Rommel gee drome vlerke

 

Om iets uit niks te kan maak as mens niks het nie, is om ‘n droom te sien vlerke kry. Want almal droom oor iets beters.

Die Gr 9’s by Vanwyksvlei Intermediêr leer bakkies maak en blikkies oortrek met geweefde plastiek. Dit kos hulle niks, net bietjie moeite en om in te koop in iets heel vreemds. Party koop in. Ander kyk eers die kat uit die boom. Party kry vet koevertjies na die BullRun. Ander nie. Meer kom uit hulle blokke en feitlik daagliks kom daar nog iemand met gevlegde mandjies by my voorhekkie aan.mandjie4

Ek probeer die kinders se drome verkoop, nie hulle produkte nie. By die BullRun het ek ‘n stalletjie met ‘n verskeidenheid van die produkte wat hulle maak uit herwinde plastiek. Donasies val in die blikkie. Nie baie nie, maar genoeg om aan elke deelnemer iets te kan teruggee, of sy bakkie geneem is of nie.rommeltas

Die gerug versprei dat geld begin inkom. Wit-Annie bring solank wat sy gemaak het sedert ons die CWP-werkers in die dorp daaraan blootgestel het.

By die Ringsitting stal ek die res van die mandjies uit. Twintig kry nuwe eienaars. Die res bly agter sodat Lucas van Die Windpomp dit aan toeriste kan verkoop.

In Caledon word ‘n werkswinkel aangebied. Net Miemie Bali daag op. Ek spandeer ‘n hele week aan haar en sy leer splinternuwe vaardighede aan. Begin drome droom en visies kry vir wat sý alles vir haar kerstafel uit plastiek gaan maak. Hoe sy van nou af al haar bure se rommel gaan gebruik.

Miemie

Elizabeth en Claudia van Botrivier sluit by ons aan. Raak in vervoering. Hulle bedryf al vir 10 jaar ‘n herwinningsprojek. Binnekort betree hulle ‘n nuwe perseel en beoog om daar ‘n soortgelyke werkswinkels aan te bied. Meer mense gaan bruikbare artikels uit rommel leer maak.

Een middag besoek ek die gemeenskapsentrum in Botrivier waar meer as 40 bejaardes en kusrusgangers in tuisversorging my toehoor. Almal raak begeester oor die moontlikheid wat rommel bied

Dertien Malawiërs doen die werkswinkel op Middelplaas naby Wellington. Hulle is lankal besig met grootskaalse herwinning op die perseel waar hulle werk. Maar nou kry dit ‘n nuwe doel.

middelplaas

Ek wonder hoe vorder Godfrey en Vales in Loxton met hulle bestelling van 100 matjies.  En Rachel wat haar kleinkinders ook wou leer. En die groepie in Williston. En Carnarvon Ouetehuis se yweriges.

Skielik vlieg ‘n reuse deur oop. The Craft and Design Institute van die Kaap kom te hore van wat ons doen. Hulle soek produkte uit die plattelandse dorpies om aan toeriste te verkoop.

Hier kom ‘n ding!!