Soos die palm van haar hand

 

L1120750

So ken Betjie Adams van die VGK die binnekant van ons kerkgebou hier op Vanwyksvlei. Elke hoekie en lysie. Elke kassie en rakkie. Elke bakkie en beker. Elke bekleedsel en behangsel.

Vir die derde jaar in ‘n ry alleen (en voorheen saam met Ant Sophia), maak Betjie die kerk op ‘n Vrydag skoon. Soms ook op ‘n ander dag as die kerkprogram dit vereis. Sondag se koppies waaruit tee en koffie gedrink is. Die ablusietjie in die agterjaart van die kerk. Die silwer nagmaalware.

 

Die spieëls, horlosies en portrette. Die klede en doeke. Die houtgallery, orrel en orrelpype. Die eeu-oue banke wat gereeld gepolitoer moet word. Die hemelhoë lysies en vensters wat afgestof moet word.

“Die geldjie? Hoe sal ek nou sê, Mevrou. Die geldjie is maar seer. Maar ek het darem ‘n werkie. En elke bietjie help om die gate toe te hou.”

Betjie woon ver van die kerk teen die skuinste in die woonbuurt. Haar knieë, wat maar praat van die artritus, dra haar smôrs afdraand tot by die kerkgebou. En smirrae weer teen die bult op terug. “Dis soos my lewe, Mevrou. Die Here gaan voor en ek agterna.”

Kort-kort oorval ‘n hoesbui haar. Ek vra of sy medesyne het vir die hoes. “Ja, Mevrou. Karmedip. Ek brou vir my tee daarvan – van daai veldbossie wat in my tuin staan.”

Betjie verloor haar eerste man terwyl sy 8 maande swanger is met haar vierde seun. “Vergiftiging, Mevrou. Hulle het geknie in ‘n houer wat die brood vergiftig het op die plaas waar hy gewerk het. Die ander man het deurgetrek. Maar my Flip is afgesterwe.”

Vir 10 jaar versorg sy alleen haar vier seuns terwyl sy as skoonmaker werk vir Abel en Annelien by die winkel. “Dis maar swaar tye, Mevrou. Saans, as ek my kop neerlê, weet ek nie waar môre vandaan gaan kom nie. Maar elke môre, as die Here se son opkom, is daar maar weer voorsien.”

Neels word haar tweede man by wie sy nie kinders het nie. Maar Neels se kinders word ook vir haar soos kinders.  Neels het ‘n vaste werk en ‘n bestendige inkomste by KVB. Haar baba skryf vanjaar matriek in Carnarvon. Vir elke uitgawe van elke kind se onderrig, betaal hulle nog elke keer, sonder dat hulle geld moet leen of geld op verkeerde maniere moet aanvul.

“Betjie, watter deel van hierdie werk is vir jou lekker?”

“Dis vir my lekker, Mevrou, om eers hier in die stilte van die kerkgebou te kom sit en my broodjie en koppie koffie te geniet.”

“Is daar iets wat nie vir jou lekker is nie?”

“Daarvan weet die Kerkraad, Mevrou. Dis maar dingetjies waarvan hulle weet.”

Betjie sorg vir jare, terwyl sy nog by haar ouers woon, vir oompie Jakob en antie Rachel wat diep bejaard is. Na werk, loop sy eers daar aan. Was vir oom Jakob en versorg sy bedsere. Na sy dood, versorg sy steeds daagliks vir antie Rachel. Antie Rachel vertrou haar met haar lewe. Hoe sy eendag uitgelê wil word vir haar graf, wat Betjie vir haar moet aantrek, waar die geld vir die begrafnis weggesteek is.

So word ‘n koevert aan haar oorhandig na antie Rachel se ter aarde bestelling. Sy is te bang om die koevert oop te maak. “Nee, laat haar seun die koevert oopmaak. Net-nou spring daar iets uit wat ek nie kan hanteer nie.”

Dis antie Rachel se testament. Betjie erf die huis. Dieselfde een wat sy vandag in woon. “Ja Mevrou, ‘n mens bedink, maar God bestuur,”

20160401_100235_3

Wêreldbiddag in Vanwyksvlei

Pas terug vanuit Pretoria om ons sake vir ‘n langtermyn verblyf in Vanwyksvlei te gaan reël, daag Lena Kampies van die African Methodist Episcopal (AME) kerk hier op. “Of juffrou weet dat dit vanjaar die NG se beurt is om die wêreldbiddag vir vroue hier in die dorp aan te bied.” Sy bring ‘n blaadjie saam met die boodskap van die 86ste biddag soos saamgestel deur die vroue van Kuba. Hier in Vanwyksvlei roteer die kerke  elke jaar om ‘n beurt te kry om die biddag aan te bied op die eerste Vrydag van Maart.

Volgens Oom Johannes, wat in die tuin werk, was Lena Kampies al ‘n paar keer hier in die tyd wat ons weg was. Ek is so dankbaar vir die program want ons kerk het nog niks ontvang nie en ek het gewonder oor die biddag.

Dis ‘n lywige program en vereis deelname en voorlesings van 10 vroue. Lena organiseer vir ons ‘n vergadering een middag in die woonbuurt met vrywilligers uit elke denominasie. Maar intussen sterf haar jongste suster in die Kaap en sy moet inderhaas Kraaifontein toe. Haar suster moet in Vanwyksvlei te ruste gelê word en dis ‘n groot gereëlery om haar oorskot hierheen vervoer te kry en die begrafnis hier ter plaatse te organiseer.

So ontmoet ons tog mekaar op die bestemde dag in die woonbuurt by die AME se kerkgeboutjie. Dit is ‘n karige eenvertrek geboutjie wat vindingryk versier is om ‘n atmosfeer van aanbidding en piëteit te skep. Ons doen die rolindeling, bespreek die program en doen voorbidding vir die dag. Op die vooraand van die biddag sal ons mekaar om half-vyf in die NG-kerkgebou ontmoet om als mooi in te oefen en seker te maak die program vloei met 10 sprekers en 1 mikrofoon.

Half vyf word vyfuur met net vyf rolspeler teenwoordig. Tilla kom tot ons redding. Bel inderhaas ‘n paar kontakte by die VGK, kommandeer hulle daar en dan op en ry hulle aan. Imprompto oefen ons.

Die program is so opgestel dat dit heelparty simbole vereis wat deel uitmaak van die leefstyl van die Kubaanse vroue – ‘n mandjie vrugte en groente, kerse, suikerriet, die vlinderjasmyn, die Kubaanse vlag en ‘n Bybel. Suikerriet in Vanwyksvlei? Die vlinderjasmyn? Vrugte en groente?

Maar wat maak mens as ‘n haastige oproep om dit wat kort per geleentheid vanaf Pretoria deur te stuur, skipbreuk lei? Piro lewer ‘n paar kratte by ons af met goed vanaf die huis, waarvoor ons nie plek gehad het. Maar die trommel met die bestelling daarin is nie daarby nie. Dit het agtergebly. Genadiglik het vriend Bauer vir Piro ingejaag met ‘n appelboks vol groente wat hy ook wou saam stuur. Die mandjie groente as simbool is dus nie ‘n probleem nie. Kerse en die kanselbybel ook nie. Die res improviseer mens maar. En waar jy nie meer kan improviseer nie, buig jy die program.

L1120432

Vir die gasvryheidsdeel bring Annemarie suurlemoene vir lemonade vanaf Piketberg. Heila wat die skooltrip ry, doen die nodige aankope in Prieska vir ‘n soet happie en skenk eiers. Tannie Petro en tannie Elize stuur bottels vir die lemonade.Tania sit die program op die rekenaar met toepaslike foto’s en musiek. Kommandeer sommer die skool ook op om kinders te stuur. Magriet organiseer tafels voor die in- en uitgang van die kerk. Mara bring ‘n rangskikking van wit lelies. Alle beskikbare hande pak bottels en glase uit en begin skink. Rida skuif voor die orrel in. Van oral oor daag vroue op en siedaar, ‘n suksesvolle byeenkoms met goeie bywoning.

Tog, dit gaan nie noodwendig oor die bywoning nie. Die belangrikste is dat vroue en kinders in Vanwyksvlei oor kultuur- en denominasiegrense heen, die voorreg en die blootstelling kry om saam met derduisende vroue oor die hele wêreld dieselfde sake op dieselfde dag voor die troon van die Vader te kan bring.

Baie dankie aan almal. Dankie, tannies van Kuba. En dankie, Lena Kampies van Vanwyksvlei.

KERKSAAMHEDE

Die VGK hou basaar. Om elfuur, die bestemde tyd wat die basaar geopen gaan word, is ons daar. Maar nee, Antie Baby Reën word eers vanoggend begrawe. Meeste mense is eers nog by die begraafplaas besig . Hulle sal ons bel sodra almal gereed is en die basaar kan begin.

Daar loop ‘n storie dat Antie Baby se pa en die boer by wie hy toentertyd gewerk het, stry gekry het. Die boer het glo van haar pa ontslae geraak deur hom van ‘n krans af te stoot. Nou hier in hierdie vlaktes is nie veel berge nie, so mens weet nie waar hierdie storie se oorsprong lê nie. Maar daar word vertel dat daar destyds glo nooit iets gekom het van hierdie gerugte nie.

‘n Uur later kry ons die oproep; ons kan maar kom, die basaar gaan geopen word. Ons kom daar aan met ons tupperbakke want vroër die oggend het ons gesien hoe lekker word daar buitekant gebraai en hoe pak hulle poedings uit in die kerksaal. Vrolik en gesellig onder die bome sit die krukkelys – hulle wat met hulle rolstoele en krukke nie meer by die tafels kan help nie, maar goed kan onthou van die dae toe hulle ook so ywerig meegehelp het met bak en regstaan. Hulle is die’s wat ook sommer hulle ete met die nagereg begin.

Die heerlikste tuisgemaakte KFC en chips word ons middagete. Afgerond met rasegte basaarpoeding.

In die kerk – aangrensend tot die saal – hang die allermooiste misiestelling volgens die akroniem van VANWYKSVLEI –  Vernuwing en Aanbidding is Noodsaaklik om Waarlik Ywerig Kerk te kan wees en Saam te werk. Vetroue op God, Liefde en Eensgesindheid Inspireer ons.

Sondag bid ons saam met die land vir reën. Volgens die kenners is ons nagte nog te koel vir reën. Die dag- en nagtemperature moet blykbaar met minder as 10˚ verskil, dán gaan dit reën. Maar ons bid vir reën regoor ons land en nie net hier by ons nie – ons weet die Kalahari se mense kry swaar. Dáár het dit die afgelope 2 jaar nie reën geval soos dit moes nie. En ons weet die damme regoor die land se watervlakke lê gevaarlik laag. Ons bid in solidariteit met ons hele land se mense. Ons wag.  Elna laat weet van sagte reën in die Bosveld.  Bauer laat weet van 22mm in Pretoria.  Leonette sê hulle het in Rustenburg ook reeds ‘n bui gehad. Berigte van reën kom van orals in. Hier by ons waai die wind steeds verkeerd – hy moet uit die noorde kom. Die kaktusse blom nog nie. Ons wag steeds.

Dié aand woon ons die plaaslike APK se kerssangdiens by. Feestelik pryk al die tafels met liggies en kersies en blou en silwer versiersels. ‘n Powerpoint aanbieding (waaraan ure en ure spandeer moes word) sinchroniseer al die liedere en voorlesings. Daarna die magdom eetgoed. Daar is beslis vanaand ‘n paar vroue met baie seer voete.

Die Kerkraad vergader ter plaatse. ‘n Beroep moet uitgebring word vir ‘n nuwe predikant. Die eerwaarde kerkraad vind dit goed om die agbare aflosdominee te beroep.

Hiervoor, liewe vriende en familie, sal julle saam met ons moet bid…