die afgelope drie jaar ‘n persoonlike verjaarsdag geskenkie gemaak.

Bybelstudie: Vir die volle tydperk van ons bediening was die vrouebybelstudie my taak. Slegs 2 keer het ek van gepubliseerde Bybelstudiemateriaal gebruik gemaak. Verder het ek die studies self uitgewerk, getik en gedruk. By die VGK en die AME was ek ook by geleentheid betrokke met Bybelstudies of boodskappe. Die kerkraad het nie ‘my salaris betaal’ nie, daarom was ek vry om daar betrokke te raak soos wat die Here dit oor my pad gebring het.

Bo-Karoo: Vir die blog wat ek begin het oor die lewe in Vanwyksvlei het ek 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense geskryf. Oor die 3 jaar het meer as 80 000 mense die blog besoek. Dit is 80 000 keer wat iemand kennis geneem het van gebeure in Vanwyksvlei. Soos Willie Schutte van Centurion in reaksie daarop gesê het:

“Baie van ons wat nie eers geweet het dáár bestaan so ’n plekkie soos Vanwyksvlei nie, het Leonette en Johan vir ons “oningeligtes” hierdie plekkie op die landkaart geplaas met baie bedrywighede van lief-en-leed.

Hiermee wil ons hulle baie dankie sê vir baie interessante verhale en vertellings oor Vanwyksvlei en omgewing, voorwaar iets om te onthou en daaroor te praat en te vertel.”

Één storie waaroor ek nooit kon blog nie was oor die swendelaar A van wie B en C slagoffers was. Uiteindelik, na 3 jaar en vele soortgelyke episodes, is hy gevang en is tans verhoorafwagtend. Dit sou grens aan inkriminasie as ek meer detail sou gee. Daarom aanvaar ek dat daardie blog my nie beskore was om te skryf nie.

Dit het ‘n paar uitvloeisels opgelewer. Oor die waternood waaroor ek geskryf het, het ‘n organisasie ‘n groot klomp 5ℓ waterbottels geskenk. Sekere stories se impak word nou nog gevoel. Soos dié oor die droogte. Daar het juis weer gister en vandag 3 trokke met oumansgras, smutsvinger en ander voer in Vanwyksvlei aangekom. Mel van Omnia het onlangs een van die blogs onder oë gehad het en hierdie vragte gereël.

Sosiale media: Ek het baie nuwe fb-vriende gemaak, veral na aanleiding van die blog wat op die Karoo-groep gedeel is. Van hulle het ek later persoonlik ontmoet, soos Van Der Spuy Brink van Durbanville en ook Lida Eksteen van Upington. Lida het, n.a.v die plastiekprojek, 30 buddy bags aan my geskenk. Ek moes net die afwerking daarvan doen – meestal handvatsels aanwerk. Vanwyksvlei het hom nie geleen tot ‘n buddy bag-projek nie. Maar ek kon wel al die sakke vul met tydskrifte, Bybels, blikkieskos, seep, waslappe, klere en skoene wat ek nie weer sou gebruik nie, ens. Dié het ek die dag van ons vertrek aan die heiningpaaltjies om die kerk gehang. Vir wie ook al dit wou vat.

laastebags

Deur die blogs het ek mense leer ken wat voorheen in Vanwyksvlei gewoon het, of wat familie is van mense waaroor ek geskryf het.

Noordwester: Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het daar weer berigte in die Noordwester verskyn oor Vanwyksvlei en sy mense. Dit nadat ek eendag die redakteur persoonlik ontmoet het by Die Rooi Granaat in Loxton en hy my gevra het om berigte deur te e-pos vir publikasie.

Kleiprojek: Vanaf die heel begin van ons tyd in Vanwyksvlei wou ek graag ‘n kleiprojek met die inwoners begin het. Dit het nooit gerealiseer nie. Die klei is daar – die hele dam vol. Dit is ontleed deur die NWU. ‘n Pottebakker van Wellington het dit getoets en bevind dat dit lieflik uitvuur. ‘n Wiel en ‘n oond is geskenk vir die projek en staan by die pastorie. Die oond is reeds omgeskakel na enkelfase en met Johan Bruwer se hulp gereed vir gebruik. Mag daar tog êrens iemand kom wat die projek kan vat en kan deurvoer.

Laaste3

Fauna en Flora: Ons het baie van die inheemse plante en diere leer ken waaronder die kapokvoëltjie.

laastekapok

Die kundige nessie van die kapokvoëltjie met sy valse ingang

Tog sou ek graag al die wonderlike Karooplantegroei wou leer onderskei. Helaas …

Hierdie is my laaste blog oor Vanwyksvlei. Ek en Johan gaan swaar weg van baie wonderlike mense af. Ons voel dat ons bereik het waarvoor die Here ons geroep het. Die kerkraad is gesuiwer en die huidige span is ‘n toegewyde, nugter en bekwame span. Die getal lidmate het drasties afgeneem maar niemand het hulle lidmaatskap opgegee nie – wat beteken dat dit oor ons gegaan het. Johan het in opdrag van God die kerk-kerk speletjie probeer verander na ‘n dieper begrip van wat die Koninkryk regtig vereis van sy burgers en ‘n dieper wandel met God, “nie met hoë woorde of groot geleerdheid” nie. (1 Kor 2:1). “God het ons gekeur… en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets.” (1 Tess 2:4 en 5). Ons twee is aan niemand anders ‘n verduideliking verskuldig oor ons bediening in Vanwyksvlei as aan Hom nie.

Met ons vertrek, kan sommige lidmate dalk weer die moed hê om betrokke te raak, wie weet. Vir Hom is niks onmoontlik nie.

Hoe dit ookal sy, Vanwyksfontein, ons gaan julle mis.

20 comments

  1. Berdine de Klerk de Bruyn · March 30

    Baie dankie vir wat julle vir my pa gedoen het. Ek is so dankbaar dat dit jou laaste blog is oor VWV. Nou kan jul, jul neuse uit ander mense se sake hou. Ek is goed op geklits los net ander mense en hul probleme uit. Hoop jul hou nou op met skinder met die gespuis van de Bruynsrust. Ek krap niemand se gat nie.

    Like

    • Leonette Smit · March 31

      Dankie Berdine, dat jy ook gelees het. Jou reaksie bevestig my punt oor familie vetes

      Like

      • Berdine de Klerk de Bruyn · March 31

        Soos jy se, dis te moeilik vir jou kop om te begryp. Juis daarom stel ek voor dat jy liewer jou eensydige aanmerkings vir jouself hou. Jou aanmerkings wys maar net weereens hoe graag jy jou neus in ander se sake insteek en jou dan die reg toe eien om dmv die blog steke na mense te gee sonder dat jy moeite te doen om uit te vind wat die werklike toedrag van sake is. Jy noem ook nie name nie maar mense is nie onnosel nie, ken ons immers al vaie langer as wat julle in Vanwyksvlei is. Almal weet van wie jy praat so jy hoef nie goed te noem en hoop niemand sal weet van wie jy praat nie. Het jy eenkeer met my probeer kontak maak om te hoor WAAROOR ek ongelukkig is of glo jy maar net al die stront waarmee jy gevoer word. Julle sit en skinder en maak my sleg onder mekaar dan noem julle julself goeie Christene. Wel ek wil maar net se, God slaap nie en “n wiel is rond.
        Terloops, hoekom kan niemand anders sien wat ek hier comment nie. Ek wonder maar net.
        Geniet die res van jul SONDAG.

        Like

  2. Esmarie van Niekerk · March 31

    Leonette, dankie vir hierdie lekkerlees blog. Jammer ek het nie almal gelees nie! Wat is die moontlikheid dat jy dit in boekvorm kan uitgee? Ek wonder maar net – daar is sekerlik ander wat ook in so iets sou belangstel?

    Like

    • Leonette Smit · March 31

      Dankie Esmarie, dis beslis my volgende projek maar sal seker ‘n rukkie neem voordat dit beskikbaar is.

      Like

  3. Helena Jordaan · March 31

    Dankie Leonette, lekker gelees en soms my lip vasgebyt om my smile te keer wat niemand anyway sien nie. Jy het ‘n mooi manier wat jy met jou woorde speel en beslis ‘n leesgenot. Moenie ophou skryf nie – laat weet waar ek nog kan lees…..

    Like

    • Leonette Smit · March 31

      Dankie Helena, ek glo nie daar sal gou weer ‘n blog wees nie. Beslis nie op Bo-Karoo nie. Maar ek sal laat weet, dankie vir die kompliment. En jy sal gelukkig nie ophou skilder nie!

      Like

  4. coetzee2014 · March 31

    Ek, het jou blog, baie geniet. Mooi loop!

    Like

  5. Mariette · April 1

    Pure leesgenot gewees. Ek hou so van die Buddy bags geskenksakkies. Sien uit na jou boek!

    Like

    • Geraldine · April 2

      Juffa i’ll be waiting for your book pretty please

      Like

      • Leonette Smit · April 2

        Sal jou laat weet

        Like

      • Geraldine · May 3

        Goeie more Juffa. Hoop Juffa en Dominee is orite. Vannwyksvlei verlang U-hulle teenwoordigheid. Hoekom is Juffa so stil.

        Like

      • Leonette Smit · May 3

        Hallo Geraldine, ek is net stil op Bo-Karoo. My Vanwyksvlei-skrywes is verby. Maar ek woeker voort. Werk daaraan om Bo-Karoo in boekvorm uit te gee

        Like

  6. Geraldine Dekoker · April 2

    Juffrou en Dominee word baie gemis in Vanwyksvlei. Ya”ll will always be part of Vanwyksvlei

    Like

  7. theronesther · April 2

    Ek het jou gevolg, maar eintlik min by die stories uitgekom. Tog het ek altyd gedink daar straal ‘n warmte en liefde uit jou skrifte – vir die omgewing en die mense. Hoe blootgestel is mens tog nie as jy jou hart op sosiale media oopmaak nie… ek ken niemand in Vanwyksvlei nie en het sonder enige vooroordeel geniet, baie dankie en mooi loop!

    Like

    • Leonette Smit · April 2

      Dankie Ester, ek is bly ek kon darem ook daarin slaag om Vanwyksvlei en sy mense wyer bekend te stel. Moenie kwel nie . Bevooroordeeldheid sal daar immer wees.

      Like

  8. coetzee2014 · April 5

    Ek het jou blog geniet. Hou aan skryf en laatweet waar. Dankie!

    Liked by 1 person

  9. Leonette Smit · April 5

    Dankie. Sal so maak

    Like

  10. Tania Immelman · April 9

    Leonette, ek gaan vir jou en Ds baie mis. Julle is plat op die aarde mense met wie enige siel kon praat. So bly die rugstekers wat god probeer speel, kon julle nie onderkry nie.
    Julle het altyd tyd gemaak vir almal, maak nie saak of dit nood was of net ‘n oor om te luister nie.
    Hou aan met jou blogs, dalk maak dit ‘n paar mense se oë oop en besef hulle daar is net
    een GOD, en dis nie hulle nie. Veral die wat hulle bekke uitspoel en neersien op ander (hulle het meer geraamtes in die kas).
    So bly ek kon julle leer ken en dankie dat julle altyd vir my daar was in donker tye. Lief julle.

    Like

    • Leonette Smit · April 10

      Dankie Tania, groot waardering vir jou woorde. Jy moet sterk staan, ou girl, met al jou besondere gawes en voortwoeker met jou spesiale talente

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s