Vasie se koeitjie

Bontes is hoog neergesit. Sy veskyn dan al op TV in WegAgterpaaie. Juis waar Vasie besig is om haar te melk. Selfs Erns Grundling kry sy hande op kamera op haar.  Maar nou is Vasie se beroemde koeitjie vort. Weggelaai Upington toe met haar bruin kalf.

vasieMelk

 

 

En daarmee saam kom ‘n hele leeftyd van gaan-melk-elke-oggend vir ou Vasie tot ‘n einde. Al van die ouderdom van 5 jaar melk Vasie elke dag. Tydens sy koshuisdae as kind op Vanwyksvlei maak hulle beurte om soggens by sy pa se koeistalle te gaan melk vir die koshuisvoorraad. Steel so ‘n paar mondevol vars, warm melk uit die emmer op pad terug koshuis toe, so vertel Vasie.

Al die tyd wat Bontes ‘n kalf had op Hottentotsdam, ry Vasie vroeg soggens uit om te gaan melk. Rida gooi af en lewer af. Smiddae laat, ry Vasie weer uit plaas toe om die kalf te gaan afkeer. Duur melk sou mens dink. Maar nee, heel bekostigbaar vir Vanwyksvlei. Nou is dit iets van die verlede.

En so begin ‘n hele nuwe fase vir ons twee oues hier op Vanwyksvlei en ook vir almal wat van Bontes se melk gekry het. Want vars beesmelk op Vanwyksvlei is so ‘n kosbare kommoditeit soos vars lug en oop ruimtes en helder sterrenagte. Nou sal ons weer moet grootmaat aankoop as ons kans kry en dit vries.

melk

Want sien, boksmelk werk nie vir ons nie. Daagliks kweek ek kefir en dit vra vir vars beesmelk. Mens raak mos gou afhanklik van die groot bederf om vars kefirmelk elke dag te kan gebruik. Met hierdie einste kefir bak ek beskuit. Het seker al vir 10 jaar nog nie weer betaal vir karringmelk uit ‘n winkel nie.

As die kefirkorrels vermeerder, deel ek uit of vries. As die kefirmelk ophoop, maak ek feta van die maas deur die kefir deur te syg en die wei op te vang – danksy Lida Eksteen, my fb-vriendin se raad na my katastrofiese ophoping van kefir vir die BullRun verlede jaar. Dis einste op haar aanbeveling wat ek die oortollige wei gebruik om ricottakaas mee te maak. Want in ‘n afgeleë plek soos Vanwyksvlei, is feta en ricotta net so ‘n weelde soos vars melk.

Leer ek algaande hoe kosbaar wei is. ‘n Wildsboud word murgsag as jy hom in wei gaarmaak. As byvoeging tot sop en ‘n gladde jantjie, baat mens by al die heilsaamheid van die hoë protein-inhoud, kalsium, kalium, magnesium, fosfor, selenium, yster, sink, Vit B12, B6 en die lae vet inhoud. Wie gooi nou sulke kosbare voggies in die drein af. Boon-op is die reste van die proses om ricotta te maak ‘n ideale plantvoedsel. Al die ekstra’s vries perfek.

Kosmeties is wei ‘n perfekte tonikum. As ‘n toevlug teen velkwale, bied dit oombliklike verligting as mens dit aansmeer. Ideale aanvulling teen dehidrasie as ‘n maagkwaal jou plattrek. En ek kan verder uitwy oor wei.

Staan ek op met ‘n poepoog nou die dag. Bloedbelope en tranerig. Die naaste dokter is 80km ver in Carnarvon. Die naaste apteek is 125km ver in Prieska. Wat nou gemaak? Bel ek my skoondogter, Annemarie, welbekende oogkundige in Parys vir raad. Spoel die oog uit met wei, Ma, is haar aanbeveling.

Wei het ek beslis, al het ek nie oogsalf nie. Die proses van feta voorberei vir die kerkbasaar, het bottels vol wei opgelewer. Ek spoel die oog met wei in ‘n oogglasie. Onmiddelike verligting en beterskap, sê ek vir julle.

Ai, Bontes, jou waarde gaan diep gemis word.

 

Advertisements

KLIP, KLEI EN KLINIEK

My stapmaat, Rina, (ons stap vroeg voor sonop so om en by 10 km) neem ons saam na haar vorige plaas. Sy woon tans as afgetredene in die dorp nadat sy sowat 25 jaar daar vrou-alleen geboer het na haar ouers se dood. Die plaas, Sringbokoog, is bekend vir die pragtige voorbeelde van Boesmankuns op die ysterklippe wat in die omgewing gesaai lê. Studies het getoon dat van die gravures dateer sover terug as 2000 jaar. Ander weer, vanweë die verskil in tegniek wat gebruik is, kan tot 700 jaar terug gedoen gewees het. Hoe ookal, om deur daardie klipharde oksiedlaag van so ‘n pikswart ysterklip te kon graveer met iets wat nie ‘n Bosch elektriese boor was nie, bly ‘n wonder.

Met een van ons uitstappies in die omgewing klouter ek en Johan een laatmiddag af na die droë oppervlak van die Vanwyksvleidam. Dié dam staan al langer as ‘n eeu. Dit was die heel eerste staatsdam wat aangelê is met die oog op besproeiïng van landerye en boorde in die omgewing. In my wildste verbeeldingsvlugte kan ek my nie indink hoe dit moes gelyk het toe hier landerye en boorde was wat uit die kanale vanuit die dam besproei is nie. Hier suid van ons huis het glo ‘n kanaal geloop waar soveel as 10 windpompe gestaan het. Tans is dit net droë, dorre aarde met Prosopisbosse wat leegtes en kanale toestaan en ‘n paar windpompgeraamtes hier en daar.

Vanwyksvleidam is gedurende 1882-1884 gebou. Garwood Alston, landmeter en boukundige ingenieur het die aanvoorwerk tot die bou asook die bou van die dam behartig. Die vloer van die dam is gevul met potklei sodat die water nie kon wegsyfer deur die gruisgrond nie. Toe ons in Augustus hier was vir onderhandelings om ‘n brugtyd in die gemeente te kom uitdien, was hier nog water in die dam. Nou lê die hele dam droog en toegeslik.

Terwyl ons in die droë dam rondloop, merk ek die droë, gebarste blokke slik wat strek so ver as mens kan sien. Ek neem ‘n blok saam, week dit in water, knie dit af en maak ‘n pot. Hoe ek die pot gaan vuur, sal ek nog sien. Dalk ‘n gat in die grond maak en vul met Prosopishout. Maar eers moet ek die kanale volg en probeer toestemming kry om van die potklei te mag verwyder …

Ons onderneem ons eerste amptelike inkopietog Carnavon toe. Net na sewe klok ons in met die oog op ‘n ontbyt by Wimpy voordat ons met besigheid begin. Maar Wimpy is nie in Carnavon nie. Die Spar waar ons aankope vir die volgende maand doen, is kleiner as ‘n voorstedelike een. Die bank waar ons oorbetalings wil doen, het nie fasiliteite vir internet banking nie. Ons leer weer leef net van die nodigste en die basiese. Gelukkig floreer my kefir op melk wat die skoolkar vir my van Prieska af saambring, my kombucha fermenteer vrolik in die bedompige spens, spruite het ek al suksesvol gekweek van kekirertjies, roketsaad en lensies en my derde brousel gemmerbier is reeds gebottel. Brood bak ons weer self soos in die dae op die Grens.

Die bult aan die dorp se westekant waar die waterreservoir is, is ‘n gawe plek om die dorpie te sit en besigtig. Veral as daar ‘n volmaan oor die dorpie losbreek. Gisteraand was dit ons voorreg om die maan met ‘n koue bier te sit en inwag. My teorie, dat die volmaan opkom reg teenoor die plek waar die son ondergaan, is weer bevestig – presies daar waar my skaduwee se kop val in die ooste, stel ek my kamera op. En jou waarlik. Die maan se groot pomelokop verskyn reg in my lens.

Nou kan ek ook saampraat oor ‘n kleindorpse kliniek. ‘n Dokter van Carnavon kom besoek elke Woensdagmiddag die kliniek. In temperatuur wat raak-raak aan die 40˚, sit ons saam met ander onder die afdak en wag vir die dokter. Antie Annie Tieties van 101 jaar wat in ‘n rolstoel sit, was ‘n karretjiemens wat saam met haar man en dertien kinders van plaas tot plaas gewerk het. Al dertien kinders leef nog.

My bespataarde bene pyn van opgehewe rooi vlekke wat warm en sensitief is  vir aanraking. Dit laat my vrees vir ‘n bloedklont. Maar as ek so kyk  na Antie Annie se dik geswelde boomstompbene, vol knoppe en letsels, en hoe sy nie die gejeuk kan uitlos nie, makeer ek, liewe vriende, op hierdie aarde net mooi niks.

Kunstige sangravures in die klipharde ysterklip

Kunstige Sangravures in die klipharde ysterklip

P1370268

Nog ongebak, maar hier’s my eerste pot van damklei

P1370284

Die volmaan breek los oor die horison presies daar waar ek my kamera opgestel het