Ria op reis

ekenria

Sy kom per Inter-Kaap tot in Upington. Sy ry met ons saam tot in Vanwyksvlei. Sy val by ons skedule in met BullRun voorbereidings, Bybelstudie, betrokkenheid in die gemeenskap, eredienste. En sy gee haar alles.

Ria Nel tree af as maatskaplike werker in Pretoria. Sy verkoop als. Stoor haar orige besittings. Begin reis. Onbepaald. Onbepland. Al op die roete van haar herinneringe as kind na kennisse uit die verlede. Waar daar geleentheid voordoen, reis sy saam na die volgende plek. Waar haar mense haar kan ontvang, bly sy oor. Waar sy oorbly, beleef sy. Wat haar begroting haar toelaat, voer sy uit.

Ek land desjare langs haar in juffrou Van Der Merwe se klas toe ons halfjaar vanaf Sannieshof Barberton toe verhuis. Sedertdien hou ons vriendskap steeds. Nou alreeds 58jaar!

Haar oorbly op ‘n plek pas sy aan by wat beskikbaar en wat geskik is. As ek haar uit haar kamer skuif om plek te maak vir hulle wat BullRun toe kom, vaar sy gladweg mee – sy het al baie op die grond geslaap tydens staproetes. As my spyskaart iets kortkom vir haar eetprogram, vul sy met grasie aan uit die beskikbaarheid van Vanwksvlei se winkels – sy ken al die alternatiewes.

Met almal deel sy – haar kennis, haar kundigheid, haar vaardigheid, haar ervarings, haar beursie.

Vir Magdaleen met haar diabetes, met wie sy saam honderde braaibroodjies toedraai vir die BullRunners, gee sy ‘n eetprogram. Sy self is al baie jare gelede daarmee gediagnoseer en bestuur nou al vir meer as 10 jaar haar eie gesondheid met die regte eetplan, soveel so, dat sy geen medikasie meer neem nie.

Vir Nadia (nie haar regte naam), help sy met ‘n radikale plan om haar derduisende wat sy skuld, planmatig en stelselmatig te begin afwerk. Self het sy baie jare as skulberader gepraktiseer en ken al die struikelblokke in die pad as iemand namens jou, jou skuld begin beheer.

Vir Babette (nie haar regte naam) verduidelik sy die roete om te neem en voorsien haar van al die inligting wat nodig is om ook te kwalifiseeer vir ‘n SASSA pensioentoelaag en ‘n ekstra staatstoelaag vir die tuisversorging van haar bejaarde ma.

Vir Sharron vertel sy hoe om ‘n POF-saak geregistreer te kry. Watter dokumentasie en bewyse sy sal nodig hê daarvoor. Ria het self vir haar susterkind, wat baie ernstig beseer is in ‘n motorongeluk, ‘n suksesvolle eis deurgehaal wat hom sy lewe lank sal kan onderhou.

Vir my oortuig sy dat my plastiekherwinningsprojek in die dorp volledig kwalifiseer vir finansiële ondersteuning via ‘n NGO of ‘n Art 21 maatskappy omdat dit opvoedkundig is, entrepreneurskap bevorder en ontwikkeling van ‘n vaardigheid behels. Sy spel uit hoe om te werk te gaan met ‘n PBO nommer, as daar geldelike bydraes inkom, om ‘n Art 18A sertifikaat aan te bied vir die donateurs sodat dit teenoor belasting verhaal kan word.

Sy staan in as fotograaf en beraad, doen transaksies en ondersteun, maak oproepe en gee raad, luister en skei die kaf van die koring, neem waar en swaai jou persepsies oor kwellende sake. Sy observeer en debatteer. Sy neem deel en deel mee.  Sy onderskei en oortuig. Sy luister en gee lering. Sy staan vroeg op en stap saam. Sy gaan slaap laat en liasseer vir my dokumentasie op my USB.

Veel meer kom sy gee as wat sy ooit die afgelope maand by ons kon ontvang.