Ringsitting by die Windpomp

ring10

Brandvlei se uithangplek, eetplek, kuierplek tree op as gasheer vir die Ring van Carnarvon se Ringsitting 2018. Die Windpomp. Ek, Eureka en Charl het die voorreg om as gaste in te sit en saam te geniet, al is ons nie afgevaardigdes nie. Charl staan in om na klein Marizanne om te sien terwyl haar ma, Suzannne, predikant van Carnarvon, as skriba van die vergadering optree.

Hoe gemeentelede betrokke raak in Koninkrykswerk deur te dien met wat hulle het, is opmerklik. Hier staan tafels voorberei met gawes om ons welkom te laat voel. ‘n Geskilderde klip vir elk. ‘n Geskenkpak met elke variasie Kalaharisout denkbaar. Dorpshuise, voorberei met als wat nodig is in vir ‘n rustige nagrus en vir ‘n ontspanne middaguur.

Ons word getrakteer. Die beste kos met elke ete – in oorvloed. Oorvloedig water in alle geure om heeldag aan te teug. Aarbei, komkommer en kruisement. Iets vir die kies om aan te suig so tussendeur. ‘n Karoobraai sonder gelyke op ‘n vuur sonder gelyke. Niks word gesnoep nie – nie kole nie, nie vleis nie, nie ys nie, nie bykos nie. Skaaptjops. Hoendersosaties. Wors. Skaapribbetjie. Vriendelike diens. Vlytige kokke.

Leentjie en Lucas, met hulle bekwame span van Die Windpomp, saai nie wind nie. Hulle warrel ook nie rond nie. Doelgerigte, doelmatige beplanning en uitvoering daarvan. Klokslag op die regte tyd, al stroom reisigers in en uit om, waarheer ookal op pad is, hierdie oase te gebruik. So loop ons vir Stephan Louw, die eienaar van ons geliefste plek op aarde, Taaiboschoek, hier by die Windpomp raak. Hy is juis op pad Loeriesfontein toe vir ‘n skou.

ring8

Leentjie met haar span bekwame en gewillige werkers

Ringsittings is, volgens my ervaring, ‘n kerkvergadering wat oorheers word deur verslag op verslag op verslag. Nie hierdie keer nie! Ons is ‘n familie wat mekaar baie lief het. Ons vergadering geskied op ‘n gemoedelike, informele vlak met groot diepte.

ring6

Rudi van Vuuren van Brandvlei lei ons lofsang en aanbidding en verootmoediging met sy ghitaar.

ring5

Rudi van Vuuren in aksie

Wat egter besonder uitstaan, is die diep geestelike ervarings in die Woord. Meer tyd word met God bestee as aan verslae. Muller se openingsstudie uit 1 Kor. 12. Muller van Williston se studie eerste dag oa uit die “Ons Vader”-gebed, en Johan die volgende oggend uit Matt  7. Die een se Skrifstudie, onbewus van wat die ander een beplan het, lei ons op dieselfde tema: “ons” teenoor “hulle”. Wie is die “hulles” en wie die “onse”. Wie is almal deel van ons “ons”. Wat doen “ons” sodat “hulle” lewe in oorvloed kan ervaar. Hoe sluit ons “hulle” n in ons “ons”-gebede. Op watter pad is “ons” en wie is die “hulle” op die ander pad? Dit is mos hoe die Heilige Gees werk! En nóú werk Hy met elkeen van ons op sy eie manier.

Mag dit tog asseblief oorspoel na elke gemeentelid van ons gemeentes in nood hier in die Bo-Karoo.

Advertisements

BISMARC

p1200085

Ek is in Rustenburg om die jongste (39 weke swanger) te help pak vir die groot trek Upington toe. Die trek sal volgens plan ‘n maand in Pretoria gestoor word in afwagting op die nuwe baba se geboorte, voordat dit Upington toe verskuif word. Ek sien uit na die Pretoriabeen van die ekskursie – om ‘n slag by die Pretoria-kinders uit te kom. En met Bismarc herenig te word.

‘n Week voor die finale trek Pretoria toe sterf Bismarc. Asemnood. 100m van die huis af. En hy was fiks. Maar net 4jaar oud. Maar sy opgewondenheid oor die stappie saam met Tom en Jo kos hom sy lewe.

Bismarc is in 2012 deur die Paryskinders aan ons gestuur tydens die eerste been van ons sabbatsjaar. Net 6 weke oud kom hy saam met Leonette en Andries by ons aan op Swartpan in die Kalahari. Ons kameraadjie wat ons moet vergesel op die tweede been van ons tydperk in die verlate Boesmanland.

p1180580

Daardie eerste paar weke slaap hy in die buitekombuisie op Taaiboschoek om tog nie plassies op die mooi houtvloere van die eeu-oue huis te maak nie. Maar na ‘n paar weke spring hy deur die venster as die vensterraam opgeskuif is en maak hom langs my bed snag tuis. Want ek is sy mens en hy moet my beskerm. Voor my bed slaap hy van toe af elke nag totdat ons hom sowat ‘n jaar gelede moes agterlaat met ons skuif vanaf Pretoria Vanwyksvlei toe. Die kinders in Pretoria versorg hom totdat ons hom eendag kan kom haal. Tot dusver is die erf nog te oop met te veel rondloperhonde wat kan inkom. En donkies wat hier verbydrentel – hy sal hulle mos nooit net kan laat verbydrentel nie.

Die onvergeetlikste van die Boesmanlandtyd is die staptogte die velde in. Aanvanklik is hy nog te bang om te ver van die huis af te beweeg. Later van tyd raak hy net ‘n stippeltjie in die veld agter ‘n haas of ‘n steenbok aan. Maar altyd  keer hy weer terug om aan my sy te wees. En o, die kere wat ons op ‘n krip afkom na kilometers se stap in die warm son! Staffies hou mos van water.

Bismarc beskik oor baie spesiale gene. ‘n Stamboekhond met ‘n omgeehart vir als wat swaarkry. Op Taaiboschoek lê hy ‘n hele dag langs ‘n siek skaap totdat die skaap uiteindelik soveel beter is dat hy kan opstaan. Bismarc wys hom eers waar om water te drink voordat hy vort is die veld in.

Op ‘n keer versorg Karien ‘n pasgebore blesbokkie met asemnood. Bismarc is rasend omdat ons hom nie  toelaat om langs die bokkie in die krat te gaan lê nie. Hy het ‘n fyn aanvoeling vir elke beseerde diertjie wat op ons werf aankom se nood. Sy nabyheid is sy manier van vertroosting.

Of dit nou ‘n voëltjie, ‘n hasie, ‘n skilpadjie, ‘n padda of ‘n katjie is, sy belangstelling is altyd met sagtheid. Hy het selfs ‘n gunsteling onder die hoenders!

Helaas. Net toe ek, vanweë die skielike toename in diefstalle en betredings op ons erf, besluit om Bismarc saam te bring Vanwyksvlei toe, toe sterf hy.

Daar was toe nooit ‘n hereniging nie …

p1400718

FRANKESKOP

‘n Baken in hierdie geweste is beslis Frankeskop. Ook verbeeld op die destydse skoolwapen.

 

Frankeskop staan gedeeltelik op die plaas Môreson en die plaas Frankeskop. Bo-op die kop is ‘n goewermentsbaken. Die kop is 1122m bo seespieël. Breedtegraad: -30°27’33.76″
Lengtegraad: 21°49’27.55″ . Nie so hoog nie maar so styl.

Omdat Francois en Mara Augustyn, aan wie Môreson behoort het, besig is om op te pak om Henneman toe te verhuis, het ons ‘n ooreenkoms met hulle vasgemaak om nog vir oulaas die kans te gebruik om Frankeskop te gaan klim.

Daardie geleentheid doen hom toe voor Sondag na kerk. Willie Goussard, Francois se neef en sy gesin van Jeffreysbaai kuier vir oulaas op Môreson. Frankeskop gaan vandag geklim word. Ons is deel van die span.

Frans ry met ons tot waar die pad ophou. Hiervandaan moet ons klim. Hy en die krukkelys maak solank gereed vir ‘n braai aan die voet van die kop vir wanneer ons terugkeer van die bopunt af.

Aan die voet van Frankeskop kan mens orals versteende boomstompe raakloop. Wonder watter tiepe bome dit was? Wat het hulle laat versteen? Hoeveel eeue gelede se bewyse van lewe lê hier rond? Alhoewel, my geoloog seun meen dis  nie boomstompe nie, dis dolomietformasies – al is dit nie bekend dat daar dolomiet in die Karoo aangetref word nie.

Dis ‘n stywe klim, veral die laaste gedeelte tot bo. Daar het die aarde sy oppervlak verander na los leiklipagtige gruis, wat mens baie in hierdie geweste aantref. Net soos by Van Ryhnspas en by Taaiboschoek naby Loeriesfontein. Maar daarbo moet mens vasstrap. Soms voel dit vir jou jy gly verder terug as wat jy vorder. So, mens vat hom maar al teen die skuinste op in plaas van direk na bo.

Maar o! Om daarbo te kan staan en reg rondom jou te kan uitkyk na die verste ver horisonne. Wat ‘n belewenis. Na die westekant toe lê Vanwyksvleidam uitgestrek en die dorpie na sy noordekant saamgekluister teen die voet van Krismiskop.

20160501_131513

Lyndrade lê soos liniaalstrepe oor die gebied. Plaasopstalle wydgestrooi en herkenbaar van daarbo af – Kwaggakolk, Platdam, Smouskolk, Kromvlei, Tienpond, Gannabos.

Lae en lae grys leiklip gesteentes lê losgebreek en verstrooi op die bopunt. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy met hulle skryf…

20160505_153357 (2)

Daar is geen Geocaching op Frankeskop nie. Daar was egter vroeër ‘n bliktrommeltjie met ‘n register vir besoekers by die goewermentsbaken geplaas. Maar daarvan is daar geen teken meer nie.

Die afklim is nie makliker as die opgaan nie. Mens moet jou stewels stewig plant of sommer jou bodem gebruik om nie balans te verloor nie. Die trekpleister is daai stewige steaks wat Francois op die kole het. Dun repies gesny word dit die voorgereg.

Die oudste persoon wat glo Frankeskop uitgeklim het, is Tannie Gertie Goussard – einste Willie se ma. Sy is 72 toe sy Frankeskop uitklim. Nogal met ‘n paar sandale …