Ontruim.

 

So onvermydelik soos die dood, so is huisopgee vir elkeen. Een of ander tyd in jou lewe moet jy daardeur.

So is dit ons voorreg om die afgelope paar weke weer deur daardie oefening te gaan. Nie omdat ons nou op pad ouetehuis toe is nie, maar omdat ons kinders uit ons huis in Pretoria getrek het. Daar staan die leë huis met huisraad – want ons is net met ‘n klein bietjie persoonlike besittings Vanwyksvlei toe drie jaar gelede. Al ons goed is nog daar sonder dat ons die kinders stoorgeld betaal het.

Die kinders beweeg aan. Ons moet ook.

Gelukkig val die oefening saam met ‘n uitnodiging van NG Lyttelton-Oos aan Johan om ‘n preekbeurt te gaan waarneem tydens die viering van hulle 60ste bestaansjaar. Die plaaslike kerkraad staan die besoek toe. Ons vertrek ‘n week voor die preekbeurt om solank ons besittings te gaan stoor – dis nog ses maande voordat ons kontrak met Vanwyksvlei verstryk.

Nou wonder ek? Sal jy al jou besittings gaan stoor as jy weet jy skaal in elk geval oor ses maande drasties af? So vlieg ons in en maak radikaal minder. Neem onemosioneel besluite oor uitsmyt, skenk, herwinning, stoor. Sien, een of ander tyd móét almal daardie besluit neem, anders neem iemand hom (wee jou) namens jou.

Daar’s hopies: hierdie gaan Hospice toe, daardie word geskenk aan Solidariteit, ‘n ander hopie is nog die kinders s’n, díés kan die skool op Vanwyksvlei gebruik, dít hou ons, daai wil ons nog gebruik, hierdie gaan vir die herwinningstrollies op asblikdag, boeke wat ons nooit weer gaan lees nie, kan gaan vir die kerk se boekrak. Jy moet mooi kophou tussen hopies om nie deurmekaar te raak nie …

Rye en rye teologiese boeke is nêrens meer in aanvraag nie. Stapels en stapels wiskunde en wetenskap studiesstukke en vraestelle gaan nooit weer gebruik word nie. Alles gaan vir papierherwinning.

Meubels en huisraad word weggery stoorplek toe.

Tussendeur word die huis se vloere herstel. Daar’s meer stof as dít wat mens nodig het vir nadenke of dankbaarheid. Dan moet daar nog geverf word ook want ons moet ‘n goeie huurder kry – hierdie is ons enigste pensioen. Dus word die week twee. Later twee en ‘n half …

huisf

Dis nie die eerste keer dat ons afskaal nie. Met elke verhuising gebeur dit noodgedwonge. Wanneer die kinders een na die ander die huis verlaat, neem hulle baie van hulle eie besittings saam. Ek reken alle mense doen dit ook in fases eerder as om eensklaps ontslae te raak van ‘n leeftyd se opgegaarde goed.

Hoe dankbaar is ek en Johan vir hierdie oefening van die afgelope paar weke. Dit leer ons ‘n duur lewensles. Die onnodige bagasie wat mens met jou saamsleep is soos ‘n binding. Weggee, weggooi, wegmaak, wegstuur, wegsmyt is bevrydend. Dit waarsonder jy ‘n paar jaar reggekom het kan iemand anders se lewenskwaliteit verbeter. Opgaar grens aan sonde …

Om ligter verder te reis word lekker. Goeters knel. Dis makliker met minder.

Minimalisme word ons motto. Ontruiming, ontdek ons, verruim.

Advertisements

Red nou ‘n kerk

Hoe red mens ‘n kerk wat kwyn? Sal mens ‘n projekbestuurder of fasiliteerder of strategiese beplanner of dalk ‘n beter dominee inkry? Sal mens alles toemaak en van vooraf begin? Sal mens saamsmelt met ‘n bestaande gemeente?

Met net sowat 70 lidmate oor op ons lidmateregister is ons tans maar ‘n klein gemeente. Heelparty van hulle is lankal nie meer kerkgangers nie, of studeer elders, het afgetree en woon nie meer in Vanwyksvlei nie.  Bowendien moet sommige lidmate kilometres plaaspad aandurf met tot soveel as 17 hekke wat moet oop en toe om betyds by ‘n erediens te kan wees. Andermaal het boere geen plaaswerkers vir ‘n naweek nie wat meebring dat hulle op ‘n sabbat nog voor kerk moet voer en doen, wat dit bitter moeilik maak om kerkbesoek ook nog in te pas.

Dis nie net ons storie nie.

Met ‘n gemiddelde kerkbesoek van omtrent 16 per erediens vir die afgelope 6 maande, is ons op ‘n baie styl afdraande pad.  Die bedryfskoste van ons gemeente – dominee, koster, orrelis, skoonmakers se salarisse, onderhoudskoste, telefoon, munisipale rekening – boer ons snel agteruit.

Johan het nog net 6 maande op sy kontrak met die gemeente oor. Wat daarna? Sal die gemeente ‘n volgende predikant kan bekostig? Sal die donker bedreigings ons gemeente ook insluk?

donker toesak

Die pad vorentoe moet bepraat word. Daarom hou ons gemeentevergadering.

Gemeentevergaderings het die potensiaal om te ontwikkel in iets wat raak-raak aan ‘n NAP-SAP-vergadering. Dalk vlieg stoele nie rond nie, maar verwyte en beskuldigings kan wel.

Nie hierdie keer nie. Die gemeente vergader in diep afhanklikheid van die Heilige Gees vir sy leiding. Niemand kom met ‘n vooropgestelde agenda nie. Daar heers afwagting. Ons praat nie, ons luister.

Jan la Grange doen verslag oor die pas afgelope konferensie in Barkley-Wes oor kleiner wordende gemeentes. Ons is nie alleen nie. Slegs in die Noord-Kaap is ons maar net nog een van baie wat in dieselfde posisie verkeer.

Daarna delf ons, onder leiding van Johan, in die Woord uit Lukas 10 na antwoorde. Die kerk is God s’n. Dis nie die dominee s’n nie. Ons hoef nie die kerk vir Hom te red nie. Hy is steeds in beheer. Hy het aan ons ‘n model gegee in sy Woord wat sal lei tot groei en uitbreiding. Maar met ‘n vooropgestelde agenda is dit bitter moeilik om te sit en te luister wat God sê. Alleenlik met ‘n verwagting dat daar wel antwoorde uit die Skrif te vinde is, is dit moontlik om te besin oor wie wat moet doen, in watter gesindheid, teenoor wie en waarom. So eenvoudig soos dít.

Ons is wel ‘n kwynende gemeente, maar ons liggie het nog nie uitgedoof nie.

gloei

Ons is nou opnuut weer ‘n biddende gemeente. Ons erken dat oulike plannetjies nie die kerk gaan red nie, slegs gehoorsaamheid aan God se opdrag. Ons verbind onsself opnuut daaraan om nie net te wil sit en ontvang nie (soos wat dit maar so maklik gebeur met televisiekerk), maar om uit te gaan as gestuurdes om die oes te gaan insamel. Die groot oes daarbuite vereis dat die kerk steeds ‘n ligpunt in hierdie afgeleë deel van die Bo-Karoo moet bly.

lig

Dalk, net dalk kan ‘n verandering lidmate weer terugbring. ‘n Gesindheidsverandering. ‘n Ingesteldheidsverandering. ‘n Persepsieverandering. ‘n Hartsverandering.

En dít is die werk van die Heilige Gees alleen.

Nagstemerrie-ondervinding

Kan jy jou indink hoe dit moet voel om as Vanwyksvleier op Parkstasie in Johannesburg beroof te word? Dit gebeur met Angeline Beekman.

Angres

Angeline en Evangeline

Op pad na ‘n profetiese konferensie in Pretoria reis sy met haar dogtertjie, Evangeline, van amper 4, per taxi van Vanwyksvlei na Prieska. Van Prieska na Kimberley. Van Kimberley na Johannesburg en word afgelaai op Parkstasie. Daar moet sy ‘n taxi Pretoria toe kry om by die skouterrein afgelaai te word waar die konferensie plaasvind. Maar alles is so groot en vreemd en besig. Wie moet sy vra om hulp? Om Inligting?

Met haar dogtertjie en haar bagasie probeer sy taxi staanplek nommer 52 kry volgens inligting wat sy ontvang het. Maar geen sukses. Sy vorder nie. Die dag se skadu’s word lank.

Oplaas terug na die oorspronklike plek van aankoms. Sekuriteitsbeamptes verstaan nie haar navraag nie; sy praat Noord-Kaap Afrikaans, hulle Tswana.

Die taxi wat haar in Johannesburg besorg het, staan nog geparkeer op die oorspronklike plek. Sy vra hulp. Hy verwys haar na sy co-driver. Dié bied aan om haar te help dra aan haar bagasie tot by die staanplek van die taxi’s na Pretoria. Op pad soontoe lui haar selfoon. Sy beantwoord die oproep. ‘n Tweede keer lui die selfoon. Dis haar ouma van Prieska. Maar voordat sy behoorlik kan antwoord, neem die co-driver haar foon af, sonder enige seremonie. Evangeline begin huil.

Die co-driver neem Angeline se bagasie en deursoek dit. Vat al haar geld. Sy staan daar tussen malende mense, probeer haarself nie verdedig of ander se aandag trek nie, omdat sy te bang is hy raak geweldadig. Al wat sy doen is om haar dogtertjie te beskerm en haar heeltyd te probeer gerusstel.

Daar sit sy. Gestrand op Parkstasie sonder geld en sonder enige manier om hulp te ontbied. Sonder beskerming. Verlore tussen ‘n massa haastige Gautengers op pad êrens heen. Sonder kennis of ervaring van so ‘n grootstad situasie. Maar nie sonder geloof nie.

Angeline het haar Verlosser as 17jarige leer ken en leef baie naby aan Hom. Sy vertrou Hom vir leiding. Sy probeer kalm bly. Sy stap al die pad terug na die oorspronklike taxi om te rapporteer dat sy co-driver haar beroof het. Die taxibestuurder ontken dat hy ooit ‘n co-driver gehad het of hom gestuur het om haar te help. Sy is verslae.

Sonder bohaai oor haar lot, vra sy hulp aan verbygangers. Hulle beduie haar na die naaste polisiestasie. Dit word al donker. Evangeline huil van skok en honger. Die polisie beskou haar as die krimineel. Wil nie eens ‘n verklaring afneem nie. Het geen simpatie nie en verleen geen bystand nie. Omstanders ontferm hulle en maak namens haar ‘n oproep na haar mense in Vanwyksvlei. Vanwyksvleiers reageer met langafstandoproepe terug na hulle eie mense in Gauteng. So kom die Slambee’s se skoonseun van Nigel, ‘n metropolisielid, tot haar redding. Neem haar en Evangeline onder hulle vlerk vir die nag. Help haar met taxigeld om die volgende dag weer tot in Kimberley te kom. Dié nag slaap sy en die kindjie by die taxi staanplek.

Angeliene3

Intussen raak haar man bekommerd omdat hy niks van haar hoor nie – sy beantwoord dan nie haar foon nie. Hy probeer haar aangee as vermis.

In Kimberley word sy weer deur simpatieke medereisigers gehelp om per taxi tot in Prieska te kom. Die skoolkar wat Vanwyksvlei se kinders vir die nuwe week Prieska toe bring, verneem van haar lot en spoor haar op. Bring haar veilig terug huis toe.

Angeline en haar dogtertjie keer ongedeerd terug na Vanwyksvlei. Sy gee alle eer vir hul beskerming en die hulp wat vreemdes gegee het, aan die Here. Sy’t die konferensie misgeloop, maar haar ondervinding het haar geleer wat dit beteken om onder die skadu’s van die Allerhoogste te kan skuil.

Hoe anders kon dit nie uitgedraai het nie!

 

101 jaar oud.

Dit is net gepas dat ek my 100ste blog oor Vanwyksvlei plaas op Mandela se 100ste herdenkingsdag. In die jaar waarin AVBOB en SANTAM hulle 100ste bestaansjaar vier en Antie Annie Swart van Vanwyksvlei 100 jaar oud sal word, berig ek graag oor ons gemeente se eeufeesviering.

Ta Annie

Sondag val ons klompie ambisieuse gemeentelede in ysige wind weg om gesamentlik 101km te stap ter viering van ons gemeente se 101 jaar van bestaan. Die wind van 2˚C is so sterk dat Dawid le Roux sy drone nie gelanseer kry nie om ‘n lugfoto van ons klompie te kan neem.

101

Hoe het die eeufees dan verlede jaar so ongesiens by ons verbygeglip? Dis ‘n storie van ‘n ander kleur. Op 8 April 2012 vier die gemeente luisteryk die 100jarige bestaan met allerhande gedenkwaardighede, besoekende eertydse predikante, die lot; maar dit is van die kergebou – nié van die gemeente nie. ‘n Hoeksteen word weer gelê, ‘n eeu na die eerste hoeksteen gelê is – 8 Junie 1912.

Verlede jaar vra Samantha Fourie, boorling van Vanwyksvlei, op NG Vanwyksvlei se fb-blad, of ons enige iets spesiaals gaan doen om die gemeente se 100ste bestaansjaar te vier. Ek antwoord so ewe dat die gemeente reeds 5 jaar vantevore sy eeufeesviering gevier het.

Dit pla my egter. Waar kom sy aan haar feite? Gaan kyk in die feesbundel van 1980 wat gepubliseer is om die dorp se 100ste bestaansjaar te vier. Daar word nêrens melding gemaak van die afstigtingsdatum van NG Vanwyksvlei vanaf NG Carnarvon nie. Net van die datum waarop die hoeksteen van die kerkgebou gelê is; weliswaar 8 Junie 1912. Nee, sy maak seker ‘n fout …

So blaai ek onlangs toevallig deur die heel eerste notuleboek van NG Vanwyksvlei se kerkraadsvergaderings. Op die skutbladsy staan: Notule Boek van de Ned. Geref Gemeente van Wyksvlei gesticht 15 Jan 1917.

WAT!!!

gestig

Iets rym nie. Vas onder die indruk dat die feesvierings van April 2012 die gemeente se eeufeesvierings was, begin ek delf. Kom ek later in die notuleboek af op die notule van ‘n kerkraadsvergadering van 4 Maart 1967 waarin besluit is dat die halfeeufees op 20 Augustus 1967 gehou sal word. Dan het die gemeente jou waarlik eers in die vyfde jaar nadat die kerkgebou se hoeksteen gelê is, afgestig van NG Carnarvon. Al wat ek kan aflei uit die inskrywings in die 1980 feesbundel is dat NG Vanwylksvlei toe nog steeds maar net ‘n wyk van NG Carnarvon moes gewees het.

halfeeu

Die groot afstand na Carnarvon en die nood aan ‘n vergaderplek vir ‘n erediens vir die mense van Vanwyksvlei, het aanleiding gegee daartoe dat die besluit geneem is waarvan geskryf word in die feesbundel van 1980. Carnarvon se kerkraad het besluit om ‘n kerkgebou in Vanwyksvlei op te rig vir eredienste in Vanwyksvlei. Besoekende predikante was soms genoop om vanaf ‘n bokwa by die dam, waar die meeste Vanwyksvleiers destyds gewoon het, eredienste te hou. Later is daar in ‘n soutstoor wat ook as tydelike woning van die magistraat gedien het, eredienste vir die gemeentelede in Vanwyksvlei gehou. Daar was geen sitplekke nie en die lidmate moes hulle eie stoele saambring.

Hoe lyk dit dan of ons een van die min gemeentes is wat éérs ‘n kerk gehad het, en tóé ‘n selfstandige gemeente geword het. Meer as 100 jaar gelede. En die datum van die gemeente se 100ste bestaansjaar het jou waarlik ongesiens by ons verbygegaan ondanks Samantha se navraag.

Ons het nie meer die lidmatetal of die hulpmiddels om nóú ‘n eeufeesviering te organiseer nie. Die handjievol gemeentelede is totaal uitgeput na die basaarvoorbereidings en twee begrafnisse in twee weke. Niemand het die krag om nou iets reusagtigs aan te pak nie. Die BullRun lê voor waarvoor ons vir seker nóú reeds moet begin voorberei. Hoe gaan ons reg laat geskied aan hierdie geskiedkundige tydvak?

Die gedagte aan ‘n kollektiewe stap van 101km op die Springbokoogpad word gebore. As siekte en onverwagte gebeure ons mense uitdun en verhoed om deel te neem, stap dié wat kan, net eenvoudig verder. (Van Zijl se afstand kan ook bygereken word want deesdae is hy ‘n gereelde bywoner van eredienste)

101stap

101name

Daarna eet ons verjaarsdagkoek wat gesny word deur Elné Hoon, die jongste stappertjie vandag.

Koeksny

Ons hou ‘n feesdiens in die saal en kuier lekker verder saam om die braaivleisvuur. Staaltjies van die voorsate gee smaak aan die kuier.

101koek

feesdiens

Worsbroodjies is tog nie te minderwaardig as feesmaal wanneer hande en middele min geraak het nie. Ons Meester se leefstyl van eenvoud is nog altyd ‘n goeie voorbeeld om na te volg. Dan nie?

(Indien jy wonder, net 97 blogs vertoon nog omdat ek reeds 3 verwyder het weens hul sensitiewe aard)

 

Ryk-Ryker-Verryk

Die rykste wat ‘n mens kan word, is wanneer jy die meeste weggee. Dit ís mos so dat dit saliger is om te gee as om te ontvang. Presies dít beleef ek weer die afgelope week met die Carpe Diem-span se uitreik na ons paar dorpe hier ver in die Bo-Karoo en Hardemanskaroo.

span

Banus, Stef, Mariëtte en Gwen (agter), Johnny, Cecile, Jo-Anne, Frsanklin en NJ

Die span is almal mense wat een of ander vaardigheid verniet kom deel met Noord-Kaapmense wat andersins geen blootstelling het aan hierdie tipe verryking nie. Mariëtte van Velden kom deel haar kunstalent. Jo-Anne Huizies haar dansevernuf. Franklin Huizies, sy kennis van klankredigering, NJ Van As, sy pastorale bekwaamheid, Stefné van Dyk haar musiekvaardigheid, Gwen Coetzee haar vernuf met naaldwerk, Cecile Perold haar liefde vir stories en voorlees, Banus Botha en Johnny Elyon hul kundigheid met berading.

Die span vertrek met twee voertuie met sleepwaens vanaf Wellington. Stefné bring omtrent 10 marimba’s van veskillende groottes, 10 ghitare, ‘n banjo, blokfluite en ‘n klomp ander perkussie instrumente saam. Sy bedryf ‘n musiekgroep, Handevat Musiekprojek, in Bettysbaai. Gwen kom ook van Bettysbaai waar sy aktief betrokke is met laslapwerk. Ook Cecile is ‘n nuweling in die span wat reis met stapels storieboeke. Die span bring ‘n klomp sakkies lemoene en nartjies, asook kratte vol koejawels saam om as verversings vir elke groep uit te deel.

Hulle maak staat op die gasvryheid van elke dorp se mense vir huisvesting en etes, asook vir die organisering van spanne en lokale waar alles kan plaasvind. In Vanwyksvlei word MooiLoop gastehuis en die pastorie beskikbaar gestel. Jakolien Kokt kry die dogters gereed vir die danse en die seuns vir die klankwerk. In Carnarvon bied die Dippenaars hulle dorpshuis aan. Ria Jacobs en Adri Anderson is sterre met alle organisasie in hierdie dorp. In Loxton stel Ingrid Shoffman haar kunshuis beskikbaar en die danse vind in die koshuis plaas. In Williston word huisvesting gereël by Everhardus en Erina Hoon, asook by die pastorie.

Die heel eerste nag word Johnny baie siek. Koors en benoudheid kry hom beet. In die vroeë oggendure neem Rob Anderson van Carnarvon hom hospitaal toe. Daar vertoef hy die res van die uitreik, maar bedien toe sommer van die hospitaalpersoneel vanuit sy siekbed.

Banus bedien baie suksesvol met sessies in innerlike genesing en wandel-in-die-Woord. Op versoek doen hy berading met ‘n kerkleier.

 

Stefne kry gou ‘n hele span op die been. Omtrent 10 per aktiwiteit. Binne 2 dae word ‘n hele program aanbied, kompleet met rieldanse en al. In Williston kry sy 15 deelnemers vir haar aanbieding.

stef

Cecile se groep begin sommer met 58 storiehonger mensies van alle ouderdomme in Carnarvon en omtrent 20 sluit in Williston by haar aan.

Cecile2

 

Gwen se naaldwerksters is almal jong kinders – 5 in Carnarvon en 20 in Loxton van so jonk as 6 jaar tot Gr 9-vlak.

Gwen

Jo-Annne, wat Rejoice, ‘n christelike dansskool in die Paarl bedryf, slaag daarin om binne 2 dae ‘n groep van 22 dansertjies in Vanwyksvlei en 12 in Loxton danspassies te leer waarmee hulle vreesloos optree tydens die afskluitingskonsert.

Franklin weer, wat as konsultant werk vir gemeenskapsradiostasies in die Paarl, stel sy kennis en sy rekenaar met sagteware tot die beskikking van ‘n spannetjie jong seuns – 7 in Vanwyksvlei en 7 in Loxton. Hy leer hulle hoe klankopnames werk, laat hulle hul eie stories in kletsrymvorm voorberei en self op die klankbaan inlees en redigeer. Ek verstom my oor sy aanslag – hy hou hom eenkant sodat die seuns selfstandig op sy rekenaar en met hulle selfone alleen die opnames en redigering kan behartig. Almal van hulle tree met selfvertroue op tydens die afsluitingskonsert wat ‘n vertoonstuk word van hulle hele blootstelling aan hierdie wonderlike medium wat tog so spreek tot elke jong seun van hulle ouderdom.

NJ, bestuurder van Wellington-Oos se kombi, bou verhoudings op met jong manne op voetsoolvlak. Hy onderneem ‘n toer deur die dorp om kontak met inwoners op te bou en hulle leefwêreld te probeer verstaan. In Vanwyksvlei kry hy 4 sokkerspanne bymekaar wat teen mekaar begin wedywer. Hierdie wedstryde lok ‘n groot getal toeskouers uit die woonbuurt. Later speel hy met ‘n groep van 15 raakrugby. By spansport vind hy aansluiting om oor leierskap, ‘n mens se lewenspad, oor verhoudings, oor manwees en oor ouerskap te deel. Heelparty sinvolle gesprekke ontluik vanuit hierdie lering.

NJ

sokker

Mariëtte bied skilderklasse aan vir 3 persone in Vanwyksvlei en lapverftegnieke vir 4 jong meisies en 4 ouer dames aan in Loxton. Saans gesels sy en Franklin tydens die byeenkomste met die gemeenskap oor seksuele verhoudings en die gevare van pornografie.

Marja

Ek kan net dink met watter opgewondenheid al hierdie kinders Dinsdag gaan terugrapporteer by hulle skole oor dié ongewone ervaring hierdie vakansie, danksy Carpe Diem Opleidingsentrum se onbaatsugtige uitreik.

Die terugvoer uit alle oorde wat ek ontvang is met groot lof aan die span. Dankie! Dankie vir die enorme impak wat julle in hierdie week kom maak het. Julle het nie die vaagste idee hoe skatryk julle ons agterlaat nie.

Vasie se koeitjie

Bontes is hoog neergesit. Sy veskyn dan al op TV in WegAgterpaaie. Juis waar Vasie besig is om haar te melk. Selfs Erns Grundling kry sy hande op kamera op haar.  Maar nou is Vasie se beroemde koeitjie vort. Weggelaai Upington toe met haar bruin kalf.

vasieMelk

 

 

En daarmee saam kom ‘n hele leeftyd van gaan-melk-elke-oggend vir ou Vasie tot ‘n einde. Al van die ouderdom van 5 jaar melk Vasie elke dag. Tydens sy koshuisdae as kind op Vanwyksvlei maak hulle beurte om soggens by sy pa se koeistalle te gaan melk vir die koshuisvoorraad. Steel so ‘n paar mondevol vars, warm melk uit die emmer op pad terug koshuis toe, so vertel Vasie.

Al die tyd wat Bontes ‘n kalf had op Hottentotsdam, ry Vasie vroeg soggens uit om te gaan melk. Rida gooi af en lewer af. Smiddae laat, ry Vasie weer uit plaas toe om die kalf te gaan afkeer. Duur melk sou mens dink. Maar nee, heel bekostigbaar vir Vanwyksvlei. Nou is dit iets van die verlede.

En so begin ‘n hele nuwe fase vir ons twee oues hier op Vanwyksvlei en ook vir almal wat van Bontes se melk gekry het. Want vars beesmelk op Vanwyksvlei is so ‘n kosbare kommoditeit soos vars lug en oop ruimtes en helder sterrenagte. Nou sal ons weer moet grootmaat aankoop as ons kans kry en dit vries.

melk

Want sien, boksmelk werk nie vir ons nie. Daagliks kweek ek kefir en dit vra vir vars beesmelk. Mens raak mos gou afhanklik van die groot bederf om vars kefirmelk elke dag te kan gebruik. Met hierdie einste kefir bak ek beskuit. Het seker al vir 10 jaar nog nie weer betaal vir karringmelk uit ‘n winkel nie.

As die kefirkorrels vermeerder, deel ek uit of vries. As die kefirmelk ophoop, maak ek feta van die maas deur die kefir deur te syg en die wei op te vang – danksy Lida Eksteen, my fb-vriendin se raad na my katastrofiese ophoping van kefir vir die BullRun verlede jaar. Dis einste op haar aanbeveling wat ek die oortollige wei gebruik om ricottakaas mee te maak. Want in ‘n afgeleë plek soos Vanwyksvlei, is feta en ricotta net so ‘n weelde soos vars melk.

Leer ek algaande hoe kosbaar wei is. ‘n Wildsboud word murgsag as jy hom in wei gaarmaak. As byvoeging tot sop en ‘n gladde jantjie, baat mens by al die heilsaamheid van die hoë protein-inhoud, kalsium, kalium, magnesium, fosfor, selenium, yster, sink, Vit B12, B6 en die lae vet inhoud. Wie gooi nou sulke kosbare voggies in die drein af. Boon-op is die reste van die proses om ricotta te maak ‘n ideale plantvoedsel. Al die ekstra’s vries perfek.

Kosmeties is wei ‘n perfekte tonikum. As ‘n toevlug teen velkwale, bied dit oombliklike verligting as mens dit aansmeer. Ideale aanvulling teen dehidrasie as ‘n maagkwaal jou plattrek. En ek kan verder uitwy oor wei.

Staan ek op met ‘n poepoog nou die dag. Bloedbelope en tranerig. Die naaste dokter is 80km ver in Carnarvon. Die naaste apteek is 125km ver in Prieska. Wat nou gemaak? Bel ek my skoondogter, Annemarie, welbekende oogkundige in Parys vir raad. Spoel die oog uit met wei, Ma, is haar aanbeveling.

Wei het ek beslis, al het ek nie oogsalf nie. Die proses van feta voorberei vir die kerkbasaar, het bottels vol wei opgelewer. Ek spoel die oog met wei in ‘n oogglasie. Onmiddelike verligting en beterskap, sê ek vir julle.

Ai, Bontes, jou waarde gaan diep gemis word.

 

Begrafnis op Breekkierie

In stofstrepe kom plaasbakkies uit alle rigtings aangery na Breekkierie. Vanuit Vanwyksvlei, Kenhardt, Loxton, Carnarvon, Merydale kom vriende en familie groet. PL Moolman word vandag te ruste gelê.

20180711_191307R

PL Moolman

Skaars 40jaar oud, nog ongetroud, sterf PL aan ‘n hartaanval 5 dae nadat ons Oom Chrisjan De Bruyn te ruste lê op DeBruynsrus. Ons gemeenskap is geruk. PL is wyd en syd welbekend – dis sy wêreld hierdie waar hy gebore is en groot geraak het. Waar hy skoolgaan en vriende maak. Vanwaar hy die boerdery op Vaalputs behartig vandat hy sy opleiding voltooi.

Die plaas is al baie jare in die Moolmanfamilie se besit. ‘n Welbekende baken in ons wêreld op die pad wat afdraai Verneukpan toe vanaf die pad tussen Vanwyksvlei en Kenhardt. Op hierdie einste plaas is Oom Johannes Willemse byna 100jaar gelede gebore as die oudste van 12 kinders. Op presies hierdie selfde aarde, waar Oom Johannes leer loop en leer werk en sy liefde vir die karoobossies en hulle genesende waarde aangeleer het, ontluik PJ tot ‘n boer met ‘n diep liefde vir die Karoo en sy weelde.

20170916_143500resz

Oom Johannes Willemse en Antoinette Pienaar tydens ‘n byeenkoms in Loxton verlede jaar

FA Venter skryf ook in sy boek, Kambrokind, van sy eie kinderdae op Breekkierie. Sy pa se plaas, Constantia, was die buurplaas. Later van tyd, na die erge droogte wat sy ouers Kalahari toe laat trek het met die skaap, verkry Oom Frans Venter se pa deelsaairegte op Breekkierie.

Op einste Breekkierie word PL vandag te ruste gelê. Sy aarde.

Die skuur is ingerig vir die meer as 150 gaste waar Ds Fransie Human van Wellington, eertydse leeraar van Vanwyksvlei, die diens lei. Hy verwys juis na PL as hierdie wêreld se Kambrokind – altyd vrolik en dankbaar, altyd ‘n deurdrukker ten spyte van harde tye.

 

‘n Koue Noord-Westewind huil saam oor die verlies. Ruk aan die dakplate van die skuur. Stoot die koue wolkies in wat algaande saampak tot teen die einders.

Veldblomme en boesmangras, sy wêreld se liefdes, staan in die teken van sy lewe oral as versiering. Word ook op sy kis geplaas as laaste eerbewys voordat hy teruggee word aan die aarde. Nog een van sy liefdes, duiwe, word in hulle hordes vrygelaat oor sy graf – hulle wat weet waar huis is as simbool van PL se vertrek na sy Vaderhuis.

132520rez

Die groet is swaar. Ou PL, ou Boerie, ou Spyker;  altyd vrolik, so ‘n lekker danser, een wat oor die diep dinge van die lewe maklik ernstig kon raak, se stem is vir altyd stil. Se plek is vir altyd leeg.

Plaasbegrafnis

20171221_193609

Ons begrawe vir Chrisjan de Bruyn op sy plaas waar hy al van sy  tienerjare geleef en laat leef het. Hier naby, op die buurplaas, Nuwedam, is hy gebore. Hier raak hy groot onder ‘n harde pa. Hier word hy net so gehard soos die aarde . Hier vat hy vir Martie as vrou, 55 jaar gelede en hier word hulle drie dogters gebore. Tilla is skaars 4jaar oud toe Chrisjan vir Martie die nuwe huis bou waarin daar steeds gebly word.

Oral is dit bekend dat hy oor ‘n baie spesiale gawe met diere beskik. Sy skoolopleiding kon hy nie klaarmaak nie, omdat hy as tiener na De Bruynsrus moes begin omsien. Al sy kundigheid en sy aanvoeling met siek diere kry hy van sy ma, Ouma Nellie. Sy was die een wat nooit moed opgegee het met ‘n siek lammer of ‘n sterwende dier nie. Wyd en suid is Chrisjan altyd uitgeroep om te kom help met ‘n siek dier. Veesiektes ken hy. Daar was nooit ‘n twyfelagtige diagnose nie. Selde verloor hy ‘n dier.

P1380141

Chrisjan en sy buurman JB van Kalkdam

 

Chrisjan se heengaan kom skielik – midde in die geharwar om ‘n basaar te laat werk met net ‘n handjie vol oorblywende lidmate wat bereid is om saam te werk aan die voortbestaan van die kerk. Beide Tilla en Jan dra groot verantwoordelikhede – nl die koektafel en die vleistafel.

Hulle is uit hulle diepte geruk. Alles word gestaak om eers begrafnis te reël, slaapplek vir hordes familie en vriende wat van ver kom.

Maar in die tipiese Christusgesindheid word hulle hande losgemaak. Karin Hoon en haar skoonma Erina, bied aan om die koektafel oor te neem. André Oberholzer stel sy slaghuis en sy werkers beskikbaar om die skaap te verwerk, sosaties te maak, die bees te maal, bene op te saag en wors te maak. Alles werk toe tog ten goede mee op die ou einde.

Gemeentemense los waarmee hulle besig is en maak reg vir die begrafnis. Sop word gekook, toebroodjies gemaak, platters word voorberei, tafels en stoele en eetgerei word aangery plaas toe vanaf die kerksaal. ‘n Graf word voorberei op die plaas.

Plaasbakkies staan in gelid soos ‘n gedugte brigade. Boere haal hoed af, groet mekaar met die hand. Praat oor die laaste reënbui wat laas maand so kol-kol geval het. Oor die ongediertes wat woel onder die lammers. Oor die ooie wat tweelinge gooi. Oor die verlies aan skaap onder die vlaag onwettige slagtings op al die roetes om die dorp.

Hytjie en meidjie is hier saamgetrek. Boere van die buurplase. Dorpsmense. Familie en vriende vanuit die dorp en vanuit ver plekke in die land. ‘n Groot skare bruin mense uit die dorp en plaasvolk kom ook hulle laaste eer betoon. ‘n Haan kraai aanhoudend.

 

Ons neem posisie in onder die peperbome langs die plaashuis. Die honde raak rustig by die familie se voete.  In die kampie met hanslammers reg langs ons, lê lammers en hoenders sommer deurmekaar en luister na die dominee se rede. Hulle handhaaf ‘n eerbiedige stilte vir Chrisjan.

 

 

‘n Ent verder lê die paar beeste ook rustig en wag. Die teenwoordigheid van so baie plaasbakkies en begrafnisgangers het hulle geensins uit hulle diepte nie.

Chris doen namens die familie bedankings. Tilla getuig van die vrede waarmee haar pa oorgestap het.

Asof die pou die ‘Amen’ op die toesprake verstaan, spring hy van een van die bakkies af. Sy skelle geskreeu klief luidkeels die stil begrafnisatmosfeer. Almal kom in beweging. Ook die beeste wat eenkant gelê en herkou het, kom op hulle voete. Vat koers voor die lykswa uit graf se kant toe. Almal val kop onderstebo agter die lykswa in die 100m na die graf toe. Chrisjan se oorskot word in sy eie plaasgrond weggelê soos hy dit wou gehad het. Die plaas was in hom. Nou is hy in sy plaas.

Begrafnisgangers vanuit die bruin gemeenskap, val spotaan weg en sing uit die hart uit ‘n afskeidslied.

L1450865

Langs die huis agter die draadheining, op die stukkie grasperk, staan die tafels uitgepak met eetgoed vir die skare mense. Soos wat begrafnisgangers terugkeer van die graf nadat afskeid geneem is, word geurige sop geskep. Dit woel soos wat skinkborde uitgedra en vuil skottelgoed weer teruggedra word kombuis toe. Die span by die opwasbak werk onverpoos aan die massa vuil koppies en bordjies.

L1450876

Die spul hanslammers kom ook op hulle voete. Reguit by die kampie uit, pyl hulle af op die stukkie kunsmatige gras waarop die preekstoel staan gemaak is. Keer na ‘n paar happe teleurgesteld weer terug kampie toe. Net ‘n illusie …

L1450873

Chrisjan se nasate leef voort op sy geliefde grond. Tilla en Jan het uiteindelik die ou plaashuis oorgedoen vir hulle gesin. Chrisjan se omgee vir sy diere leef voort in Tilla, wat al vir meer as 4 jaar by hom oorgeneem het nadat suikersiekte hom ‘n invalide gemaak het. Daar word vertel dat hy midde in die droogte met die skape kom praat het: ” Ja, my kindertjies, dit gaan met ons swaar. Maar een van die dae sal die Here weer vir ons reën stuur. Dan sal Pa vir julle weer beter kan sorg.”

Twee dae later hou ons suksesvol basaar. Daar is onverwags baie voete, danksy al die ekstra mense wat opgedaag het vir Chrisjan se begrafnis. Vir oulaas doen Chrisjan die gemeente ‘n groot guns en red die basaar van mislukking; snoer baie mense weer saam op ‘n gemoedelike manier. Voor die middaguur is die tafels leeg gekoop.

Als is weer reg op Vanwyksvlei en op De Bruynsrus, Chrisjan. Baie dankie. Rus nou in vrede.

 

‘n Beker vir ‘n bottel

Sedert my betrokkenheid by plastiekherwinning in Vanwyksvlei, slaan ek ‘n nuwe roete in met die talle bedelaartjies elke dag by my voordeur; ‘n beker sop vir elke ekosteen.

L1450815

In die afgelope tyd het ek al bykans 80 ekostene versamel. Dalk sal ek nie in mý tyd daarmee ‘n kaja in Vanwyksvlei kan bou nie – ek kan dit altyd bydra vir Loxton se huisbouprojek.

‘n Ekosteen is ‘n 2ℓ koeldrankbottel wat styfvol geprop is met plastiek- en tjipssakkies wat die hele wêreld vol rondlê. Die bottle word styf toegedraai sodat dit as ‘n harde bousteen vir beddings of bankies of self huisies gebruik kan word. ‘n Fondasie van so 2 rye stene diep, is blykbaar’n  voldoende basis om op te bou. Daar word beweer dat ‘n plastiek koeldrankbottel ‘n leeftyd van 1000jaar het. As dit nog toegemessel kan word, vorm dit ‘n stewige, geïsoleerde muur wat ons almal en ons nageslagte sal oorleef.

Daar kan om en by (volgens volume) 200 klein tjipssakkies (styf ingedruk) in ‘n 2ℓ koeldrank bottel inpas. Dit beteken dat sowat 16 000 sulke sakkies nié in Vanwyksvlei se veld beland het nie sedert die bottel-sop-projek. (Die arme kinders wat in hierdie dorp aan die lewe gehou word met so ‘n groot hoeveelheid tjips en puffs gelaai met MSG!!)

Self gooi ek nooit meer plastiek of polistreen in die asblik nie. Dit beland tog net weer êrens in die veld. Dis my aandeel om my koolstof voetspoor te verklein, want brand hulle die plastiek by die asgate, word 3kg CO₂ in die atmosfeer vrygestel vir elke 1kg plastiek wat brand. Saans, as ons sit en TV-nuus kyk, prop ek die dag se plastiekafval in ‘n leë 2ℓ bottel. Jy sal nie glo hoeveel gekompakteerde plastiek daarin pas nie. Amper ‘n week se afval van ons twee oues gaan gemaklik in een so ‘n bottel in.

Vandat dit bekend geword het dat ek sop in ruil vir ‘n ekosteen gee, lui my voordeurklokkie al van huistoegaantyd elke middag tot die son sak. “Jy’t ‘n lat vir jou g@t gepluk, my vrou” verwyt Johan my. Nou lê ek ‘n reël neer: nie voor 5uur in die middag nie! Anders is ek pal besig om koppies sop aan te dra! Maar ai, wat weet ‘n Vanwyksvleiertjie wat in Gr 3 nog nie eens kan lees en skryf nie, wat ‘5uur’ beteken. Ek beduie na die weste: “As die son so hoog soos daai paal bo die randte hang, dán is dit eers 5uur. Nie voor dit nie!” Ag julle, as dit die dag bewolk is, hoe moet ‘n kind nou weet van vyfuur. En hoe kan hy dan wag as hy so opgewonde is oor sy vol bottel en sy maag is leeg. Dan moet ek byvoeg dat dit nou nie net meer kinders is wat bottels volprop nie.

Nee, ek is geensins armer van al die sop-uitdeel nie! As ek nie sop het nie, kan ‘n sakkie springmielies ook ‘n honger magie kalmeer.

Maar die omgewing is heelwat skoner …

Plêstiek issie vi’ wegstiek; Episode 2

20180517_110016

Vanwyksvlei se werkswinkel om handwerk van herwinde plastiek te maak, realiseer met 18, ja 18! deelnemers.

Nooit het ek so ‘n oorweldigende reaksie op my kennisgewing verwag nie. Spring ek darem vir jou rond om almal se begeesterdheid om allerhande mooi goed van plastiek te maak, te kan bedien!

Ek begin my werkswinkel, nadat ons geopen en mekaar leer ken het, gewoonlik met ‘n algemene motivering oor die noodsaaklikheid van herwinning. Dan trek ons los om te leer plarn maak (plastic yarn). Sommer gou sien ek waarmee ek te doen het – gemoedelikheid en kwinkslae soos die klomp sit en drade uitrek – julle kan net dink!

Binne die oggend van die eerste dag is al my sakke wat ek probeer bymekaar maak het, opgebruik. Dit noop die deelnemers om uit te gaan en sakke, bottels en proppe te gaan bymekaar maak. Dis mos presies waaroor herwinning gaan.

Die span werk met ywer  en entoesiasme. Die een kreatiewe eindproduk na die ander word op die tafel opgestapel. Niemand is tevrede om net een tegniek te leer nie. Ek staan bont. Maar sommer gou sien ek hoe hulle mekaar begin help. Dies wat reeds weet hoe om te weef, of te fuse, of te vleg, help ‘n ander. Katriena wys vir Grieta hoe om blommetjies te maak. Amelda help vir Antoinette om kraletjies in te werk.  Grieta help vir Zetta om die plarn in die naald te kry. Eileen wys vir Joanna hoe om met ‘n warm naald gaaitjies te smelt. Sharon en Magdalena pak ‘n projek gesamentlik aan. Daar heers ‘n gees van samewerking en eensgesindheid.

Ant Annie hou almal aan die lag. Haar hande kan nie sonder haar mond koördineer nie: “Die Here is my Herder julle moet my nou los dat ek kan konsentreer niks sal my ontbreek nie ek gaan die heel mooiste handsak hekel wat julle nog ooit gesien het Hy laat my neerlê maar sie julle ophou om my aandag af te trek in groen weivelde na waters waar… maak iemand dan nie bietjie koffie nie?”

Net Katriena Mostert sê nie ‘n woord nie. Op haar eie sit sy die een hekelwerkie na die ander en afhandel. Berei self haar plastiekstroke daarvoor voor en as haar sakke opraak, gaan soek sy nog.

20180517_161329

Katriena word beloon met ‘n grooot tol wol. Sy het my die minste ‘gepla’

Elke oggend as ek oopsluit, is die saal netjies aan die kant. Elke snippertjie en rafeltjie opgevee en als mooi netjies georden by elkeen se werksplek. Dis ‘n plesier om met hierdie span te werk. Spontaan doen een van hulle soggens ‘n gebed as ons open. Ek kry te doen met mense wat almal al een of ander tyd deur die lewensmeule is en tog met soveel blymoedigheid voortgaan. Hartseer stories ontvou soos ons sit en saamwerk.

20180517_160552

Die span van CWP met hulle opsieners

Meeste van die deelnemers is CWP-werkers wat afgedeel is vir die werkswinkel. Hulle oorreed hulle opsigter om te kom kyk na die mooi goed wat hulle reeds gemaak het. Toe Teresa, die opsigter dit sien, is sy so beïndruk met wat vermag is, dat sy daar en dan besluit dat elke span voortaan plastiek wat rondwaai in die dorp, asook bottels en proppies sal bymekaarmaak in swart sakke wanneer hulle  uitgaan om te skoffel.

Hoera!! ‘n Oorwinning vir Vanwyksvlei se rommelprobleem!!