Waternood in Vanwyksvlei

P1350594

Boorgate, die enigste bron van water in Vanwyksvlei, is besig om op te droog.

Bedags loop die krane glad nie meer nie. Elke huishouding word beperk tot slegs 25ℓ. Voor elke huisie staan die waterkanne opgestapel. Want Oom Schalk ry tot 11 roetes per dag na elke deel van die dorp met die trokkie (die trekker is stukkend). Dit is 2 500ℓ op ‘n slag. Altesaam 27 500ℓ water word daagliks vervoer. Hoeveel kilometer per dag met diesel wat ongeveer R17,00/ℓ kos?

Die enigste boorgate wat nog water lewer, is Smouskolk 1 en 2. Smouskolk 3 en 4 is reeds opgedroog. Waverley en die dorp se boorgat gooi darem ook nog.

Plase in die omgewing, soos Môreson en Jaersfontein, het nog goeie water. Hulle is bereid om die dorp te help as die nood te hoog raak. Het alreeds gehelp om watertenks by die kampterrein te vul tydens die BullRun. Of om die pad stofnat te maak met die waterkar.

Party van ons dorpsmense het nog steeds reënwater. Die pastorie, wat bevoorreg is om 4 reënwatertenks op die erf te kan hê, deel uit. Daar is elke dan en wan mense by die hek met bottels wat drinkwater kom vra. Want die dorpswater is nie meer lekker nie.

water1

Snags kom daar ‘n dun straaltjie munisipale water deur wat weer ons tenks voed. Maar die watedruk is te swak om die huise wat hoër op, bokant die hoofstraat lê, te bereik. Soos dié van Rina en Magriet. As daar egter beurtkrag is (soos wat feitlik daagliks gebeur) en die drukpomp wat daardie water moet deurstoot na onse krane toe werk nie, beteken daardie watervoorraad niks. Die krane bly droog.

Dis glad nie ‘n gawe tyd om sonder water te moet sit nie. Jy wil nie weet hoe dit is as die dagtemperature so styg soos hier by ons in Vanwyksvlei, en daar is nie water as lafenis nie. Maar laat ons nie kla nie, want die boorgate wat wel lewer se pompe werk mos met sonkrag.

Sopas ‘n werkswinkel bygewoon in Carnarvon. Dieselfde lot daar. Beurtkrag. Geen water. Toilette wat nie kan spoel nie. Stof en sweet wat nie saans afgespoel kan word nie. Eish.

Vonke spat by raadsvergaderings oor die waterkrisis. Sommiges beweer dis swak bestuur. Ander is weer van mening dat daar wél water in die omgewing beskikbaar is – selfs boorgate wat nie gebruik word nie – waarvan die munisipaliteit net nie weet nie. Raadslede word uitgetrap. Verguis. Maar daar is glo reeds geboor in die omgewing. Die gate is óf droog, óf die water is onbruikbaar brak.

En dan is daar onlangs ‘n reuse werkskeppingsprojek uitgesit met reusagtige tenders om ‘n pypleiding aan te lê vanaf Carnarvon na Vanwyksvlei. Om watter water hierheen te lei? Wonder mens…

Maar as selfs die koerajongs om die kerk begin vrek, moet jy weet dis vrek droog.

P1350581

 

Advertisements

Annie Swarts teken 100 aan

Die seisoen het amptelik vandag gedraai. ‘n Nuwe seisoen begin ook vandag in Tannie Anna Swarts se lewe. Van vandag af leef sy ‘n lewe ná ouderdom 100.

 

Tannie Anna is gebore op 20 September 1918. Sy onthou nog die dae as die dam gereeld weer geskraap moes word, vroeg in die vorige eeu. Haar pa was een van die dambouers wat in 1882 begin is. Sy vertel hoe haar pa nog moes help om die damwal met bokvelle uit te lê. Op die bokvelle is klippe gepak waarmee die wal gekompakteer is. Dit is dan weer toegepak met potklei. Die damwal staan vandag nog net so.

By haar in haar karaktervolle huisie hier in Vanwyksvlei, woon ‘n hele paar geslagte saam.

Anniekoek

Sewe kinders is vir haar en haar man gebore waarvan slegs twee nog lewe. Haar dogter, Rachel, versorg haar tans. Tannie Annie kan nog goed loop, kan nog goed genoeg sien om daagliks naaldwerk met die hand te doen, hoor minder goed, kan nog verbasend goed onthou en het nog haar eie tande. Sy voer nog ‘n sinvolle gesprek met mens en lewe ‘n lewe van opperste dankbaarheid.

AnnieS

Sy vertel dat haar pa naby Humansdam rond gewoon het toe die dam se bouery in 1882 begin is. Hy was een van die dambouers wat met esels potklei vir die dam aangery het. Later jare word sy in Smouskolk se omgewing gebore as een van drie dogters van haar pa en ma. Haar ouers het ook by die Ingelsman op Garskolk gewerk waar sy moes help miskoeke optel om vuur mee te maak.  As jong meisies gaan grawe sy en haar susters sout onderkant die damwal uit en dra dit op hulle koppe dorp toe in ruil vir lewensmiddele.

Haar man het by Oom Doupie Oberholzer se pa op die Lande gewerk en later vir Doupie self. “Ek het al Doupie-goed se kinders help groot maak. Op hierdie rug van my het ek Deon-hulle rond gedra. Ook vir einste André Oberholzer wat nou so ‘n groot man is.”

Tannie Anna vertel dat haar pa op ouderdom 101 gesterf het. Sy goeie gene leef voort in hierdie inspirerende vrou.

 

FRANKESKOP

‘n Baken in hierdie geweste is beslis Frankeskop. Ook verbeeld op die destydse skoolwapen.

 

Frankeskop staan gedeeltelik op die plaas Môreson en die plaas Frankeskop. Bo-op die kop is ‘n goewermentsbaken. Die kop is 1122m bo seespieël. Breedtegraad: -30°27’33.76″
Lengtegraad: 21°49’27.55″ . Nie so hoog nie maar so styl.

Omdat Francois en Mara Augustyn, aan wie Môreson behoort het, besig is om op te pak om Henneman toe te verhuis, het ons ‘n ooreenkoms met hulle vasgemaak om nog vir oulaas die kans te gebruik om Frankeskop te gaan klim.

Daardie geleentheid doen hom toe voor Sondag na kerk. Willie Goussard, Francois se neef en sy gesin van Jeffreysbaai kuier vir oulaas op Môreson. Frankeskop gaan vandag geklim word. Ons is deel van die span.

Frans ry met ons tot waar die pad ophou. Hiervandaan moet ons klim. Hy en die krukkelys maak solank gereed vir ‘n braai aan die voet van die kop vir wanneer ons terugkeer van die bopunt af.

Aan die voet van Frankeskop kan mens orals versteende boomstompe raakloop. Wonder watter tiepe bome dit was? Wat het hulle laat versteen? Hoeveel eeue gelede se bewyse van lewe lê hier rond? Alhoewel, my geoloog seun meen dis  nie boomstompe nie, dis dolomietformasies – al is dit nie bekend dat daar dolomiet in die Karoo aangetref word nie.

Dis ‘n stywe klim, veral die laaste gedeelte tot bo. Daar het die aarde sy oppervlak verander na los leiklipagtige gruis, wat mens baie in hierdie geweste aantref. Net soos by Van Ryhnspas en by Taaiboschoek naby Loeriesfontein. Maar daarbo moet mens vasstrap. Soms voel dit vir jou jy gly verder terug as wat jy vorder. So, mens vat hom maar al teen die skuinste op in plaas van direk na bo.

Maar o! Om daarbo te kan staan en reg rondom jou te kan uitkyk na die verste ver horisonne. Wat ‘n belewenis. Na die westekant toe lê Vanwyksvleidam uitgestrek en die dorpie na sy noordekant saamgekluister teen die voet van Krismiskop.

20160501_131513

Lyndrade lê soos liniaalstrepe oor die gebied. Plaasopstalle wydgestrooi en herkenbaar van daarbo af – Kwaggakolk, Platdam, Smouskolk, Kromvlei, Tienpond, Gannabos.

Lae en lae grys leiklip gesteentes lê losgebreek en verstrooi op die bopunt. As jy jou verbeelding gebruik, kan jy met hulle skryf…

20160505_153357 (2)

Daar is geen Geocaching op Frankeskop nie. Daar was egter vroeër ‘n bliktrommeltjie met ‘n register vir besoekers by die goewermentsbaken geplaas. Maar daarvan is daar geen teken meer nie.

Die afklim is nie makliker as die opgaan nie. Mens moet jou stewels stewig plant of sommer jou bodem gebruik om nie balans te verloor nie. Die trekpleister is daai stewige steaks wat Francois op die kole het. Dun repies gesny word dit die voorgereg.

Die oudste persoon wat glo Frankeskop uitgeklim het, is Tannie Gertie Goussard – einste Willie se ma. Sy is 72 toe sy Frankeskop uitklim. Nogal met ‘n paar sandale …

Die Storie van die Konsistorie

 

Elke konsistorie het ‘n storie.

Ons storie begin met hierdie geelkoper deurknop – kompleet of jy ‘n storieboek oopslaan met die afwagting op wat daarbinne vir jou wag.

L1120848

Hoeveel keer is hierdie deurknop al die afgelope eeu oop en toe gedraai? Ek wonder, word hy nog blink gevryf met braso?

Elke konsistorie het gewoonlik ‘n kluis. Ons s’n dateer beslis uit die vorige eeu. Wens ek kon die som geld wat oor die jare heen hierin veilig bewaar is nou hier op papier geskryf sien staan. Dink net wat kan vandag met daardie bedrag in hierdie gemeenskap verrig word. Opsigself ‘n versamelstuk, hierdie eeu oue kluis, sou ek dink. In die heel eerste notuleboek staan daar ‘n besluit aangeteken tydens ‘n kerkraadsvergadering van 14 Mei 1917 dat ‘n kluis aangekoop sal word vir die kerk. Om te dink, volgende jaar staan hierdie kluis al ‘n eeu hier.

 

Hierdie silwer nagmaalbord lyk of hy iets oorgekom het, maar blykbaar moet hy so skeef staan vir makliker gebruik deur die bedienaar van die nagmaal. Is die hout hamer vir gebruik tydens vergaderings wat te vurig raak? Of met die verhoor van tugsake dalk? Of is dit maar net daar om aan te wend met veilings tydens ‘n kerkbasaar?

Wanneer laas is dié klavier bespeel? Kan my mos nie indink dat daar deesdae veel gesing word tydens ‘n kerkraadsvergadering nie. Bybelstudies en bidure vind in die pastorie plaas, nie meer in die konsistorie nie. Hoeveel kinders het dalk by hierdie einste klavier leste gehad? Ek speel ‘n paar akkoorde. Al die note klink nog, al is party bietjie stram en effe van die toon af.

Uit die houtplafon hang ‘n enkel gloeilamp. Sonder ‘n skerm. Na al die jare weer in die mode.

L1130019

In die hoekkas hang ‘n toga. Die plaatjie sê die kas is gemaak en geskenk deur Rina se familie van Springbokoog. Moet haar bietjie uitvra daarna…

L1120873

Twee ou Kanselbybels lê op die boekrak in die konsistorie. Die imposante eerste Kanselbybel met sy silwer klampe is “geschonken door de heer en mevr.  Vos” van Smouskolk in Des 1922.

L1120860

Kort na die eeufeesviering in 2012 verdwyn hierdie kosbare Bybel ampertjies uit die museum wat ingerig is met allerhande oudhede van gemeentelede. Glo reeds opgeskryf vir verkope deur die prokureur toe tannie Petro en haar oorlede man daarop afkom. Danksy hulle, besit die gemeente nog hierdie kosbare ou Bybel. Ongelukkig reeds bygekom deur ‘n vismot of twee.

Die jonger Kanselbybel, ‘n geskenk van die Rousseau’s van Gansvlei is 3 weke ouer as ek…

Elke konsistorie het egter nie meer deesdae kapstokke soos hierdie om hoede of kuile aan op te hang nie.

Kompleet soos die geloofshelde wat in Hebreërs 11 genoem word, hang daar ‘n galery van geestelike leiers se foto’s teen die muur in die konsistorie. Soos in elke ander konsistorie.

L1120837

Óns storie begin al in 1875, toe Vanwyksvlei nog as ‘n buitewyk van Carnarvon bedien word deur Ds W P de Villiers. Een na die ander pryk die geestelike leiers van die verlede teen die muur. Party werk vir jare hier, soos Ds. Brink wat vir 27 jaar lank, vanaf 1947 tot 1974 Vanwyksvlei as predikant bearbei. Die jongste twee van sy vyf sy kinders word hier gebore en groei op in Vanwyksvlei. Vandag nog het hulle almal ‘n baie nou band met die dorp en kan kosbare staaltjies uit hulle jeugjare vertel. Nie lank terug nie, lui die deurklokkie. Daar staan ‘n blondekop meisie wat vra of sy asseblief ‘n foto mag neem. Sy is in diens van die WNNR en doen ‘n impakstudie vir SKA in die gebied. Haar pa is in hierdie huis gebore en het hier opgegroei. Surina, stel sy haarself voor. “My oupa was lank die predikant hier.”

Ander se dienstydperk is maar kort, soos Ds. De Kock (nogal familie van Vasie de Kock) wat skaars 6 weke die gemeente bedien. Hy dien as voorsitter van slegs een kerkraadsvergadering, nl. die een gehou op 14 September 1946. Hy sterf skielik aan ‘n hartaanval. Op die kerkterrein staan ‘n gedenksteen op sy graf wat die gemeente vir hom opgerig het.

Die pa van die welbekende akteur Siegfried Mynhardt, Ds C F Mynhardt, se dienstyd strek hier in Vanwyksvlei oor 6 jaar; 1921-1927. Mevrou Mynhardt lê ook begrawe op die kerkterrein.

20160414_110329_4

Die gallery van geestelike helde eindig skielik by Ds Fransie Human in 2002. Wat sou die storie wees dat geeneen van sy opvolgers van die laaste 13 jaar se foto’s teen die muur pryk nie? Is daar ‘n storie agter hierdie storie?