Op Werfjoernaal se werf

Vroegoggend koffie by Oom Frans gaan drink op Constantia. Vir bietjie inspirasie. Die “opstal lê hoog in ‘n nek tussen twee rante.” Hier praat ons van die Strontberge – waarskynlik ‘n verbuiging in die volksmond van die Strandberge.

strontberge

Wat oor is van Constantia te siene vanaf die Kenhardtpad

Hierdie tyd van die jaar ets die oggendson se strale die opstal se mure helder af.oggendson

Ek sit langs Oom Frans op die muurtjie van die voorstoep. Patch en Lui Booi lê rustig en slaap by ons voete. Ons hoor hoe Tannie Stella in die kombuis die koffiebone maal in die nr. 3 koffiemeultjie met Made-In-England daarop.  Ons tuur uit na die noorde, waar De Hoop, Gert Van Wyk se plaas, lê. Die “vaal plaas, gewoonlik onsigbaar en beswaarlik sigbaar” waarvan oom Frans skryf. “Maar in die ligmaande – Maart, April en Mei – is selfs die skadu’s teen sy mure sigbaar.”

Voor ons in die tuin staan die kokerboom – “self ‘n wonder. Hy is ‘n ewebeeld van die soort mens wat hier uithou. Dit kan hoe klipperig wees, hy groei daar. Dit kan hóe droog wees, maar wanneer die tyd aanbreek, blom hy. Net om na hom te kyk, is ‘n ervaring. Daar staan hy met sy dik, glansende stam en oor die stam lê ’n blink baslaag soos emalje.” Langsaan lê die rotstuin van ysterklip, volgegroei met kanniedood, kraalalwyn, plakkies en vygies, met ‘n vlak dammetjie waaruit die Piet-sê-so kom water drink. Die ene “wat bo-in die regop hoekpaal van die werfheining nesmaak.”

Daar waai vanoggend ‘n oostewind – “die stil, skoon wind en dit is net af en toe dat hy ontstuimig en vyandig word. Ons het hom lief, want hy bring die reën.” Ons smag almal al lankal na reën. Miskien is hy aan die kom want die bloukop sit hoeka hoog in die takke van ‘n doringbos. “Baie van ons mense glo heiliger aan hom as aan al die instrumente van die Weerburo. Sit ‘n bloukop hoog in ‘n bos, kan jy sweer dit kom reën, so sê hulle. Of altans, as hy met sy kop na die noorde sit, dan kom dit reën. As hy anders sit, dan sit hy maar net.”

bloukop

Tannie Stella bring die koffie na buite. Sy is nie te gesond nie. Hierdie dorre kontrei en die noordwestedroogte werk met haar, soos Oom Frans sê; “hy maak vroue stil soos in ‘n siekekamer.” Ons drink koffie en geniet daarmee saam van Tannie Stella se boermeelbeskuit. Bokant ons swiep die bruin swaels heen en weer. Die kê-kê-kê van die groen houtkappers klink kras op. Die jaap-jape en mossies is ewe bedrywig. Tannie Stella kla “omdat hulle so min respek het vir skoon ruite, of stoepe wat elke vaderlike dag gevee en gewas moet word.”

Agter op die werf gaan wys Oom Frans vir my die familievoëls se nes. “Familievoëls is klein sondetjies wat iewers vandaan ontsnap het. As Vader Noag geweet het wat ons vandag weet, het hy al die familievoëls destyds in die sondvloed laat versuip. Hulle is vaalgrys vinke met die swart borsies en ‘n onnosel uitdrukking, domastrante, geveerde duiweltjies wat nie aan geboortebeperking glo nie; hulle is ewig oorbevolk.”

familievoels

Ek stap saam na Oom Frans se kantoor. Teen die een muur hang geraam die twee Hertzogprystoekennings wat hy ontvang het vir Geknelde Land en vir Swart Pelgrim. Boeke op boeke pryk die rakke vol. Hier staan ek in sy magiese ruimte, binne in sy voortreflike aura, sy heiligdom. Hier waar soveel gebeur. Ai, Oom Frans, kan ek nie net ‘n stukkie van Oom se mantel kry nie.

Oom Frans wat in sy lewe 21 romans skryf onder sy naam; F A Venter. Talle publikasies in die ontspanningslektuur vloei uit sy pen; 92 onder die skuilnaam Meiring Fouché, 3 onder die naam Marius de Jongh, 6 onder die naam René Stegman en nog 1 onder die naam van Elske te Water. Voeg daarby die 11 kortverhale in sy 1 kortverhaalbundel, sy vervolgverhaal in die Lanbouweekblad, al sy artikels en rubrieke, sy vertalings en sy opdragwerke, en jy sal verstaan hoekom mens by hom gaan inspirasie soek.

Hoe het hy dit gedoen? Hoe kry mens soveel in een leeftyd geskryf? En dit terwyl jy ‘n skaapboer in hierdie dorre wêreld van Vanwyksvlei is? Tot 20 boeke in een spesifieke jaar!!

Vertel hy my as hy bedags agter die skaap aanloop, hulle uitkeer of waters gaan kyk, dan loop hy en stories uitdink. Vanaand dikteer hy dit op sy bandmasjientjie van begin tot einde. Stuur dit na sy uitgewer. Daar word dit oorgetik en geredigeer. Hy sien maar net die eindproduk.

Dankie Oom Frans. Nou weet ek; daar is meer as een manier om ‘n ding gedoen te kry. Soos om vindingryk die tegnologie van jou tyd in te span.

En dankie Rina, dat jy donkeroggend saam met my oor die draad geklim en oor ysterklippe deur die veld, soos die kraai vlieg, tussen die driedorings en gannabos na Constantia se werf toe gestap het.