Hoe MeerKAT, hoe minder hond

So voel ek nou. Hoe meer ek weet van MeerKAT, hoe minder hond voel ek oor die hele SKA-projek.

Ons klompie kunstenaars en handwerkers van Vanwyksvlei, Carnarvon, Brandvlei en Williston, geniet die voorreg om tydens ons laaste werkswinkel van MCCI (MeerKAT Creative Community Initiative) die SKA-perseel te besoek – dis immers SKA wat ons hele werkswinkel van die afgelope tyd, ons vervoer na en vanaf Carnarvon, ons verblyf en ons etes se koste dra.

Per bussie word ons groep van 17 na Klerefontein geneem, die plaas waar SKA se tuisbasis is. By die sekuriteitstoegangshek moet elkeen van ons ‘n alkoholtoets ondergaan; elkeen van ons moet eers in die pypie blaas. Hier gaan niemand onder die invloed in nie.

SKA7waai

Ons word ontvang deur Apiwe Hotele, Tegnologiese Kommersialisasiespesialis van SKA en gekwalifiseerde stelselingenieur (wat die uitstappie vir ons gereël het), Siswe Seranyane, die operasionele onderhoudsbestuurder van SKA, asook deur Lauwrian Andreas wat vir welstand en veiligheid verantwoordelik is. Kortliks word ons ingelig oor wat vir ons voorlê en ons teken vrywaringsvorms – hier gaan niemand sommer net in nie want hierdie is ‘n nasionale sleutelpunt.

Dan vertrek ons na Muisdam en Losberg, die twee plase waar alles gebeur. By die uitgangshek ondergaan ons almal eers weer die toets deur in die pypie te blaas. Gelukkig het niemand ondertussen gevat nie …

Dis ‘n goeie uur se ry na die perseel. Daar gekom, moet ons eers weer dié toets slaag. Dankie tog my blaas is skoon, maar my ander blaas, dié is vol!

Hierdie terrein is beveilig soos Alcatraz. Hoë staalheinings met penne bo-op is reg rondom hierdie perseel. Dis kantore en pakhuise en sentrums en kontrole kamers en wat nog meer, waarin groot dinge gedoen word. Die grootste risiko hier is bestraling. Geen selfoon, geen ‘blue tooth’, geen ‘wi-fi’ word hier toegelaat nie. Miljoene rande se skade kan deur een onnadenkede selfoonaksie aangerig word. Baie word hier opgevang, maar niks word van hieraf uitgestuur nie. Dis streng verbode om met enige toestel skelm selfies te neem of WA-boodskappe te stuur. Alle toestelle áf! Ons word gerieflik voorsien van ‘n veilige kamera waarmee ons ons besoek in foto’s mag vaslê.

In die pakhuise word skottels aanmekaar gesit. Hier word egter geen herstelwerk op hierdie terrein gedoen nie. As iets herstel moet word, word dit afgetakel en na die tuisbasis op Klerefontein vervoer. Die herstelde dele word weer hierheen teruggebring en hier aanmekaar gesit.

Siswe, bekend as Sky, is ons gids. Dis die eerste keer dat SKA ‘n klomp kunstenaars en handwerkers ontvang. Sky slaag daarin om alles verstaanbaar vir ons leke te verduidelik.

SKY

Siswe Seranyane

Ons vergesel hom na die Kontrolekamer wat onder grondvlak is en waarvan die mure geïsoleer is. Dit is sodat geen sein van hier af, die opvangs van die skottels kan beïnvloed nie. Dit is ook die doel van die groot grondwal tussen hierdie perseel en die terrein waar die skottels staan.

Daar is 6 groot rekenaarskerms in hierdie vertrek. Hier word die toestand van elkeen van die 64 MeerKATskottels deurlopend gemonitor. Enige probleem met kragvlakke of beweging van ‘n skottel, kan onmiddelik hier opgetel en aangespreeek word. Beurtkrag het geen invloed op enige aksie wat hier plaasvind nie. Hier word self krag opgewek en deur spesiale tegnieke word ‘n ononderbroke kragtoevoer verseker.

Ons volg Sky na die Optiese Kabel Verspreidingsentrum. Hierdie sentrum met sy derduisende optiese kabels en imposante verspreidingsborde, opereer tussen die skottels en die Korreleerder. By die Korreleerder word ons nie toegelaat nie – statiese elektrisiteit is te hoog en mens het spesiale klere daarvoor nodig. Die Korreleerder belyn al die verskillende seine vanuit die ruimte wat met verskillende invalshoeke die skottels tref, tot ‘n enkele sinvolle datasein deur ‘n proses van interferometrie. Dié word per optiese kabel Kaapstad toe gestuur waar hierdie data ontleed word deur wetenskaplikes en omgeskakel word tot ‘n beeld van wat gehoor is in die ruimte

 

Dit is tyd om die skottels te besigtig en ons is terug in die bus. Gelukkig hoef ons nie weer te blaas nie …

Ons eerste stop is die 7 reuse skottels van KAT 7 (Karoo Array Telescope) wat staan soos Sossusvlei se dooie bome uit ‘n vorige era. Hulle taak is afgehandel. Hulle is in onbruik, hoewel hulle steeds operasioneel is. Hierdie majestieuse skottels se deursnee is 10m. Hulle het buiteruimtelike intelligensie gesoek, swart gate bestudeer en navorsing gedoen oor donker materie. Antwoorde is reeds verkry en hul doel is bereik.

SKA7

Sky verduidelik aan ons waarom ontvangers afgekoel moet word. Hoe word dit gedoen in ons uiterste klimaatstoestande?  Deur ‘n proses bekend as cryogenics, word water in ‘n vakuum afgekoel. Die verkoelingstelsel binne-in elkeen van hierdie skottels, werk met verkoelde water in ‘n tenk in die basis van elke skottel, tesame met ‘n verseëlde lugverkoeler. Hierdie is ‘n trots Suid-Afrikaansontwikkelde proses

Hiervandaan ry ons na HERA (Hydrogen Epoch of Reionization Array). Dit is ‘n buitelandse projek en bestaan uit 300 skottels wat soos onderstebo sambrele op die grond staan. Die oprigtingsproses is tans aan die gang deur gebruik te maak van plaaslike arbeid. Hier leer die outjies waardevolle vaardighede deur blootstelling aan die nuutste tegnologie, soos bv. Kabels van optiese vesels te las. Ek dink hulle gaan later baie hierby baat want mens tel nie hierdie tipe vaardighede sommer agter elke bos op nie.

HERA se skottels is so mooi! Hulle is deursigtig omdat hulle gemaak word van sifpanele. Die raamwerk is PVC-pype. Dit is laekoste strukture wat maklik weer afgetakel kan word. Hulle lê teen mekaar soos selle in ‘n heuningkoek en maak die mooiste skadu’s op die grond. ‘n Skoenlapperagtige ontvanger word met katrolle opgehys om bokant die skottel te hang soos ‘n insek wat op soek is na stuifmeel.

HERAbutterflyAnders as die veselglas oppervlak van KAT 7 en die aluminium oppervlak van MeerKAT, kan hierdie gaasoppervlak golwe weerkaats van frekwensies tussen 70 en 200MHz, want die gaatjies is klein genoeg.

Sou hierdie skottels die antwoorde verskaf het waarna navorsers op soek is, sal dit ook in onbruik verval. Hulle kan vinnig weer afgebreek kan word en is nie soos KAT 7 se skottels wat soos soliede wit olifante – monumente wat vertel van ‘n vining veranderende tegnologie – of MeerKAT se skottels met ‘n beplande leeftyd van 30 jaar nie. Ons groep wat potensiaal sien in elke weggooi ding, droom al klaar oor wat ons sal kan maak met al hierdie kosbare afvalmateriaal.

Nou, uiteindelik, verskuif ons na die terrein waar MeerKAT se 64 skottels staan (ver meer as KAT 7). Wat ‘n imposante struktuur! Hier staan ons in die skadu van een van hierdie indrukwekkende strukture, wat ‘n suiwer produk van Suid-Afrikaanse ingenieurvermoëns is. Anders as die optiese skottels by Sutherland, wat beelde van die ruimte neem, hóór MeerKAT seine vanuit die ruimte, sommige al baie baie jare gelede, en omvorm dit tot beelde. Dit is waaroor radio astronomie gaan – om ‘n prentjie te sien na aanleiding van seine wat gehoor word.

Beste skottel

Daar word tans veral gesoek na waterstof (H) wat ‘n radio frekwensie van 1,3 GHz uitstraal. As waterstof gevind word, kan dit op die moontlikheid van lewe daarbuite dui.

MeerKAT is ‘n hoë frekwensie skottel. 40 panele saam vorm die oppervlak van 10,5m in deursnee. Enige inmenging van ander elektromagnetiese golwe, kan die antennas se werking beïnvloed, maar radiogolwe is skadeloos vir die werking van die skottels. Elke skottel is toegerus met ‘n ontvanger wat met ‘n arm, amper soos ‘n voorarm vanaf ‘n gebuigde elmboog, na die skottel gerig is soos ‘n oop handpalm. Hierdie ontvanger kry ‘n analoogsein en ‘n digitaliseerder skakel dit om in ‘n digitale kode. Dit is hierdie digitale kode wat ontvang word by die Korreleerder en wat belyn word tot ‘n enkel sein wat Kaapstad toe gestuur word om een prentjie in verskillende kleure op te maak.

SKA (Square Kilometer Array) is ‘n projek waarby 8 lande betrokke is. SKA SA is ‘n nie-winsgewende projek. As die minister van wetenskap en tegnologie nie fondse beskikbaar stel nie, kan niks gedoen word nie. SKA is nie die regering nie. Plaaslike munisipaliteite is steeds verantwoordelik vir instandhouding van paaie en water. Eise aan SKA vir beter paaie en verbeterde waterprojekte is dus ongegrond. Plaas liewer druk op die verantwoordelike amptenaar by jou plaaslike munisipaliteit. SKA kan wel bekwame mense voorsien om raad te gee met opknapping en instandhouding en is bereid om dit te doen.

SKA het in ons omgewing hier in die Bo-Karoo ‘n nuwe era laat aanbreek. Wat hier op ons drumpel gebeur, gebeur nêrens anders ter wêreld nie. Hier, in ons midde, staan ‘n radio astronomie teleskoop wat besig is om buiteruimtelike seine op te vang. Ons plaaslike wetenskaplikes het heel eerste toegang tot hierdie seine. Eendag, dalk nie so ver die toekoms in nie, kan daar dalk ‘n Suid-Afrikaner ‘n Nobelprys ontvang vir wetenskap as gevolg van dít wat hier gedoen word by SKA.

En hieroor kan geen regdenkende mens ‘n hond-in-die-mond gevoel hê nie.

Advertisements

Ek gaan saam; ek sit voor

Want ek wil nie uitmis waar daar wonderwerke besig is om te gebeur nie.

Alles het begin by die mandjies wat die skoolkinders van plastiek weef, wat agtergelaat is in Brandvlei. Na afloop van die Ringsitting. By Die Windpomp. Om verkoop te word aan die Sjinese wat die volgende week daar sou aandoen om na die rieldanse te kom kyk.

20180829_073506

In opdrag van SKA word ‘n projek geloods in die Bo-Karoo. Werkswinkels word aangebied in die area waar SKA opereer om mense wat handwerk doen te help om hulle produk te ontwikkel en markgereed te kry – dis ‘n inisiatief om ekonomiese en volhoubare ontwikkeling in afgeleë gemeenskappe te bevorder. Craft and Design Institute van die Kaap, met die kundigheid en vaardigheid, voer die taak uit. Mara en Rose van CDI is op pad vanaf die Kaap Karoo toe. Hulle staan oor op Brandvlei by Die Windpomp – die einste plek van ons Ringsitting. Sien die mandjies. Kry my besonderhede. Nooi ons uit na die werkswinkel in Carnarvon – SKA dra al die uitgawes.

Die werkswinkel skop af. Ons word deur Andrew per taxi opgelaai en soontoe vervoer (gelukkig nie my eerste ervaring van taxi-ry nie…) en gehuisves in luuksheid in die Lord Carnarvon Gastehuis. Elkeen in ‘n eie kamer, victoriaans gemeubeleer met eie badkamer, lugreëling, TV. Eet saans in die Lord Kitchen van ‘n spyskaart af.

Ons is 13 kursusgangers vanuit Vanwyksvlei en Carnarvon. Williston en Brandvlei se kursus lewer 24 kursusgangers op. Mara en Rose kyk na elkeen van ons se produkte en begelei ons om ons produk te ontwikkel volgens die behoefte van die mark. Ons leer om vir die mark te produseer. Hoe om ons produk te variëer volgens die piramiedemodel – die laagste brood-en-botter lyn, die middelreeks vir ‘n duurder, groter, meer gedetaileerde produk, asook vir die topreeks waar mens dalk een keer per jaar ‘n groot, duur, eksklusiewe produk verkoop kan kry.

Ons breinstorm oor hoe om ons unieke omgewing te verkoop in ons produk. Hoe om dinge wat eie is aan ons kontrei in ons produk in te werk: skapies, kokerboom, windpomp, boesmantekeninge, korbeelhuisies. Hoe om ons produk te ontwikkel deur dit ‘n nuwe funksie te gee – hetsy vir die skoolkind of vir die korporatiewe wêreld of vir die toeris of vir binneversiering. Ons verbreed ons horisonne met ons produk deur dit wyer te begin aanbied – as ‘n sleutelhouer, as ‘n yskasmagneet, as ‘n biermatjie, as ‘n boekmerk, as ‘n oorbel, as ‘n bedlampie, as ‘n rugsak. Ons bekyk die eindelose moontlikhede van bloot die gebruik van ander materiale of die kombinasie van materiale.

Gemaksones is nog altyd, so dink ons, ‘n veilige plek. Word ons darem daar vir jou uit ons s’n gepluk deur blootstelling aan uitdagende oefeninge; skets toe-oë, skets onderstebo, toer die dorp deur en ets teksture af op papier met vetkryt. Allerhande vreemde goed wat weer ‘n nuwe lewe kan kry word opgetel. Ons bekyk gewone dinge deur ‘n klein gaatjie geknip in ‘n vel papier. Leer om te fokus. So sien ek ‘n ander gaatjie raak wat ek defnitief nie andersins sou opmerk nie…

CDI3

Een laatmiddag ry ons saam met Estelle uit na die plaas Koeëlkop om klippe te gaan optel wat beskilder kan word. ‘n Vrolike klomp kursusgangers wat elke oomblik geniet.

Ons speel met tegnieke. Ons ontdek kleur. Ons verbind tot ‘n span. Ons besluit voortaan staan ons bekend as Erdman Creatives na analogie van die Meerkat Teleskoop. Ons kry hoop. Ons werk. Ons eet. Ons lag. Ons geniet. En dit in ‘n dorp sonder water waar toilette nie eens gespoel kan word nie.

CDI6

Agter v.l.n.r. Jason,  Garrith, die uwe, Estelle, Rose, Sharon, Werner, Maria. Voor: Nash, Gavin, Mara, Stefanus en Allistair

Tussendeur deel ons ons drome met mekaar. Ons deel middele en materiale en idees onder mekaar waarmee ons ons produkte kan verbeter. Daar heers ‘n kreatiewe energie. Almal is besig met een of ander proses. Dit brei en hekel en ontwerp en beplan. Dit knip en plak en stryk en teken. Ons ontdek nuwe maniere van dinge doen deur ander prosesse te begin toepas. ‘n Haardroër word ingespan om plastiek te vervorm. Dis ‘n A-ha-oomblik om te ontdek dat fusie met ‘n strykyster plastiek beter laat plak as die beste gom!

CDI deel mildelik uit wat nie in ons omgewing beskikbaar is nie. ‘n Soldeerbout. Lapverf. Wassers. Tolle hekelgare en borduurgare. Ringetjies vir sleutelhouers. Hakies vir juwele. Notaboekies. Teegoeddoeke. Gom. Spieëls. Hekel- en breipenne. Tou. Elke middag word ons getrakteer op ‘n wegneem-ete en liters koeldrank..

Verpakking kry baie aandag. Omdat dit jou produk se prys grootliks beïnvloed, word ons geleer om goedkoop maar treffende maniere van verpakking te ontdek. Hier troon herwinde materiale loshande bo uit. Mens verstom jou oor die moontlikhede wat in elke weggooi koeldrankbottel skuil. Soos Maria met reg opmerk: “Niemand mag meer ‘n leë bottel weggooi nie!”

Hoe werk mens ‘n prys uit vir jou handwerk of kunswerk? Daardie vraag word beantwoord deur ‘n logiese model wat Rose deurgee. Niemand kan jou nou meer indoen nie want hierdie model dek als – materiale, uitgawes, tyd, arbeid, krag, verpakking. Om die koste van jou produk te bepaal is ‘n wetenskap, maar om die prys te bepaal is voorwaar ‘n kuns.

Mara sit met elkeen individueel. Bekyk elkeen se kunswerk, gee raad en maak voorstelle. Sy help elkeen om sy eie unieke produk te verfyn en dit te ontwikkel tot ‘n reeks.

CDI5

Afwerking kry baie aandag. Opdragte word gegee vir volgende keer. Ons sit met tonne huiswerk. Daar’s nie tyd vir ginnegaap hierdie Desember nie. Werk gaan ons werk!

’n Groot klomp welwillendheid breek los. Estelle skenk vir Stefanus – bedrewe met handwerk maar beperk aan middele – ‘n hele sweismasjien! My jarelange droom om ‘n pottebakkersbedryf met die dorpsmense in Vanwyksvlei te begin, kry vlerke. Deur ‘n riemtelegram wat begin loop – kan julle glo – ontvang ons ‘n skenking vanaf Carnarvon se VGK-predikantspaar van ‘n pottebakkersoond en ‘n wiel! Verlede week is ‘n klomp van hulle besittings opgeveil omdat hulle aftree en eersdaag verhuis. En die afslaer het vergeet om die pottebakkersgoed op te veil! Noem mens dit toevallig?

IMG-20181209-WA0023

Wat het ek julle gesê? Hier kom regtig ‘n groot ding! ‘n Baie grote!!