Die boek vlieg

Dit is vandag 3 maande sedert Stories uit die Bo-Karoo vanaf die drukker by my aangekom het. En daar is ‘n skrale 102 boeke oor. ‘n Boek van 300 bladsye, propvol met 126 stories oor Vanwyksvlei en sy mense, toegelig met 50 kleurfoto’s.

Buiten die enorme bedrag wat alreeds gegenereer is en aan Vanwyksvleiers uitbetaal kon word, het die boek soveel vermag. Vriende, van ons grenslewe van 40 jaar gelede, het weer kontak gemaak. Oud Vanwyksvleiers het dinge raakgelees wat resoneer met hulle verre verlede. Hulle het nog boeke bestel en laat aanstuur vir hulle families vir Kersfees. Mense het van oraloor laat weet dat hulle die name en stories van ou vriende raakgelees het.

Mietjie Jafta, hoor ek, het ook intussen oorgestap. Ek wonder wie versorg nou haar ma van 105 jaar oud. Haar foto bly steeds vir my die beste foto wat ek nog geeem het van almal in Vanwyksvlei. Hoe bly is ek dat sy ook in die boek verewig kon word.

P1420631resized

Nuwe inisiatiewe het ontstaan om verligting te bring aan die swaarkry van Vanwyksvleiers in die droogtetyd – en dit van mense wat nie eens geweet het waar Vanwyksvlei is nie. Daar is selfs mense wat hulle planne vir Desember so aangepas het, dat hulle soontoe gery het om self te sien hoe dit daar lyk. Nog voerskenkings is gereël. Individue het hulle hande diep in die sakke gedruk om te help om agterstallige studierekenings te vereffen. Ek staan verstom.

Die droogte is nog lank nie gebreek nie. Daar het wel plek-plek reën geval, maar talle plase het steeds nog nie ‘n druppel gekry nie. Desperate boere tref voorbereidings om in Amerika op plase te gaan werk in ‘n poging om jare se opgehoopte skuld te probeer afwerk. Families gaan in 2020 geweldige opofferings maak.

Die nuwe skooljaar en studiejaar begin; skoliere en studente moet toegerus word om die jaar te begin wat yslike uitgawes meebring. Waar moet daardie fondse vandaan kom? Die meeste boere het net nie meer skaap oor om te bemark nie. En al sou daar nog skaap wees, kom hulle moeilik op bemarkbare gewig omdat voer skaars is. Boonop is nie alle voerskenkings geskik vir die skaap van die Bo-Karoo nie.

Die nood is steeds groot. Die droogte het meegebring dat mense vir mekaar begin omgee het en vir mekaar begin verantwoordelikheid neem het. Dit moet nie nou stop nie.

In Nataniël se woorde: koop tog net seblief die blêddie boek!

Besonderhede:

Koste: R339 (sluit posgeld in)

FNB tjekrekening nr 62828658768

Naam: Hulpfonds

Takkode: 210801

Gee seblief jou naam as verwysing. Stuur ‘n foto van jou inbetalingsbewys na 082 584 4992, met jou posadres daarby en ek pos hom dadelik.

In Hierdie Lewe Sedert 1914

P1410203

Vandag verjaar Ouma Wat-toe. Oftewel, Tannie Anna Tieties volgens haar ID.  Sy is 103 jaar oud. Vanwyksvlei se oudste inwoner.

As jong dogtertjie verkoop haar ouers haar aan ‘n Visser boervrou van Rietbos vir koffie, suiker, meel , olie en seep. Daar raak sy groot as oppassertjie van bokke. Saans moet sy die kombuis opruim.

Haar sustertjie word op dieselfde manier groot by Awiegoed-hulle op ‘n naburige plaas. Sy onthou een geleentheid wat hulle by mekaar kon kuier toe die plaasmense oor en weer gaan kuier het.

Op Rietbos groei Wat-toe op totdat sy man vat. Jan Tieties kom in haar lewe en maak haar die ma van 3 dogter en 3 seuns. Hulle kinders word groot in die distrik van Carnarvon en Vosburg waar Jan op verskeie plase as veewagter werk. Slegs Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta, die dogter wat haar tans versorg, en Handjievol, ‘n ander dogter, leef nog.

L1190955

Uncletjie, oftewel Mietjie Jafta

Handjievol is egter ‘n invalide nadat albei bene en haar regterarm geamputeer is. Die ander broers en suster is almal lankal dood.

Uncletjie en Koelie het ‘n kamertjie in hulle huis waar Ouma Wat-toe woon. Hulle versorg haar al vir baie jare met groot toewyding.

P1410215

Ouma Wat-toe kan nog hoor en sien en beweeg. Dalk kon sy vreeslik dans en sing in haar jare, want sy deel ‘n verjaarsdag met Fred Astair en Bono. Dalk leef sy so lank vanweë haar geloof, want sy deel ‘n verjaarsdag met Karl Barth. Pred 10:27 sê mos: “Wie die Here dien, lewe lank …”  En vir solank as wat Ouma Wat-toe leef, bestaan moedersdag al – ingestel op 9 Mei 1914 deur Woodrow Wilson, die Verenigde State se 28ste president. As julle hierdie naweek êrens ‘n moedersdagviering inwerk, lig ook ‘n glasie op  Ou-moeder Wat-toe.

Soms raak haar gedagtes tussen vraag en antwoord op ‘n adraaipad. Maar sy kan steeds ‘n gesprek voer.

P1420609

Sy kan nog die sagtheid van ‘n paar slaapsokkies waardeer, sien ek toe sy dit teen haar wang aandruk. Dierbaar. (Dankie Helena, dat jy dit gesponsor het).

P1420618

Terwyl ek by haar sit en kuier, steek sy haar verrimpelde handjie uit na Koelie. Koelie Jafta beheer haar pruimtwak. Hy sal self besluit wanneer dit tyd is. En wanneer dit genoeg is.

P1410206

Rina se skool kom sing vir haar en sy blaas die 3 kersies op haar 100-koek dood.

Ouma Wat-toe klap hande vir haar eie prestasie.